Suidoos Botswana in 'n neutedop

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.
Ek ry lekker saam Piet, wag vir die res :thumleft: :sip:
Dankie vir die deel en mooi foto's
 
Wonderful part of the world.  Lifetime's memories. Thanks for the great report ... so far.
 
Die wind deur die bossies raas my kort-kort wakker en ek verbeel voetstappe oralom. Ek slaap nie rustig nie, want dit bly maar gewaagd om so in Afrika te lê. Carrie se diep asemhaling het net mooi die ergste adrenalien laat bedaar toe ek ‘n gevlekte hiëna hoor lag! Carrie se asem raak stil: “Het jy dit gehoor?”. Ek besef onmiddelik dat ons die laaste stukkie oorskietvleis in die sak gesit het, wat tans langs die tent lê. Ek is min lus vir opstaan, maar minder lus om ‘n geskeurde sak te probeer vasbind op die oorvol fiets. ‘n Paar minute en dorings later is die sak hoog genoeg in die naaste boom om my gerus te stel.

Ek is skaars weer aan die slaap toe die gedempte klong-klong van ‘n beesklok my weer wakkerkry. Met die inry het ons die beeste gesien, so ons het hierdie slaaponderbreking verwag. Ons lê en luister so terwyl die klok stadig nader beweeg. Toe die klank OP ons is, besef Carrie dat hierdie bees nie gaan stop nie! Sy skakel blitsig die kopliggie aan en ons kan HOOR hoe die bees in sy spore stuit! Hy tru ‘n paar tree en gaan vreet rustig voort onder ‘n nabygeleë bos.

Die volgende oggend word ons wakker met die geboggom van twee aggressiewe bobbejane iewers in die verte. Ek gaan haal die sak uit die boom uit en ons brou weer ‘n boeretroos terwyl ons rustig peusel aan oorskiet en beskuit.


DSC04753 by Piet.P, on Flickr


DSC04754 by Piet.P, on Flickr

Die geboggom het nog nie opgehou nie. Dit klink nader. Na ons koffietjie slaan ons flink kamp af en laai die pakkasie. Ons was skaars klaar toe klink dit of die kese vir ons wag aan die oorkant van die pad!
 
Piet, your command of the Afrikaans language is superb, the writing style is excellent, thank you. :3some:
 
  Dit lyk sommer lekker,Piet.Hoog tyd dat ons weer n slag van jou hoor.
 
Hierdie gaan 'n lekker trippie wees.
Ek wag in spanning vir die res.  :thumleft:
 
Dankbaar om sonder voorval weer aan die gang te wees, mik ons weer Moeng toe en voeter verder die weste in. Ons ry verby ‘n aankomende motor, maar ons vriendelike waaie verdwyn tussen vier fronsende gesigte. Ek ry aan. Die pad swaai na regs en eindig teen ‘n hek. Ek het nie hierdie noordwaardse stukkie op Google gesien nie, so ek neem aan dat die res van die pad seker ‘n rivierlopie is. Ons draai om om die pad te gaan soek, maar voor ons terug by die draai is, kry ons weer dieselfde Toyota Cressida van voor. Stop.

Nog voor die man my kan vermaan, troef ek hom met die “verdwaalde toeris”-kaart: “Sorrie sir, I’m loeking for the road to Moeng? Can yoe help me?” Die ergste strengheid in sy oë versag so effens en hy verduidelik vir my dat ek heeltemal op die verkeerde pad is. Hy beduie my weer al die pad uit (soos ek weet mens daar kan uitkom) en verseker my hy sal agter my aanry. Ek tel die irritasie en vyandskap in sy oë en stemtoon op en besluit om myself nie twee keer laat nooi nie. Ek gee die Moeng-agterpaadjie-stryd gewonne en ry uit soos ons ingekom het.

Oppad is daar twee mooi kremetarte en ons stop vir ‘n kiekie. Ons het genoeg veld gewen dat die ou Cressida ons nie sal inhaal nie. Met groot teleurstelling besef ons dat die driepootjie steeds in die bos hang waar ons gisteraand fotos geneem het van die kampvuur. Ek wil hom los om konflik te vermy; dit was ‘n R40-winskopie aanlyn. Maar Carrie dring aan dat fotos en herinneringe soveel beter vasgevang sal word as ons terugkeer. Wat kan ek doen? Ek gee in.


