Ek trek kleinkoppie en ry om die plas, deur die veld en harde Karoo bossies, self nie te maklik nie, maar die ligte fiets maak dit doenbaar op my vaardigheidsvlak.
Na vele hekke en plasse bereik ek die “grootpad” tussen Matjiesfontein en Karoopoort, ook bekend as die Patatsrivierpad. Hoewel lank terug gery, is hierdie pad is meer bekend aan my en ek probeer bietjie vinniger vorder. Maar o wee, hier is net so baie plasse met die kenmerkende glibberige klei onder. Hier is spore van ander motorfietse ‘n dag of twee vroeër. Hulle was seker bietjie uitgedaag.
By Patatsrivier stop ek in die koelte van soetdoringbome neffens die werf. Geen sterfling is in sig nie. Gisteraand se gasvrou het mooi vir my padkos gesorg, koue braaivleis en toebroodjies. Dit sal my vat tot by die huis.
Die grootste plas kry ek voor die Perdekraal windplaas. Windkrag is goed maar jinne, dit was darem baie mooier toe ek laas hier verby is in suiwer Tankwa Karoo. Ek stop eers weer en neem bestek op. Geen omry hierdie keer moontlik en hy is lank. Hoe vinnig? Trapfiets het my geleer spoed is jou vriend en pak hom maar in tweede aan met hoë toere. Moenie so styf raak as die fiets bietjie gly nie, laat hom bietjie gaan, gebruik jou gewig, leer ek. Ek is deur en vanaf die windplaas is die plasse verby, die nuwe pad is te goed gebou. In April 1980 het ek en pa die eerste koue front van die winter gekry toe ons na sy familie toe is in Porterville. Dit was gly-gly om van die plaas tot op die teerpad te kom, maar pa het hom regop gehou.
By Karoopoort sien ek die eerste ander voertuig sedert Laingsburg. Hier neem ek natuurlik Swaarmoedpas eerder as Theronsbergpas. Dis omtrent ewe ver, maar ek kry darem ‘n stukkie grondpad in en kry geen vragmotors. By die teerpad stop ek om mooi na Vrydagnag se sneeu op Matroosberg te kyk en merk nou op hoe vuil ek is.