Dag 11: 01 Julie 2013
Begin: Fat Monkeys, Cape Maclear, Malawi (476m bo seespieël)
Eindig: Casa Branca, Tete, Mozambique (139m bo seespieël)
Afstand: 393km
Verblyf: Casa Branca, Tete, Mozambique (
www.tripadvisor.com/Hotel_Review-g677702-d2626730-Reviews-Casa_Branca-Tete_Tete_Province.html)
(S 16° 08' 45.25 E 33° 34' 37.35)
Ons het opgestaan en was so vars soos wat 'n mens moontlik kan wees.
Ons hoor toe by die Put Foot ouens dat hulle Rally se roete verander is agv die Renamo rebel opstande in Mozambique. Die ou wat die Rally reël was in die Britse weermag intelligensie gewees en hy het sy kontakte gebruik in Engeland om te hoor of dit veilig is. Hulle het vir hom gesê dis 'n "no go zone". Hulle sou dan nou hulle roete waarmee hulle gekom het moet terug volg deur Zambia. Dit was vir ons nie sulke slegte nuus nie aangesien ons nou nie verder sou hoef vooruit te jaag om 'n dag voor hulle te bly nie.
Daar was 'n overlander wat langs ons bikes gestaan het met 'n Suid-Afrikanse familie van 5 en ons het met hulle ook gepraat oor om in Mozambique in te gaan. Hulle was van die opinie om dit te vermy en ons hoor toe nuus dat daar 2 keer 'n dag militêre escorts is deur die area waar die Renamo teenwoordigheid was waar hulle aktiewiteite onder andere insluit om op busse vol mense skiet, trokke uit te brand ens.
Ek het die famlie se email adres gevat en aangebied om hulle te laat weet hoe rof dit nou eintlik is en of hulle moet kom sodra ons daardeur is.
Laaste paar fotos van die meer.
So val ons in die pad om uit te kom by die laaste buurland van ons trip. Dit is maar 'n einaardige gevoel as jy die omdraai punt bereik (Lake Malawi) en elke kilometer wat jy verder ry nou nader aan die huis is.
Daar is 'n paar stalletjies waar die grondpad weer aansluit by die teerpad
By die afdraai na Monkey bay het ons gestop om die perde net weer vol te maak
Laat oggend/vroeg middag en ons raak goed honger. Die enigste gebou/plek wat ons langs die pad kry is hierdie.
Ek gaan in en vra of hulle kombuis oop is en of ons kos kan kry. Die antwoord kom net terug as "nee". Geen verduideliking of iets nie, net "nee". Ek vra weer of hulle enige iets het wat ons kan eet, chips, broodjies, enige iets. "nee" kom die antwoord weer en ons gryp 'n pak Niknaks, 'n pak Lays, 'n coke en 'n fanta om te deel vir brunch, want dit is al geld wat ons oor het.
Soos ons die pakke chips oopmaak en begin drink aan die cooldrinks, kom daar 'n man by die winkel uitgestap met 'n groot bord warm slap chips... Ja ons was redelik teleurgesteld met wat ons gehad het, maar daar was nie geld oor om slap chips te kry nie. Ek gaan vra toe maar net vir die interessantheid vir die eienaar of hy slap chips het vir ons en ek kry toe net weer 'n "nee". Nou goed dan.
Een van die twee goed van Malawi wat baie oplettend is, is dat daar nie regtig dorpies is waardeur jy elke nou en dan ry nie, maar eerder die heeltyd langs die pad is. So ver soos wat jy ry is daar mense en hutte langs die pad. Almal moes op 'n tyd net besluit het om na die pad toe te trek. Dit maak dinge redelik gevaarlik, want kinder speel langs die pad en van hulle wat seker 2 jaar oud is en net lekker begin stap, staan langs die pad met geen ouer toesig nie en begin sommer in die pad instap as hulle die bikes sien kom. Nie om eens te praat van die honderde honde (die Afrika-Sand-Hond soos ons hom gedoop het), bokke en beeste wat ook in die pad in stap nie (soos die ander lande, maar in 'n groter mate so).
Ons het by die grenspos aangekom waar dit nou goed warm was!! Deur die Malawi Grenspos en ek hak vas tussen al die trokke wat probeer deur kom. So verloor ek vir Berno en Japie teen die tyd wat ek deur al die trokke is. Ek ry solank aan en begin na omtrent so 5km wonder wat nou aangaan, want daar is geen teken van 'n grenspos of van Berno en Japie nie. Net voor ek wil omdraai omdat ek dink ek nou deur die Mozambique kant moes wees en nou onwettig in hulle land is, sien ek oor die volgende bult weer trokke wat stilstaan. Daar staan Berno en Japie en wag. Dit moet die grootste stuk grond tussen twee afrika lande wees wat daar is. Aan die kant is daar geen plek om weg te kruip van die son nie.
