Dag 2
Die dag waarna ons baie uitgesien het. Ook die dag wat my bekommer het.
Die oggend word ons wakker en kruip uit die tente uit. Alida en Gerhard se lekker hoender flattie en steaks het ons goed in ons slaapsakke geanker. Meeste van ons geselskap sien toe die dam vir die eerste keer in goeie lig. Ek was toe al bitter opgewonde. Die vissermanne aan die oorkant sit al diep in hul spinnekopstoele. Wat ek van visvang weet kan ek als in my broeksak pas, maar as bewolkte weer die visse laat byt, dan is hulle in vir 'n opwindende dag. Nes ons.
Lekker brêkvis. Bike trip met styl dié
Ons perde staan reg. Daai verskriklike agtertekkies gaan vandag nog baie handig word...
Ek en Gerhard het die vorige aand gesels oor ons opsies vir roetes. Daar is die Rogerspas - Keayspas opsie; Gerhard was al vir maande baie opgewonde oor hierdie, maar dit is maar effens gewaag aangesien ons nie verseker is dat ons die hele roete sal kan maak nie. Die ander opsie was om Donkies pas op te ry en met Sak se Pad pas af te kom. Ek kon met al die boere op opsie 2 gesels en al wat ons sou keer is ons eie vermoëns. Ons besluit op Rogers en Keays passe. Wie nie waag nie, wen nie.
Die beskrywing op die MountainpassesSA webwerf:
This one is not for the faint-hearted. It is essentially a very rough 4x4 track, often not even visible - involving scouting ahead on foot at times. There are 15 stream crossings and a climb through a neck towards the northern side involving gradients of 1:3! For those willing to take the risks of driving this very remote pass, you will be rewarded with absolute isolation and some of the best scenery the Drakensberg has on offer.
Dag 2 se roete. Rogers pas neem ons tot op die eskarp en dan noord tot by Normandien pas se bo-kant. Keays pas lê ook op die eskarp grens. Is daar nog 'n pas wat begin en eindig op 'n eskarp?
Ons het lekker ingelê die oggend, so toe ons teen 11uur wegspring, wonder ek hoe die dag gaan uitdraai. Net buite die dorpie Normandien (kan mens dit regtig 'n dorp noem?), draai ons wes eskarp se kant toe. Eers stop ons by Stefan Lombard om 'n sleutel op te tel vir 'n stel hekke tussen Normandienpas en Mullerpas. Meer daaroor later.
By Stefan aangekom, klop ons aan die deur. Stefan maak oop en ek besef dadelik ek het dinge effens verkeerd verstaan. Hy was toe eintlik 'n oom vir my (volgens geboortedatum), waar ek nog heeltyd hom op sy naam genoem het oor die telefoon. Dit was veral duidelik toe sy seun ook voordeur toe kom om te kom groet, aangesien ons dieselfde ouderdom is. Ek en sy seun kyk mekaar so skuins en besef ons ken mekaar van 'n Drakensberg staptoer wat ek gereël het in Okt 2011. Dat ons nou hier in die middel van nêrens aan hulle voordeur kom klop. Klein wêreld.
Reg. Ons het die sleutels en val in die pad. Teen 12:30 ry ons oom Dawid Cloete se plaas in. Dit is waar Rogers pas begin. Soos ons inry, ry ons verby 'n paar kinders wat in die rivier speel. Hulle beduie ons om na die plaashuis toe te ry en aan sy regterkant om te ry. Ek het reeds die oggend met Oom Dawid gesels so ek wou hom nie weer pla nie, maar nes ons verby die plaashuis is kom hy uitgestap. Ons draai om en gesels bietjie waar hy vertel dat hulle met 'n klomp 4x4s ook daar deur is en dat Keays pas in 'n baie goeie kondisie is, mits dit nie reën nie. Hy lig my ook in dat as ons by 'n hek kom wat gesluit is, trek net 'n paal uit en ry bo-oor die plat draad. Al die boere aan die Natal kant doen dit. Ek het vroeer ook by ander boere in die omgewing asook by "Oom" Stefan dieselfde storie gehoor. Met dié raad trek ons weg met Rogers pas.
Net voor oom Dawid Cloete se ingang sien ons 'n gedeelte van ons beplande roete
Net verby die plaashuis loop die tweespoor deur 'n paar kampe, totdat dit merklik steiler raak. Die paadjie begin die heuwels op kronkel en op een van die baie skerp en stel draaie laat rus Alida die eerste keer haar fiets. Daarsy, hier begin die pret. Die opdraand wegtrek was intimiderend, maar die Tornado lag vir sulke nonsies. Wel, solank sy vergasser nie vol brandstof geloop het nie.
