'n Draai rondom Winderige Valsbaai
Eerste stop op Boyes Drive bokant Muizenberg
Tweede stop bokant Kalkbaai se hawe. Simonstad daar aan die oorkant, en Kaappunt verderaan agter Simonstad se berge
Brekfis by Dixies. Daar was ook 'n hele klompie ander bikers.
'n Uitsig-stop op Red Hill se pas. Daar oorkant is Simonstad met die SA Vloot se hawe. Drie Fregatte, een duikboot en die SAS Drakensberg is sigbaar.
Die Red Hill pas is steil, met heelwat draaie, (sommige erg skerp).
Aan die bo-punt van die pas is een van die drie kanonne wat deel is van die Scala Battery. Hierdie 9.2" kanonne was bedoel om Simonstad te beskerm in die 2de Wêreldoorlog.
Hierdie spesifieke kanon was mooi gerestoureer rondom 1984, maar is sedertdien erg gevandaliseer en is besig om tot niet te roes.
Aan die Atlantiese kant, kort anderkant Scarborough, is die baie mooi omgewing van Misty Cliffs
Van hier af was ons geskuil teen die sterk suidooster.
Bo-op Chapmans Peak het ons 'n rukkie gestop en die mooi dag geniet.
Houtbaai se baai is altyd mooi.
Terugkyk na die indrukwekkende Chappies pas.
'n Baie interessante verskynsel is daar oorkant baie duidelik sigbaar --- onderkant die pad is stollingsrotse (igneous rock) wat diep onder die aardkors gevorm is (warm gesmelte rots wat opstyg en later stol soos dit nader aan die aarde se oppervlak beweeg). Bokant die pad is sedimentere rots, lae wat gevorm word deurdat sand/grond/stof van bo af in lae neerslaan en oor lang tyd hoog opbou.
Van hier af het ons al met die kuspad tot in Seepunt gery en vandaar wind-op terug gestoei huistoe.
Baie lekker trippie, sterk wind ten spyt.