On s het 'n redelike tyd by die grenspos spandeer om die paspoorte te stamp, versekering te kry ens. Hier (soos by alle ander grensposte in Afrika) is daar 'n klomp ouens wat geld vir jou wil wissel teen 'n belaglike koers.
Die oorspronklike plan was om vir twee nagte deur te gaan Cahora Bassa toe, maar ons het van plan verander en wou eerder meer tyd spandeer langs die kus van Mozambique. So ons bestemming was Tete gewees vir die aand. Ons het so net na 2pm in die dorp in gery en gedink ons gaan eers iets soek om te eet en te drink voor ons verblyf vir die aand gaan uitsort.
Hierdie is 'n lekker plek wat ons langs die rivier gekry het en daar word Peri Peri chicken Prego rolls bestel, soos wat 'n mens maar maak as jy in Mozambique is.
En hulle word afgesluk met yskoues hiervan...
Vodacom Mozambique is beskikbaar en die kostes nie so belaglik soos die res van die lande waar ons was nie, so daar word huis toe gebel en almal word gerus gestel dat ons nog veilig is en die trip sover ongelooflik is. Die Zambezi hardloop hier dwarsdeur die dorp van Tete en ek neem aan die een kant is die nuwe en die ander die ou deel van die dorp. Dit was nogals lekker om weer die Zambezi te sien, amper soos 'n pel wat ons laas by Victoria Falls gesien het.
Die brug wat oor die Zambezi strek en die twee kante van Tete verbind is indrukwekkend.
Die son begin water trek en ons klim terug op die fietse om verblyf vir die aand te gaan soek en om uit die warm bike klere te kom. Ons gaan stop by 'n plek wat deur suid-afrikaners gerun word en hoor dat hulle geen plek oop het nie, behalwe 'n huis (wat regtig dodgy gelyk het en nie regtig veilig nie). Dit is eers toe ons verblyf begin soek dat ons besef dat Tete buitensporing duur is. Dit is omdat hierdie eintlik 'n myndorp is en maatskappye stuur konsultante hierheen en moet dan maar ten duurste betaal vir hulle verbly. Twee hotelle verder en ons lag die prysse af wat hulle vir ons wil vra, ook aangesien een van ons op ons stretcher sou moes slaap in die kamer.
Teen die tyd is dit pik donker en ons val weer vinnig by die bar in om te hoor of hulle van enige ander plekke weet waar ons kan bly. Daar sit 'n Suid-Afrikaner wat al 'n paar maande werk in Tete en hy bel een van sy vriende wat 'n plek het. So kom ons by Casa Branca aan, wat net beskryf kan word as 'n baie eenvoudige plek met kamers wat ruik na riool. Tete is regtig nie 'n plek waar jy wil bly of wil stop as jy op vakansie is nie, of ooit as jy nie hoef nie. En dit raak goed warm hier. Die ou wat ons van die bar tot hier gebring het, het vertel dat hy al gesien het hoe dit 52°C hier raak.
Die eerste prys wat ons gevra word om daar te bly is dieselfde as die duurste hotel waar ons was en ek begin kliphard lag vir die ou. Ek noem dat ons dit dalk sal oorweeg vir helfte die prys. Daar is in elkgeval niemand anders wat in die kamers bly die aand nie en hy stem in.
Ons kon darem ons bikes agter 'n hek stop op sy gronde, so dit was eintlik die selling point gewees vir my. Dadelik trek ek my bike klere uit (nie seker of ek al genoem het nie, maar Tete raak MAL warm) en klim in die water feature wat langs my kamer is. Nou voel ek vars en dis tyd vir koue bier en peri peri chicken pregos.
Japie het al in Botswana op die panne gekla oor sy een vurk wat olie lek. Dit het hom effe de donner in gemaak aangesien hy die bike ingeneem het na BMW toe net voor die trip om spesifiek te kyk na die shock. Die feit dat dit hom nie gestop het om aan te hou wheelies pop nie het ook nie die situasie gehelp nie. Japie noem ook toe dat as die vurk nou moet gaan is hy darem naby genoeg aan die huis om dit uit te sort...