Om Lesotho

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Masai

Pack Dog
Joined
Nov 24, 2008
Messages
361
Reaction score
3
Bike
BMW R1200GS
                                      Verslag van 'n motoriets trip  

Ek het laasnag nie goed geslaap. Iewers deur die nag het dit liggies gereen. 'n Hond het aanhoudend geblaf. Seker vir die maan wat opgekom het.  Ek het lê en wag dat dit lig word Ek sou op my motorfiets rit vertek. Ek het gewonder of ek in die reen sou begin. Reen op 'n motorfiets pla nie regtig nie. Mens wil net nooit begin in die reen nie. Was seker so half vyf op 26 Desember van die jaar 2011 dat ek besluit het om te gaan koffie maak. Die tyd het aangebreek. Omtrent half sewe het ek die motorfiets, gelaai vir 'n 10 dae trip, by die hek uitgestoot.  

Ek het brandstof gegooi by die eerste garage oorkant die berg en die pad gesoek na Delmas. Pretoria was stil. Die strate bykans verlate. Die eerste klompie kilo's het soos gewoonlik voel voel gebeur. Jy wil die gevoel van die fiets en die pad en sy manier van pak eers vind. Dan word mens gemaklik en begin die trip geniet.  Dit was bewolk en die reen het gedreig. My boude was vars en het gemaklik gery deur Pretoria wat nog half aan die slaap was.  

Die stukkie pad Delmas toe was gou verby. Hier besluit op 'n koppie koffie wat terstond verander het in 'n klein ontbyt by die plaaslike Wimpy. Ek het kaart uitgehaal om te besluit waarheen nou Die pad na Devon en dan Standerton toe het goed gelyk. Het deur lande vol mielies en kampe vol beeste gery. Die lewe was skielik aangenaam en die pad was mooi. Hier en daar het 'n slaggat sy opwagting gemaak maar ek sou gou daaraan gewoond raak. Net voor Devon is daar die swart woongebied. Ek wou graag sy naam onthou maar vir my westerse brein was die swart naam te swaar. Ek onthou net dat hy met 'n I begin. Elke huis het sy eie son warmwater stelsel. Dit het my aan Turkye laat dink.  

Devon se hotel was gesluit. Met 'n groot swart slot. Op die stoep het 4 klein katte met mekaar gespeel. Langs die hotel was 'n Indier winkel wat halaal kos vekoop. 'n Indier het hoopvol gewag vir 'n klient wat halaal wil kom koop. Ek het bymyself gedink dat halaal nie altyd saak maak nie. As jy honger het eet jy sommer maar wat voorkom. Het verby Devon se tronk gery. Party inmates het geel oorpakke aan en ander oranje. Hulle het sokker gespeel. Die 800GS se termometer het 20 grade gewys. Goeie sokker weer.

Die pad was lekker en die gesigeinder het geroep. Ons vertel almal stories oor onsself. Dit is 'n manier om vir die wereld te se wie ons is. .. Of dalk wie ons graag wil wees. Hierdie is my storie oor die jaar se motorfiets trip. Ek moet dit hier stel dat ek nie hierdie groot gevreesde en rowwe biker is nie. Ek ry nie die heel rofste paaie nie. Ek jaag nie oor berge en dale nie. Ek kyk nie hoe vinnig ek van die een plek na die volgende kan kom nie. Ek het nie helde stories oor die growwe paaie wat ek al gery het nie. Ek ry maar bloot oordat dit vir my lekker is. En oor die natuur. En die anderste gevoel op 'n motorfiets. Op die motorfiets ranglys van hoe goed jy is staan ek maar heel onder. Maar ek is darem ook nie 'n leunstoel-kwasikenner nie.

Leandra was die volgende dorp. Hier is 'n motorherstel garage wat Final Knock genoem word. Het gewonder wie het die naam uitgedink en hoekom. Sou hulle die finale knock uit 'n diesel engin kon haal? Die tweedehandse motor verkoop winkel net langsaan het die naam van Tripple Choice ontvang. Ek het gewonder of jy meer as een keuse kry by hulle. Die Muti shop is reg langs die slaghuis. Ek het gewonder of daar 'n rede is.   'n Groot bokram het sy klompie ooie onder deur die brug van die hoofpad gelei. Twee van die ooie was swaar dragtig. Die ooie se eienaar sal bly wees as die ooie lam. Die pad tussen Leandra en Standerton is sleg. Soos in baie sleg. Dit het my herinner aan die stuk pad Lubango toe in Angola.  Dis beter om langs die pad te ry as in hom. Hier was dit dieselfde. Min het ek geweet watse paaie nog voorlê

Standerton het gekom. Die eerste wat jy van hom sien is die tronk aan jou linkerkant. En sy reuk. Amper soos die pensmis van 'n pas geslagte bees. Standerton het ook 'n Walter Sisulu Drive. En 'n Nelson Mandela drive. Ek dink nie daar is een dorp of stad in Suid Afrika wat nie 'n Nelson Mandela drive het nie. Dis iets wat ons nuwe broeders gou reg gekry het. Om plekke se name te verander. So met die ry het ek deur plekke gery met nuwe name waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Plekname wat klink na eksotiese plekke in Afrika waar jy graag sal wil gaan draai. Party van hulle kan ek nie uitspreek of eers onthou. Dit was asof ek in 'n vreemde land gery het. Iewers het ek verby 'n properse ou lokasie gery met geen drade meer om Slegs hier en daar nog 'n paal wat bly staan het. Direk langs hom 'n plaas of stuk grond wat met beton pale stewig toegekamp is. Ek het by myself gedink dat alles het verander maar tog het niks verander nie. In die ou Suid Afrika is die lokasies toegekamp om hulle binne te hou. In die nuwe Suid Afrika word alles toegekamp om hulle uit te hou. Standerton was vol plaas bakkies hoewel ek die paaie as stil beleef het. Dit was immers 26 Desember van die jaar 2011. Ek het gestop vir water drink. Drie Harley fietse het verby gery. Hulle het vir my rof gelyk. So asof hulle jou sal wiks as jy nie vir jou gedra nie.

