Die 3 en 'n half jaar laat honeymoon trip

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Lem

Grey Hound
Joined
Jan 20, 2010
Messages
5,320
Reaction score
17
Location
Bellville, Cape Town
Bike
BMW R1200GS
Heil die leser

Oor die afgelope Desember 2015 feesseisoen is een van my langtermyn drome bewaarheid.

Dit was om my vrou saam te kon neem op 'n langerige motorfiets vakansie. Dit was reeds vir menigte jare 'n groot en belangrike "bucket list" item vir my. Daar was altyd net iets wat moes voorval, soveel redes om nie te kon gaan nie.

Ek het in 2008 die hele "adventure bike" leefstyl ding begin doen. Was ook maar onnosel met die goed, is seker steeds. Ek was 25, arm & eensaam en wou dit begin doen bloot om my eie horisonne te help verbreed en te gaan soek na stilte.

Op 25 Julie 2009 stuur die Liewe Vader vir my 'n engel, 'n reddingsboei en Anmar was haar naam. Ons het 'n week daarna begin vas uitgaan en vandag is sy my beste pel, sielsgenoot, eggenoot, huisgenoot (soos die advertensie op die tv lui).

Dit was vir haar 'n aardigheid om met 'n motorfietsryer deurmekaar te raak. Haar verwysingsraamwerk oor motorfietse is die van die rowwejekke by die jaarlikse Villiersdorp Eagle Rally en daai Sondagoggend Franschoekpas jaagduiwels wat geraas maak terwyl hulle eintlik in die kerk moes wees. 'n Onverskillige spul wat hul eie lewens en die van ander dag na dag in gevaar stel.

So of die liefde is regtig blind, of ek doen darem seker iets reg al hierdie jare  :snorting:

November 2009 se laaste Sondag & die Toy Run breek aan. Ek het die 2008 Toy Run bygewoon en ek wou dit bitter graag vir Anmar gaan wys. Vir twee weke voor dit al begin ek voorbrand maak....

"ons ry in 'n stringetjie teen 40km/h"

"die Metro polisie sluit al die paaie vir daai oggend"

"ek sal vir jou kit reel...ek sal nooit toelaat dat jy sonder volle ATGATT ry nie"

"Bettie & Wilmar gaan saam daar van Hamman Motorrad af"

"ek sal vir ons muffins & koffie inpak..."

Die Saterdag voor die Toy Run breek aan en ek leen kit by my buurman. Dit sou ook die eerste keer ooit wees wat ek iemand "lift". In 30 grade kit Anmar op en ek dra sommer net my Springboktrui. Die Bokke speel teen Ierland in die einde van jaar toer en ons wil die rugby gaan kyk by Oxford Arms in Durbanville...so ommenby 2km en drie robotte van die huis af.

Mense heigenis, maar sy druk my ribbes vol blou kolle. Vir daai 2km kom ek seker nie eers in my 3de gear nie, maar sy klou aan my soos 'n luiperd op 'n "kill".  

Daai aand verloor die Bokke en ek se "right, nou gaan ons 'n draaitjie bike ry". Ons gaan ry Vissershok, Tiekiedraai & Contermanskloofpad om die nerwes te settle en die volgende oggend daag ons op by Toy Run. 'n Nuwe era vir motorfietsry begin vir my & haar. Dis hier waar die saadjie vir die 2-up bike trip droom geplant is.

Vir twee jaar het vele dagtrips op die 1150GSA gevolg, maar in November 2011 moes ek weens geldkrisis van my geliefde speelding ontslae raak. Die bike trip droom het aan skerwe gele. Ons kon darem egter verloof raak en begin beplan aan 2012 se troue. Op 3 April 2012, slegs vier maande voor my troue ry 'n tipper truck my van my XR125 af....en toe is daar groot sports.

Heelwat operasies later, 14 weke op krukke....25 Augustus 2012 het ek gedans op my troue. Alles net genade.

Ek het geweet dat ek dit alles weer sou terugkry, ek moes net geduldig wees.

2013 was 'n rowwe jaar, maar in Desember daai jaar word ek geseen met 'n decent tjek. Januarie 2014, toe soek ons bike!

Ek koop Knucklhead se 650 Dakar en 'n nuwe era het aangebreek. Daai bike, gedoop "Kwagga" was 'n game changer in my lewe.

Om weer vir Anmar agterop te kon kry moes talle vrese getrotseer word en daai bike het dit reggekry. Ons kon weer op dagtrips gaan en daardie dagtrips het begin met Philadelphia toe gaan vir koffie....(60km uit en tuis) maar het vining gegroei na Oasis toe en terug vir spare ribs (500km). Hier het daai droom trip saadjie weer begin ontkiem...want sien...vleg ses dagtrips aan mekaar en jy bevind jouself 'n helse ent van die huis af.

