Conrad Stoltz
Puppy
N LANG RIT NA VRYHEID
deur Gert Stoltz
Voordat ek begin wil ek net eers die ding van n motorfiets en n bike uitklaar. Daar is ouens wat definisies het van wanneer jy n biker is en wanneer nie. Vir die doel van hierdie storie gee ek nie om om nie as n biker te kwalifiseer nie. Maar ek wil graag na die ryding as n bike verwys bloot omdat die woord 4 letters het en motorfiets 10. En onder die broers en susters wat hierdie vreemde beheptheid het, staan die voertuig bekend as n bike.
“Bikebedonnerd” is n goeie beskrywing vir ouens wat hierdie ding het oor bikes. Ander voel waarskynlik net so sterk oor hulle besondere belangstelling, maar om iemand “seëlsbedonnerd” of “rolbalbedonnerd” te noem klink net nie reg nie – die konnotasie met oer-instinkte is net nie daar nie. Dit gesê, glo ek dit is noodsaaklik dat, ter wille van jou geestesgesondheid, elkeen een of ander begeesterde beheptheid moet he, al is dit ook net tydelik. Dit red jou van n staat van totale apatie en verveling – tipiese kwale van die huidige tydvak. Dit is sekerlik n interessante studieveld vir sielkundiges wat soek na antwoorde vir hulle pasiente wat vrae vra na die sinvolheid van die lewe. Waar die besondere belangstelling in n bepaalde ding vandaan kom, is n ope vraag. Dalk is dit geneties. Of geïnspireerd deur voorbeeld. Wat bepaald nie in my geval geld nie. Ek was bikebedonnerd van n baie vroeë ouderdom ten spyte van die streng behoudende atmosfeer en hoe kulturele waardes wat die geldende norms in ons huis was. Ek het groot geword in die tyd van die Ducktails, en motorfietse was n absolute taboe, volksvreemd en waarskynlik sedebederwend. Tog was daar n oom van my wat n ingeduikte oogkas gehad het, wat, soos dit gefluister was, die gevolg van n motorfietsongeluk was. En soos swaksinnigheid in sekere families, slaan die bikeding nog vandag in ons familie uit: my seun en drie neefs het die streep weg, en n susterskind (n dogter nogal) het nou die dag aangekondig dat sy n bike gaan koop – tot algemene konsternasie en ontsteltenis van die familie. Soos n virus dryf die ding in jou bloed en wag vir n geskikte oomblik om toe te slaan.
In die dorpie waar ek groot geword het was daar presies drie motorfietse: daar was die polisie Harley Davidson met syspan wat jy n kilometer ver aangehyg kon hoor kom. Dan was daar Willem Berry wat sy BSA Golden Flash met kort broek en kaal voete van die plaas af gery het sonder hoofbedekking of bril of ander poefterige tierlantyntjies. En ses voet sewe duim op sy gebarste voetsole. Die mees indrukwekkende kombinasie was die Engelse boer, Joe Gouws, wat oor naweke kom pos uithaal het met sy Norton. Netjies geklee in swart leathers en ander bykomstighede was hy n indrukwekkende verskynsel. Ons laaities het by die bike gewag totdat hy opdaag en dan vir hom gesê: “Spin hom, oom, spin hom.” Wat hy dan tot ons groot vermaak gedoen het met bene wat so weerskante afhang. En ons het met verwondering die stofwolk gadegeslaan en die spinstreep afgetree…. En gevoel soos iemand wat gedeel het in n aartssonde.
Wat daardie sluimerende passie by my egter vlerke gegee het, was die drie spietkops wat vanaf die naburige dorp ons hoofstraat kom patrolleer het. Met drie swart R50 BMW’s. As ek nou terugdink dan vermoed ek hulle het ons dorpie besoek terwille van die rit soontoe. Want behalwe vir Oom Frans Lawaai wat nie kon sien nie en op gehoor bestuur het, was daar nie juis die moontlikheid vir flagrante verkeersoortredings nie. En al die motorbestuurders was in elk geval gedurig in hulle pasoppens in geval Oom Frans dalk met die GMC bakkie in die dorp was.
