Nou weer af met Dasklippas, verby JJR se huis maar hy is toe ongelukkig uit. Seker nog 'n plaas toergroep wat hy rondwys op sy bike, ons weet nie. Daarvandaan met die Piekenierskloofpas oor tot in Citrusdal, en vir die res van dag het ons lekker rustig al teen die Olifantsrivier se oostelike oewers opgery. Later Clanwilliamdam, ook die indrukwekkende Bulshoekdam, en dan Klawer.
Chris gaan wys my die Gifbergpas waarvan ek nog net gehoor het. Regtig 'n wonder hoe die oumense nou moes besluit het: daar wil ek uitry so ons moet begin padbou! Steil op plekke, hier en daar geteer, en uitsigte soos min. Bo gekom ry jy verby rooibostee plantasies wat sommer so plek-plek nes geskrop het in die veld. Met die afsak anderkant af gaan dit heel gaaf, maar kort voor lank steek sandpad se kind sy kop uit. Gerugte en bewerings van die gebeure is ongelukkig maar vaag, maar ja toe my fiets 'n slag sy kop weer so wild begin skud is ek van die linkerkant van die pad, terug in die linkerspoor, oor die middelman (dit was nie 'n middelmannetjie nie), in die regterspoor en toe skuif iemand daai hekpaal skielik voor my in. Eers 'n ent verder besef ek dat daai harde "Ghar!" klapgeluid seker iets met my te make gehad het. By nadere inspeksie sien ek dat die regter pannier 'n effense duik op sy hoek het, gelukkig darem nie te erg nie.
So bly volg ek die slangsleepsel hier voor my soos Chris daar deur baklei het. Steeds effe grootoog van die stamp maak ek intussen my sak oop, sit my trots daarin, en besluit dat hierdie staan en ry van my sopas klaar is, hiervandaan voetjie-voetjie ek maar as dit dan nie anders kan nie! Met die vordering nou drasties stadiger werk ek die sand stukke so een na die ander deur, en toe skielik sien ek net dat die slangsleepsel nou taamlik wild na links uitgeswaai het. Skuifel-skuifel kom ek uiteindelik toe daar aan, en tref my ou maat in die bosse aan waar hy lank en aandagtig na sy fiets staar, amper asof hy wil vra: "Nou hoe't jy dan nou hier op jou sy beland?"
Anderkant sak ons met (nog) 'n Oubergpas steil af, en bereik later die vlaktes onder en ry terug rigting Vanrhynsdorp. Op met sy bekende pas tot by Nieuwoudtville, waarna ons links op 'n grondpad terugry na die rand van die plato.