Daar is iets in die eenvoud van 'n klein fiets op 'n grondpad

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
12,138
Reaction score
3,691
Location
Nie van hier nie
Bike
Honda CRF 300L
Ek kon vandag vir die eerste keer eintlik lekker met die CRF300L gaan ry. Vorige ritte het ek so tussen iets en iets anders ingedruk net om 'n gevoel vir die fietsie te kry. Ek het eintlik nie beplan om vandag te gaan ry nie, maar met ons teedrink vroeg vanoggend vra my vrou, "gaan jy vandag ry?" Ek dog toe sommer, ja, waaragtig, ek gaan vandag gaan ry. Staan toe dadelik op, skeer en gaan ry gou my rondtes dat ek weet als is reg voor ek ry.

Kom terug en trek my ry uitrusting aan. Staan so 'n ruk na ek my baadjie aangetrek het. Trek weer als uit. Trek my Johnson khaki broek aan, Hi-Tecs. My vrou kom vra, wat nou, gaan jy nou nie meer ry nie? Ek sê nee man, ek is gatvol vir dié hele gedoente elke slag van aantrek. Dis rybroek, lang rykouse, boetse, binnebaadtjie, oorproppe, honderde sakke op my baadtjie waar ek altyd almal eers moet deurgaan voor ek iets vind. Dís een van die groot redes hoekom ek gatvol geraak het om te ry. Dis 'n uur se aantrekery voor mens eers op die fiets kom. 20 kilogram se ryuitrusting, aantrek en uitrek as dit warm raak.

Neewat. Ek is klaar daarmee. Nou, vandag.

Ek haal 'n windbaadjie uit die kas uit en trek hom oor my T-hemp aan. Trek my airflow somerbaadjie oor hóm aan. Kletterpet, handskoene, beursie in die een sak, selfoon in die ander, een sak bly oor vir ingeval. Klaar. Geen gereedskap, geen papwiel goeters, CamelBak, GPS nie. What happens happens en basta daarmee.

My vrou vra nog "waarheen ry jy?" Ek sê ek weet nie, ek laat weet jou waar ek is as ek by 'n sein êrens uitkom. Koebaai.

Nouja, so ry ek sommer so luilekker hier weg. Geen plan vir die rit nie. Ek ry waar die wind my heen waai.
 
Last edited:
Hierdie lyk vir my soos vlakvark alley. Ek ry stadiger en hou my oë oop. Ek is nie nou lus om my agterent sonder 'n spieël te sien nie.

IMG_1736.jpeg
 
Hier vroeg in die winter, toe dit so baie matige weer nog was, het daar 'n paar ordentlike donderbuie uitgesak noord van my plaas af. Van hulle het ek sommer so gehoor hoe val die reën. Hier op die Bergrivier lê sulke berge fluitjiesriet soos die water hulle afgespoel het. Op plekke het hy die heinings ook weggespoel. Vandag kabbel die water lekker so oor die vlak spoelklippe hier vlak langs die driffie waar ek stilhou.

IMG_1737.jpeg
 
Ek is baie lief vir die groot hoeveelheid pragtige olienbome wat in dié deel van die wêreld voorkom. Op my plaas is baie van hulle. En die grootstes groei gewoonlik so op die kruin van die rante. Pragtige geharde bome, waarvan ek 'n hele klompie in die nuwe werf geplant het.

Ek ry in 'n lang kloof af, die hange waarvan met dié pragtige groot oliene bedek is.

Die Vrystaat verras mens altyd. Amper soos die Boere daai tyd die Tommies so baie verras het. Mens dink dis plat, gelyk, kaal gronde. Dan skielik is hier so 'n kloof of steiltes, met jong kranse en rante wat 'n hele kommando kan versteek.

IMG_1739.jpeg
 
Last edited:
KISS approach, love it!

One of the reasons I sold the 990 (and 950 before) it got to complex.

Basic safety clothing, no more twatsuit and unnecessary paraphernalia!

Less pace more leisurely and smell and see the sights, even if it is ones backyard
Exactly @dieterf ! We are the architects of our own anxiety. We are led to believe that we cannot venture on a trip without the ability to survive 40 days and 40 nights in the wilderness. We are told we need a GPS, 25kg of tools for "in case", cellphone signal, ABS, rider modes, traction control, muffs, buffs, neck braces and on and on and on. We survived our young biking years with a leather lummie, helmet and gloves. My roadbike years were faster (much faster), more reckless with the foolishness of youth, and here I am today.

I am not advocating recklessness and devil may care attitude. But companies are getting rich off fear mongering and marketing of all the bells and whistles we may or may not need when riding.

I am done with that as of today. Take care, ride with consideration of the prevailing conditions but above all, enjoy it. Grab my jacket, helmet, gloves and ride!
 