Hier by Standerton se garage waar ek brandstof getap het het ek vir Kaptein Frits Marais ontmoet.  Kaptein Frits Marais was 27 jaar oud en het verlangend na  die motorfiets gesit en staar. Ek het hom 'n oog gegooi, en hy het geen  verdere aanmoediging nodig gehad om vir die volgende 10 minute vir my met 'n amperse bewoendheid vertel hoe hy "dit so vreeslik mis..." Die wat hy toe so mis is om Buffels te bestuur in die Army.   Met trots vertel van hoe hy kon kies vanoggend om met die Ford Capri te ry of met die gewone karretjie.  Die brandstof pryse het gemaak dat hy met die gewone karretjie gery het.  Fritz het ook 'n storie wat wag om vertel te word Ek het gedink om 'n kroeg te soek in Standerton maar besluit om deur te druk Vrede toe. So 35 km voor Vrede is die pad baie mooi. Ek het die 800 GS so bietjie vrye teuls gegee en sommer gou was hy op 160 kmp. Ek het gedink aan wat sal gebeur as ek val en hoe lank ek in die hospitaal gaan lê. Op 170 het ek gedink aan of my kinders weet waar die testament is. Op 180 het ek besef hulle weet nie waar hy is nie en stadiger gery Dis was vir my moer vinnig.   Ek het gedink aan die grappie: Die trokbestuurder ry teen 'n bult af. Iewers teen die bult af gee sy remme in Dit gaan doller en vinniger. Hy verloor beheer en begin later bid en dat hy die trok nou maar gaan oorgee in die Here. Die Here rol toe die trok 3 keer. Ek net besef ek is besig om vir my beskermengel weg te ry

Daar was ook 'n bord wat se: Van hier tot Memel is Drakensberger hemel. Sommer net so entjie anderkant die bord was daar dan ook 'n mooi troppie drakensbergers. Hier het die son sy kop uitgesteek. Die tempratuur het steeds bly sit op 20 grade. Vrede is 'n mooi dorpie. Vrede hotel is oor gedoen en dit lyk nie meer na 'n klein dorpie hotel. Eerder na 'n plek waar jy nie meer 'n storie gaan raakloop. Die ander watergat waarby ek gery het was toe. Onthou dis 26 Desember. Ek het besluit om deur te druk Memel toe. Die pad tussen Vrede en Memel is maar vol gate. Ek het agtergekom dat van ons mede landsburgers nie afstand behoorlik kan skat nie en dat hulle gemaklik in jou baan ry om slaggate te mis Ek het besef ek moet versigtig. Nogtans is dit mooi wereld waardeur jy ry. Op Memel by die plaaslike hotel gestop. Besluit om die nag hier oor te bly. Daar was 'n klompie bikers wat Verkykerskop kom ry het. Hulle was erg aangetrek en ek het my verkyk aan hulle. Het yskoue bier gedrink en bietjie krieket gekyk Die Proteas het stewig in die saal gelyk. Die kerk klok in Memel werk nog. Het die aand in die hotel gaan eet. Die hoender schnitzel was baie  lekker. Op die aanplak bord was daar die plakkaat: Dis Memel op aarde. Die hotelhond het saam gekuier. Die bad was lekker. Die koffie mooi. Het Deon Meyer se nuutste boek begin lees. Kersgeskenk van my kinders. Dit was sommer dadelik interessant Het gou aan die  slaap geraak Dit het saggies gereen. Ek het gedink dat die boere bly sal wees vir die reen
 
Nou sit en verbeel ek my hoe die mooi foto's tussen jou gawe skrywe lyk!! :mwink:
 
Masai,

Baie geluk met die 800, en dankie vir die storie vertelling. Ek weet van min mense wat dit op so manier weergee... ook jou weergawe van jou spesifieke ervarings van spesifieke "onbenullighede" soos die katte op die stoep...

Sien uit na die res en ook na die fotos.
 
:happy1:

Sien uit na die res van die trip.
 
Ek kon daai sagte reen voel so aan die einde,het sommer gaan koffie maak

Ai maar ons taal is darem maar mooi. :thumleft:
 
Iewers deur die nag het ek gewonder oor die reen en oor Verkykerskop. Het koffie gemaak, gepak en gaan betaal. Memel Hotel is nie die goedkoopste plekkie beskikbaar nie.  Die kroegman het gese ek moet maar versigtig ry. Verkykerskop gaan snot glad wees. As jy nie weet wat beteken snotglad. .. Dit beteken baie glad... Soos in seep glad Die 800 het op Memel pas oorgeslaan na 1000km op sy klokke. Dit beteken splinternuut. As jy eendag 'n motorfiets verkoop en jy kan vertel  die fiets is " never been dropped" beteken dit twee dinge. Jy het nooit regtig adventure riding gedoen nie en dat die fiets nie regtig vreeslik gewerk het nie. Dit beteken ook onder andere dat jy hom nooit laat val het nie. Maar wraggies. .. Om 'n fiets met net 1000 km op te laat val is darem ook nie my idee van iets oppas nie. Lang storie daarvan gemaak. .. Maar die besluit is geneem om nie Verkykerskop toe te ry agv die snot gladde pas maar oor Vrede Fouriesburg toe te werk.

Het reenjas aangetrek. So geel bedryfie wat jou lekker sigbaar maak. Hy is egter nie heel waterdig nie. Net anderkant Vrede is daar pad verleggings. Fiets het bietjie gespring gegly gegrou en gegrom en nog 'n paar ander ge's ook Iewers is daar spore in die harde modder wat nou pap sag geword het wat diep spore het. Op 'n stadium het dit gevoel die voorwiel wil ander pad vat as wat ek gedink het hy moes. Die "never been dropped" status het bykans verander in 'n "once been dropped" So entjie voor die einde van die growwe 18 km grond verleggings was hy vol slaggate wat kant en wal vol water lê. Jy weet dus nie regtig hoe diep is die gate. En dis een gat op die ander Ek is glyend grouend en bokspringend  daar deur. Het besluit. .. Wat de fok. .. Kon  netsowel Verkykerskop gedoen het. Ek is seker hy sou nie slegter gewees het as die verlegging.

Ek het by Warden ingedraai. Ek was jare terug eendag in Warden Wat ek kon onthou is dat dit 'n klein plattelandse boergemeenskap dorpie was. Dat dit nie meer so is nie is waar. Dalk die beste woord om die dorpie te beskryf is stukkend. Die hoofpad in die dorpie is net aan die een kant geteer. Die teer is ook propvol slaggate. Hy het ook geen randsteen. Dit is 'n enkel baan. Die taxi's speel dan chicken. Om chicken te speel ry jy reg op 'n ander een af en kyk wie gee eerste pad. Wat onlogies is is dat hulle in jou baan regop jou afpeil. En jy is kleiner as hulle en hulle weet dit. Jy gee dus pad. Alles is besig om agteruit te gaan Dit was vir my jammer om dit te sien.

Wat my partykeer pla op ons paaie is 'n gebrek aan bedagsaamheid. 'n Gebrek aan galantheid en mededeelsaamheid. Partykeer merk jy iets van 'n wetteloosheid. Asof daar nie meer reels is, en die reels wat daar is nie eintlik meer vir almal geld nie. Dat jy bokant die reels kan uitstyg. Dat  jy in die land maar kan doen wat jy wil en sommer ook vat wat jy wil  .... Voor die bom bars en daar nie meer oor is om te vat. .. Want die land skuld my.

Wat vir my intressant was was die geel Pothole bordjies. Hulle waarsku jou dat daar vir die volgende 5 km  potholes is. Dan merk jy dit op jou ritmeter en wag vir die 5 kilometer om verby te gaan. Maar voor die 5 kilometer verby is is die volgende geel pothole bordjie wat jou waarsku van 5 kilometer se potholes. Van slaggate weet ek nie baie nie. Wat ek wel vermoed is as daar so gat in die pad is en hy kry water en die water syfer weg dan word die grond onder die omliggende teer sag en hy trap groter uit en die gat word groter en vat meer water en dis 'n bose kringloop. Toe ek kleiner was onthou ek van die geel pad lorrie. Hy het sowat 5 werkers met geel oorpakke gehad met 'n vrag teer. Hulle het van slaggat na slaggat gery. En die plek so aanmekaar gehou. Wonder wat het van die geel pad lorrie geword.

