Karoo Rider
Race Dog
- Joined
- Sep 1, 2012
- Messages
- 1,936
- Reaction score
- 1,135
- Location
- Ladismith WC
- Bike
- Honda CRF-1100L Africa Twin
Merweville. Hoeveel keer het ek jou nie al deurkruis nie? Bo van Theekloofpas se rigting. Die mooie Rammelkoppas. Vanaf Koupstasie of sommer met die plaaspaaie vol skaapspoortjies. En toe nou die keer – met die grootpad. Netjies geteer vanaf Prins Albert Stasie. Die keer ry ons nie deur nie. Ons bly oor.
Dis warm. Dis tjoklits-in-die-yskas-hou warm. ‘n Vriendelike gesig agter die kafee-toonbank word inderhaas met ‘n masker bedek. “Al die pad van Ladismith af? My jinne. Ek hoor dis so mooi daar. Ek was nog nooit daar nie” Loslekkers in koerantpapier. Kerse en blouseep. Niks, maar alles.
My roomys se sakkie val uit my hand uit. Vir ‘n oomblik is die silwerskoon strate bederf soos ek in die koggelende bries agter hom aanskarrel. ‘n Seun groet in die verbygaan. Behendig agter die stuur van ‘n te-groot dikwielfiets. Droë beurtwaterslote wat geduldig wag op hul beurt. Peperboom en olyf.
En dan is daar die kerk. ‘n Argitektoniese meesterstuk uit klip. ‘n Rots. Hoeveel keer is daar binne nie al gesoebat, en ontvang nie. Getreur op ‘n begrafnis, en gejubbel by ‘n doop. Sy horlosie tik geduldig. Sy weerhaan soekend na die wind.
Kinders baljaar. Dis die geluid van vreugde wat net ‘n swemdam kan bring. ‘n Lafenis in die middagson, diep uit die aarde. Met kreun en steun beur die windpomp voort in sy taak. En dan, amper skielik, kom die koele aandlug op. Die windpomp kry opnuut lewe. Hy dans en swaai. So ook sy maats in die omgewing. ‘n Dolle gejaag na wind.
Uitgebrande kole. Dof in die as neem die sterrehemel by hul oor. Stoepsit. Stilsit. Nog net so klein rukkie asseblief. Maar ek het genoeg. Meer as genoeg. Merweville.