Suidoos Botswana in 'n neutedop

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.
Sondagoggend word ek wakker met voëlsang in my ore en die geur van vars filterkoffie in my neus. Dis al na 08h. Ons het goed geslaap. Die gesig is pragtig – ons is bo-op die Limpopo. Ons soop waarderend aan "Waarheid" (swart, bitter filterkoffie) en beskuit. Op die oorkantste oewer hou ons 'n bosbokram dop wat in die groen staan en wei. En dan is dit tyd: ek skraap my moed bymekaar en, met verslaapde hare, pak ek uiteindelik die taak aan om die motorfiets te ondersoek. Carrie neem fotos van ons verblyf.


DSC04776 by Piet.P, on Flickr

In ‘n japtrap is die sypanele af. Die eerste ding wat ek oplet is dat die batterywatervlakke nog aanvaarbaar is. Dit bring verligting. Die sitplek waai volgende. Toe ek aan die positiewe pool se kabel trek merk ek onmiddelik op dat die boutjie heeltemal los is. ‘n Glimlag oortrek my gesig. Dalk is die toer nog nie verby nie! Die sterskroewedraaier kom uit en in plaas daarvan om die kabel vas te draai maak ek hom eers los – so ook die negatiewe kabel. Ek wil seker maak. Ek vat ‘n stukkie skuurpapier en poleer die pole sowel as die aansluitingspunte. Daarna vervang ek die boutjies met nuwes en maak seker dat hulle goed vasgedraai is.

Voor ek die panele terugsit toets ek: sleutel in. Draai. Die groen neutraalliggie vlam op en steek die opgewondenheid, hoop en afwagting in my weer aan die brand! Ek stap rustig om die draai waar Carrie besig is om die sakke te pak: “Kan ek vir jou die Tuli blok gaan wys?”

Terrafou Lodge:

DSC04780 by Piet.P, on Flickr


DSC04781 by Piet.P, on Flickr


DSC04784 by Piet.P, on Flickr


 
Pragtige Bome daar teen die Limpopo Tambotie,huilboerboon en hardekool dink ek sien ek op die foto's.
 
>Herman< said:
Mooi man. Volgende...

Ek wil, ek wil...maar Flickr wil my nie toelaat om my eie fotos te deel nie!  ;D

Ek het dieselfde probleem gister ervaar, maar dit was later in die dag uitsorteer.
 
Die bagasiesakke word weereens met ‘n greep van doodsknope vasgetrek op die esel. Ons saal op en ek druk die genotknop. Die Esel brul soos ‘n leeu en Carrie gee my ‘n stywe druk hier van agter af! Ons gaan vereffen ons rekening by ontvangs en bedank die antie vir haar gasvryheid en vriendelikheid. Ons praat ook gou oor die res van die pad en ons gasvrou bel vooruit om te hoor of die manne by Pontdrift ‘n motorfiets oor die kabelkarretjie sal vat – hulle het al.

Daar was toe tog ‘n ligpuntjie in gisteraand se malligheid – as ek nie so aangedruk het nie, sou ons te veel afstand moes aflê vandag. ‘n Vinnige berekening sê vir my dat ons steeds regdeur die Tuli reservaat kan ry, maar dit gaan ‘n lang dag in die saal wees (350km). As alles goed verloop sal ons net na donker tuiskom. Nie ideaal nie, maar haalbaar. Die korthandjie sit al bo die tien, so ons maak soos beesmis en val in die pad!

‘n Vinnige foto by die Terrafou-bord

DSC04788 by Piet.P, on Flickr

Oppad sien ons heelwat koedoes en hordes massiewe rooibokke. Die hemel is diepdonkerblou, die son streel warm oor my vel en voor op die horison is ligte donswolkies. Die skoon, vars lug is soet gegeur met ‘n oormaat vryheid-konsentraat.

Ons arriveer by Tuli se ingangsborde na ‘n uur se ontspanne ry. Die openingsfoto van my verslag (ek plak hom sommer weer in  :p) word geneem en ons gewaar ook ‘n verskeidenheid leeuspore oraloor die pad. Dit sal luuks wees as ons ‘n paar van hulle kan sien!


DSC04794 by Piet.P, on Flickr


DSC04795 by Piet.P, on Flickr
 
In Tuli ry ons verby volstruiskampe en sien oral die kolosale gekreukelde olifantspore lê. Dis ook nie lank voor Carrie se skerp oë ‘n paar olifante vér op regterhand gewaar nie! Hulle is ‘n paar honderd meter weg, so ons mors nie tyd nie.

Ongeveer 20 km in die wildernis in is die Motloutserivierkruising en word ons ook die geleentheid gegun om ons fotos te las by die deeglik-gedokumenteerde “Solomon se muur”.


DSC04801 by Piet.P, on Flickr


DSC04799 by Piet.P, on Flickr


DSC04807 by Piet.P, on Flickr

Daar is ‘n klein stroompie wat vloei, maar hy is vlak genoeg dat ek my passasier te voet kan oorstuur om die kruising vir my te vergemaklik. Sy wil ook die gebeurtenis vasvang op rolprent (sy het seker gehoop dat ek met my gesig in die modder beland!). Ek steek die stroompie aan die regterkant van die diep spore oor, en dit gaan makliker as wat ek verwag het. Ongelukkig het Carrie nog nie vantevore video geneem met hierdie kamera nie en sy mis die oomblik. Sy wil my terugstuur vir nog ‘n poging, maar ek weier volstek: “ons het vér om te gaan!”. Of dit die volle, reine waarheid was, sal ons nooit weet nie...Teleurgesteld neem sy ‘n foto en ons toer voort.


