IT IS NOT ABOUT THE BIKE
"Jy gaan nog daai trip doen?" Het sy gevra en met haar geswelde vingers in my rigting gewys. Ek het net kop geknik, geglimlag en geantwoord "Ja Sussa ek gaan hom doen…."
Dit was 2014. Twee maande later het die kanker haar kom haal.
Nou is dit twee dae voordat ek by my eindbestemming van “Daai trip” sal aankom. 17 dae reeds op die pad. Orkaan Joachin het my van rigting laat verander. Vanaf Cumberland het ek gemik na Winchester en vandaar Interstate 81 suid gevolg. In my agterkop het ek geweet dat die bekende "Tail of the Dragon" lê iewers verder suid op hierdie roete. Hierdie bekende pas lê op die grens van Noord Carolina en Tenessee en met sy "318 curves in 11 miles" is hy baie gewild onder motorfietsryers. Ek is nie eintlik iemand wat stickers/yskasmagnete of T-hemde van bekende landmerke bymekaarmaak nie. As ek by die Dragon uitkom is dit 'n bonus. Indien nie sal dit my nie juis pla nie. Vir my gaan dit oor die reis, nie die eindbestemming nie. My ervaring op die Beartooth-pas het my in elk geval laat verstaan wat "sharp bends and curves" in die Amerikaanse konteks eintlik maar beteken dat jy sukkel om 'n 500kg Harley deur die draaie te kry. Amper soos om vir Os du Randt op volle vaart van rigting te laat veranders. Na 426km en 6h34 op die pad stap ek by die Sleep Inn in Staunton se deur in.
Die volgende dag "Dag 18" in my notaboek sou een van die mooiste dae op my roete wees. Ook die een met die meeste emosie. Maar as ek nou so deur my notas lees is daar maar min notas op dag 18. Die dag se gebeure is egter duidelik in my gedagtes vas ge-ets. Ek kan my opgewondenheid vroeg die oggend onthou toe ek die dou met my hotelhandoek van my motorfiets se saal afgevee het. Amper soos 'n mens 'n perd sal roskam het ek die tenk en winskerm afgevryf. My beplanning wat ek gisteraand vir vandag se roete gedoen het het gewys dat die Tail of the Dragon te vêr suid lê en ek het 'n roete beplan wat eers wes en dan weer noord sou swaai. Wes via Churchville, Wes Augusta, Monterey, Bartow, Durbin, Huttonsville, Mill Creek, Bowden en verder noord tot by Cumberland.
Ek wil sovêr moontlik deur die natuurlike bos ry om die herfservaring te kry. Dit is ook nie lank na my vertrek uit Staunton dat ek die eerste woude begin kry nie. Die verandering in temperatuur en reuke wat mens op 'n motorfiets ervaar is besonders. My gunsteling reuk bly maar die van vars gesaagde houtstompe.
Ek bewonder nog die hersfkleure en dan uit die hoek van my oog sien ek hulle. Nee dit kan nie waar wees nie! Ek trek die remme dat die ABS sy karrekteristieke Parkinsons rukbewegings gee. Ek maak 'n U-draai. Die wit lyf en die rooibruin koppe is onmiskenbaar Boerbok. Ek tel hulle so vinnig. Meer as 20 staan daar. Net een bruine. Sover my kennis strek is hierdie bok in Suid Afrika geteel maar ek onderneem om maar die detail via Google te gaan soek. (My latere Google soektog beweer dat die bokke eers na Australie en toe vandaar na die VSA gebring is. Die Suid-Afrikaanse migrasie na Aus is dus deur Boerbokke begin! )
Ek neem haastig 'n paar fotos. 'n Mooi rammetjie staan nader, amper asof hy kan ruik dat ek ook uit Afrika kom. Ek kyk vir hom en sê: "Ek ken jou, jou bliksem! Ek weet jy hou daarvan om voor 'n kar of motorfiets oor die pad te hardloop. As daar 'n paar Boerbokke langs die pad staan as jy in die verte aankom en een het reeds oor die pad gehardloop dan kan jy maar weet een van die ander gaan dit ook doen. Maar hy wag mos totdat jy so 15 tree van hom af is.....
Die oggendlug is koel en die wolkies begin saampak bokant my kop. Langs die pad is daar bordjies soos "Joe Dykes: August 15, 1982 - May 17, 2005" wat my herinner om versigtig te ry. Elkeen het maar sy manier om sy geliefdes te onthou.