2014 het gekom en gegaan en verlede jaar het die idee weer ontvlam. Die droom van 'n 2-up trip het al hoe hoer op die bucket list opgeskuif. Nadat ek die Kwagga verkoop het het ek selfs vir Anmar betrek by die aankoop van die plaasvervanger. Die droom was vir jare my ontvlugting wanneer dit sleg gegaan het met my werk. Menigte aande het Anmar by die huis aangekom, dan was daar 'n padkaart op die bed en 'n paar geskeurde vensterkoevertjies, elkeen met 'n geskribbel op van "dag1: Durbanville - ................. -- x km...., dag 2 ........"

Sy het altyd geweet hoe belangrik dit vir my was, maar om dit te kon verwesenlik sou ek haar ondersteuning in die verband ook broodnodig he. Dit sou beteken dat sy bietjie moes stroomop swem, miskien die guts moes he om 'n familielid of vriend se tekort aan goedkeuring te moes ignoreer en net te "go for it!"

In 2012 kon ek haar nie neem op wittebrood PLAN A nie.

Hierdie keer was die tyd reg....

Sondag, 13 Desember 2015....."at dawn we ride"  :deal:

1) Jonk, jukkerig, minder grys, minder wys & maergat - Augustus 2009
2) 25 Augustus 2012 - ons spesiale dag
3) Ek en Kwagga
4) Dagtrips met Kwagga (Tankwa Padstal Toy Tun November 2014)
5) At dawn we ride!



 





 

Attachments

  • 936697_10203255904176238_8210798743278912817_n.jpg
    936697_10203255904176238_8210798743278912817_n.jpg
    144.5 KB
  • 1069886_10200687517848185_1669784146_n.jpg
    1069886_10200687517848185_1669784146_n.jpg
    17.1 KB
  • we_ride_at_dawn_by_thewuzzy-d4l65da.jpg
    we_ride_at_dawn_by_thewuzzy-d4l65da.jpg
    35.1 KB
  • 1779205_10202011663751005_1145181179_n.jpg
    1779205_10202011663751005_1145181179_n.jpg
    72.8 KB
  • 10403619_10203766815948713_929381767628344652_n.jpg
    10403619_10203766815948713_929381767628344652_n.jpg
    50.9 KB
Dag 0 - Beplanning

Daar is tientalle plekke in Suid-Afrika waarheen ek my vrou op vakansie wil neem. Ons bly egter in die mooiste Kaap, in die hoekie, so afstande na ander provinsies kan 'n probleem raak.  

Dit is maklik om paar plekke en afstande op 'n koevert te skribbel, maar daars honderde dinge om in ag te neem. Dis nie meer my eie trip nie, dit moet nou vir my vrou ook lekker wees.

Oor die jare heen het ek hier op Wilddogs baie tips gevang by die ervare "2-up riding couples". Ek mag dalk nou 'n paar oorslaan, maar nou praat ek van mense soos Die Visarende, Jmol & Ou Bees, Jupiter & Lynn, Duster & Stoffies, Alwyn & Michelle. Hulle reisjoernale het my nog altyd geinsprireer.

Elkeen doen wat vir hom en haar werk. Nou moes ons ons voorbereiding aanpas by wat vir ons die beste sou werk.

Ek hou van bike ry, al reken ek myself as 'n gemiddelde naweekryer. Binne my vermoeens, sal ek selfs afentoe inneuk in plekke waar my 800GS gans te swaar is vir die gemiddelde ryer. Met my vrou agterop gaan ek nie kyk hoe diep in die gammadoelas ek kan invaar nie.

Saam met haar is dit eerstens 'n vakansie en tweedens 'n bike trip. Daar is goeters soos rusdae tussenin. Ons ry om te gaan nuwe plekke besoek en die nuwe ervaringe in te drink. Ons is nie op 'n "mission" nie, ons wil juis stop by die plekke waar ons altyd net met die kar verbyjaag.

Ons tyd was 'n bietjie min, maar ons moes dinge fyn sny en mooi uitwerk om dit te maak gebeur. My taaljuffrou vroutjie merk jaarliks die graad 12 departementele eksamen. Hulle weet nooit presies tot 2 dae vantevore wanneer hulle begin of gaan klaarmaak nie. Intussen moes ek verblyf ook boek en depositos betaal. Ons het eintlik maar 'n kans gewaag en daarom het ek eintlik een dag van die trip aan die begin gesny en eers die Sondag as vertrekdatum daargestel. Al wat ons geweet het is dat ons 'n familieverpligting die daaropvolgende saterdag in Mosselbaai sou he...my Oom se 80ste verjaardag. Die een waarop ek nogals moet optree met 'n heildronk speech ook. So my pak was geboek. Ons het ses dae gehad om tot by Stilbaai te toer en te rus. Die laaste skof terug Kaap toe sou darem eers paar dae daarna kon aanbreek.

In my beplanning het ek vier missies geidentifiseer waaruit hierdie bike trip sou bestaan.