Ek het die Warden Betlehem pad gevat. Dit was 'n mooi stuk pad met sy gebruiklike slaggate hier en daar. Het gestop vir grondboontjies en chips. Die mielielande het groen en geil gelê. Dit het lank terug ophou reen en die grade op die GS was op 19 gewees. Nog goed bewolk en heerlike motorfiets ry weer. Iewers langs die pad het ek 'n groot splinternuwe suv BMW gesien stop. Hulle was besig om kar skoon te maak. Bierbottels, vuilgoed papiere en 'n nappie het al hulle pad uit die motor gevind. .. Sommer so net daar langs die pad. Dit het my ontstel

Het op die Kestel pad besluit. Die mooiste stuk pad. Fiets ry was lekker op die pad. Ek het vanaf Memel al 3 lee plaas huise gesien. Al drie was gestroop van sinkplate, deurrame, venster rame en alles wat waardevol was of gelyk het. Nie een het baie oud gelyk nie. Gewonder waarom dit gebeur het. Die mielies in die wereld het mooi gelyk. Hier en daar was 'n plaas wat nog nie geplant het nie. Tyd vir mielies plant gaan verby.  

Kestel. Het by die Kestel Hotel gestop. Hier het ek vir Nutty Natie ontmoet. Nutty Natie het in 2010 die rekord opgestel om vir iets soos 165 dae in 'n hok vol giftige slange te bly. Iewers in die bly het een van die slange hom gepik. Hy was vir 'n maand in die hospitaal en toe weer terug hok toe gekom. Hy sê dat hy al 32 keer deur giftige slange gepik is. Sy been lyk sleg. 'n Pofadder se byt het hom sy been laat bars. Mens kan die wrede litteteken aan beide kante van sy kuit sien van waar hy gebars het. En net, se hy, oordat die dokter nie vir hom wou luister oor die behandeling nie. Op sy kar is 'n spoeg kobra ( ek weet nie of mens so slang kry nie maar dit is seker hoe hy moet lyk as hy wel bestaan) geverf met die woorde Venom Rider. Maar hy het die slange nou opgegee se hy. Dis oordat hy ouer geword het. Maar nou en en dan dan bel hulle hom nog oor 'n probleem slang. Nutty Natie het vertel dat iemand met die geld wat ingesamel is met sy 165 dae in die slanghok weggeloop het. Maar die polisie is warm op sy spoor. Hulle wag net dat hy klaar kersfees vier dan gaan vat hulle hom.  Die eienaar van die kroeg op Kestal. .. wie se tande al bietjie stomp geword het  ..... het vertel dat hy al op die Isle of Man was met hulle motorfiets rally. Vertel dat daar 35 000 motorfietse deelneem. Trots het hy sy hoedjie gewys. Hy ry 'n superbike. Die mense praat nie van 'n superbike nie maar van 'n supabike. Hy besit 'n Honda 1000. Iets soos Blade of Lem of wat ookal. Hy dra 'n Themp met 'n superbike wat net op sy agterwiel ry.Vertel dat al hoe meer en meer mense deesdae in die Kestel Hotel oorbly en dat hulle baie goedkoper is  as Clarens. Hulle het vir my die laaste oorblyfsels van die kersfees koek gebring om te eet en 'n lekker koppie koffie. Nutty wou dat ek 'n branna en coke vat vir die pad.  Die rekening was R32 gewees. Ek het gedink dis baie goedkoop. Ek het besluit Kestel Hotel is 'n kuier werd. Ek sal weer kom en hoop Nutty Natie en sy vriend met die Isle of Man rally hoedjie is weer daar. Ek wil na hulle storie luister. Ek dink Kestel sal 'n lykswa met 'n Arrive Alife op sy bumper hê.

Het die pad gevat en deur Golden Gate gery. Wat 'n ongelooflike mooi stuk wereld. Die berge en kranse en landskap was besonders. Dit was majestieus. Sagte groen landskap.  Ek het hier 'n o fok moment gehad. Oor 'n laagwater bruggie met water in. Klomp gruis klippe het gelê in die spoor en hulle het my skielik na die kant gegooi en ek is amper  van die brug af. O fok. Stand-up', look-up and open-up. Die goue reel. Ek het nie een van die drie gedoen nie. Golden Gate was vir my mooi. Wat ek nie regtig kon verstaan nie was die beeste en skape in die Golden Gate Reserve. Dit is mos 'n bewarinsgebied. Dalk verstaan ek nie regtig alles nie. Maar die berge en die kranse en die natuur is regtig iets besonders. Ek het hier en daar wild gesien. Die pad was mooi sonder enige slaggate. My boude het gewoond geraak aan die ry en die saal en die skaapvelletjie het sy werk mooi gedoen.

In Clarens het dit begin reen Ek het besluit om Clarens 'n mis te gee as gevolg van die reen en te veel mense en deur te druk Fouriesburg toe. Eintlik was ek jammer daaroor. Moes dalk die backpackers probeer het.  Die enigste ander keer dat ek ooit in Clarens was was met 'n huis toe gaan van Lesotho af. Ons het 'n dag oorgebly en 'n rugby toets gekyk in die plaaslike kroeg. In gietende reen in Fouriesburg opgedaag. Fouriesburg is in 1892 gestig. Tydens die Anglo Boeroorlog is Fouriesburg aangewys as die hoofstad van die Vrystaat. Rooi Stoffel Fourie was die eerste Fourie in die oos Vrystaat wat ongeveer 10 km van Lesotho is.  By die Fouriesburg Hotel ingeboek. Heerlike milo gedrink en toe 'n dop gedrink Gesien dat die Proteas kniediep in die moelikheid is op die hotel TV Ek het gevoel dat om motorfiets te ry is 'n avontuur en het dit ongelooflik geniet. Daar het ook 'n wit KTM 990 Adventure,  'n Suzuki Vstrom 650 en 'n Harley bedryf ingetrek.

Dit het steeds liggies gereen en Dale Steyn het 'n sierlike ses geslaan. Ek het Deon Meyer se nuwe boek gelees. Die laaste doppie het my kop laat draai. Dalk was ek liggies gekletter.   Ek ken schnitzels. Vark, bees en hoender. Dit is wat ek eet by restaurante. Gisteraand was dit vark schnitzel. Onomwonde kan ek dit vandag hier stel. .. Dit was die lekkerste scnitzel wat ek ooit geeet het. Hy het gekom met 'n sampioen sousie. Aartappels en suur room het die prentjie voltooi.
 

Attachments

  • 800.jpg
    800.jpg
    69.2 KB
Het 'n goeie ontbyt geeet in Fouriesburg. Motorfiets gepak en die pad gevat in die rigting van Lady Grey. Ek wou brandstof tap in Fouriesburg maar daar waqs geen druppel beskikbaar. Ficksburg was ook droog. Het by die Ficksburg Spar gestop en paar goete gekry. In Ficksburg het ek sewe werkers gesien besig om te skoffel. Hoewel slegs twee skoffel en vyf kyk. Ten minste skoffel hulle. Tenminste is daar iemand wat wil skoon maak. Hier en daar was daar nog boere wat mielies geplant het.

