Uvex Polycarb Enduro valhelm terugvoering

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
12,208
Reaction score
3,770
Location
Nie van hier nie
Bike
Honda CRF 300L
Ek het onlangs my valhelm opgegradeer na 'n Uvex polycarbonate Enduro toe en wou bietjie terugvoering gee.  Ek het baie op die internet gaan kyk en klomp terugvoering van verskillende valhelms gelees.  Toe gryp die "brand names" vir my en ek dink toe die Arai of Shoei sal lekker (windgat) wees.  Begin toe bietjie pryse kyk en sien, sjoe, dis wild! Maar OK as jy wil windgat wees dan kos dit seker geld  :pot:

Nietemin, ek besluit toe ek gaan maar 'n dag vat en die gevreesde Johannesburg toe ry en gaan kyk en die verskillende modelle aanpas en sien wat werk en wat werk nie.  Die AGV AX8 het baie goeie resensies ontvang, veral wat betref sy windstilheid, hoe lekker hy pas en sy prys.  Ook die Nolan Xlite was redelik hoog aangeprys.

Ek kyk toe na hulle almal.  Het by Full Throttle en WOA in Randburg, gaan loer wat vir my gelyk het hulle het die wydste verskeidenheid.  Ook by Linex wat vir my effe teleurstellend was met hulle beperkte voorraad maar dis dalk te verstane aangesien hulle reg langs WOA is.  Die verkoopsman by FT het baie moeite gedoen en klomp verskillende modelle uitgehaal en baie verduidelik.  Hy kan maar sy salaris met 'n glimlag ontvang want hy werk vir sy geld.  So ook die man by WOA.

Ek moes toe hoor die Arai Tour X3 word nie meer vervaardig nie, die vervanger model is die Tour X4.  Prys?  R9200 by FT!  Jissie kerels, maar dis daarem baie geld.  OK ek pas hom toe eerste aan.  Mos nie langpad verniet gery nie.  Maar hy druk die wit waks uit my gesig uit.  Ek voel soos 'n rofstoeier wat dié rondte gaan verloor.  Lyk ook of ek my lippe "pucker" om my oorlê ouma Krismistyd te soen.  Ek sien (en voel) ek gaan nog nie eens 2de rat met die fiets haal voordat ek daai valhelm wil afruk nie.  Probeer toe die Nolan aan.  Baie lekker, lyk mooi maar hulle het net pikswart.  Neewat, wil daarem dat die karre my kan sien as hulle aankom.  Toe die AGV.  Baie lekker valhelm.  Hy pas my sover die beste van almal, lekker lig, goeie periferale sig.  Maar ai, nie my grote nie.  Dis waaragtig erger as skoene koop  :mad:

Weer terug na die Arai toe.  Pas hom weer aan.  Stap bietjie in die winkel rond (Lyk asof ek 'n bank wil beroof.  Sal dalk moet as ek die ene wil koop). Maar neewat, die ding druk my dat my oë traan, die prys maak my ook sommer heel huilerig.

Ons gaan WOA toe.  Die FT verkoopsman trek sy stert in 'n krul en groet nie eens nie.  Dis OK, hy moet ook kommissie verdien en tye is moeilik.

By WOA aangekom, my 2IB is al gatvol en bly sommer in die bakkie sit.  Dit kos mooipraat en omkoop om huismoles te vermy.  Ek begin van voor.  Probeer die Nolan aan, die AGV, die Shoei Hornet, die Arai.  Maar nou sien ek dis makliker om vir 'n matriekmeisie 'n afskeidsrok te koop as om 'n valhelm te koop.  Daar is die grote maar nie die kleur, of die model maar nie die grote. Of sommer nie eens die model waarna ek soek nie.  Lyk my vooraf beplanning en internetnavorsing is nie als wat voorgehou word nie.

Weer terug FT toe.  Kyk hulle almal weer deur.  Lyk my toe ek het maar verniet langpad gery.  En nou is dit weer terug plaastoe, innie sakkende son in.  Sonder 'n valhelm.  My 2IB het daarem 'n baadjie gekry en haar wêreld het vrede.