DSC04755 by Piet.P, on Flickr

Ons ontmoet toe gelukkig nie weer die mans nie, en ons kry ons fotos met die vetbome…Sy was alweer reg!


DSC04757 by Piet.P, on Flickr

Vir ‘n wyle ploeter ons rond op die agterpaadjies na Palapye toe, en sien die tipiese Afrika-wêreld: klein nedersettings, vriendelike kinders en honde wat speel in die straat, borde met Afrika-spellings…Ek besef ons sal moet wikkel as ons nog Tuli wil sien. Ek sluit by die grootpad aan en ry die laaste paar myl so vinnig as wat my muil ons kan dra.

Een vir die taalpuriste - "Daardie is die stortingskant"

DSC04761 by Piet.P, on Flickr

Op Palapye maak ons tenke vol – Oktaan 93 vir die rydier en Coca Cola vir die passasier.

Tracks4Africa het ‘n geteerde paadjie vir my gewys wat verby die een of ander heilige dorpie en meteorietkrater kronkel. Die paadjie is ‘n verrassing vir Carrie, ek het dit nie voor die tyd met haar bespreek nie.
 

DSC04762 by Piet.P, on Flickr

In die ooste van Palapye steek ons die treinspoor oor. Anderkant vind ek toe die paadjie wat my GPS vir my uitwys. Dit is definitief hy hierdie, sy posisie is reg, maar hy is nie HEELTEMAL geteer nie…


DSC04763 by Piet.P, on Flickr

Dik sand is een ding. Dik sand met ‘n passasier is ‘n ander ding. Maar dik sand met ‘n passasier en wag-‘n-bietjie-bos wat met flymskerp kloue gereed staan om die klere van jou lyf af te skeur of dorings diep in jou flees agter te laat is ‘n perd van ‘n ander kleur! Ek kan nie net die fiets in een spoor hou nie, want die bosse wissel heeltyd kant – dan moet ek oor na links, en dan weer oor na regs. Selfs met die Mitas knoppiesband sukkel ek om spoed te hou. En die fiets is SWAAR vir ‘n moeë been om te vang, veral as die vervlakste voet ook nog halfpad wegsak in die sand!

Ek kry dit reg om 7km te vorder in 2 ure. En ook om ons albei vier keer in die sagte, warm sand neer te sit! Drie van die ongevalle was darem stilstaande “omvalle”, en die laaste teen 'n slakkepas. By die vierde noodlandingstrook besluit ons toe om gou ‘n breek te vat en ‘n paar neute, beskuitjies en geblikte vis te eet. Die spaar-gaskoeldrank verdwyn ook oogwaterend in ons kele af sonder om kante te raak.



DSC04765 by Piet.P, on Flickr
 
Kom ek vir jou 'n ding vertel Pieta:  daai meisie van joune is óf 'n yster óf sy is dolverlief op jou of sy is beide want dis nie sommer enige vrou wat so die bosse in vaar nie.  En elke foto wat ek nog hier gesien het, glimlag sy.  Jy kan haar maar hou  ;)
 
En ek wil aanlas by Dorsland - jy moet haar oppas.

Jou storie lees lekker en die fotos is mooi.
 
Daar draai vir die soveelste maal ‘n paadjie uit na die noorde, en ons het genoeg van die sand gehad. Dinge kan net beter lyk op boontoe – weg van die rivierbedding af. So gesê, so gedaan. Ons draai noord op ‘n tweespoor wat nie in my GPS se geheue vasgevang is nie.

Die paadjie is nogsteeds sanderig, maar minder diep as ‘n ent terug – en mopanies is die plaasvervanger vir doringbos. Dit gaan beter! Toe ons weer sien ry ons onsself vas teen ‘n dam! Ons klim af om weer ‘n ruskans te nuttig en die onbeplande, onverwagse mooi te waardeer.


