Opwarmmings rondte.

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Strompie

Race Dog
Joined
Nov 23, 2010
Messages
561
Reaction score
9
Location
Pretoria
Bike
BMW (all models)
  • Ek en PaPaBeeR beplan mos 'n lekker lang trippie deur die land, so vandag was oor afstand. Baie daarvaan. Ons toer is rofweg opgedeel in dae van 400 to 480 km, so vandag het ons gekyk of dit doenbaar is. 6:30 vertrek ons uit Pretoria, op die N1, N14 op pad Krugersdorp toe. My (nuwe) klere hou my heerlik warm, maar ek oorweeg tog maar 'n ander stel handskoene. My somer-handskoene is nog dikker as PaPaBeeR s'n, want hy bly rapporteer ek moet hom laat weet as sy vingerpunte afval. My Scala interkom se luidsprekertjies byt hier in my linker oor in, maar ek hou maar uit. Deur Krugersdorp sak ons af tot in Fochville waar ons onself laaf met 'n Wimpy ontbyt en PaPaBeeR inloer by sy aanstaande skoonouers. Die ontbyt gaan goed af en ek begin al klaar warm kry. Die Harley se olie-lig kom aan, maar dit was seker maar net die hoek waarteen hy gestaan het, want hy het nie weer gelol nie.

    By die naaste vulstasie trek ek my denim uit onder my ry-broek. Net buite Potchefstoom stop ons eers om die warm binnestukkies uit ons baadjies te haal. Die nuutgevonde ventilasie is hemels. Nou kan die kilos maar kom. My Scala is so bietjie verstel, en die is ook nou baie meer gemaklik, maar my broek maak my seer. Met die voering van die broek nou direk op my vel, skaaf dit vreeslik.

    PotchStop.jpg


    Ons het gery tot op Viljoenskroon, waar PaPaBeeR gou bietjie besigheid gedoen het met een van die plaaslike ingenieurswerke. Ek kan nie glo so plek kan nog 'n bestaan maak in so klein dorpie nie, maar die eienaar Machiel verseker my dat hy heel goed doen dankie. Terwyl PaPaBeeR sy toerusting demostreer, raak ek en Machiel aan die gesels. Uit 'n ou toer-boek het ek raakgelees dat Viljoenskroon 'n besienswaardigheid of twee het. "Die enigste ding van waarde hier was die pottery. Maar die plek het ook al toegemaak," sê Machiel met heimwee in sy stem.  Ons praat lekker oor fietse en dinge. Onder andere oor die Suzuki Katana Striker wat die een of ander familie-lid van hom besit het. Dit was 'n vreesaanjaende fiets uit die middel 80's, en hy vertel my met smaak hoe vinnig die ding was en hoe sy fietsry dae tot 'n einde gekom het met 'n rug wat lol. Dis maar altyd die rug. As dokters eers begin sny en sweis aan jou rug, dan stop baie dinge.

    Besigheid agter die rug, begin Machiel vir ons pad verduidelik asof ons al jare hier bly en al die landmerke ken. "Jy ry hier uit op die pad, oor die Renoster. Daar is die pad nog mooi, na die volgende koppie is dit ook nog reg maar kyk uit vir die pan aan die regterkant." Sy linkerhand is in die lug, so ons weet nie mooi aan watter kant van die pad die pan nou eintlik is nie. "Na die pan is die pad maar sleg." Hy begin verder verduidelik asof hy elke slaggat wil uitwys. Ek hoor niks, want ek haak nog vas by Renoster. Of die Renoster 'n rivier, 'n padstal, 'n dorp of 'n grondpad is, het ons nou nog nie kon uitmaak nie. O, en die pan was aan die regterkant.

    Alles gepak, is ons op pad Vredefort toe. Danksy die GPS en die Scala interkom, draai ons af op die Vredefort pad. Daar is geen bord in sig nie, so ek skree oor die interkom: "Draai! Hier ! Draai!" PaPaBeeR volg my slaafs, en ons ry tot by die begrafplaas waar baie van my voorsate begrawe is. Net daar, in die begrafplaas, maak ons koffie onder die bome.

    VredefortStop.jpg

    IMG_8888_0543.jpg


    Heerlik. Vandaar versit on Parys toe. My ma het ons genooi vir ete. Die sms'ie lees: "Ek gaan sommer kossies maak." Let op die verkleinwoord wat skelm daar ingewerk is. By my ma is daar : hoender, beesstert, kapokaartapples, rys, twee slaaie, gemengde groente en sous. Beter as enige Wimpy, want by die Wimpy kry jy nie my ma se malva-poeding en vla nie.

    Ete.jpg


    Na ete maak ek Pa Grobbie se padkaart oop. Dis 'n ding om te beleef. Die kaart-boek is al een groot donkie-oor. Party bladsye is al los, en ek is seker daar is 'n bylaag in wat nog die Groot Trek aandui. Ons beloer die boek en my ma se oë rek groot toe ons besluit om sommer Delmas om terug te ry, maar die tyd haal ons in. Na koffie op Heidelberg is dit oop ketels huistoe. Met my swart venster oor my pletterpet moet ek tuis wees voor die son sak.  Die laaste 100km was glad nie lekker nie. Johannesburg se spitsverkeer en haastig wees, is nie wat ek gou weer wil beleef nie.

    Paar lesse :

    Moet geen planne maak vir die dag nie. Dis nie lekker om so laat hier en so laat daar te wees nie.
    PaPaBeeR sal sy 'top-box' moet herbedink. Die deksel kort 'n kop-krap oplossing.
    Met my broek sal ek moet plan maak en iets doen aan daai voering.
    Die Scala se luidsprekerkies kort nog bietjie werk.
    Wet-wipes vir die goggas.
    Beide die Suzuki en die Harley vreet die kilos op.
    My ma kan nie slegte kos maak nie.
    Parkisons is 'n oorerflike ding wat ontstaan het onder Harley ryers (volgens PaPaBeeR , wat teen Dinsdag nog steeds so effense vibrasie in sy lyf gevoel het as hy stil sit.)
 
Top