Die plan was om tyd te spandeer in die Mapungubwe natuurreservaat, waar Zimbabwe, Botswana en Suid Afrika bymekaarkom. Die park word egter deur Sanparke bestuur, en die dame by die ingangshek het my met ‘n besliste uitdrukking meegedeel dat “scooters” nie in die park toegelaat word nie. Die gevolg was dat die roete vir die dag met ‘n paar uur verkort is.
By my oornagplek aangekom slaap die huismense nog hulle Sondagmiddagslapie soos dit ordentlike boeremense betaam, en ek word net deur hierdie twee stomme skepsels ingewag.
Ek ry toe maar aan na die kampplek toe om die middag daar te spandeer. By die kamp aangekom kry ek ‘n paartjie wat kos maak vir meer as 20 mense wat binnekort gaan kom eet. Hulle nooi my vriendelik om myself tuis te maak, en vertel my dat hulle behoort aan die “Gauteng and Northern Regions Bat Interest Group” en dat hulle daar is om vlermuise te bestudeer en te tel. Wat ‘n interessante toeval, want ek het juis ‘n groot deel van my roete gebaseer op ‘n roete wat Leon-dude en Cavegirl ‘n paar jaar gelede gedoen het toe hulle vlermuise naby Pafuri gaan tel het. Groot was my verbasing dus toe Leon-dude en Cavegirl hulle opwagting maak saam met die res van die groep. Dit was lekker om hulle te ontmoet.
Teen laatmiddag word die finale doelwit van my roete bereik toe ‘n hele trop van die ou grotes reg voor ons kom konsert hou. Ek skat daar was ongeveer 30 olifante, met heelwat kleintjies.
Later die middag verlaat ek die vriendelike vlermuismense om vir my ‘n eie kampplekkie te gaan soek. Leon-dude en Cavegirl dring aan dat ek in hulle kamp aanbly, maar ek het ‘n ernstige behoefte aan eensame afsondering. Ek maak my tent staan op die wal van die Limpopo, en slaan ‘n koffietjie aan.
Nadat die donker reeds dik is, sit ek steeds op die stomp voor my tent en verluister myself aan die naggeluide. Op ‘n stadium word ek bewus van iets agter my, en toe ek omdraai staan daar ‘n reuse olifant vir my en kyk. Nou kyk, ek is nie ‘n bangerige mens nie, maar ek sal jok as ek moet sê dat ek nie geweet het watter kant toe nie. Ek het besef dat daar geen manier was dat ek met my dik lyf teen ‘n kaal boomstam sal kan uitklouter nie. Ek het dus maar net weer gaan sit, maar darem die moed gehad om ‘n foto te neem nadat ek seker gemaak het die kameraflits was af. Later het hy die bosse begin instap, en ek toe eers die moed gehad om darem die flits aan te sit. Ek was reeds moeg, en het nie geweet of dit veilig was om te gaan slaap terwyl die ou grotes nog in die omtrek was nie. Uiteindelik kon ek nie meer wakker bly nie, en het toe maar die Onse Vader opgesê en gaan slaap. Telkens as ek wakker word in die nag, kon ek takke hoor kraak. Die trop het duidelik die nag spandeer in die bosse naby die kamp.
Die volgende oggend het ek die spore gaan afneem, en toe ook die afstand van my tent afgetree: 16 treë.
Dagbreek kon ek Afrika in al sy glorie beleef. Wat ‘n voorreg.