Vandag het geen ek geen reen op die pad gehad nie. Hoewel dit bykans die hele dag bewolk was. Het by 'n padstal gestop met die naam Constantia. Die oulikste plek. Hy het vreeslik baie kersie produkte. Het melkskomel en melktert bestel. Hulle bring jou ook so shooter glasie met een of ander verfrissende kersie drank. Het ek al gesê dat die pad mooi was. Die pad was mooi. By Lady Brand het ek brandstof gekoop. Die strate in Lady Brand is kaput. Soos in gedaan. In Lady Brand het ek 4 groot luukse SUV's  gesien wat Lesotho geregistreer is.

Netso entjie anderkant Lady Brandt is 'n pad verlegging. Slegs een baan karre word toegelaat. Het darem nie te lank gewag nie. Hier het ek 'n man en vrou gesien op 'n 1200 GS. Netso 2 kilo's op die verlegging het ek afgdraai op die Hobhouse pad na Wepener se rigting. Hierdie was die slegste stuk pad nog tot dusver. Die slaggate  is groot en baie en opmekaar. Die gemiddelde spoed van die fiets het gesak na ongeveer 50km per uur. Ek vermoed hier praat die mense nie van hoeveel kilo's kry jy op jou bande nie maar van hoeveel slaggate. Ek het vandag die eertse keer weer 'n geel teer lorrie gesien. Maar dat hy 'n opdraande stryd stry en ook verloor het is duidelik Die hele Vrystaat se sekondere paaie is een groot slaggat. 

Frazers op Zastron loop 'n special op vlieevangers. Of hulle het 'n vliee probleem of die goed se verval datum is al verby. Het roomys gekoop, melk en grondbone en voor die landros kantoor op die gras gaan sit. So entjie langs my het twee swart vrouens gesit en gesels. Ek het 'n geselsie aangekoop.  Net voor Zastron het ek twee keer pad verlegings gekry. Die bordjie vertel dat jy tot 45 minute kan wag. Ek het weer die man en vrou op die 1200GS raak geloop. Hulle was van Pietermaritzburg af oppad Neue Betesda toe. 'n Plakkaat in Zastron adverteer dat Zuma oor 'n week met die dorp wil kom praat oor die 100 jaar van "selfless struggle" deur die ANC Die plakkaat was geskeur 

Die dramatiese landskap van die Golden Gate omgwing het al minder dramaties geword maar tog bly dit 'n baie mooi deel van ons land. As jy die Oranje rivier oorsteek doen jy dit nog op 'n brug wat net 'n een kar baan het. Dan ry jy vir kilometers deur 'n swart bewoonde landelike gebied. Die verkeer deur die dorpie wie se naam ek nou vergeet het is chaoties.

Vandag se O FLIP oomblik was as gevolg van 'n tarentaal. Ek kyk nogal uit na die outjies. Maar die een het bloot van nerens gekom en opgevlieg voordat jy kon mes se. Jy kon nie eens FLIP se. Jy kon bloot niks se. Hy het so skuins van voor gekom. En in die lug besluit ons gaan mekaar tref. Hy het sy boekie tricks uitgehaal en 'n dubbel agteroor salto in volle vlug gedoen. Ek het die wit van sy oe gesien. Hy het gegil net voor kontak. Ek het sy klein tongetjie gesien in die gil. Hy kort ook 'n tandeborsel. Ons het mekaar gemis met sentimeters.

Dan Lady Grey. Wat 'n mooi en heerlike plekkie is dit nie. Hier is ook 'n soortvan 'n kunste skool. Eenmaal per jaar het hulle 'n passie spele.  Het by die plaaslike hotel ingeboek en die blou kamer ontvang. Gou bietjie krieket gekyk en gesien dat dit maar vrot gaan en die Proteas in die moeilikheid is. Buite het 'n groot skilpad die gras kort gehou. Het besluit om die dorp te gaan verken.

En so ry ek toe 'n huiskroeg raak. Netso klein entjie van die kerk af. Hier het ek erg vasgehaak.  Sy naam is Karel, en hy is eienaar  en kroegman.  Hy het eers die melkwinkel op die dorp gehad vir 7 jaar. Hy en die eienaar van die melkwinkel kon nie regkom en hy besluit toe om sy huis te verannder in 'n kuierplek. Sy vrou Celeste doen 'n klein winkel van uit die huis en ook die kombuis. Hier is  'n Kroeg waarvan mens kan sê. ... Hier sit die manne. Die plek se geselskap is aangenaam. Het 'n paar doppe gedrink en lekker geeet. Ook vir Johan en sy twee niggies ontmoet. Hy en sy pa boer skape en beeste in die omgewing. Hy het ons vertel van al die gebeurlikhede in die omgewing deur die jaar. Plaaslike polisieman het opgedaag. Hy het my storie verneem en besluit ek moet na die dorpsdam gaan kyk. Plaasboer Johan se bakkie is opgekomandeer, die hele kroeg is gelaai, wat die twee honde insluit, en ons het afgesit na die dam. Ons is deur klowe en klein modder paadjies en by die mooiste damwal uitgekom. Ek was beindruk Die mooiste plek denkbaar. Dit was lekker om van die plaaslike mense te ontmoet en hulle het my behoorlik op die hande gedra. Hulle was almal trots op hulle dorp en gese ek moet weer kom kuier.

Dit was vir my 'n lang dag en met die paar doppies in het ek vas geslaap. Ek het met die wete aan die slaap geraak dat ek te veel gegee het en te veel ontvang het om die land vaarwel te roep. Want ek is 'n suigeling van Afrika En iewers wil ek ook maar net my eie storie gaan skryf. En my storie is nie een van 'n held met 'n wrede verhaal. Slegs maar die verhaal van 'n dood gewone mens. Die verhaal van iemand wat besef het hy gaan net eenkaar leef en dat hy dit moet aangryp. Elke dag en elke oomblik. En dat ek ook maar moet vlug dat die kanker van sinisme nie vir my sal oorweldig want partkeer is ek maar geneig tot donker gedagtes

Die lewe is nogals baie soos om 'n marathon te hardloop. Jy staan aan die begin en wag dat die skoot moet klap. Dan vat jy hom..... Oor al die bulte en die swaarkry. Daar is ook great oomblikke. En die ry in hierdie deel van ons land op 'n motorfiets was een van die great oomblikke. Iewers voorentoe weet jy is daar die eindstreep. Wanneer jy die stukkie yster medalje gaan ontvang van die Groot Skeidsregter en jy huis toe kan gaan. 