1) Om die hele Route 62 te ry vanaf Worcester tot in Humansdorp.
2) Om Hogsback te gaan besoek (die honeymoon destination)
3) Om Old Thomas River te gaan besoek  
4) Om met Old Cape Road vanaf Port Elizabeth af terug te ry sover hy ons kan neem voor ons weer op die N2 moet aansluit.

In daai laaste week voor ons vertrek het alles begin in plek val. Ek het 'n nuwe agterband laat opsit, die depositos vir ons verblyf was betaal en die vrydagoggend kry ek die beste boodskap van die hele week van Anmar af ...." Lief, ons is klaar gemerk! Ons vul nou laaste registers in"

Dit het vir ons die hele saterdag gegee om die laaste dinge reg te sit.

Ek het vir Anmar twee Woolies shopping bags gegee en vir haar mooi verduidelik dat sy mooi moet dink aan wat daar ingaan. Dit wat daar ingaan...gaan saam. Die res bly by die huis. Sy moes die fyn balans kry tussen voorskrif medikasie & genoeg klere (in Hogsback raak dit selfs in Desember koud). Ryklere het jy mos aan...so dit gaan nie in die sak nie. Haar geliefde haardroeer moes egter in die slag bly. Die twee Wolfman Silos was alles vir haar.

Ek self moes maar die toksakkie vir die carrier inspan. Bowenal my goedjies het ek ook die "what if" goed in my sakkie gehad. Tussen my klere was daar klein stukkies gereedskap vir die bande, chain wax, opwasmiddel & sponsies vir ons selfsorg verblyf en my Swanniebraai se roostertjie vir ingeval daar nie voldoende braaigeriewe is nie.

Ons het die saterdagaand die drie sakkies op die sitkamervloer staangemaak....

Ek kon nie glo dit breek uiteindelik aan nie.

Ons was vroeg in die kooi...sodat ons vroeg kon padvat.

 

 

Attachments

  • WP_20151212_004.jpg
    WP_20151212_004.jpg
    65.9 KB
Dag 1: Durbanville - Uniondale 525km - "it's a long road out of Eden"

5am sit ek Anmar se koffie op die bedkassie neer. Die voordeur is reeds oop en ek strike my eerste probleem vir die dag. Daai twee vetgepropte Woolies shopping sakke wil not a tiekie in daai Wolfmans in. Plan B, gaan haal kleiner plastieksakkies en herlaai elkeen met twee of drie items. Dan kan mens mos lekker puzzle pak. 05h30 kom Anmar by die voordeur uit, koppies is uitgespoel, buff is reggeskuif, swart baadjie is aan. Ek gryp haar nader vir 'n skietgebed na Bo vir die reis. Dit was slegs enkele dae na Nismark se ouers se ongeluk en ek het belowe om die reis aan hulle nagedagtenis op te dra. Ons is uiteindelik met vakansie en ons sou die hele trip met ekstra verantwoordelikheid geniet.  

Hier gaat ons!

Soos ek die N1 by Kraaifontein slaan kan ek nie die rustigheid binne my glo nie. Ek was bang dat ek sou worry dat ek vir Anmar in 'n ding begewe wat sy net doen vir my vreugde, maar tog voel alles so reg. Kort-kort kry ek weer daai ekstra drukkie om my "love handles". Dis 'n goeie ding...dit se vir my sys gemaklik. Solank Anmar gemaklik is is ek gemaklik.

Op Du Toitskloofpas se boonste draai vang ons vir die eerste keer vol-son op die wange. Tyd vir daai eerste koffie stop. By die nuwe Shell Ultra City net buite Worcester kliek ek die "indicator" en ek gaan hou voor die Vida Café stil.  Daars 'n rustigheid in my gemoed, eerste 90km agter die blad en dinge voel goed in my binneste. Die bike loop en hanteer lekker, die bagasie sit mooi stewig, die trip begin insink, daars nie nou van omdraai nie.

By die garage knoop ek 'n geselsie aan met die eienaar van 'n mid 70's Chevy 4.1. My pa het vir 16 jaar met so een gery. Dit was die kar wat ons gehad het vandat ek my eerste skree geskree het, tot ek Sub A toe gegaan het. Hulle is oppad na Montagu se warmbaddens en ons wens mekaar voorspoed op die reis toe.

Agter Kleinplasie draai ons af na Robertson toe en die volgende stop is by Ashton se trein. Vir 33 jaar al ry ek hier verby en nooit daar kans vir stop nie. Ook nie by die Old English Fort net buite Montagu daar in Kogmanskloofpas nie. Dis sulke tyd! Ek is so bly ons het dit gedoen, die uitsigte is asemrowend.

Vanaf Montagu stoot ons aan tot by Barrydale vir die "breakfast of champions"... Diesel & Crème se befaamde milkshakes.

9am en die helfte van die dag se afstand is agter die blad. Ons neem stelling in daar op die barbierstoele en ek skop my pote uit. Life is good! Van hier af kon ons dit rustig vat vir die res van die dag.