'n Ent verder op 'n plaaswerf staan daar 'n ou Ford F250 op 'n sleepwa waarop daar met 'n spuitkannetjie geverf is "In loving memory of Nubert Ricks SR" geverf is. Die SR is met oranje doodgeverf en ek kan nie help om te wonder of hierdie ‘n ware huldeblyk aan Nubert is nie en of dit dalk ‘n tipe sarkastiese stelling is nie. M.a.w. of dit Nubert se gunsteling Ford is wat hulle hier op die gras parkeer het nie. Of het Nubert dalk so baie aan hierdie blêddie Ford staan en werk het dat sy vrou maar besluit het om die trok maar daar op die gras te laat staan om te wys waar sy liefde eintlik was nie….?
Ek stop 'n paar keer langs die pad en stap 'n draai in die bos. Die groot verskeindenheid sampioene val my op. In 'n vierkante meter sien ek soveel as 5 verskillende soorte. Hier en daar sien ek ook "mushroom hunters" wat in die bos loop en sekere soorte bymekaarmaak.
het so 5km gelede uit 'n plaas paadjie by die hoofpad aangesluit. Daar is ‘n ouerige man agter die stuur en hy stop sy Honda net soos 'n boer sal stop: Die helfte van die kar staan nog in die pad, en los sy deur oop. Die gryskop tannie bly in die kar sit maar hy klim uit. Ek staan met my kamera en notaboekie in die hand. Ek maak maar seker dat hy sien dit is 'n kamera in my hand. Mens weet nooit of hierdie boer dalk nie hou van vreemdelinge wat op sy plaas stop hou nie (Verál al nie na ek in Cabelas en Wallmart gesien het hoe vrylik beskikbaar wapens en ammunisie in hierdie land is nie...).
Hy kom nadergestap en sy liggamsbou en vooroor manier van stap herinner my aan my Oupa. Ek groet eerste met "Good morning Sir..." Op sy gesig kan ek sien dat my aksent vir hom vreemd is. Hy steek sy hand uit en gee my ‘n stewige handdruk en sê "Bruce. Bruce Wigglesworth". Sonder om my kans te gee gaan hy voort met "I saw you chased up a couple of wild turkey a few of miles back" en hy lag vriendelik terwyl hy aan sy pet vat. "Oh yeah I saw them...." Hy gaan voort met "Do you ride alone?" "Yeah, I do...." antwoord ek. Hy trek weg en vertel my dat hy 'n 660 Yamaha ry. Ek vra hom uit en hy sê dat die Super Tenere te groot is vir hom. In sy opgewondendenheid vertel hy dat hy altyd saam met sy broer wat 'n jaar ouer as hy is gery het. Hy rammel sy broer se fietse af: van 'n Honda Goldwing (the "Big One" soos hy dit noem) tot 'n paar Harleys maar nou ry sy broer 'n "scooter" so hulle kan nie meer saam ry nie. Hy lyk opgewonde en vra " Do you ride here often?" Ek begin antwoord met "Oh no this is my first time in the area....." Maar voor ek kan byvoeg “and probably my last time….” gaan hy voort met "I'm looking for a riding partner........ and you ride about my pace...."
Ek begin verduidelik dat ek omtrent 9000myl van hier af bly.... Ek kan die teleurstelling in sy oë sien. Ek vra hoe oud hy is en hy antwoord "I'm 86 years old......" (Onwillekeurig eggo die "
you ride about my pace...." in my gedagtes!!!!)
Ek stap om die motor en groet die tannie. "He is from Africa" sê Bruce toe ek myself aan haar voorstel. Sy bied sommer dadelik slaapplek vir die aand aan….
Ek ry verder op 250 en sien 'n mooi afdraai. Die bordjie lees "Birding and Wildlife trail".
Die grondpad is 'n tipe kleigrond. Die pad is nat en en hier en daar is dit opgevul met gruisklippies. Ek stop maar en sit die ABS af en gee vet teen die bult op. Die 601 roete kronkel teen die bult op en hier en daar gly die agterwiel maar soos Pieter Pieterse altyd gesê het "Nou nie so dat 'n man dit sal agterkom nie". Die pad vertak na links maar ek hou reguit aan deur 'n laning bome. Die pad is besaai met pragtige herfsblare.
Die pad vertak weer. Ek stop en kyk oor my skouer. Ek is nou hoog genoeg om oor die grootste gedeelte van die George Wahington en Monongahela bos te kyk. Voor my is 'n stuk ontbosde veld. My GPS dui aan dat ek op die grens tussen Virginia en Wes Virginia staan. "Jip dit is presies die plek waarna ek gesoek het" sê ek vir myself. Die grond is nat en ongelyk en ek moet versiftig werk om die swaargelaaide fiets staan te maak. Met my linkervoet wig ek 'n platterige klip onder die “sidestand” in. Versigtig klim ek af....