Maar daardie drie swart BMW’s; in gelid, glimmend, statig, met die kenmerkende gedempte brul van Bokserenjins. Ai! En soos wat die ratte oorgeskakel word teen die opdraande, tel hulle elke keer kop op. Soos net n BMW dit kan doen. Ek het aan die varkdraadheining van die speelgrond gehang en probeer om soveel van die bekoring te ervaar en vas te lê as moontlik. En myself belowe: eendag, eendag sal ek ook n swart BMW ry.
My pa was nie beïndruk met my beheptheid met bikes nie, en sou eerder wou sien dat ek harder aan my klavierlesse werk. Ek kan my voorstel dat hy net sy kop in ongeloof kon skud oor die seldsame afwyking in sy seun. Veral nadat ek uitgevang is deur die Duitse musiekonderwyser dat ek sy Puch scooter steel en ry as hy middagete in die koshuis nuttig. Die feit dat n koshuisseun bereid is om n ete op te offer vir die twyfelagtige voorreg om op n Puch scooter te ry, moet vir jou iets sê van die graad van versotheid op doodskiste op wiele, soos die oningeligtes lief was om bikes te noem.
Hierdie was voor die tyd van die fifties. So daar was nie eintlik n kans dat jy jou eie kon hê voordat jy agtien geword het en n lisensie kon bekom nie. Willie Berry was darem daar met sy Golden Flash en ten spyte van die verskil in ouderdom was ons vriende. Die BSA het tragies aan sy einde gekom deur heeltemal ongevraag aan die brand te slaan en totaal uit te brand langs die pad. Vir my was dit soos dood in die familie.
In my tweede jaar op universiteit het ek genoeg geld gedurende die Desembervakansie bymekaar gemaak met wolklas om iets aan my droom te doen. n Toetsrit op n Vespa het my gou oortuig dat n donkie nooit n perd kan wees nie. Johannesburg toe. By die tweedehandse bikewinkel staan hulle ingeryg – alles Engelse fietse. Hoe kies jy een vir R90? Jy trek maar die levers en draai die petrol oop en toe en probeer intelligente vrae vra. Uiteindelik besluit ek op n witte met blou strepies… n pragfiets in my bedwelmde oe. Daar is egter n klein probleempie: die bike is nie dadelik rybaar nie. Hulle moet hom eers tune. Ek moet maar n bietjie wag. Ek wag……. en wag….. en wag. Kort-kort brul daar n ding erens in die gebou en ek hoop dis myne, wat n bewys sal wees dat hy wel loop. Iemand kom beduie naderhand vir my hoe “patience” n “virtue” is, maar deugsaamheid is op daardie oomblik nie hoog op my prioriteitslys nie. Dis eienaardig hoe n mens jare kan wag om n ding te koop, maar as jy die slag besluit om te koop, wil jy hom NOU hê, dadelik.
Uiteindelik word die wit en blou Triumph 650 Speed Twin uitgestoot: my eerste bike. Die feit dat ek nog nie n bestuurderslisensie het nie is op daardie oomblik n mindere kwelling te midde van hierdie grootse oomblik. Ek vat die pad terug Potch toe, maar van daardie trip kan ek niks onthou nie. Miskien werk jou brein nie mooi as jy op jou eerste bike sit en die aardse kettings val van jou af nie.
Wat ek wel gou agterkom, is dat die Triumph n oliepister was. My skoene en langbroek het gou gelyk asof dit aan n oliebooroperateur in die Persiese Golf behoort. Solank as wat ek die Triumph gery het, het ek lang plastieksakke oor my bene getrek om die ergste skade te beheer. Asof hy hoe bloeddruk gehad het, het hy olie by sy pakstukke uitgeblaas. Die bike was omtrent ewe swaar op olie en petrol.