1) Gepak en gereed!
2) Pre trip selfie
3) Die ou Chevy
4) "daars 'n trein....tjoe tjoe tjoe tjoe tjoe tjoe..."
5) "maar wie is die drywer?....ou Gommie is die drywer..."
6) Old English Fort - ons gaan nou klim, paps!
7) Ek sou maar moes laagle in daai dae
8) Route 62
9&10) Breakfast of Champions




 

Attachments

  • WP_20151213_001.jpg
    WP_20151213_001.jpg
    73.3 KB
  • WP_20151213_002.jpg
    WP_20151213_002.jpg
    82.3 KB
  • WP_20151213_004.jpg
    WP_20151213_004.jpg
    63.8 KB
  • WP_20151213_006.jpg
    WP_20151213_006.jpg
    39.8 KB
  • WP_20151213_008.jpg
    WP_20151213_008.jpg
    46.9 KB
  • WP_20151213_07_59_24_Pro.jpg
    WP_20151213_07_59_24_Pro.jpg
    112.6 KB
  • WP_20151213_08_06_16_Pro.jpg
    WP_20151213_08_06_16_Pro.jpg
    57 KB
  • WP_20151213_017.jpg
    WP_20151213_017.jpg
    51.9 KB
  • WP_20151213_027.jpg
    WP_20151213_027.jpg
    48.2 KB
  • WP_20151213_029.jpg
    WP_20151213_029.jpg
    62.2 KB
Lekker storie en pics. Jy het omtrent n mooi blom gepluk  :thumleft:
 
Nog so paar hoogtepunte van die voor 9am skof.  :thumleft:
 

Attachments

  • WP_20151213_026.jpg
    WP_20151213_026.jpg
    42.4 KB
  • WP_20151213_09_51_07_Pro.jpg
    WP_20151213_09_51_07_Pro.jpg
    136.8 KB
  • WP_20151213_037.jpg
    WP_20151213_037.jpg
    42 KB
  • WP_20151213_09_46_12_Pro.jpg
    WP_20151213_09_46_12_Pro.jpg
    109.5 KB
  • WP_20151213_014.jpg
    WP_20151213_014.jpg
    95.8 KB
Van sit en staan kom niks gedaan en voor die ergste Klein Karoo hitte opvlam sleep ons weer Ooswaarts.

Ladismith bied geleentheid vir bene rek en water afslaan asook Huisrivierpas daarna. Ons toer tog te lekker op Route62 en voor ons ons oe uitvee was ons in Oudtshoorn. Middagete....roosterkoeke by Smitswinkel. Net soos Diesel & Crème is Smitswinkel ook so Karoo Kitchy Cool. My petrolkop is maar met min tevrede...gee vir my 'n roosterkoek en paar stukke outydse karwrakke, parte & speelgoedkarretjies en eks happy.

Oja, ek het vergeet om te noem dat ek op Barrydale met brandstof opgetop het en hier by Oudtshoorn toe brand die liggie weer, maar ons druk toe deur De Rust toe. Ek wil nog eendag my tyd vat met De Rust, maar dan sal ek iewers in die middel van die jaar gaan. Dis net te warm daar in Desember. Die laaste stuk pad het vir ons voorgele en wat 'n eensame stuk pad is dit nie.

Op daai lang reguit stuk tussen De Rust en die N9 het hierdie liedjie van Bob Seger herhaaldelik in my kop gemaal. Ou Bob Seger is nogals sinoniem met bike trips en hierdie lirieke wat handel oor die lewe van 'n rockstar op die pad tussen die konserte stel nie teleur nie.

Bob Seger - Turn The Page

On a long and lonesome highway
east of Omaha
You can listen to the engine
moanin' out his one note song
You can think about the woman
or the girl you knew the night before
But your thoughts will soon be wandering
the way they always do
When you're ridin' sixteen hours
and there's nothin' there to do
And you don't feel much like ridin',
you just wish the trip was through
Here I am
On the road again
There I am
Up on the stage
Here I go
Playin' star again
There I go
Turn the page
Well you walk into a restaurant,
strung out from the road
And you feel the eyes upon you
as you're shakin' off the cold
You pretend it doesn't bother you
but you just want to explode
Most times you can't hear 'em talk,
other times you can
All the same old cliches,
"Is that a woman or a man?"
And you always seem outnumbered,
you don't dare make a stand


Soos die agterstewe begin lam raak is daar so 'n kort afdraaipaadjie voor Uniondale en soos jy oor die koppie kom le die dorpie voor jou.

Dis 15h30 op 'n Sondagaand....op 'n stil Karoodorpie, maar ons was in vir 'n groot surprise...