Partykeer se mense dat hulle wil wegkom om hulleself so bietjie te gaan vind. Het al gewonder daaroor. Ek wil nie myself gaan vind nie. Ek weet waar ek is. Ek is hier. Ek kan dan aan myself vat. Wat wel gebeur is dat ek in Harmonie met myself wil kom. Dat ek tyd het om te dink. En dit is die een ding wat jy baie het op 'n motorfiets. Dink tyd. Jy ry verby 'n swart woongebied en dink dan terug aan die laaste keer dat jy in Soweto was op 'n Casper met 'n R1 in jou hand. En dan wonder ek hoe gaan dit in Soweto.
Jy ry verby 'n rivierloop en dink eendag sal ek weer in die Kowareb Schlucht in Namibia gaan stap. Ek sal onder 'n groot hardekool gaan sit. Die trane sal oor my wange loop en ek sal weet ek moet hier wees. Jy dink aan godsdiens en weet dit is weer tyd om absolusie te vra. Om die Heer van jou lewe te vertel.
Om motorfiets te ry is om jou lewe se drade te herstel sodat die elektrisitiet weer deur jou lyf kan vloei en jy heel kan wees. Mens dink aan die jaar wat verby is. Aan die mooi dinge wat was en ook aan die annus horriblis dinge wat jou getref het. Jy dink aan die dinge wat voorlê. En jy ry met die wete dat oor twintig jaar gaan jy so teleurgesteld wees oor dinge wat jy nie gedoen het nie en jy weet die tyd om jou drome te verken is nou. Wie sing die liedjie : Klink 'n glasie op elkeen wat sy drome oorleef. En saam met die mense van Lady Grey het ek 'n hele paar glasies geklink

Jy besef weer dat jou bestemming is nie 'n plek nie. Dis slegs maar 'n manier om na dinge te kyk.. Dat lewe 'n avontuur is of niks.
 
Wat 'n voorreg om in vervoering te kan raak - saam met Masai - hetsy dit op sy fiets of 4 wiele is...  :thumleft:

Ek is bevrees ek het nie genoeg tyd om my drome te oorleef nie... daar is net te veel oor...
 
Ja, Piet is 'n skrywer van formaat. Maar LUI !!!  ;D . Stel sy talent hopeloos te min ten toon

Ek het reeds op 'n ander forum dankie gesê vir hierdie skrywe (voor deel 3). Na deel 3 wil ek die bedanking herhaal; daar verwoord hy op 'n mooi manier dit wat ons heimlik wens.
 
Nice, het seker goeie punte vir opstelle op skool gekry, die een sou lekker topic gewees het vir"My Vakansie".

Mooi dele die in ons mooi land. :3some:
 
Lees ek nou so lekker ek gaan maak sommer n tweede koppie koffie.
Dankie vir die lekker verhaal Masai :thumleft:
 
Sowat 20 km voor Barkley Oos het ek 'n man en vrou op fietse gekry. Dis nou soos in trapfietse.  Die fietse was swaar gelaai gewees. Elkeen het seker 4 of 5 seil saal sakke aan die fiets vasgemaak en hulle trap dat die speke sing. Hoekom het ek vermoed ek dat hulle Hollanders is. Dalk hulle klere drag of hulle gelaatstrekke.  So doen ons elkeen dit wat vir ons lekker is.  Ja wat ... "Klink 'n glasie op elkeen wat sy drome oorleef" Ek hoop hulle oorleef hulle drome om van waar tot waar op die fietse te ry. Ek het al die boek van Manser gesien wat Afrika met 'n trap fiets deurkruis het. Laas jaar in Rundu met die motorfiets trip Vic Falls en deur Namibia terug het ek ook een van die trappers raak geloop. Hy het na 'n eensame siel gelyk met die kleinste van klein tentjies en 'n blikkie bulliebeef het hy hom vermaak die aand.

Ek het 'n bordjie gesien met die naam New Engeland. Het by myself gedink waarom iemand 'n plek in Suid Afrika New England sou wou noem. Is dit iemand wat dalk terug verlang na die Home Country? Dalk 'n ou hans kakie wat iets van die home country in een van die kolonies  wil kom agterlaat. Op Barkley Oos het ek brandstof gegooi. Hier 5 harleys gekry. Drie mans en twee dames. Elkeen van die vyf was op die selfoon besig gewees. So gepraat op die fone  dat hoor en sien vergaan. Ek  het naby hulle gestop om padkaart te bekyk. Wou groet maar is ontmoedig deur dat hulle heeltemal te cool is. Hulle het nie eens in my rigting gekyk nie. Hulle is gewoond daaraan daar word na hulle gekyk. Hulle is nie gewoond om hulle te vergaap aan 'n spektakel ... eerder dat mense hulle vergaap deur na hulle te kyk. Motorfiets ryers kan dalk genoem word 'n "band of brothers" Hierdie was nie deel van die band of die brothers nie.  Hulle motorfietse het NX registrasie nommers gehad. 


Het ek gese Barley Oos is van die mooiste wereld. Dan is die pas by die Kraai rivier een van die mooiste passe. Het gestop vir boude rek. In 'n kar rek jy bene. Op 'n motorfiets boude. Hier het 'n klompie skape gewei. Marinos. Een het gemêê. Ek het terug gemêê. Klompie skape het dadelik nader gehardloop en hulle storie vir my kom vertel. Hier het agtergekom ek praat skaap vlot. Het die gas stofie uitgehaal en koffie gemaak en skaap gepraat. 

Maclear het gekom en gegaan. Maclear laat my dink aan 'n Lesotho dorpie. So eintlik die hele gebied vanaf Ugie tot sowat 10 km voor Matatiele. Dit is een groot village.  Op Maclear stal hulle die hele winkel in die straat uit.. Die hele sypaadjie is vol van hulle ware. In die hele groot gebied is daar nie veel ekonomise aktiwiteite. Bestaan boedery is hier aan die orde van die dag. Die hele gebied lyk, ruik, proe en maak soos Lesotho. Net voor Ugie was daar 'n padblokkade. Hulle weet nie regtig hoe lyk 'n motorfiets lisiensie. Of wat sy kode is nie. 'n Gewone karlisensie is vir hulle goed genoeg. Tussen Maclear en Mount Fletcher het die lonesome rider op sy Harley gekry. Ook 'n 1200 GS ryer. Hy het gestaan terwyl hy ry.

Erosie is aan die werk in die wereld. Orals is daar geweldige erosie aan die gebeur. So entjie voor Matatiele het ek so kleine o FLIP :pol oomblik beleef. 'n Skaap het skielik vanuit die bosse oor die pad gestorm. Ek moes 'n hele handvol voorbriek gryp. Ons het amper 'n onaangename ontmoeting gehad.

Iewers in die ry het die ding in my kop gesing : dat die erwe van ons vaadre vir ons kinders erwe bly. Was dit die mooi deel van die land waardeur ek gery het?  Was dit  oordat ek gewonder het of my kinders dieselfde sal ervaar as wat ek ervaar. Dat iets van dit vir hulle behoue sal bly? Sowat 10 km voor Matatiele vir die eerste keer weer konvensionele plase gesien wat ekonomies boer.

