(Nou moet ek nederig om verskoning vra, want tussen die irritasie, frustrasie en gejaagdheid deur het ek skoon vergeet om fotos te neem van die volgende halfdag! Hierdie hoofstuk is dus ongelukkig net teks en ‘n warboel van emosies...Slaan dit oor as jy nie lus is daarvoor nie!
![Wink ;) ;)]()
Ek skryf hierdie vir eie herinnering ook!)
My eerste reaksie is ‘n effense irritasie. Ek het onlangs gesukkel met die fiets se elektriese stelsel –aan die einde van ‘n vorige toer het die hoofsekering lukraak uitgebrand en die verskynsel het homself sedertdien sporadies herhaal. Ek het baie tyd daaraan spandeer om komponente skoon te maak en om draadjies en aansluitingspunte na te gaan. Ek het ook ‘n geblaasde gloeilampie agter die instrumentasie vervang. Alhoewel ek nie ‘n definitiewe sondebok kon identifiseer nie, was ek redelik seker dat die problem uitsorteer was.
Ou Esel kruip toe onder die drywing van een mannekrag onder die valboom deur en van die pad af. Gelukkig het ek die sekerings geskuif vanwaar dit oorspronklik onder die sitplek was na die linkerkant van die fiets toe (vir die manne met KLRs – dis die moeite werd!). Om nou onder die sitplek in te kom gaan vereis om alle bagasie af te laai en gereedskap uit te haal.
Ek inspekteer die hoofsekering en tot my groot teleurstelling is hy steeds heel. My kop hardloop sirkels soos wat my moed en gemoed afsak tot in my lelike leerjagstewels. Ek dink by myself: “As dit nie die sekering was nie, kan dit een van ‘n paar dinge wees:
• Die battery is 5 jaar oud – hy is aan die einde van sy leeftyd. My bakkie se battery ook so oud toe hy eendag sonder waarskuwing gegroet het
• Die battery se suur kon uitgeloop het met ons vier omvalle in die sand. Almal waarsku al lank dat dit beter is om ‘n diensvrye battery te koop vir ‘n avontuurfiets
• Daar is net ‘n swak skakeling iewers in die stelsel”
In my kop hoop ek dat dit net die derde opsie is, maar in my hart weet ek dit is die battery wat my in die steek gelaat het. Ek berispe myself dat ek alweer suinig was en nie voorkomende onderhoud gedoen het nie. Ek het geWEET dit gaan een of ander tyd gebeur. Nou is ons toer daarmee heen.
Dit is al Saterdagmiddag laat, so selfs in die hoogs-onwaarskynlike situasie dat daar wel ‘n motorfietsbattery iewers te koop is, sal die winkels reeds gesluit wees. Die dorpies om ons is almal eintlik niks meer as nedersettings nie. Die somtotaal van die kommersiële aktiwiteit strek nie veel verder as die twee shebeens nie.
Om die opsies te ondersoek sal ek die sitplek moet afhaal. Ek sien nie nou kans nie. Ek weet die motorfiets sal loop as ek hom aan die gang kan stoot (een van die plesiertjies van ‘n stokou werktuig) en dis nie asof die battery kan erger word nie – die skade is aangerig.
Na ‘n paar pogings om die fiets alleen aan die gang te stoot, vra ek vir die offisier om te kom skouer aan die wiel sit (metafories gesproke natuurlik
![Wink ;) ;)]()
). Tussen die drie van ons is die ryperd weer aan die loop en ek draai om om vir Carrie op te laai.
Ek ry tot in Sefhophe, verby ons afdraai om gou te kyk wat in die dorp is. Ons kry ‘n kafee en Carrie hardloop in om ‘n koeldrank te koop terwyl ek buite vir Esel aan die loop hou. In my kop is die toer verby. Ek wil kyk of ek kan terugkom in Suid-Afrika voor die einde van die dag, dalk selfs terug tot in Ellisras? Zanzibar se grenspos is naby, ons behoort dit betyds te maak. Dit sal ideaal wees as ek nie weer die fiets hoef af te sluit voor ek tuis is nie.
Ek deel my sentiment met Carrie mee. Haar teleurstelling is groot, maar sy verstaan dat ons nie die motorfiets in sand aan die brand sal kan stoot nie. Dis ‘n hartseer 70km van teerpadhel oppad Zanzibar toe. Daar uitgekom, vind ons die grenspos toe. Nie net vir die aand nie, maar sedert Maart se vloede al! Die kêrel by die hek deel met my mee dat Platjan nie vér hiervandaan is nie: net 50km en hulle maak 18h00 toe. Ek kyk op die horlosie: 17h05. Carrie stel voor dat ons oorslaap by die Oasis Lodge, maar ek veto haar voorstel en druk aan Platjan toe.
Die pad deur Limpopo Lipadi reservaat is om van nagmerries te kry. Uitmekaarskud-sinkplaat afgewissel met dik sand en los klippe. Talle onverwagse laagwaterbruggies. Die son het gaan lê en skemer sak vinnig toe. En ek moet ongeveer 80km/h te handhaaf om die grens te vang. My senuwees is aan flarde en ek dink nie meer reguit nie. Ons ry verby Bainesdrift se polisiestasie en toe verby nog ‘n verblyf-aanwysingsbord. Carrie stop my. Ons gaan nie betyds wees vir Platjan nie. “Ons” maak nou droog (so takties en subtiel
![Wink ;) ;)]()
). Sy praat sin in my kop en ons draai in by “Terrafou Lodge”.
By ontvangs aangekom klink dit soos groot makietie. Die (Suid-Afrikaanse) tannie vertel ons dat een van Bainesdrift se grootkoppe aftree en vanaand het hulle die plek uitgehuur. Na ons ons verhaal vertel het gee sy vir ons ‘n netjiese kamer vir spotgoedkoop en sy gooi sommer twee tamaai T-bene en ‘n paar biere ook in die ooreenkoms in! Ons kan nie glo hoe ons geluk gedraai het nie!
Ek is stukkend, maar na ‘n warm stort voel ek beter. Ek val neer in die swaarhoutstoel langs die mopanihoutvuurtjie en maak ‘n yskoue een oop. Dit proe soos NOG! Na nog ‘n bier braai ek ons vleis, en klokslag toe dit (relatief) gaar is kom daar ‘n werker aan met pap, sous en slaai. Ook op die huis! Vergenoegd, verlig, versadig kruip ons in vir ‘n goeie nag se rus.