DSC04806 by Piet.P, on Flickr


DSC04809 by Piet.P, on Flickr


DSC04813 by Piet.P, on Flickr

Ons het oorspronklik beplan om heelwat meer rond te rits binne in Tuli (en dalk selfs in die reservaat te kamp), maar gister se teespoed het daardie planne verbrokkel.  Ons kom by die kruising wat lei na “Lentswe le moriti” toe – ‘n klein dorpie wat ons aangesê is om te besoek. Ons besluit om gou tyd te maak om uit te ry en die dorpie te sien. Op regterhand kry ons ‘n massiewe trop olifante reg langs die pad wat smul aan die soet palmtakke. Hulle staan windaf en kyk slurp-in-die-lug om om te probeer sinmaak van hierdie eienaardige tweekoppige dier. Teen my wil klim Carrie af om die oomblik digitaal te verewig.


DSC04817 by Piet.P, on Flickr

“Lentswe le moriti” beteken “Skaduklip” en die dorpie is so gedoop as gevolg van die son wat vroeër wegsak agter die omliggende heuweltjies. Ons ry tot aan die einde van die netjiese dorpie en neem ‘n foto.


DSC04818 by Piet.P, on Flickr
 
Dis baie baie mooi Piet. 

Ek ken glad nie daardie wereld nie. 

Daar is 2 riviere wat ek nie sommer oorsteek nie, en dis om Noord vd Oranje en Wes vd Nahoon riviere te gaan.  Ek glo anderkant daardie riviere is moeilikheid soek  :deal:  :peepwall:  :ricky:
 
JMOL said:
Dis baie baie mooi Piet. 

Ek ken glad nie daardie wereld nie. 

Daar is 2 riviere wat ek nie sommer oorsteek nie, en dis om Noord vd Oranje en Wes vd Nahoon riviere te gaan.  Ek glo anderkant daardie riviere is moeilikheid soek  :deal:   :peepwall:   :ricky:

Daai klink effens...beperkend? :p ;D
 
JMOL said:
Dis baie baie mooi Piet. 

Ek ken glad nie daardie wereld nie. 

Daar is 2 riviere wat ek nie sommer oorsteek nie, en dis om Noord vd Oranje en Wes vd Nahoon riviere te gaan.  Ek glo anderkant daardie riviere is moeilikheid soek  :deal:   :peepwall:   :ricky:

Sal jy die Rubicon kruis? Dáar is nou vir jou moeilikheid in groot happe.  ;D
 

DSC04822 by Piet.P, on Flickr

Oppad terug kom ons weer die familie flap-ore teë en net na die kruising is daar nog drie groot olifante wat staan en speel op hulle sokkerveld. Weereens, ten spyte van my vertoë, word daar afgeklim en die driepootjie ingespan.


DSC04826 by Piet.P, on Flickr

Vir die res van die transitopad deur Tuli word daar nie veel gestop nie. Ons sien nog talle rooibokke en ‘n paar koedoes, maar buiten dit nie veel nie. Ongeag die hoeveelheid leeuspore wat ons oral opgemerk het, was ons nie gelukkig genoeg om die koning self te sien nie.

Ons arriveer by Pontdrift grenspos omstreeks 14h. Ons het altesaam ‘n skamele twee ure in die reservaat spandeer. Daar is ‘n paar mense wat vir die kabelkarretjie wag, ons verneem van hulle dat die elektrisiteit af is.


DSC04828 by Piet.P, on Flickr

Ons stap in by die koddige kantoortjie om die nodige papierwerk af te handel. Doeane gaan maklik en vinnig, ons is die enigste mense behalwe vir ‘n groepie jongmense wat inkom toe ons oppad uit is. So in die verbygang hoor ek hoe die meisie vir haar kêrel sê: “Ek het nie geweet mens kan hier oor met ‘n motorfiets nie! Volgende naweek kom ons deur op joune!”

Toe ons buite kom is die mense wat gewag het vir die elektrisiteit om aan te kom reeds aan die oorkant. Die bordjie dui dat die karretjie ‘n maksimum van vier volwassenes op ‘n slag mag vervoer. Met die hulp van die operateurs laai ek die motorfiets in die hok, maar hy is te lank, en die operateurs kan nie toelaat dat die hekkie oopstaan nie. Ek beraam gou ‘n plan en maak die een oortollige tou se naaste punt los. ‘n Vinnige knopie om die hekkies bymekaar te hou en hulle is gelukkig.  :ricky: Carrie wil ook inklim, maar sy word voorgekeer: die karretjie is vol genoeg.


DSC04830 by Piet.P, on Flickr

Dis ek, die esel en een van die operateurs wat in die hokkie vasgekeer is toe die ander operateur die knoppie druk: NIKS. (Daai klink bekend!?) Die elektrisiteit het weer uitgeskop! Die minute gaan verby en ek en Carrie begin met die man redeneer: “gestel die krag gaan nou weer af as ek aan die oorkant is? Dan sit sy hier alleen?!” Ons oortuig hom, en sy klouter sommer oor die rant van die kabelkar. Sy was skaars in, toe is die elektrisiteit weer aan!


DSC04832 by Piet.P, on Flickr


DSC04833 by Piet.P, on Flickr
 
Piet luister nou vir n ou oom. 2 sakies :
Jy moet jou skryftalent gebruik.
Trou daai meisie .
Ek hou jou dop .
 
arno said:
Piet luister nou vir n ou oom. 2 sakies :
Jy moet jou skryftalent gebruik.
Trou daai meisie .
Ek hou jou dop .

Sowaar.
 
Top