DSC04769 by Piet.P, on Flickr

Daar kom toe ‘n ridder op ‘n donkiekar aan. Hy het kom water haal. Ons vra hom oor die weg en hy beduie met handgebare terwyl hy verduidelik van tweespore, nuwe pyplyne en dienspaaie. Ons maak of ons verstaan, bedank die man en kies koers in die rigting van sy eerste handseine.

Die pad uit is toe makliker as wat ons verwag het. Net noord van die dam begin ons ridder se aanwysings meer sinmaak – ‘n konstruksiemaatskappy is besig om ‘n splinternuwe waterpyplyn te lê wat ons ewe hulpvaardig verplig om noordoos of suidwes te swaai. Regs vir Tuli! Uiteindelik maak ons weer merkbare vordering – die pyp se wye stofhoofweg-dienspad sluit aan by die teerpad, wat ons verveel tot by die B151 wat ons Sefhophe toe moet dra.

By Mogapi se bek-en-klouseer-grens staan die offisier hand-omhoog, so ek trek terug aan die leisels om die donkie tot stilstand te dwing. Ek kan sien die man is lus vir gesels, so ek skakel die motorfiets af en ons praat oor my rydier, die roete en dinge wat saakmaak. Die man glimlag vriendelik en dui dat ons die avontoer mag voortsit. Ek draai die sleutel, druk die knorknop en...NIKS!
 
Lekker skryfstyl Piet .............  :thumleft:

"Ek draai die sleutel, druk die knorknop en...NIKS!" ...........Jy beskryf dit so raak dat ek dit eintlik voor my sien afspeel ..............  :biggrin:
 
Baie mooi, ek sien uit na die res. Jy moet mooi kyk na daardie dame, sy's 'n wenner om so iets saam met jou aan te pak.
 
(Nou moet ek nederig om verskoning vra, want tussen die irritasie, frustrasie en gejaagdheid deur het ek skoon vergeet om fotos te neem van die volgende halfdag! Hierdie hoofstuk is dus ongelukkig net teks en ‘n warboel van emosies...Slaan dit oor as jy nie lus is daarvoor nie! ;) Ek skryf hierdie vir eie herinnering ook!)

My eerste reaksie is ‘n effense irritasie. Ek het onlangs gesukkel met die fiets se elektriese stelsel –aan die einde van ‘n vorige toer het die hoofsekering lukraak uitgebrand en die verskynsel het homself sedertdien sporadies herhaal. Ek het baie tyd daaraan spandeer om komponente skoon te maak en om draadjies en aansluitingspunte na te gaan. Ek het ook ‘n geblaasde gloeilampie agter die instrumentasie vervang. Alhoewel ek nie ‘n definitiewe sondebok kon identifiseer nie, was ek redelik seker dat die problem uitsorteer was.

Ou Esel kruip toe onder die drywing van een mannekrag onder die valboom deur en van die pad af. Gelukkig het ek die sekerings geskuif vanwaar dit oorspronklik onder die sitplek was na die linkerkant van die fiets toe (vir die manne met KLRs – dis die moeite werd!). Om nou onder die sitplek in te kom gaan vereis om alle bagasie af te laai en gereedskap uit te haal.

Ek inspekteer die hoofsekering en tot my groot teleurstelling is hy steeds heel. My kop hardloop sirkels soos wat my moed en gemoed afsak tot in my lelike leerjagstewels. Ek dink by myself: “As dit nie die sekering was nie, kan dit een van ‘n paar dinge wees:
• Die battery is 5 jaar oud – hy is aan die einde van sy leeftyd. My bakkie se battery ook so oud toe hy eendag sonder waarskuwing gegroet het
• Die battery se suur kon uitgeloop het met ons vier omvalle in die sand. Almal waarsku al lank dat dit beter is om ‘n diensvrye battery te koop vir ‘n avontuurfiets
• Daar is net ‘n swak skakeling iewers in die stelsel”

In my kop hoop ek dat dit net die derde opsie is, maar in my hart weet ek dit is die battery wat my in die steek gelaat het. Ek berispe myself dat ek alweer suinig was en nie voorkomende onderhoud gedoen het nie. Ek het geWEET dit gaan een of ander tyd gebeur. Nou is ons toer daarmee heen.

