Dag 6
Ons besluit om so vroeg as moontlik by die grens te wees omdat ons bang is ons mors weer baie tyd deur die grens poste, uit Zambia, in Zimbabwe en dan weer uit Zimbabwe in Botswana. Ons het net 'n kort rit deur die Kazuma Nasionale park tot by Kasane, maar die spoed beperking is net 80km/uur deur die park.
Ons groet ons nuwe vriende John en Carmen, dit voel of ons hulle al jare ken. Ons sal met hulle in aanraking bly en hulle trip Japan toe volg. Inteendeel ons het gereel dat as hulle terugkom in 2015 ons 'n gedeelte van die laaste stuk saam met hulle gaan ry. Ons groet ook vir Brad en sy vrou van die lodge, watter gawe mense, as enige wilde honde ooit in Livingstone kom gaan bly gerus daar oor, dit is die moeite werd!
Die grenspos prosedures gaan gou uit Zambia en in Zimbabwe, seker oor dit nog vroeg is. Ons stop by die valle en besluit ek en Salome sal eerste ingaan terwyl Willem hulle by die fietse sal bly, as ons klaar is sal hule ingaan terwyl ons die fietse oppas.
Die valle is werklik baie meer indrukwekkend aan die Zim kant oor die meer water wat tans daar vloei. Daar is 'n paar mense wat by devils pool op die rand loop en dan halflyf oor die rand hang. Die foto's is bietjie dof as gevolg van die water sproei.
Na die valle gaan drink ons iets koud by die Elephant Hills hotel. Die plek is verlate met niemand in die casino of die Spur nie.
Daarna vat ons die Kazangulu pad deur die Kazuma park na Kazangulu. Ons sien bietjie wild lewe op die pad, maar dit is maar 'n vervelige rit teen 80km/uur wat wonders doen vir ons petrol verbruik.
Die grenspos by Kazangulu gaan ook redelik maklik, daar is twee kaapse bakkies wat deursoek word op die Botswana kant en die mense meot maar hulle suiwel produkte en vleis aan die grens beamptes skenk. Ons word net deur gewys, min wetende dat ons biltong, droewors en rookvleis by ons het
Lekker om 'n biker te wees.
Ons boek in by Toro Lodge op die oewer van die Chobe rivier en besprrek ook sommer vir die wild kyk en sundowner cruise wat drie uur vertrek.