Ek hou niks daarvan  as iemand 'n draai sny. Beteken as sy wiele oor die streep in jou baan kom. As hy van jou baan gebruik om te draai of te ry. In 'n kar maak dit my vies. Op 'n motorfiets maak dit my uitermatig kwaad. Dis asof ek 'n oerangoetang kan baar van kwaadgeit. Dis asof ek die een sal injaag, hom uit sy kar plek, sy strot kort duskant sy stuitjie afruk, sy niere skeur en op sy lewer spring. Maar wat,  ek moet seker verstaan  dat party mense nie die kapasitiet het om beter te bestuur. Dat hulle alreeds bokant hulle vuurmaakplek bestuur. Dat hulle eenvoudig nie kan beter en jy bly moet wees  vir wat al bereik is.

In Matatiel by 'n garage gestop vir water en roomys. Regoor Mysa laundry roomys geeet.  Wat vir my opval is dat elke dorp  'n funural parlour het. Naas die drankwinkel en die  slaghuis is dit die mees promonente winkel. Die haar salon is ook baie prominent. Tussen Matatiele en Kokstad het ek verby 'n bord gery wat aandui dat as jy daar afdraai dan gaan jy na Kakashill toe ry. Cederville is 'n mooi klein dorpie hier in die Griqualand.

In Kokstad by 'n gastehuis ingeboek. Hier het ek 'n biker raak geloop wat 'n harley yamaha ry ... as julle weet wat ek bedoel. Hy bly op Matatiele. Lekker met hom gekuier. Hy besit 'n B&B in Matatiele. Ook 'n skoen winkel. Hy geniet sy lewe en die stadige pas en sy layback lewe  op Matatiele. Hy praat van Sheppies ... en dan bedoel hy Port Shepstone. En van Matat en hy bedoel Matatiel. Hy het my vertel van biker saamtrekke. En dat ek moet kom kuier en hy wys my plekke waarvan mense nie weet. En ek kan in sy B&B oorbly. Hy het na 'n aangename ou gelyk. So asof hy 'n storie het om te vertel. Ek sal hom eendag wil gaan opsoek.
 

Attachments

  • P1100747.JPG
    P1100747.JPG
    119.5 KB
  • P1100758.JPG
    P1100758.JPG
    132.7 KB
  • P1100779.JPG
    P1100779.JPG
    82.8 KB
  • P1100794.JPG
    P1100794.JPG
    100 KB
:hello2: :hello2: :hello2:

:happy1:

Bliksem.....jy skryf lekker man!!  :thumleft:
 
"Het gestop vir boude rek. In 'n kar rek jy bene. Op 'n motorfiets boude. Hier het 'n klompie skape gewei. Marinos. Een het gemêê. Ek het terug gemêê. Klompie skape het dadelik nader gehardloop en hulle storie vir my kom vertel. Hier het agtergekom ek praat skaap vlot. Het die gas stofie uitgehaal en koffie gemaak en skaap gepraat."

As mens so kan maak, dan weet jy jou trip is die moeite werd. Want jy't onder jou "bagasie" uitgery.

Lekker verslag en baie dankie dat jy die moeite gedoen het om alles neer te pen, Masai!  :thumleft:
 
In Kokstad het die Moslem luidsprekers teen donker oor die dorpie begin weergalm. Die moslem predikers het hulle mense opgeroep vir aanbidding. Dit is vir my goed en mooi as hulle opgeroep word. Wat ek moeilik verstaan is dat hulle redelik aanhoudend is daarmee. Dit het langer aangehou as wat ek gedink het nodig sou wees. Dit het my laat dink aan godsdiens vryheid. Aan die vryheid wat jy het om ongehinderd die godsdiens van jou keuse te beoefen sonder inmenging. Lang sin om bloot te se wat van ek sit mega groot luidsprekers op pale by my huis en teen donker gooi ek die volumes vol oop met heavy metal op ... of dalk Leonora Veenemans. En verklaar dis my geloof. Dalk sal ek nie toegelaat word om dit te doen. Miskien sal hulle nog die heavy metal laat deur gaan maar vermoed ek gaan moeilikheid optel met Loenora.

Die Proteas het toe verloor. Sleg verloor. Het besluit ek gee liewer my aandag  aan Deon Meyer en vergeet van die krieket.

Padkaart bekyk en besluit die pad Underberg toe lyk goed. Phew. .. Weet ek mag dit nie weer se nie maar dis darem regtig 'n mooi deel van ons land. Dis die mooiste stuk pad. Wat my nogals opgeval het is die baie polisiestasies. Iewers het ek gestop om boude te rek. Inwoner van Underberg het gestop en homself kom voorstel. My vertel van paaie wat ek moet vat en plekke wat ek moet besoek. Gawe engelsman gewees. Hy het so klompie jare gelede uit Johannesburg Himeville toe getrek. Ek het nogal gewonder of ek eendag die moed sal he om sommer net te pak en te gaan waar dit vir my mooi is.

Underberg het gekom. Mooie dorpie. Hy was stil gewees. Het besluit om in Himmeville te gaan ontbyt eet. Ek het al in Himeville Arms oorgebly toe ons met die motorfietse Sani Pas gaan ry het. Vandag se Huletts suiker sakkie waarheid: Success is not final. Failure is not fatal. It is the courage to continue that counts. Dit het my nogals aan comrades laat dink. Die courage to continue.

Die fiets het ongelooflik lekker gery. Hy is hoer as die 1150 gs. Jy moet maar versigtig wees met die stop slag dat jy nie op 'n afdraand stop. Jy gaan val. Ek het op die pad vanaf Kokstad na Underberg die fiets weer 'n keer na 170 toe gevat. Weer eens onthou die kinders weet nie waar is die testament nie. Op 170 gebeur alles vinnig. Die 800 is baie vinniger as die 1150. Die 1150 voel soos 'n battle ship. Hy is stewig en massief.
Om in harmonie met jouself te leef is om in harmonie met ander mense te leef en in harmonie met die wereld. Ek weet dat om te werk is nie lekker nie. Min mense geniet hulle werk so dat hulle nie eens wil vakansie neem nie. Maar gaan maak maar die beste van jou omstandighede en gaan leef in harmonie met alles om jou. En om 170 te ry het nogals gevoel ek is in harmonie.

Het voor Bulwer die Ixopo pad gevat. Die pad was stil en lekker gewees. Skielik het ek deur denneboom plantasies begin ry. Dit het my laat terug dink aan 'n plantasie trip en die landrover en 'n paar vriende in die Baberton omgewing. Het verby " Day in the Country Care Centre " gery. Daar het twee ouens staan en hike. Toe hulle sien ek gaan hulle nie oplaai het hulle hulle hoop gevestig op 'n kar in die teenoorgestelde rigting. Wonder hoe het die twee gedink sal ek hulle oplaai op die fiets. Bietjie kloe  kloe as jy my vra. Hulle gee nie om waarheen hulle 'n lift kry nie. Solank dit net iewers heen is. Hulle soek die pad na iewers heen. Geen kaart word geraadpleeg. Net maar saam met 'n vreemdeling in die kar klim en ry. Miskien is dit nie regtig kloe kloe nie. Miskien is ons almal wat toer in 'n mate bietjie kloe kloe. Om sommer net pad te vat iewers heen.