1) Ladismith se piepieplek
2) Huisrivierpas
3) Chicken Mayo, Pineapple & Gherkin Roosterkoek @ Smitswinkel
4 & 5) Van Smitswinkel se skatte

 

Attachments

  • WP_20151213_10_52_36_Pro.jpg
    WP_20151213_10_52_36_Pro.jpg
    75.5 KB
  • WP_20151213_11_18_11_Pro.jpg
    WP_20151213_11_18_11_Pro.jpg
    183.8 KB
  • WP_20151213_039.jpg
    WP_20151213_039.jpg
    63.3 KB
  • WP_20151213_13_15_24_Pro.jpg
    WP_20151213_13_15_24_Pro.jpg
    135.4 KB
  • WP_20151213_050.jpg
    WP_20151213_050.jpg
    124 KB
Ons bestemming vir die aand is Bon Accord Gastehuis op Uniondale waar ons ontvang was deur die eksentrieke Charlene & haar boerboel, Jasper.

So ietsie oor Charlene...sys 'n vrou van vele talente. Suksesvolle gastehuis eienaar, bied kunsklasse aan vir die locals, maak blindings en gordyne en is ook 'n kranige kok en binneshuise versierder. Op haar perseel is twee geboue, die gastehuis asook die dorp se ou fliekteater wat dien as haar studio.  

Sy gee vir ons die mooiste kamer in die voorhuis, kompleet met tv waar ons so met die ontspanning saam kon opvang met hoe die Blitsbokke die Kaapstad 7s toernooi verower het.

Toe ek die week vantevore my bespreking met haar bevestig vra sy my of sy vir ons iewers kan aandete bespreek. "Virseker," antwoord ek maar na die oproep wonder ek...waar de drommel gaan ons op 'n sondagaand in Uniondale 'n restaurant oop kry?

500m op in die pad stap ons na die restaurant toe...Die Watermeul.

Die geskiedkundige geboutjie wat in 1977 onder projekbestuur van Dalene Matthee (ja, daai Kringe in 'n Bos/Fiela se kind tannie met wie se boek jy op skool mee gesukkel het) gerestoureer is. Dit word reeds vir die laaste 18jaar as klein restaurantjie bedryf. So 'n "eerie" tannie wat jou aan die Uniondale Spook herrinner en haar man bedryf die 12 sitplek restaurantjie en ons was in vir 'n treat.

Daar in die Klein Karoo eet ons daai aand Franschoek hoofstraat gehalte gourmet kos teen 'n fraksie van die prys. Ons bestel toe die enigste vier woorde op die volksvreemde menu wat ons kan lees..."smoked pork fillet medallions" en dis vir my duidelik dat die Karoomense meer tyd op hande het as ons stadsjapies. Ek meen...die gebraaide aartappels was eers opgekook, toe gemash, daarna weer 'n aartappeltjie van gemaak en daarna weer gebraai. So hy is crispy op die buitekant met 'n doeksagte kapok aan die binnekant. Vir nagereg eet my vroutjie selfs 'n gestroopde (poached) peer in rooiwynsous.

Al waggelend met ons dikgevrete pense stap ons terug gastehuis toe waar Charlene & Jasper ons inwag net om te hoor hoe laat ontbyt moreoggend moet gereed staan.

Ons het 'n wonderlike eerste dag gehad.  Daar was nog baie avontuur om die draai.



 

Attachments

  • WP_20151213_097.jpg
    WP_20151213_097.jpg
    31 KB
  • WP_20151213_093.jpg
    WP_20151213_093.jpg
    30 KB
  • WP_20151213_091.jpg
    WP_20151213_091.jpg
    35.3 KB
  • WP_20151213_090.jpg
    WP_20151213_090.jpg
    38.4 KB
  • WP_20151213_078.jpg
    WP_20151213_078.jpg
    65.6 KB
  • WP_20151213_074.jpg
    WP_20151213_074.jpg
    78.5 KB
  • WP_20151213_053.jpg
    WP_20151213_053.jpg
    38.9 KB
  • WP_20151213_063.jpg
    WP_20151213_063.jpg
    50.1 KB
  • WP_20151213_064.jpg
    WP_20151213_064.jpg
    76.4 KB
  • WP_20151213_076.jpg
    WP_20151213_076.jpg
    84.2 KB
Dag 2: Uniondale - Hogsback  (520km) - " With your chrome heart shining in the sun, long may you run"


Toe ek om 06h30 reeds met my ryklere aan deur die kombuis beur om die sakkies te gaan inlaai is Charlene reeds besig met die opsnipper van die vrugteslaai. Na gister se lekker dag op die pad is ek opgewonde om weer aan die gang te kom. Deurie Uniondale Poort en dan af deur die Langkloof, een van my gunsteling paaie. Dit is 'n skande dat ek hom in 2009 laas gery het.

Vandag het ons nog 'n lang dag wat voorle en ons kannie so lekker vroeg wegkom soos gister nie, maar teen 07h15 is die ontbyt gereed. Ons word omtrent bederf. Vrugteslaai & yogurt, spek, eiers , roosterbrood, tuisgemaakte konfyt en kaas saam met genoeg koffie.

Omstreeks 08h00 streel ek Jasper se kop vir die laaste keer en na 'n vinnige fotostop by die pragtige kerk bereik ons die "city limits".

