OK, nou genoeg gekuier, nie dat ons genoeg van die plaas kan kry nie, maar dis tyd om pad te vat. Ons huis roep.
Ons het heerlik gekuier, maar self pensioenarisse moet huis kry.
Ek het ons versier om die Maandag gesit, en so waar as wragtig, daai Maandag oggend toe lê die koue dik op daai plaas, maar ons is gepak en moet koers kry. Intussen het ek agtergekom dat die karretjie se shock die gees gegee het. Ons het oral in Namibia gesoek maar kon niks kry nie. 'n Man in Upington het gesê ek moet verby kom, hy kan dalk help. So ons vertrek Upington toe, nie meer op ons oorspronklike roete Keimoes toe nie. Magda het lus om saam te gaan, so sy volg in die bakkie en gaan sommer so bietjie proviant in Upington aanskaf.
Die roete vir die dag is vanaf die plaas op die D503, 80km tot op die C11 na Aroab wat nog 'n 80km verder is, dan die D622, dan die D565, D566, D205 tot by die D269, dan Ariamsvlei, oor die twee grensposte op die N10 tot by Upington, ongeveer 514 km vir die dag.
Net na 7 die oggend is dit lig genoeg en ons vat die lang pad uit op die D503, ons het gewag vir die lekker pad uit. Hier gaan baie foto's kom, so wees maar geduldig, dit sal die moeite werd wees. Daar is so paar mooi duine uit.
Oppad uit van die plaas.
Die eeste hek.
Ons ry aan tot by die tweede hek.
By die tweede hek, dis 'n lekker koel minus 3℃.
Kyk die koue op die sand en op die hek.