Vanoggend was alles bietjie in 'n waas vir my. Ek het besluit om baie versigtig te ry vandag. Ek kon bloot nie mooi sien. Nogals gedink dis die gin en tonic gisteraand. Myself voorgeneem om vir 'n dag uit te vars. So met die eerste stop my donker bril afgehaal en besef ek het nog steeds my lees bril ook op. Skielik was die waasigheid weg en kon ek weer glashelder sien. Het terstond besluit om dit vanaand te vier met 'n gin en tonic.

Vanf Ixopo het die pad besig geraak. Soos in ongemaklik baie besig met taxis wat hulle bes doen om jou te ontsenu. Ek is deur Camperdown snelweg toe en die vinnigste pad Shaka's Rock toe.  Naby Camperdown 'n stukkie comraders pad gery. Vreemd. Ek het skielik verlang na comrades. Na 'n dag op die pad saam met mense wat ook hierdie vreemde obsessie het om bykans 90 kilometer te gaan hardloop.

Vandag digby die 400 km gedoen.  Maar die vryheid van die oop pad het my bloed geword het ek skielik besef. Dis 'n verslaafdheid.  'n Verslaafdheid aan 'n reistog. Aan 'n safarie. Die hartklop wat lewe aan jou menswees gee is die reis na 'n onbekende plek.
Môre is daar 'n rusdag. Net om die boude en lyf ruskans te gee. Ek hoef nie vroeg op te staan en na die kaart te gaan kyk en pad soek nie. Miskien mis ek dit môre oggend. Mense skiet vanaand klappers. Dit bly vir my sinneloos. Maar ek troos my in die wete hulle verstaan.

Ek het Deon Meyer gelees en gewonder oor die 3de toets tussen die Proteas en die Skrilankane. Of die Proteas dit sal kan omdraai. Vermoed hulle het die skietgoed.  Ek het lankal agtergekom ek is bloot 'n weekend warroir wat die motorfiets ry ding betref. Ek is nie die hardcore elke dag ryer nie. Vriend Jan Staal du Toit het al geskaaf en getimmer aan my fiets ry vermoë. Hy het self die waagmoed aan die dag gelê om vir my 'n sertifikaat te gee en te verklaar dat ek 'n offroader is. Beteken ek kan rowwe growwe paaie ry sonder om te veel te val. Maar .... My ding is ek hou van trips. Om te gaan toer. Om nuwe plekke te sien en te beleef. Ek hou nie regtig van hoe rowwer hoe beter paaie waar jy kan kyk hoeveel keer kan jy neerbliksem nie. Om motorfiets te ry gee 'n mate van vryheid. Dis anders as in 'n kar. In 'n kar sit jy passief en probeer om die myle so vinnig as moontlik by jou verby te kry. Jy is nie regtig betrokke by die landskap en die natuur en die wereld rondom jou nie. Met die motorfiets is dit jy en die pad en die lewe. En die gom wat jou en die motorfiets aan mekaar hou is die liefde vir die reis en vir Afrika. Die dors na die alewige reis om die onbekende te gaan ontdek hou nooit op. Of dit nou met Masai, my 80 series Land Cruiser is of met Kwagga, my motorfiets is. Dis eintlik 'n vreemde beheptheid. Miskien is daar 'n vreemde konnotasie met een of ander oer instink. Motorfiets ry is soos 'n virus in jou bloed. Ek oorweeg nogal die Angola trip op die motorfiets

Deon Meyer het lekker gelees. Die gin en tonic sag op my gestel. Ek het draf tekkies aangetrek en sommer net gaan voel of hardloop nog lekker is.

My eerste bekendmaking met 'n motorfiets was 'n rooi 50cc Honda aan die einde van std 8. Daai tyd is ons vertel net ducktails ry motorfiets. 'n Motorfiets is 'n sedebreker en is dus taboe. Die rooi Honda het meer gestaan as iets anders. Maar hy het tog ure se genot verskaf. Met hom het ek op 'n keer sonder dat my pa en ma geweet het 'n naweek gaan kamp en visvang by Hartebeestpoort dam. Hy het nie meer baffels in gehad en kon lekker raas. Motorfiets is byna 'n paspoort na vryheid. Tog het ek al enkele kere neer gebliksem. Daarna was dit die blou 250cc Honda. Na 'n val het my pa hom verkoop. Toe 'n Kawasaki waarvan niemand geweet het nie. Blou draad en tang fiets. En toe eendag. Toe verloor ek van my menswees. Ek was sonder motorfiets. Ek word een van die massas. Ek gee boedel oor en die motorfiets dae is verby.  En toe in die jaar 2006 koop ek weer 'n motorfiets. 'n Groot blou een. 1150 GS BMW. En skielik was ek weer tuis. Skielik het alles reg gevoel.

Motorfiets is partykeer gesien as simbool van rebellie teen alles wat vaal is. Ek besef ek gaan nie vir ewig leef nie en het besluit om die laaste entjie in die saal van 'n motorfiets deur te bring. Ja, my voertuig na vergetelhied. Intussen het die versameling gegroei. Kawasaki KLR het hom kom tuis maak. Die Kawasaki het ander baas gekry en in sy plek 'n Dakar, 'n 650 GS BMW. Die 1150 het groener wyvelde gaan soek en nog 'n Dakar het sy verskyning gemaak. Die ouer Dakar het gegaan en in sy plek 'n splinternuwe 800 GS. Die 800 is 'n heerlike fiets. As jy sy oor so bietjie draai klink hy soos 'n luiperd wat  vir jou grom in 'n vanghok. Motorfiets ry doen iets aan jou siel. Dit doen iets aan jou gees. Dit doen iets aan jou saligheid 

Ek het laat geslaap vanoggend. Soos in half agt. Koffie gedrink en 'n paar goedjies by die winkel gaan soek.  Dit het gereen ou jaar

So omtrent 09h00 op die eerste dag van Januarie 2012  uit Sjakas Rock gery. Die snelweg Stanger toe gevat. Die pad was stil. By Stanger die Chaka Heritage Route gevat. Stanger het nou 'n vreemde naam.  Ek kan dit nie nou onthou nie Die strate was doodstil.  Hier en daar 'n taxi wat besigheid gesoek het. Net buite Stanger het die villages begin.  Ek is deur baie kilo's van aanmekaar villages. Sulke ronde rondawels met gras dakke is vollop.  En dan verwonder ek my aan 'n goot advertensie bord wat vertel van die wonder van flexible gutter sisteem wat jy kan aanbring. By myself gewonde oor wie 'n gutter sisteem by 'n grasdak rondawel wil aanbring. Het verby heuwels vol suikerriet en berge vol plantasies gery. Op die hele stuk pad het ek egter niks van Chaka se heritage roete gesien nie.

Die omgewing ern die natuur was nie so dramaties as die laaste paar dae. Het vandag verby Hermanburg gery. Hulle het 'n duiste skool. So ent voor Grey town het ek verby Harmony gery. Harmony adverteer dat hulle oplossing bied vir alkohilisme en dwelm verslaafdes. Wyn plaas het ek gedink. Seker goed vir mense wat nie meer in beheer van doppie is.