Die Uniondale poort is vir my net so mooi soos Meiringspoort, hys net te vining verby. Net buite Avontuur draai ons weer in route 62 in. Plek plek in die vallei le daar 'n paar lae misbankies soos ons deur die pakstoordorpies ry. Hulle het die mooiste name...Misgund, Haarlem, Louterwater, Krakeelrivier...Daars 'n helder, "high definition" skoonheid in die lug, die grond donker en die groenigheid helder van kleur, dis vrugbare wereld hierdie. 

Op Joubertina saal ons af vir die eerste koffiestop van die oggend, by 'n winkelsentrumpie langs die pad wat voorheen as Die Ark bekendgestaan het. Deesdae is dit nie meer "Die Ark" nie, maar dit bestaan uit so vier besighede. By die wegneem plekkie in die hoek gaan maak ek gou vir ons sommer 'n kitskoffie.

Ons loop in die Arts & Crafts winkeltjie in hulle het modeltrekkertjies. Toe Anmar my afneem roep die Tannie van die winkel my. "Seun, hou jy van sulke goed? Ek gaan vir die Oom vra om vir jou die drankwinkel oop te sluit..."

Hoe bedoel die antie dan nou?

So ek stap daar uit en die oom sluit die bottelstoor oop....en daar in die Langkloof vind ek petrolkop hemel.

404 verskillende modelle van chroom, outydse kar wieldoppe. Dit voel vir my daars meer wieldoppe in daai winkel as wat daar wyn was. Voor die till staan daar boonop nog 'n 1959 Vespa ook, presies soos my pa gehad het. Nee kyk, as Anmar kon bike ry sou sy my daar kon agterwee los.

Met 'n rustigheid in my gemoed reis ons verder na Kareedouw en later Humansdorp waar ek weer gaan volmaak het. 

1) Dekor om die ontbyttafel geskik vir katliefhebbers
2) Die pragtige Uniondale NG Kerkgebou
3) Iets vir ons antieke trekker geesdriftiges
4, 5, 6 & 7) Die mooiste drankwinkel ooit

 


 

Attachments

  • WP_20151214_003.jpg
    WP_20151214_003.jpg
    71.2 KB
  • WP_20151214_007.jpg
    WP_20151214_007.jpg
    107.5 KB
  • WP_20151214_09_02_11_Pro.jpg
    WP_20151214_09_02_11_Pro.jpg
    78 KB
  • WP_20151214_008.jpg
    WP_20151214_008.jpg
    48.3 KB
  • WP_20151214_09_10_04_Pro.jpg
    WP_20151214_09_10_04_Pro.jpg
    128.4 KB
  • WP_20151214_09_10_36_Pro.jpg
    WP_20151214_09_10_36_Pro.jpg
    113.4 KB
  • WP_20151214_09_11_38_Pro.jpg
    WP_20151214_09_11_38_Pro.jpg
    112.1 KB
Sulke regte honeymoon fotos, eers ek dan jy!! :thumleft:

Gooi nog :thumleft:
 
Kan verstaan hoekom die Afrikaanse jufrou, haar met jou ophou. Jy kan maar die taal besig. Is laas week daai rigting verby, maar lyk my sal dit weer moet doen? het baie meer tyd nodig.
Dankie vir die deel.
 
Kan verstaan hoekom die Afrikaanse jufrou haar met jou ophou. Jy kan maar die taal besig.
Is laas week daai rigting verby, maar lyk my sal dit weer moet doen? Het baie meer tyd nodig.
Dankie vir die deel.
 
Klein Torkar said:
Kan verstaan hoekom die Afrikaanse jufrou haar met jou ophou. Jy kan maar die taal besig.
Is laas week daai rigting verby, maar lyk my sal dit weer moet doen? Het baie meer tyd nodig.
Dankie vir die deel.

:thumleft:

Soos Andre Van Wyngaard sing...."kom laat ek dit herhaal-haal-haal-haal-haal haal...ek is lief vir my taal taal taal taal taal taal  :imaposer:
 
Dag 2 - Vervolg

Vanaf Humansdorp volg daar maar 'n vervelige stuk, die N2. Ewe skielik moet ek weer op my hoede wees. Daars meer verkeer, dwarswind, buffetting, taxis, vragmotors en PE se local jaagduiwels.  :deal:

Ek hou maar die oranje masjien se regteroor gedraai tot ons by Colchester, by die eerste groot garage kan gestop kry om net weer bietjie af te klim. Hoewel die omgewing pragtig is raak dit warm en onplesierig met die dwarswind en die konstante dodge van taxis en ons stoot aan tot by Grahamstad waar ek moet gaan volmaak.  In Grahamstad vra ek vir twee wit mense, in bakkies, in hul taal hoe om op die pad na Fort Beaufort te kom, hulle was nou nog nie van enige hulp vir my nie. Ek het dit maar net gekry so met die hulp van my natgelekte wysvinger.

