Vroeg oggend word ek wakker. Heeltemal onvoorbereid vir die Eksdom beurtkrag , lê ek en wag vir 06h00 om te kom sodat ek kan gaan koffie maak. Geen mens kan jou dag tog begin sonder koffie nie.
Daar word ‘n paar goedjies in die bakkie gegooi en kort voor lank stop ons by die workshop en die bike word gelaai. Gister middag laat was die vurke nog ingesit na die seëls gegroet het met die laaste funduro. Tyd was te min om alles deur te gaan en ek hoop maar alles is nog soos dit laas was.
Daar word petrol gegooi, koeldrank gekoop en 25 minute later stop ons om te registreer vir vandag se Klynefontein funduro.
Vroeg oggend is die gees al lekker. Ek groet ‘n paar bekende gesigte en ontmoet ‘n paar nuwes. Na lekker gesels meld ons aan vir riders briefing en die lyne vorm vir die weg spring. Ek dink daar was >70 bikes gewees vandag.
Shawn verduidelik dat daar ‘n paar tegniese gedeeltes is, maar daar is ook chicken runs by van die ergstes. Met dié wat ek deesdae so min bike ry en in my tjops was na die laaste funduro, belowe ek myself om dit vandag net rustig te vat.
Getrou aan my belofte val ek terug tot in die laaste ry en ons trek weg met ‘n reuse gedreun. Sommer binne die eerste paar honderd meter begin dinge bekend lyk. Ons het in 2005 omtrent elke naweek hier gery toe Shawn se Pa nog geleef het. Hierdie paar fotos is alles van daai tyd:
Dit is single track al die pad, op, af, tight, eerste en tweede rat storie en hard op die remme. Ek is ongemaklik, erg ongemaklik en die bike ry my meer as wat ek die bike ry. Die front end maak net wat hy wil en ek baklei om hom in lyn te hou. Ek check die steering damper en dit is tog af gestel? Ek probeer dink wat ek verkeerd gedoen het toe ek gister middag die vurke terug gesit het, maar weet ek het alles gecheck en getorque.
Die eerste chicken run kom en ek dink nie 2 keer om dit te vat nie. Nog single track deur die bos, oor ‘n stroompie en langs hom af. Ek sien myself al lê en versuip. Die 2de chicken run bordjie mis ek en dis af rivier toe. Ver af, en styl, en tight, en my arms is moer toe van baklei met die front end. Na ‘n helse drop off wat ek net net maak staan daar ‘n fotograaf en die man voor my stop, wat sommer vir my ‘n teken is om ook te stop.
Gesels bietjie, maak my kop nat in die rivier en drink ook sommer water uit die vloeiende stroom. Ek skep asem en kyk weer of daar fout is met die bike. En dit is toe ek agter kom die voorwiel is so te sê heeltemal pap. Mooi man! Wel, daaraan kan op die stadium niks gedoen word nie en ek val weer in die pad.
Van rustig vat is daar ongelukkig nie sprake nie. Dis vrek tegnies en die opdraende is steil, soms klipperig, soms los sand en besaai met boom wortels in allerlei rigtings wat wag om jou voorwiel te eis. Teen die einde van een van die opdraende uit die hel moet jy navigeer tussen twee rotse by ‘n step up. Ek maak dit nie, rol terug (wat self ‘n moerse uitdaging is) en staan op sy dat die man agter my kan deur kom. Hy vang hom meet heelwat meer momentum maar slaan daai klip so hard met sy footpeg dat ek seker is hy is nou af.
Daar word besluit dat dit semi onmoontlik is om daar oor te kom en drie van ons stoei om bikes gedraai te kry en ‘n ander lyn te probeer. Na baie sweet en rus is ons darem weer terug In die track bo. So gaan dit aan, en aan, en .........
Net kort van moedverloorsevlakte maak dit oop en ons is in die mielie land waarvan Shawn gepraat het. Vir ‘n rukkie is dit oop en vloeiend en kan jy 5de rat flat taps gooi. Dis net die draaie met die pap voorwiel wat nog moeilikheid maak, maar dit help om dit rustiger te vat, alhoewel ek klaar in my glory in moeg is.
Nog ‘n draai of drie deur die bos en dis die laaste hindernis gedeelte tot by die begin punt. As ek praat van hindernis: dit is die laaste obstacle waar jy klaar maak.
En nee, ek is summier regs om hom.
Ek stop en die laaitie het vir my koue water en cream soda reg. Ek rook eers, kry myself baie jammer en dink daaraan om dit ‘n dag te roep. My voorwiel is mos nou pap.
Maar nou ja, groepsdruk verhoed my om handdoek in te gooi en ek haal maar die kompressor uit die bakkie uit en pomp die wiel. Rook toe maar nog ‘n sigaret en staan en hoop dat die wiel genoegsaam afblaas gedurende die periode om dit onklaar te kan verklaar. Maar die druk hou en ek saal maar weer op.
Tot my verbasing gaan rondte 2 baie beter en ek kry ritme. Ry ook saam met pelle wat dit lekker maak en ons help daar waar die manne sukkel en word gehelp waar ons sukkel. Die tyd gaan vinnig verby ten spyte van ‘n lang stop of twee en toe is ons klaar!
Net klaar uit getrek, eerste bier nog so in die hand is ek en Donovan gou in die bakkie om iemand se bike te gaan recover wat se clutch gegroet het.
Daar word oorlog stories geruil en almal is gesellig in en rondom die kuier plek waar daar koffie, boerewors rolle, bier en selfs ‘n polisie koffetjie aangeskaf kan word.
Met prys uitdeling is ek die gelukkige wenner van ‘n bottel wyn. ‘n Lekker herinnering van nog ‘n kort verhaal in ‘n man se lewe.
Sent from my iPhone using Tapatalk