In die wereld gebruik hulle elke stukkie grond denkbaar. Rye mielies. En plantasies en vark boerdery en hoenders. Elke stukkie grond moet produseer. Greytown is omring deur plantasies. Wat ironies was was dat sy hoofstaat Pine Av heet. Die hele Greytown was toe. Behalwe die Wimpy, die motorhawe en 'n beauty salon. Het koffie gedrink by die Wimpy. Dit was die jaar 2012. 'n Hoenderhaan het geskrop voor die Wimpy teryl ek koffie gedrink het. Ek het die padkaart bekyk, brandstof gegooi en in die pad gekom Iewers op die pad het 'n rooi Audi TT sport met verdonkerde  vensters en 'n groot swart Audi SUV ook met swart vensters teen 'n yswekkende spoed by my verby gery. My gedagtes was dat die mense baie moed het om so vinnig te ry.

Sowat 80 km voor Dundee is daar die ongelooflike pas. Sy naam ken ek nie. Vir baie kilometers daal jy. Die  pad is nie 'n mooie teerpad met baie twisties nie. Die draai is kort en baie skerp. Dis bloot 'n nou stukkende teerpad met geen reelings aan die afgrond kant wat skerp val. Hoë kranse aan jou regterkant. Klippe, sand en stukke gruis is die hele pad vol. Party plekke is die sand dik. Hierdie is mees indrukwekkende pas waarteen ek ooit gery het. Hy is skerp en vir baie kilometers aaneen. As jy iewers 'n fout maak gaan jy die afgrond in. Met kar of motorfiets. Twee karre pas redelik styf teen mekaar. Daarsy. .. Nou kan ek ook 'n helde verhaal vertel van 'n rowwe pad wat ek gery het.
Maar dalk was 'n groter heldedaad die feit dat ek Oos Vrystaat se slaggate gedoen het. Min mense kan dit vertel

Vandag se O fok oomblik het gekom van 'n donkie. Op die pas. Ek het hom lank voor die tyd gesien Hy het rustig langs die pad gestaan en niks doen. Iets wat donkies goed reg kry. En toe ek, seker teen 50 kmpu by hom verby kruie besluit hy dis tyd vir sports. Hy het reg voor my ingespring. Ek moes brieke gooi. Die pas was grof en het langs die pad gestop vir water en jellybabies.

Net voor Dundee was daar 'n mooie grond dam.. Hierin het 'n klomp kaal swart seuntjies geswem. Dit het lekker gelyk. Het brandstof getap in Dundee en net buite die dorp op die lekkerste groengras iets gedrink en geeet. Die wereld was mooi groen By  die garage het 'n ou swart man met geen tande meer 'n foto met sy selfoon geneem van die fiets. Ek het met hom gaan praat. Hy bly net buite die dorp en sy kinders het hom die selfoon gegee. Hom gewys hoe werk die foto ding en nou stuur hy fotos vir sy kleinkinders.
By Dundee het ek besluit ek verlang te veel na my goudvis. Het besluit om die korste pad huis toe te vat. Wou oorspronlik oor Piet Retief huis toe maar die vis het geroep en het die    New Castle Volksrust pad gevat. Die pas was mooi. Daar is twee verleggings net so ent voor Volksrust. Het by 'n gaste huis ingeboek en Kentucky gaan koop. Gewonder of die goudvis ook na my verlang.  Deon Meyer gelees en aan die slaap geraak  Ek was al half vyf wakker en het skielik erg na my kinders verlang. Ek het die Here gebid dat Hy mooi na hulle sal kyk. En sommer na ons land ook. En ook vir al my mense en my familie en vriende. Vir my toekoms ... en ook vir my generasie. Want daar is van hulle wat swaar kry.

Koffie gemaak en het die laaste klompie bladsye van Deon Meyer gelees. Gestort, my skoonste vuil hemp aangetrek, sokkies wat my wou byt gegryp vir voete wat nie fris geruik het en die Ermelo pad gevat. Dit was erg mistig. Op 'n motorfiets ervaar mens mis anders as in 'n kar. Dit voel jy is deel van die mis. In 'n kar kokon jy jouself toe.

Amersfoort was vir my 'n mooi dorpie. Ek wil nog die plek en sy mense gaan verken. Het verby 'n padpredikant gery wat vertel dat as jy hier afdraai kom jy by 'n plek met die naam " Zoo als hy lykt" Maar die pad was goed en ek het spoed aangedraai huis toe. So met die ry gedink aan die nuwe jaar wat voorlê. Probeer dink aan 'n nuwe jaars voorneme. Maar tog besef dat nuwejaars voorneme eintlik maar net 'n klug is. Om te gaan vertel jy gaan minder drink en meer werk. Ja, minder luilekker dae en meer oefen. Die hond meer bad en met die kat speel. Vir die goudvis 'n speelding koop. Hoekom 'n voorneme maak wat jy tog nie gaan nakom nie.Wat ek wel weet is dat jy 'n ou hond nie sommer nuwe truuks leer nie. Hoekom nie net maar die voorneme maak dat jy gelukkig wil wees. ... en dan iets gaan doen daaraan. Voorneme maak dat jy jou al minder gaan steur aan wat ander mense se en dink van jou en net gaan doen wat jy wil doen en wat vir jou lekker is. Hoekom dink ek nou aan die grappie wat se dat ek net twee doppe per dag gaan drink. Ek trek hier in Januarie maand al by 12 April. Die jaar vlieg darem

En so het die einde van 'n trip aangebreek. Die odo meter het 2510 km van reis gelees. Die gps het gesê die maksimum spoed was 174 kmph. Dankie aan Johan van Hochlang Auto wat, toe ek besluit het op die 800GS, hom al die pad van Betlehem kom aflewer het hier in Pretoria. Dankie aan Chris van Dustriders wat gou gou die soft panniers gestuur het. En Runner wat al die ekstras in rekord tyd aangesit het. Ek is nou die eienaar van 'n 2012 gereigstreerde 800gs met 3400km  op en never been dropped  Ons leef in 'n mooi land. Gaan verken hom.  Die platteland het soveel stories om te vertel. Gaan luister daarna.  Elke dorp, elke village, elke rivier elke heuwel is uniek en deel van die land wat ook myne is. Gaan wees lief daarvoor.
So met die terug ry het ek aan 'n volgende trip gedink. Mens sê altyd eendag gaan ek nog. .... Wanneer breek eendag aan?  Eendag is nou hier. Gaan doen eendag nou. Elke mens moet 'n droom hê. Miskien oorleef ek nog myne Ek het by die huis ingery. Die wiele het tot stilstand gekom. Die reis was oor.
 

Attachments

  • 1.JPG
    1.JPG
    53.9 KB
  • 2.JPG
    2.JPG
    90.4 KB
  • 3.JPG
    3.JPG
    83.8 KB
  • 4.JPG
    4.JPG
    57.2 KB
  • 5.JPG
    5.JPG
    71.1 KB
  • 6.JPG
    6.JPG
    74.4 KB
  • 7.JPG
    7.JPG
    77.5 KB
  • 8.JPG
    8.JPG
    85 KB
  • 10.JPG
    10.JPG
    80.9 KB
  • 11.JPG
    11.JPG
    64.9 KB
Dankie man.....dit was 'n baie lekker lees!  :thumleft:
 

Latest posts

Top