Ek ry Fauresmith binne vir brandstof. Ek weet OVK se buite vulstasie maak 13h00 toe Saterdae. Sonder volgooi gaan ek dit nie weer huistoe maak nie. Dis amper nie eens die moeite werd om die pomp te start nie. Blikemmer, die fietsie is lig op brandstof. :oops:😁

IMG_1744.jpeg


IMG_1758.jpeg
 
Saterdag oggende op 'n plattelandse dorp is 'n ervaring op sy eie. Die koffiewinkeltjie op die dorp is toe. Ek ry maar aan na die "Mooiloop Kosmos Niks" winkel. Die beste, vinnigste, maklikste is Simbatjips en 'n Liquifruit. Ek staan buite die winkel en luister hoe preek 'n man daar op die plein vir 'n groep mense. Hy is op spoed. Ek kan nie hoor of dit suiwer woordverkondiging is of nie. Dalk 'n geldmaak storie. Ek weet nie maar gee hom die voordeel van die twyfel want vandag wil ek in die goedheid van die mensdom glo. Veral hier op Fauresmith waar die plakkerskampkanker dreig om die dorpie te verswelg.

IMG_1745.jpeg


IMG_1748.jpeg
 
Last edited:
Ek sweer diere soek my uit as ek êrens stilhou. Dis nie hoe lank wat ek my skyfies daar voor "Mooiloop Kosmos Niks" staan en kners wat 'n ou straathondteef met sulke hangspene en 'n blinde oog snufsnuf daar aankom en vir my kom glimlag nie. Ek streel haar kop en sien sy het êrens in die verlede een slagtand verloor. Sy spring teen my op en ek streel haar weer. Ek gooi 'n handvol skyfies op die sypaadjie vir haar neer. Sy snufsnuf so en stap 'n ent weg. Fauresmith se straathonde is nie sommer so nie.

'n Bruin man en sy tjommie kom uit die winkel uitgestap met 'n 9kg gas silinder op sy skouer, straathond snufsnuf so aan sy hakke. "Moenie aan my snuf nie hond, gaan eet jou chips daar by die lanie", roep hy haar.

IMG_1747.jpeg
 
Last edited:
Mens leer baie van die aanspeldbord op 'n klein dorpie. Daar sien jy die nood, die hartseer, die hoop en drome van die gemeenskap. Naaldwerk gedoen, kerkbasaar 10 September, verblyf gesoek, draadspan, braaihout te koop, foksterrier hondtjies te koop, perde makgemaak, tuisgebakte beskuit, weeklikse slagvee veiling Kimberley, geleentheid Bloemfontein toe gesoek.

Die lewe op die platteland is stadiger maar nie altyd maklik nie.

IMG_1750.jpeg


IMG_1749.jpeg
 
Last edited:
Terwyl ek so staan en die Saterdagoggend geniet, probeer lees wat staan op die gedenksteen buite die kerk, hoor ek sommer hier kom 'n Africa Twin aangery, hoofstraat af. Ja, daar is hy nou, pillion agterop, panniertasse wat blink innie son, NC nommerplaat. Hulle is nie honger of dors of nuuskierig nie. Hulle druk deur, verby die straatprediker en sy groepie, verby die geel Hilux, die straathond, die klonkies op die sypaadtjie.

Ek groet hulle nog so. Hy loer my net sonder om terug te groet. Duidelik is 'n CRF300L nie in die klas van 'n 1100 Adventure Twin nie. Veral nie 'n blerrie boer met sy khakibroek en HiTecs nie.

IMG_1746.jpeg
 
Last edited:
My lus vir Mexican Chilli skyfies is nou geblus, ek sluk my LiquiFruit en vat weer die pad. Daar is altyd besluite wat geneem moet word. Gelukkig is daar gewoonlik duidelike aanwysers. Want Ace Magashule het mos vir die gemeenskap en sy infrastruktuur omgegee.

IMG_1753.jpeg
 
Ai, nog 'n vervalle en verlate pragtige Vrystaat plaasopstal. Die heimweë van sulke gesigte dreig om my beet te pak, daar in die flou winterson langs 'n turksvybos op 'n grondpad êrens in die Suid-Vrystaat. Op 'n Saterdagoggend.

IMG_1754.jpeg


IMG_1755.jpeg
 
Daar waar die grondpad deur oom Christo se werf gaan, moet ek die hek ten aanskoue van drie van sy mooi bulle oop- en toemaak. Dalk lyk ek vir hulle ook maar asof ek redelik moeilik kan wees want hulle los my uit. Rooi fiets en al. Of dalk het hulle ook , soos ek, vrede met die wêreld en al sy dinge vandag. Op 'n Saterdagoggend.

IMG_1756.jpeg
 
Top