Lake Malawi - 3 Manne, 3 Fietse, 6 Lande, 5500km in 16 dae

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.
Dag 3: 23 Junie 2013
Begin: Elephant Sands, Botswana (938m bo seespieël)
Eindig: Victoria Falls, Zimbabwe (927m bo seespieël)
Afstand: 336km
Verblyf: Shoe Strings Backpackers (S 17° 55' 33.17  E 25° 50' 06.55)



Ons staan op saam met die son soos wat 'n mens maar doen as jy met 'n tent kamp. Die vorige nag was goed koud gewees met die temperatuur wat onder vriespunt gaan draai het. Dit te same met die Ribz stretchers het veroorsaak dat nie een van ons 3 so baie slaap in gekry het nie en dat die lywe maar seer was van die vorige dag. Ons gaan vereffen ons rekening, pak die tente op en durf die sand weer aan.

Soos ons uitry kry ons die vars spore van olifante wat nie te lank terug oor die pad is. Ons plan is om in Kasane te gaan kamp by Chobe Safari lodge. Ek het al twee keer van te vore daar gekamp en dis regtig 'n lekker plek.



Dis 'n lang reguit pad Kasane toe, maar met baie mooi plantegroei en landskap. Op die lang reguit pad word die fiets se oor bietjie gedraai en eweskielik uit nerens uit hardloop 'n hond voor my in terwyl ek 140km/h doen. Ek mis hom met minder as 'n meter terwyl ek myself in 'n nuwe bloedgroep in skrik en besluit dat aangesien die honde in Botswana (en soos ons later besef het, die hele Suiderlike Afrika) dieselfde kleur is as die sand langs die pad, gaan ek maar bietjie stadiger ry om myself 'n beter kans te gee volgende keer. So word die honde gedoop die Afrika Sand Hond, want dit is nou maar 'n spesie op sy eie en almal lyk presies dieselfde tot in Mozambique.

Sien die eerste kremetart bome en stop vir 'n foto



Ons kry toe twee olifante langs die pad en besluit om te stop vir 'n paar fotos.







Ons daag in Kasane op teen laat oggend en besluit om iets te tand en 'n koue te gryp aangesien dit goed warm is vandag. Val toe in by Chobe Safari Lodge vir 'n chicken burger (een van die bestes wat jy in jou lewe sal kry) en 'n St Louis of twee.





Ons het die hele middag voor ons en oorweeg dit sterk om te gaan tiervis vang op die Chobe rivier. Ek het dit al 2 keer van te vore gedoen en ons besluit dat ons weer op die trip die kans sal kry daarvoor, heel waarskynlik by Cahoro Basa in Mozambique. Ek stel voor dat Berno en Japie die White water rafting moet oorweeg in Victoria Falls aangesien dit net heeltemal bedonnerd lekker is. So gesê, so gedaan en ons besluit Victory Falls is waar ons sal slaap vanaand.

Ons is redelik vinnig deur die grenspos, nadat ons eers die verkeerde afdraai gevat het en opgeeindig het by die grenspos vir Zambia. Vic Falls is darem naby aan die grens so ons vat 'n rustige pas.

Hierdie is een van die mooier kremetart bome wat ek al gesien het en ons kry 'n voetganger om gou 'n foto te neem vir ons.



Hiers ook die aller bekende geverfde hond in Zimbabwe, moet familie wees van die Afrika Sand Hond



Aangekom in Vic Falls ry ons gou deur die dorp tot by die brug net om vir die manne te wys en ek vat ons na Wild Horizons toe om vir Japie en Berno se river rafting te bespreek vir môre. Ek maak 'n afspraak om in daardie tyd met 'n chopper oor die valle te vlieg aangesien ek 7 maande terug die river rafting gedoen het hier.

Wild Horizons bel ook intussen vir Shoe String Backpackers en ons hoor daar is 'n kamer beskikbaar vir ons 3. Hier het ek ook al gebly van te vore en die atmosfeer is lewendig en hou tot laat in die oggend ure aan, just what the doctor ordered. Baie van die overlanders stop ook hier en die wat nie hier bly nie, kom kuier by die bar in die aand.

Daar is ook 'n swembad en ek sien dit toe as 'n goue geleentheid om sommer 'n paar sokkies, onderbroek en t-shirt te was terwyl ek 'n swem vang.
In die tuin van die backpackers is daar 'n paar locals met hulle stalletjies asook kuns teen die mure.



Hierdie is 'n paar teels wat deel uitmaak van die kotla.





















Dis dag 3 en die rustigheid wat afrika is begin in ons are vloei. Dit voel of ons al 'n week op die trip is, maar dit is nog net die begin. Die opgewondenheid vir wat voorlê, gemeng met die rustigheid homself gee vir jou 'n ongebeskryflike gevoel.

Ons bestel 3 pizzas vanuit die kombuis en klim in die koues in.



Dis die hond wat woon by die backpackers en hy het toe besluit om by ons uit te hang die aand. 'n Groep amerikaners kom toe later daaraan en vra toe of dit ons hond is. Ek kon nie die geleentheid verby laat gaan om die gek te skeer met amerikaners nie en besluit toe "ja, dit is my hond. Sy naam is Simba en dit beteken leeu in Swahili". Dadelik wil hulle meer weet en die pap word net dikker aangemaak.



Net om die party in die volgende rat in te skop.



Nie te laat in die bed gekom nie, aangesien môre 'n lang dag is van river raft, chopper vlieg en die plek beter verken. Ons besluit ook sommer om die volgende aand hier te bly.
 
Lyk net al hoe lekkerder. Ek wag in spanning vir die volgende uitgawe...
 
Ek werk solank aan die video vir Botswana, so hopenlik vat dit nie te lank nie. Wil vir elke land 'n video ook post na daar geskryf is daaroor
 
Nee man! Ek will nog lees! Sover os die moerse nice! Dankie vir die report!

Sent from my GT-I9500 using Tapatalk 2
 
Dis 'n nice trip.  Ek hou julle fyn dop, want volgende jaar wil ons ook bietjie Malawi toe foeter.  Mooi ride report.
 
Mooi manne! Gooi nog!
:spitcoffee:
 
Lekker man.....LEKKER!!! Ons wag inspanning vir die res.............. :spitcoffee:
 
Malawi toe met die bike is alreeds plegtig op die bucketlist aangebring.  Hierdie RR is net petrol op die vuur...
 
Sub !! Ek al daai areas vrot gery in my trok ry dae en verlang nou al baie jare om so n trippie met n fiets te doen. Great RR sover  :thumleft:
 
Thanks, altyd lekker om te sien mense geniet jou storie. Ek is hard aan die werk met die botswana video, ek dink dit sal dinge ook net meer in perspektief sit. Hopenlik dit die naweek klaar maak
 
Gasman said:
Thanks, altyd lekker om te sien mense geniet jou storie. Ek is hard aan die werk met die botswana video, ek dink dit sal dinge ook net meer in perspektief sit. Hopenlik dit die naweek klaar maak

Solank jy nie hard by die werk is nie...
 
Jirre "Lang Neef" jy het uigestyg bo jou omstandighede.

Ek verlang steeds na jare terug se Baviaans trip!!!!
 
Ek laaik die kwaai, kannie wag vir die res.  Dankie vir die deel.  :thumleft:

Sonder om die mooi RR te hi-jack, hier is so paar kiekies van die pad in en uit Elephants sands.  Dis 'n moerse lekker plek, ons beplan om volgende keer so 3 aande daar deur te bring.







Elephants sands se buffet ete. 


 
Top