OK, nou's ek oppie plaas en die gedagtes draai.  Ek bel vir Runner.  Ja hulle het die AGV en ook die Uvex.  Ja in my kleur (hoofsaaklik wit) en ja in my grote ook.  Maar dis deksels vêr soontoe, weer 'n hele dag weg.  En dis stad  :(

Donderdag saal ek maar weer die Hilux op (die keer alleen, my 2IB kos my geld as sy so ver moet saamry).  Koedoespoort toe, oor die vlaktes, oor berge en deur dale.  Verkeer ook, en verkeersligte en tolhekke en op snelweë.  O weë.

Maar dis die moeite werd.  Die manne by Off Road Cycles ken hulle storie.  Daar is die valhelms waarna ek soek.  Ek pas eerste die AGV aan.  Maar nou, in vergelyking met die Uvex, lyk daai "peak" soos 'n sonwyser se naald wat so in die wind in opsteek.  Ek probeer die Uvex aan, in L.  En hy pas, hy's gemaklik, die "visor" sluit dig, die aksie is glad en stewig.  Hy word in Duitsland ontwerp en gebou.  En hy kos hier in die omgewing van R3500.  Ek glimlag, 2IB kon maar saamgery het, daar's selfs geld vir uiteet  ;D Ek kry selfs 'n gratis Coke van Conrad. En 'n sleutelring.  Maar geen afslag  :peepwall:

Die pad terug plaas toe is die slag nie meer heeltemaal so ver nie.

Ek het intussen so 500km grondpad en teerpad (teen so 120 - 130km/u) met die Uvex gery.  Het vanoggend vir die eerste keer oorpluisies gebruik en dis so stil soos 'n motor - amper.  Maar rerig baie lekker.  Gemaklik, druk nie die ore nie, pas lekker stewig.  Ek het gelees van manne wat probleme met die sluitaksie van die "visor" gehad het en dat die "peak" ook op spoed gevribreer het.  Ook dat hy sulke tromgeluide maak as mens ry. Dink dit was hoofsaaklik op die kevlar model gewees.  Ek het geen van daardie probleme nie.  Hy sit lekker, is gemaklik en stil en alles werk soos dit hoort.  

Wat vir my baie lekker is, is die effens getinte "visor" wat met 'n middel behandel is wat keer dat dit toewasem op koue oggende.  Daar is geen opsmeer van ander middels nie, geen ry met die skerm effe oop nie, die sig is mooi duidelik, maak nie saak wat die temperatuur is nie.  Ook bly sit sy skerm as jy dit op 'n skrefie oopmaak, selfs teen so 120km/u.  Dis lekker as dit warm is en jy bietjie vars lug op jou gesig wil kry. Hy het 'n goeie ventilasiegleuf met 'n groot verstelknop wat maklik met handskoene werk en wat lekker baie lug deur die valhelm laat sirkuleer.  Selfs die "peak" kan op of af verstel word deur net 'n skroefie met die hand te verstel.  Baie oulike idee dink ek.

Neewat, ek is baie in my skik met die valhelm en bly die Arai het my nie gepas nie want hy is hond duur!  Terloops, van al die valhelms wat ek aangepas het, is die Arai die een wat my die swakste gepas het. Die Uvex het my die beste gepas en dan die AGV.  Ek glo nie dis kritiek op die Arai self nie - hulle maak bitter goeie valhelms - maar dis tog interessant.

Ek ry oor so twee weke vir 'n week Vrystaat toe en sal graag wil sien hoe lyk die Uvex as ek elke dag heeldag met hom ry.

 

Attachments

  • Uvex Enduro.jpg
    Uvex Enduro.jpg
    8.4 KB · Views: 407
  • Arai Tour X4.jpg
    Arai Tour X4.jpg
    9 KB · Views: 406
  • AGV AX8.jpg
    AGV AX8.jpg
    4.9 KB · Views: 415
  • Nolan Xlite.jpg
    Nolan Xlite.jpg
    5.9 KB · Views: 411
  • Shoei Hornet.jpg
    Shoei Hornet.jpg
    7.2 KB · Views: 405
Top