Die afgesaagde stomp lyk vir my na die ideale plek om 'n altaartjie te bou. Bo op die boomstomp sal die klistapel sigbaar bly selfs al lê die sneeu lekker dik in die winter. Die stomp gee ook 'n mooi uitsig oot die vallei. Ek kyk rond op soek na 'n paar klippers. Ek sien 'n lekker groot klip wat ek as basis sal gebruik. Hy is vir Ma en Pa. Ek pak nog 'n klip. Hierdie een is vir Petro. Die volgende een is vir Albert.
Ek staan ‘n tree terug en sê: “Ek het mos belowe ek gaan dit trip doen Sussa....”
"Behoed my as ek my gaan neerlê,
Grote God, wat altyd waak.
O, beskerm my deur U Almag
as die kwade my genaak.
O, vergeef my al my sondes,
dan lê ek my hofie neer.
Dood of hel sal ek nie vrees nie
want U is my rotssteen, Heer.
Neem my ouers en my vriende
in bewaring hierdie nag.
Môre dank ons U vir goedheid,
gawe van 'n nuwe dag."
Ek stap na die motorfiets om my kamera te kry. My hande is bewerig en ek sukkel om by die “timer setting” uit te kom. Dan val die eertse druppels. “Ek sal moet gou maak om nog my reënjas ook aan te trek”, dink ek. Die kameraskerm raak wasering…. Ek kyk op na die wolkies en kom dan eers agter dat die “reëndruppels” val net aan die binnekant van my bril….. Ek stel die kamera op en neem ‘n paar fotos van my voor die altaartjie.
Dan pak ek nog 'n paar klippers: vir Elmarie, Skoonma, Skoonpa, swaer Cheetah, Dalene, Amore, Pieter, René, Leandri, Lindi, Reghardt...... Ek beweeg vinnig heen en weer om klippe aan te dra. Amper soos 'n mier.
Ek stap terug na die fiets toe en haal die serp uit my pannier. Hierdie serp ry ek nou al vir 18 dae saam met my. Hy was saam met my toe ek die fiets gaan optel het, saam met my by Neah Bay, saam met my by Albertstraat in Port Angeles en ook by die REO Speedwagon konsert. Ek vou die serp versigtig oop en drapeer dit om die klipstapel. Dit was Albert se serp…
Ek pak nog 'n paar klippies vir Theo (so wyd soos die Heer se genade..), Theuns (die groot siloman met die klein hartjie). Jaco en Arie wat ook die kankerspook in die oë moes kyk. Bertie wat met die elektronika kon toor. Die laaste klippie pak ek vir Kate, ' n skoolvriendin van ons wat spesiaal gevra het ek moet vir haar ook 'n klippie pak. Ek neem nog n paar fotos en gaan sit rustig om die landskap vir die laaste keer in te neem.
Voor ek op my fiets klim merk ek die GPS Baken as APMPJE op Putin, vir ingeval iemand anders dalk daar verbykom en ‘n paar wil klippers pak….
N 38 27' 18.4"
W 79 41' 09.3"
1283m Elevation
250 or Mountain Turnpike
601 Public Road 55
Monongahela National Forest / George Washington national Forest
PS: The story above describes the events of Day 18. For those who do not understand Afrikaans, this is the trend:
I got the idea of riding across the US when I followed Pat McVay’s daily posts as he made his way across the US on a bicycle in 1998. When my sister went into remission we talked about “things we still want to do in life”. I told her about Pat’s epic ride and that he did it in memory of his sister who died of cancer. (Pat gave his race ID card to his nephew at the end of his trip). Petro listened carefully and said that it was a remarkable story and that I should do the trip…..
When Vaughn and I sat on my porch in Cape Town we plotted a rough route of how we can do this on a ‘bike. I told Petro that I’ve started to plan the trip and the last thing she ever asked me was “Are you are still going to do the trip?….” When I shared that with Pat and Rosie in Chicago it was like a mountain of my shoulders….
The planning started in earnest I made sure that I would pass through Chicago to visit Pat and Rosie. On my “T-minus 30” trip which I did one month before the trip I planned a long ride form Cape Town to Johannesburg and the next weekend from Johannesburg back to Cape Town. On the way back my plan was to stop and say goodbye to my family. Then disaster struck and my brother (Albert) had a massive heart attack and passed away during that week. The trip was in the balance, but I decided to proceed and took one of Albert’s scarfs with me on the trip.
On Day 18 I found a great spot to stack a couple of rocks in memory of Petro, Albert as well as friends and family.
The GPS coordinates and maps for my stack of rocks is in this post. Just in case one of you passes through the area and wants to stack some rocks for a loved one… Come in Mr Zog, you are the closest?
So, in short…. The trip really was not about the bike…