Dag 4: Oanob dam, Gamsberge, Plaas Rooiklip (167km)
Vandag se hoofstuk skryf ek in Afrikaans ter wille van my vriend Wil Roux wat nie Engels verstaan nie.
Dit is ‘n pragtige dag na die ligte reën, en die pad is in ‘n goeie toestand. Ek sien uit na die res van my toer.
Later sluit die pad aan by die C26, rigting suidwes. Hierdie is ook die mees noordelike punt van my roete. Soos dikwels, moet daar eers hek oopgemaak word.
Die plan was om 'n afdraai te vat op die D1282 wat ‘n sirkelpad is en later weer sal aansluit by die C26. Hierdie is beeswereld, meestal Bonsmaras. Die plase is ook baie groot.
Die GPS wys dat die Gamsberg pas nou nader kom, en sonder waarskuwing kom jy nog oor ‘n bult en die Gamsberge lê voor jou in al sy glorie. Met so baie ander plekke in Namibië, doen ‘n foto nie werklik reg aan die skoonheid van die plek nie. Die uitsig is ongelooflik.
Ek besluit die geleentheid verdien ‘n fees, en in ware Dorsland styl word die stofie nader getrek vir ‘n beker koffie saam met middagete (tuna en pro-vita’s).
Daar is geen haas nie a.g.v die betreklike kort afstand vir die dag, en aan die onderpunt van die Gamsbergpas besluit ek ‘n Siesta sal in orde wees. Later skrik ek wakker van donderweer.
My akkommodasie vir die nag is op die plaas Rooiklip, sowat 16km van die pad af. Wel, dit is ‘n lang afstand, maar hey, ek is hier om fiets te ry en nie om onder bome rond te lê nie.
By die plaashuis word ek ingewag deur 4 jong Duitse studente wat veldwerk doen vir die Universiteit van Munich op ‘n sekere indringerplantspesie. Ek vermoed dit is nogal ‘n klein plantjie en dat hulle die dag deurgebring het deur op die grond rond te seil, want hulle klere is baie vuil. Of miskien is dit net vir hulle lekker om bietjie van hulle ouerhuise af weg te kom.
In elk geval, ek lyk seker ontwater want ek word dadelik twee biere in die hand gestop en nog twee word voorgeskryf vir later die aand. Ek bekom ook twee Gemsbok T-bene, en hulle beloof om ‘n bondel hout by my kampplek te kom aflaai.
As jy mooi kyk sal jy sien dit is ‘n stort wat uit die rots uitgekap is.
Meer oor my watersak, Ek moes iets doen om my insulien koel te hou. Na dae van kopkrap het ek besluit om ‘n gewone outydse watersak te vat, dubbel te vou en toe vra ek die skoenmaker by Levingers om net vir die sykant en onderkant aanmekaar te stik. Omdat sy gare sinteties is, moes ek die soom ook behandel met die goed waarmee tent-some behandel word. Self in die ekstreme hitte wat ek later in my verslag sal beskryf het die insulien altyd koud gebly in ‘n plastieksakkie binne-in my watersak. Ek het gereeld die water aangevul uit ‘n aparte 500ml bottel wat ek vir hierdie rede saamgery het.
Die reën van vroër was steeds in die lug, en het lekker geval waar ek die volgende dag sou ry.
En selfs die jaartbrak het kom kyk wanneer braai ek nou daai Gemsboksteaks.
Daar was nie ‘n rooster nie, maar ek het gou ‘n plan gemaak met ‘n paar stukkies draad wat ek daar rond opgetel het. My Chinees-vervaardigde nagemaakte Leatherman het handig te pas gekom.
Nog ‘n pragtige dag het tot ‘n einde gekom in Afrika.