Hi Almal!

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

melior

Race Dog
WD Supporter
Joined
Mar 7, 2011
Messages
678
Reaction score
35
Location
Zwavelpoort
Bike
MV (all models)
Ken julle die liedjie van die dapper muis?  Ken julle hierdie volgende weergawe op dieselfde wysie?

ek’s ‘n dapper vrou
ek’s gebou om te hou
en vir werk is ek nie bang nie
ek het ‘n huis om in te bly
vier kinders om groot te kry
en vir we-e-e-rk .....

Maar, toe die vier kinders groot is, verander alles gelukkig.  Dit het so gekom:

Jare gelede het ek en my man ‘n R50? 500? besit – kamma op my naam, soos ons mans maar soms dinge vir hulself bekom – maar (kan ek dit self glo?) ek het hom ‘n keer of twee (niks meer) ALLEEN aan die brand geskop en om die blok geneem wanneer hy nie tuis was nie.  Ons twee het ook een Sondag Vaaldam toe gerits – met ons eersteling, toe ‘n paar maande oud, veilig tussen ons in my arms!

Ongelukkig het man en fiets eendag onsigbaar geraak en is toe albei flenters gery.  Hy het dit oorleef;  die fiets nie.

‘n Hele paar jaar na die ongelukkige dag het hy weer ‘n Honda 500 aangeskaf om goedkoop werk toe en terug te pendel, gipsbeen en al.  Ja, dit was so erg as wat dit klink:  ses jaar in gips.

Op ‘n stadium, heelwat later in ons lewe, was daar ‘n aapfiets op ons werf en ons seuns het hulleself met hom en later ook die groter Honda vermaak.  Eersteling het die Honda begin gebruik vir pendel en toe hy ‘n jaagfiets aanskaf, het middelseun die Honda oorgeneem.

Tweedeling het haar met haar lewe en vriende besig gehou, en laasteling het in haar hart gesmag vir ‘n beurt op die fiets, maar dit was ongehoord.  Verkeerde geslag, sien.

Eersteling het egter by tye genoem hy reken sy ma sal ‘n motorfiets kan hanteer (nogal).  Nie dat ek dit enigsins oorweeg het, of nodig geag het nie!  Maar hy het my nogtans gereeld oor winskopies ingelig.

Op ‘n dag kom ek toe tot die besef dat laasteling haar veertjies begin regskud vir 'n motorfiets.  Ek weet toe ook dat ek haar nie iets kon verbied waarvan ek geen benul het nie.  Ek het ook nie uitgesien na die elke liewe dag se naels byt totdat sy veilig tuis is nie.  Buitendien was sy al op die drumpel uit haar brandende motor gered en besef ons van toe af die lewe is kort en moet geniet en waardeer word.  Toe oudste dus weer eendag laat weet van ‘n winskoopfiets wat hy op hierdie einste forum raakgeloop het, koop ek hom sommer.

Om te leer ry, was ‘n ander petalje.  Na vier omvalle besluit ek die ry-akademie moet kan help.  En hulle het ook.  Dit was ‘n rukkie voordat ek die nodige leerlinglisensie gehad het en op straat kon begin ry.  En eers tóé het die leerproses eintlik begin.  Ek was steeds angstig, bevrees en doodbang.  Dis mos eintlik ‘n man-ding, glo die meeste vrouens van my geslag.  Nee, sê jongste dogtertjie, en sy moedig my aan wanneer ek in trane is.

Mettertyd – metterLAANGtyd! – raak dit beterder.  Mettertyd raak dit genotvoller.  Mettertyd raak dit groot pret!  Mettertyd raak dit so prettig dat ek moeilik meer verkeer in ‘n motor wil aandurf.
Wat ‘n genot om net ‘n paar minuutjies later by die werk te kom in druk verkeer!  Wat ‘n genot om aan die end van die maand geld oor te hê want die motorfiets gebruik veel minder brandstof!  En die grootste pret en voorreg is wanneer ma en dogter laggend geselsend saam van verkeerslig tot verkeerslig op hulle fietse deur die ‘cages’ vleg!  Uiteindelik het ek die ou man jammer gekry en, kort voor ons aftrede, vir hom ‘n 1200, en later ‘n GSA aangeskaf.  Hy ry hom met sy 15cm opgeboude skoen.  Maar dis ‘n ander storie.

Ek loer lankal hier rond, en nou weet julle van my.  As ek net kon, sou ek graag alle ander vrouens wou oorreed om dit self te probeer.  Toemaar, meisies, ek weet julle kan nie oortuig word nie – maar julle weet nie wat julle mis nie!
 
Top