Waar lê die Boesmanland? Kan jy vir my sê?

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Amos

Puppy
Joined
Feb 2, 2021
Messages
40
Reaction score
90
Bike
Honda CRF-250 Rally
Maart 2023

Ek sê vir die Wilgenhoffer Verneukpan is waarskynlik ‘n oorskatte bestemming, maar hy bly neuk pan toe. Dit gaan oor die reis en nie die bestemming nie. Daar is genoeg interessante roetes te verbeel tussen die Weskus en Verneukpan.

Ons rendezvous is Bokkomlaan in Velddrif vir ‘n koffie. Daar sif ‘n motreëntjie oor die Bergrivier terwyl ons teug aan ons koffie. Albei van ons verklaar ons is eintlik klaar moeg soos ons hier sit – al die dingetjies wat gereël moet word vir weggaan en pak en emosies van afskeid wat dreig om oor te gaan na verwerpingsvrees vir die wat bly. Maar soos die motreëntjie wat ons nou gaan in ry is dit alles deel van die tog. Ons is op pad!

Soos voorheen berig, hou my Rooi Merrie (Honda CRF250 Rally) nie van teerpad nie en ons plot aanvanklik ‘n stofroete tot by die N7. Op die éérste grondpad, anderkant Dwarskersbos, kry ons ‘n ordentlike bui reën. Een van daai wat jy voel hoe die water teen jou bene afloop, duur klere ten spyt. Selfs die Rooi Merrie sê ons moet maar eerder teerpad ry en ons moet wegkom van die see – dit reën mos nooit in die Knersvlakte nie. Ons stoot aan tot verby Graafwater, waar ons darem bietjie son kry.

Maak vol op Vanrhynsdorp. Bly reënerig, al is ons nou al in die Knersvlakte. Bagdad Café is net wat ons nodig het – tee en koffie, ‘n roosterkoekontbyt, son om die klere bietjie uit te droog. En al die verstellingtjies aan die bagasie en uitrusting; wat kom waar, is die kettingspanning reg, hierdie toestel se battery is dan nou al pap... Alles sal natuurlik raakvat reg en op sy plek wees op die laaste dag van die tog. Van Bagdad af vat ons ‘n plaaspad die Knersvlakte in. Nou raak dit lekker. Bokkeveldberge in die ooste onder ‘n donker wolkkombers. Wit kwartsklippe lê gestrooi oor die vlakte met sy vreemde plantegroei. En geen voertuie. Net ‘n Evkom bakkie toe ons die spoorlynpad optel. Dit sou die laaste voertuig wees tot in Loeriesfontein.

HXV02940.jpg
 
Last edited:
Top