Eerste val om die haarnaald. En met 'n mooi uitsig ook nogal
Ons vorder goed teen die bult op en ek begin al hoe gemakliker word met Magdaleen agterop. Ek was maar bekommerd, moet ek erken. Dit was sommer vinnig duidelik dat dit die regte besluit was om 'n kleiner voorste sprocket vir Dassie op te sit. Dassie klim nou soos 'n regte vet dassie - Dit lyk nie mooi nie, maar dit werk verbasend goed. Die pad loop tot op die eerste plato en ons kan bietjie ratte verwissel.
Die twee van Graans op die eerste plato
Dit het begin liggies reën vandat ons by oom Dawid ingery het en die druppels het al begin hul merk maak. Die hoogste punt in die foto is waar Keays pas oorgaan.
My poging tot 'n aksie foto
Toe ons om nog 'n koppie ry, arriveer ons by die voet van 'n steil bult. Dit het steil gelyk, maar nie so steil om ons bekommerd te maak nie. Nog voor iemand kon voorstel om te gaan kyk, spring Gerhard weg op sy grys donkie. Kyk, daardie donkie het vir Gerhard al baie vertroue ingespuit. Na so 20m besef ons, asook Gerhard, dat die oppervlak baie losser is as wat ons gedink het. Die donkie se voorpote bok-spring van kant tot kant totdat 'n groot klip hom sywaarts swenk en hy met sy voorwiel teen die rant vassteek. Met dié dat die fiets loodreg met die pad skielik tot stilstand gekom het, val Gerhard afgrondwaards neer en rol sommer so gat-oor-kop die bult af. Met die tweede rol beland hy op sy voete en steek sy arms in die lug van die pret, so asof hy dit beplan het. Maar eers moet hy gou terug by die built op klouter om die enjin af te sit. Die vergassers in die Van Graan fietse hou nie van kant toe lê nie.
Gerhard se probeerslag. Ongelukkig kon Magdaleen nie sy bommelakisie vasvang nie
Ek het toe opgeloop om hom te help die fiets reguit kry. Gerhard is mos immers familie. Soos ek boontoe plunder besef ek hoe steil dit is en hoe los die klippe is. By Gerhard aangekom, sien ek hoe naby die man was van berg af ry. As dit nie vir die walletjie was nie, het dinge heelwat anders uitgedraai. Ek het al in die Wolkberg in 'n soortgelyke situasie berg af geploeter. Ek noem toe net dat hy gelukkig was. Gerhard glo natuurlik hy was heeltemal in beheer. Met Gerhard se volgende probeerslag kry hy die donkie bo, al was dit met baie gespoeg van klippe.
Nou was dit my beurt. Magdaleen het natuurlik besluit om hierdie te loop en natuurlik was ek baie bly daaroor. My beurt het baie voorspoedig verloop. My fiets het gelukkig minder gebok-spring en ek het die revolusies net hoog genoeg gehou sodat die agterwiel kan klou en nie krap nie. Ek glo die ekstra gewig agterop het ook baie gehelp. Dit het baie makliker gegaan as wat ek verwag het en ek was baie in my skik met my blou Dassie.
My (meer suksesvolle) probeerslag. In die middelste foto is 'n hobbel met groot los klippe voor hom wat ons nogal opgewonde gehad het.
Reg, nou was dit Alida se beurt. Gerhard het afgehardloop om te gaan moed inpraat, so helmet en al. Hulle gesels bietjie lyne en sit helmet op. Alida is nie een wat wegstap van n geveg nie en sy trek vinnig weg met Gerhard op haar hakke. Sy het 'n goeie ent gevorder, maar die los klippe het haar voorwiel onder haar uitgegooi. Staan op, haal asem, probeer weer.
Gerhard draf af om te gaan moed inpraat
Alida se probeerslag met Gerhard agterna
Nou is dit my beurt om lyne te gesels.
Alida oorhandig toe die leisels vir Gerhard en hy ry die Tornado tot bo. Met Gerhard se tweede kans het hy merklik minder regterhand gebruik en dit het heelwat beter gewerk.
Daardie bult het my laat wonder oor die res van die pad. Dit het intussen begin harder reën. Soveel so dat ons van hier af die mik-en-druk kamera gebêre het en die selfoon maar deur die druppels gebruik het. Na nog so 20 minute klim ons om die laaste koppie en is ons bo-op Rogers pas. Die Natal/Vrystaat grensdraad verwelkom ons.
Gelukkig soos wat kan wees op die bopunt van Rogers pas in die mis.
Van hier af is dit eskarp langs.