Ek loop bietjie daar rond en val maar weer in die pad voor die rygoed wat ek alreeds verby gevat het weer voor my kom en ek in hulle stof moet ry.
By die Katbakkies afdraai stop ek weer vinnig om bene te rek. Die son begin nou water trek en ek raak haastig. Ek het besluit om maar by Op die Berg weer te gaan volmaak want dalk ry ons Saterdag ver. Ek wil ook sommer kyk vir iets om te braai en n bottel Coke op tel. Dan kom ek darem nie so lee hande daar aan nie.
Dis baie baie mooi verby Kagga Kamma en Klein Cederberg. Vandag stop ek nie by die bouvalle nie. Bietjie haastig. Daar is weer heelwat voertuie op die pad en selfs n groepie fiets ryers. Hulle voertuig met n waentjie en nog fietse kom agterna.
Die Rietrivier het baie water. Ek dink nie hy kan meer lekker onthou watter kant toe hy veronderstel is om te loop nie want die water le maar net daar. Besluitloos.
Oor die bruggie en dan my gunsteling. Die pad met die baie los klippe. Hier ry ek amper in n bakkie vas wat aan my kant van die pad om die draai kom. Ek skrik so groot ek vloek 500m te laat.
My GPS stel voor dat ek n paadjie regs neem. Op die skermpie kan ek sien dit sny n redelike draai uit. Die paadjie lyk na n 2 spoor en ek kan n elektriese hek n entjie verder aan sien wat oop is. Ek besluit om nie daar in te ry nie ek wil mos Op die Berg toe. Miskien as ek terug kom.
Ek stap seker 16H00 by die Oasis in. Deon sit sonder n hemp en Jacques het n kortbroek aan. Ek sukkel om my kop rondom dit te kry want ek is halfpad verkluim. Ek het heeldag koud gekry op die bike en sit later die aand met my kombers om my langs die vuur.
Ek is honger. Hulle het vir ons Texan steaks en knoffelbrood gebring wat ons braai. Die vleis kan nie gou genoeg vir my gaar kom nie. Ons eet so van die rooster af.
Daarna gaan kyk ons hoe Samoa amper amper vir Engeland pakgee. Die hele Oasis is eenparig agter Samoa en hulle word luidkeels aangemoedig om die bleekbene hel te gee. Wat hulle amper doen.
By my tent het my water bladder wat agter in my baadjie was besluit om my bed vir my nat te maak. Reg deur die duvet tot op die matras. Ek ruil die nat goed om met die in Jacques se tent. Met die maak ek die ontdekking dat ek n elektriese kombers het wat net ingeprop moet word wat ek dadelik doen. Daardie nag slaap ek lekker!
Ek vra wat is die plan vir Saterdag.
Nee, Eselbank, Wupperthal en dan om met die R355 af padstal toe vir middagete en Katbakkies om terug Oasis toe. Klink na n plan.
Nie een van ons het dit al gedoen nie. Inteendeel ek het nie eers geweet dis moontlik nie maar die Hero eienaar klink seker van sy saak en ek weet nie van beter nie.
Dit was eintlik n kak plan maar ons weet dit toe nog nie.