Soms wonder ek oor 'n vakuum in my kop

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.
Joined
Oct 4, 2006
Messages
381
Reaction score
256
Location
Somerset Wes
Bike
BMW R1150GS Adventure
Ek ry al jare motorfiets en doen die basiese herstelwerk soos en wanneer iets breek.
Maar dienste en enjin-werk laat ek oor aan Alf, wat al sedert 2007 my go-to kundige is.
My GSA loop die laaste tyd biki ongelyk en dit is nog 2000km voor sy volgende diens (op 180000 km)
Ek het besluit om 'n slag self die silinders te balanseer -- volgens die beskrywings op internet lyk dit heel doenbaar vir 'n onkundige soos ek.

Ek besluit op die lang pyp met water in die onderste U, dit lyk vir my die maklikste.
Manometer U-tube.jpg
Ek het pyp gekoop en netjies teen die muur vasgebou (ek gaan dit mos voortaan gereeld self doen)
Die twee op-pype het hoog (2meter?) bokant die U gedraai en dan afgekom na die mfiets.

20221204_175534.jpg

Ek het 'n klompie water ingewerk (nie afgemeet nie), sonder die ink kleursel want ek kon die watervlak mooi sien.
Die eerste sukkel wat ek gehad het is dat die hele lengte van die ingooi-pyp vol lug borrels was.
Met moeite het ek al die groot lugborrels weggewerk.
Okey, ek koppel toe die los punte van die lang pype op die enjin en skakel die enjin aan.
Op 1000 rpm lê die watervlak effe skeef, maar dit lyk mooi stil.
Die voorgeskrewe proses is nou om eers op 3000rpm die watervlak te check en in te stel.
Okey, enjin aan, draai op tot 3000rpm en maak die handgreep vas.
Die watervlak is effens uit, en kruip stadig in een pyp op.
Enjin raas, dit maak dat ek haastig raak.
Ek loop om na die anderkantste vergasser en begin sukkel om die verstelling met my vingers by te kom.
Dit is 'n gesukkel want die skroefdraad is stram en my vingers kom nie lekker by nie.

Skielik klim die revs hoog op (5000?) en ek skrik my lam!
Dadelik skakel ek die enjin af.
Toe sien ek daar is geen water meer in die U-pype :oops::oops:
Wat gebeur het is dat, terwyl ek gesukkel het om te stel, het die water opgeklim en deur die vergasser gegaan.
Ek raai dit het veroorsaak dat die mengsel skielik baie arm geword het en die enjin laat weghardloop het.

Okey, redeneer ek, my opstelling van die U-buis werk nie so goed nie. Die verstelling neem te lank en dit gee die water kans om tot by die enjin te kruip.
(Agterna, in terugsig, het ek besef dat ek maar net te min water in die buis gehad het. En ek was oorhaastig).

Sonder om mooi te dink aan die hoe, wat en waarom die U-buis nie gewerk het nie, besluit ek om die twee-bottel metode te doen.
Manometer Two-bottle.jpgfoto
My redenasie was dat die bottel se volume groot is en dit sal my genoeg kans gee om te verstel voordat die water by die enjin uitkom.
Solank die bottel groter is as die totale hoeveelheid water.

Ek het gou twee bottels gekry en die nodige opstelling gemaak.
Met groot afwagting het ek die enjin aangeskakel.

Dadelik kry ek 'n baie groot skok en skakel die enjin dadelik af --- beide bottels is platgesuig en die water is op pad na die enjin !!!
Wat 'n dom fout!
Ek het plastiekbottels gebruik terwyl dit glasbottels moes gewees het!
:(
20221031_184402.jpg
Gelukkig geen skade aan die enjin nie.

Paar dae later het ek onthou van 'n vakuum-apparaat wat daar iewers in die garage is. Ek het dit jare gelede gebruik om lugborrels uit vloeistof te suig/pomp.
Die ding het net een vakuum meter en ek maak toe maar pype op met 'n T-stuk en twee klein kleppe (als van mikrobesproeing parte).
Die meter is op die middelste pyp en 'n klep na elk van die silinders. Hiermee kon ek een silinder afblok en die ander een meet.
20221204_175929.jpg
Eindelik het ek iets wat kan werk sonder die gevaar dat die enjin kan seerkry.
Een probleem was dat die vakuum meter se naald vreeslik heen-en-weer swaai. Dit kon ek beperk deur die kleppie op 'n skrefie te stel totdat die naald stil genoeg is.
Nie perfek nie, maar goed genoeg vir my.
Met die regte apparaat sal mens seker beter resultate kry, maar hierdie goed genoeg vir my totdat Alf die volgende diens doen.

Die mfiets loop nou weer mooi gelyk en ek het goeie lesse geleer.
Nou kan ek begin werk aan daai vakuum in my kop....
 
Last edited:
Top