Dit is al Saterdagmiddag laat, so selfs in die hoogs-onwaarskynlike situasie dat daar wel ‘n motorfietsbattery iewers te koop is, sal die winkels reeds gesluit wees. Die dorpies om ons is almal eintlik niks meer as nedersettings nie. Die somtotaal van die kommersiële aktiwiteit strek nie veel verder as die twee shebeens nie.

Om die opsies te ondersoek sal ek die sitplek moet afhaal. Ek sien nie nou kans nie. Ek weet die motorfiets sal loop as ek hom aan die gang kan stoot (een van die plesiertjies van ‘n stokou werktuig) en dis nie asof die battery kan erger word nie – die skade is aangerig.

Na ‘n paar pogings om die fiets alleen aan die gang te stoot, vra ek vir die offisier om te kom skouer aan die wiel sit (metafories gesproke natuurlik ;)). Tussen die drie van ons is die ryperd weer aan die loop en ek draai om om vir Carrie op te laai.

Ek ry tot in Sefhophe, verby ons afdraai om gou te kyk wat in die dorp is. Ons kry ‘n kafee en Carrie hardloop in om ‘n koeldrank te koop terwyl ek buite vir Esel aan die loop hou. In my kop is die toer verby. Ek wil kyk of ek kan terugkom in Suid-Afrika voor die einde van die dag, dalk selfs terug tot in Ellisras? Zanzibar se grenspos is naby, ons behoort dit betyds te maak. Dit sal ideaal wees as ek nie weer die fiets hoef af te sluit voor ek tuis is nie.

Ek deel my sentiment met Carrie mee. Haar teleurstelling is groot, maar sy verstaan dat ons nie die motorfiets in sand aan die brand sal kan stoot nie. Dis ‘n hartseer 70km van teerpadhel oppad Zanzibar toe. Daar uitgekom, vind ons die grenspos toe. Nie net vir die aand nie, maar sedert Maart se vloede al! Die kêrel by die hek deel met my mee dat Platjan nie vér hiervandaan is nie: net 50km en hulle maak 18h00 toe. Ek kyk op die horlosie: 17h05. Carrie stel voor dat ons oorslaap by die Oasis Lodge, maar ek veto haar voorstel en druk aan Platjan toe.

Die pad deur Limpopo Lipadi reservaat is om van nagmerries te kry. Uitmekaarskud-sinkplaat afgewissel met dik sand en los klippe. Talle onverwagse laagwaterbruggies. Die son het gaan lê en skemer sak vinnig toe. En ek moet ongeveer 80km/h te handhaaf om die grens te vang. My senuwees is aan flarde en ek dink nie meer reguit nie. Ons ry verby Bainesdrift se polisiestasie en toe verby nog ‘n verblyf-aanwysingsbord. Carrie stop my. Ons gaan nie betyds wees vir Platjan nie. “Ons” maak nou droog (so takties en subtiel ;)). Sy praat sin in my kop en ons draai in by “Terrafou Lodge”.

By ontvangs aangekom klink dit soos groot makietie. Die (Suid-Afrikaanse) tannie vertel ons dat een van Bainesdrift se grootkoppe aftree en vanaand het hulle die plek uitgehuur. Na ons ons verhaal vertel het gee sy vir ons ‘n netjiese kamer vir spotgoedkoop en sy gooi sommer twee tamaai T-bene en ‘n paar biere ook in die ooreenkoms in! Ons kan nie glo hoe ons geluk gedraai het nie!

Ek is stukkend, maar na ‘n warm stort voel ek beter. Ek val neer in die swaarhoutstoel langs die mopanihoutvuurtjie en maak ‘n yskoue een oop. Dit proe soos NOG! Na nog ‘n bier braai ek ons vleis, en klokslag toe dit (relatief) gaar is kom daar ‘n werker aan met pap, sous en slaai. Ook op die huis! Vergenoegd, verlig, versadig kruip ons in vir ‘n goeie nag se rus.


 
Top