Die pad na Fort Beaufort het weer vir my die trip in volle glorie herstel. Dit is 70km van bike hemel. Hierdie stuk pad herrinner aan die Koo-pad tussen Montagu & Touwsrivier. Jy gaan ook oor twee passe naby Grahamstad, gevolg deur 'n pragtige karoo tipe vlakte. Net buite Fort Beaufort ry jy skielik weer langs lemoenboorde. Maar die mooi was van korte duur. Fort Beaufort en Alice is die twee lelikste, mees vervalle plekke wat hierdie twee Kapenaars op die toer gesien het. Ek voel regtig jammer vir die inwoners wat hul inkomste daar moet verdien.

Na Fort Beaufort is ons in die pylvak vir die dag. Die omgewing verander en oral waar jy kyk is net vetgevrete boerbokke wat vreet aan doringbome, slaggate en beeste in die pad. Om egter die rietdakrondaweltjies elke 500m te sien met die troppe bokke, beeste, kinders en maer basterbrakke om die huisies is die Ooskaap wat ek eintlik uitgesien het om te kom sien. Al verstaan ek nie hoe mense so kan leef nie, verstaan ek tog hoekom die Kaapse township bewoners jaarliks "land" toe wil gaan. Dit is waar hul hart is.

Van die mistiek van Hogsback het baie mense my oor die jare vertel. Nou weet ek wat hulle bedoel. Vir diegene wie nog nie daar was nie...tot en met 10km voor die dorpie het jy nie 'n clue dat daar so 'n plek is nie.  Minder as 10km voor Hogsback verander die natuur om jou van grasvelde tot 'n skielike Knysna bos. Jy klim 'n pas uit waar die bome soos 'n dak oor groei. Daar is seker elke 50m 'n stukkie waar die son kan deurbreek. Dit is asemrowend. Na bykans 520km vir die dag bereik ons ons bestemming en ons is moeg, maar dankbaar.

Ons verblyf vir die volgende drie nagte is Birchwood Cottage by The Edge. Dit is 'n bekostigbare selfsorg huisie wat vir ons soos huis gevoel het. Dit stem baie ooreen met ons eie kothuis, hier in Durbanville. Die braaiplek, bed & badkamer sit bykans op dieselfde plek.  

Met die aankoms en inklok by ontvangs staan daar drie woorde op die voordeur wat ons bewegings vir die aand bepaal het: WOOD FIRED PIZZA

Na ons afgepak het is ons gou weer dorp toe na die Foodzone, die enigste kafeetjie waar ons die volgende paar dae se kruideniers gaan aankoop het.

Maar daardie aand, toe sit ons voor die (nodige) kaggel in die restaurant en smul aan hul heerlike pizzas. Ek ken my pizzas...maar hier in die Kaap kry ek nie 'n Springbok Carpaccio Pizza nie. Dit is hemels!

Terug by die huisie moes ons die stapeltjie brandhout inspan teen die koue en daar word kaggel gestook.

Daai nag het ons lekker geslaap. Min het ons geweet daar daar nie juis baie gerus gaan word die volgende dag nie  :snorting:

...word vervolg...

1) Birchwood Cottage @ The Edge
2) Die Labarint by The edge
3) Die "Edge" by The Edge
4) Wood Fired Pizzas
5) Max, die Great Dane kom se gou hello by die tafel en kyk my laaste snytjie carpaccio uit my bord uit.
6) Kaggel in Desember
 

Attachments

  • WP_20151214_028.jpg
    WP_20151214_028.jpg
    64 KB
  • WP_20151214_067.jpg
    WP_20151214_067.jpg
    39.1 KB
  • WP_20151214_049.jpg
    WP_20151214_049.jpg
    62.9 KB
  • WP_20151214_058.jpg
    WP_20151214_058.jpg
    80.5 KB
  • WP_20151214_055.jpg
    WP_20151214_055.jpg
    49.9 KB
  • WP_20151214_033.jpg
    WP_20151214_033.jpg
    78.1 KB
  • WP_20151214_018.jpg
    WP_20151214_018.jpg
    84.4 KB
  • WP_20151214_013.jpg
    WP_20151214_013.jpg
    151.3 KB
Dankie vir die deel.  Dit is nogal 'n storie om te pak met daai wolfman sakke.
 
Dag 3 - Die Hogsback "rusdag oggendsessie" - paar 1000 kilojoules -  "Kringe in 'n bos"  

Ons moes seker darem die plekkie gaan leer ken het, maar ons het nie geweet waar om te begin nie. Die vorige aand in die Foodzone se ry by die till het 'n jong man met ons begin gesels en hy het duidelik gesien ons is nie van hier rond nie. Hy vertel ons toe van watervalle en hoe om daar te kom. Die goed het die mooiste, romantiese name. Hoe kan mens hulle nou nie gaan opsoek nie? Madonna & Child, Swallow's Tail, Kettle Sprout, 39 Steps...so gaan dit aan.

Ons besluit toe maar om sonder ontbyt reguit Info Centre toe te gaan en die kaartjie te gaan haal.

