Broederbond deur Paardebond - 'n dagtrip RR

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Karoo Rider

Race Dog
Joined
Sep 1, 2012
Messages
1,876
Reaction score
921
Location
Ladismith WC
Bike
Honda CRF-1100L Africa Twin
So twee weke gelede kry my broer, Stilpiet op die forum, sy stofskoeter:  'n basies nuwe 2005 model 1200GS met skaars 15,000km op.  Nes ek het hy voorheen balsitters gery, maar iewers het die grondpad-hunkering in sy onderbewussyn begin kop uitsteek.  Soveel so dat ons vandag toe 'n lekker draai gaan ry het om so bietjie die "gevoel" vir die besigheid te kry.

Kaart_zps8s2qlrsx.jpg


Ons spreek af om mekaar 09:30 by Muiskraal te kry (tussen Ladismith en Riversdal), en toe ek 09:20 intrek toe staan die man al en koffie drink.  Na die groet noem ek toevallig dat ek skoon vergeet het van ontbyt.  "Wil jy 'n pastei hê?  Hy's nog warm."  En was hy lekker!

Ons trek weg en Stilpiet neem die voortou.  Ek was aanvanklik bietjie bekommerd oor die padbande wat sy fiets nog op het, maar skynbaar was dit nie veel van 'n faktor nie!

IMG_0334k_zps6xejdhuy.jpg


Amper stinknuut.

IMG_0337k_zpsxppj2zw3.jpg


Later swaai ons noord en begin die voorstede van Vanwyksdorp op die horison gewaar.  'n Paar los reëndruppels kom terg kortliks hier op my visor, maar laat gelukkig spoedig hul planne vaar.  Kort voor lank pypkan ons die middestad en glip met die grondpad bo-om.  Later verby Rooiberg Lodge se afdraai en uit met die pragtige Assegaaibospas.

IMG_0338k_zps6hin9l9r.jpg


IMG_0339k_zpslkpnqjp2.jpg


IMG_0341k_zpsofwbdhru.jpg


'n Paar kilo's verder wink die byna weggesteekte naambordjie ons regsaf met die Paardebond pad.  Sommer uit die staanspoor word die pad skurf en kort daarna stop ek eers en beduie vir Piet nader.  Verduidelik dat die pad hiervandaan maar nog redelik baie van die growwegeit mag inhou, maar met 'n gesigsuitdrukking van "praat jy nou van daai vorige ou stukkie?" is ons voort.  Gou is daar ook geleentheid om die oop- en toemaak van plaashekke te oefen, en ook hier verbaas die man met sy vernuf.

Opvallend regdeur ons rit was hoe geil en groen die veld is.  Van vygie tot gwarrie staan uitbors en spog.  Namens die boere van hierdie omtes kan mens net saam dankbaar wees om die kontrei in so 'n skoukondisie te sien. 

IMG_0342k_zps6p2b7iir.jpg


Nie lank nie of die spoor begin sak, en 'n paar esse later kom die biesies en rivierwater van die Gourits in sig.  Die kruising se naam is nie verniet "Uitspan" nie, en 'n paar minute later word die roete bespreek met 'n koffie in die hand en biltong in die kies.  Wat 'n voorreg om dié mooi plek te beleef, saam met my broer, op motorfietse!

IMG_0343k_zpsmqskikpc.jpg


IMG_0345k_zpse5sj6kg6.jpg


Ons saal op en byna oudergewoonte waarsku ek maar oor die los klippe van die stukkie wat volgende voorlê, maar sonder aarseling of insident word die stukkie ook kafgedraf en ons begin klim weer die vallei uit.

IMG_0346k_zpsja7aghdv.jpg


Met die tyd wat aanstap, en die moontlikheid van reën nog alomteenwoordig, draai ons links by die teerpad by Volmoed, en 'n paar linksdraaie verder klim ons op die sementpad, rigting Calitzdorp.  By die Dorpshuis word die burgers op die proef gestel, en met die mae vol word daar eenparig besluit dat Rooibergpas dalk eerder by 'n volgende geleentheid van nader sal beskou word.

IMG_0347k_zpsbbzfu7kc.jpg


Met die perde se petroldors ook geles trek ons weg en begin kronkel die lekker draaie van die Huisrivierpas uit.  Kort voor lank is ons in Ladismith en word daar vir oulaas gou koffie gedrink voor Stilpiet die voorwiel weer in die pad druk oor die Langeberge.

Fluit-fluit, storie is uit!  Dankie Piet - ek kon sien die grondpad-gogga het gebyt, ons hoop vir nog vele!  :thumleft:
 
Ai dit lyk lekker!

Kan nie glo hoe groen daai gedeelte van die wereld nou is nie.  Kan nie wag om Desember weer daar deur te ry nie.

Dankie vir die deel en wat 'n voorreg om dit so saam met jou broer te kan doen.  :thumleft: :ricky:
 
:thumleft: lekker gelees! Dankie hiervoor.
 
Vir wat is hy nog nie CBL gebrandmerk nie?












Ek dink nog steeds ek moes die bike gekoop het :(
 
Ek hoop my broer skaf ook gou-gou vir hom 'n adventure bike aan sodat ons ook so kan saamry.
Mooi RR en hoop julle het nog vele lekker trips  :thumleft:
 
ChrisL - DUSTRIDERS said:
Vir wat is hy nog nie CBL gebrandmerk nie?










Ek dink nog steeds ek moes die bike gekoop het :(

Wou hom nog vra oor die nommerplaat, dink nie die ou het al daarby gekom nie - seker binnekort!

Ek self jaloers op daai fiets...
 
  Dit was n lekker losmakertjie.
 
Dankie vir die mooie RR. Soos wat 'n Europeër my eendag daar langs die pad gekry het...op 'n stofpad fiets...en vir my gesê het: "This is God's country."

Baie mooi gedeelte van ons land daardie.  :thumleft:
 
MR. D said:
Dankie vir die mooie RR. Soos wat 'n Europeër my eendag daar langs die pad gekry het...op 'n stofpad fiets...en vir my gesê het: "This is God's country."

Baie mooi gedeelte van ons land daardie.  :thumleft:

:thumleft:
 
Verfrissende RR!!

Baie dankie vir die deel van jul broedertyd saam... :thumleft:
 
Top