Op hierdie punt moet ek weereens verduidelik hoe die dorpie lyk vir diegene wie nieg nie daar was nie. Daar is so 300m geteerde hoofstraat en aan beide kante is dit net groen en bont van die blomme en bome. Die dorpie is gestig as 'n tuin. Daar is min geboue op die hoofstraat en aan beide kante is daar net plotte wat met grondpaadjies verbind is. Oral waar jy gaan is jy basies binne in die die woud. Ek dink dit is die mooiste plek waar ek nog ooit was.

Dit is egter jammer dat daar nie veel van 'n ekonomie buiten toerisme is nie. Die omgewing se swartes dwaal ook maar daar rond om hulle pragtige kleivarkies as Hogsback aandenkings te probeer verkoop. Hulle ken nie veel woorde nie en die slegste ding is...later raak hulle eintlik maar net lastig, al weet hulle nie hoe doen dit nie. Hulle is ook permanent soos hoog soos 'n vlieer, daar groei duidelik wilde rookgoed in daai omgewing.

Oorkant die info centre draai ons af op die grondpaadjie na Madonna & Child waterval. Dit is so 3km se ry tot waar jy parkeer. Ek het mos ook nie met 'n Block of Flats gekom nie, so ons moet ons helmets saamdra. Ons gaan stap daai staproete soos twee skoolligties met hulle helmets op 'n vrydagaand in Tygervallei. Na so 700m se steil trappe afwaarts bereik ons vir Madonna & Child.

Dit is vir my so mooi...dit voel sommer Heilig.

Die vorige aand se klong by die winkel het vir ons genoem dat Hogsback woud ook 'n Big Tree het en dat dit 'n rustige stappie is vanaf Madonna & Child. Dit is mos net 2.7km tot daar.... Ek maak toe mos die call dat ons dit sommer stap, want ek was nie juis op daai oomblik lus vir die 700m trappe na bo nie. Waar die staproete vurk na die Big Tree en die Madonna's parkeerterrein hou ons links en toe begin die sports. Skielik is die staproete kwaai toegegroei, want min mense stap daai stuk en duidelik het niemand van bosbou onlangs daar met die panga geloop nie. So deur die skrape en spinnerakke, helmets in die hand, druk ons deur.

Die Big tree het nie teleurgestel nie. Ek ken nou nie die Knysna & Harkerville Big Tree se stats nie, maar hierdie een is 38m hoog en so ommenby 800 jaar oud.

van hier af moes ons egter uit die bos kom, tot in Wolfridge Road waar die bike staan. Die honger begin te knaag en ons is reeds meer as twee ure op die staproete.

Klein entjie van die Big Tree af kry ons weer 'n vurk in die pad. As ons regs gaan stap ons met die 2.7km toegegroeide bospad terug...as ons links gaan is dit 700m, maar dis soos ons in ADV bike kringe sal noem - die rooi roete verby Swallow's tail.

Wat vir die volgende halfuur gevolg het was 'n ware vuurproef vir ons huwelik. Ons is nie ervare stappers nie, is honger en dors en boonop dra ons nog helmets ook saam en ek het ons mos nou hier laat indonner.  Ons het geloop waar 'n bobbejaan 'n kierie sou nodig he. Dit was bitter steil op plekke, jy gryp en trap na boomwortels en dis so toegegroei op plekke dat ek nou nog nie die Swallow's tail gesien het nie. Ek het ook nie omgegee nie, want toe ons uiteindelik by die grondpad aankom...was ons nog 2km weg van die bike af en die son het nie gespeel nie. Terug by die bike sit twee carguards by hulle pel wat sit en kieries maak. Anmar skerts nog met die een dat as hy nou wil geld maak moet hy net 'n koelboks vol blikkies koeldrank he.

Sy antwoord aan haar? "eeeee no mamm.... we don't have transport, the transport is too expensive, there would be no profit....do you want some mushrooms?"  Hy vergeet dat hy sonder enige kostes tot daar gestap het....maar kom ek skryf maar aan voor die mods my ride report na Religion&Politics blad toe skuif  :dousing:

Ons het maar by ons rooi-oog mushroom dealer verbygehou en is reguit na The Lighthouse Pub toe om weer die innerlike te gaan versterk.  




 

Attachments

  • WP_20151215_004.jpg
    WP_20151215_004.jpg
    86.2 KB
  • WP_20151215_007.jpg
    WP_20151215_007.jpg
    74.1 KB
  • WP_20151215_011.jpg
    WP_20151215_011.jpg
    82.6 KB
  • WP_20151215_014.jpg
    WP_20151215_014.jpg
    67.9 KB
  • WP_20151215_017.jpg
    WP_20151215_017.jpg
    50.4 KB
  • WP_20151215_028.jpg
    WP_20151215_028.jpg
    55 KB
  • WP_20151215_038.jpg
    WP_20151215_038.jpg
    162.5 KB
  • WP_20151215_041.jpg
    WP_20151215_041.jpg
    107.6 KB
  • WP_20151215_047.jpg
    WP_20151215_047.jpg
    152.7 KB
Top