Ek het heelwat met die Triumph gery. Vakansies huis toe en klas toe by die PUK. In die konserwatiewe heiligdom van Doppers het daar waarskynlik menige wenkbroue gelig as ek by die lesinglokale verby gejaag het, want die Triumph had nie juis baffles nie, en ek was n moedswillige student .
Die een Julievakansierit huis toe sal ek nie lig vergeet nie. In daardie jare was valhelms nie verpligtend nie, en ek twyfel of ek in elk geval een kon bekostig. Warm klere was eweneens n luukse. Jy trek dus alles aan wat jy het, en tussen elke laag klere druk jy koerante in. Bo-oor alles kom n army jas. n Plastiek klapmus hou die ore warm (dis die teorie) en n bril soos vegvlieëniers in die Eerste Wereldoorlog gedra het, beskerm jou oë teen vlieënde voorwerpe. Leerhandskoene met n baie dun voering rond die prentjie af. Voila! Jy is gereed vir die reis.
Ek het vroegoggend uit Potch vertrek, en toe die son opkom toe ry ek naby Parys. Toe sien ek hoekom dit voel asof ek saam met iemand se bederfbare produkte in die vrieskas beland het. Die son skitter op die yskristalle op die gras en die yskeëls hang van die doringdraadheining af. Jy kan nie besluit wat die beste gaan wees nie: om vinniger te ry en kouer te kry oor n korter tyd, of stadiger, en langer te vat om solied te vries.
Maar nooit kom dit by jou op om jou keuse van voertuig te bevraagteken nie. Al sit jy en bibber van die koue binne jou papierkokon bly hierdie vibrerende, brullende monster onder jou jou paspoort na vryheid.
By Standerton stop ek by n kafee voor die ou ysterbrug. Ek moet net iets doen om te ontvries want ek kan nie eintlik my ledemate voel nie. Die eerste ding wat nie meer werk nie is my knieë. Ek sukkel om my bene reguit te kry om die bike regop te hou. Dan sukkel ek om my hande te oortuig om die handvatsels te los. Uiteindelik staan ek langs die bike en begin soos King Kong se jonger boetie kafee toe waggel. My gesig is so dood soos n deegrol en ek moet n paar keer probeer voordat die kafee eienaar verstaan dat ek warm koffie soek. Hy kyk my met onbegrypende oë aan.
Die laaste 42 kilometer grondpad was n avontuur op sy eie, want Triumph het nerens daarop aanspraak gemaak dat hulle bikes “adventure bikes“ is nie, en sinkplaatpad is geneig om enige bike se suspensie- tekortkominge genadeloos uit te lig.
Ten spyte van my pa se waarskuwing ,“Jy bring net nooit n motorfiets op die werf nie,” was hulle tog bly om my te sien, ofskoon die bike ooglopend geïgnoreer is en ek netsowel uit die hemel kon geval het.
Die Triumphfase is beëindig toe ek weer gaan wolklas het aan die einde van die jaar. Toe ek tuis kom en verneem na my bike wat nie meer staan waar ek hom gelos het nie, se my pa, “Daar loop drie beeste in die kamp. Ek het hulle verruil vir jou motorfiets.”
Die Triumph was egter instrumenteel om een van die lewenswaardes wat Aesopus hoeka al by die mensdom probeer tuisbring het, grafies te illustreer, met my as onwillige agent, naamlik: ydelheid kom voor n val. Die teerpad wat ook gedien het as hooftoegangspad vir die dames na die Onderwyskollege toe het agter ons manskoshuis verby geloop. En dit is waar my daaglikse rit na die PUK ook begin het…. Ten aanskoue en aanhore van n gewigtige persentasie kollegedames op pad klas toe.
Soos gebruiklik het ek die Triumph van sy systaander afgehaal, wydsbeen oor hom gestaan, aangesluit, die petrolkraantjie oopgedraai, gechoke en geskop – want die Triumph had nie n selfstarter nie. Wil nie vat nie. Ek voel die bloed in my gesig opstoot, want daar is min dinge wat jou ego so vinnig afblaas as n bike wat nie wil vat en jy skop en skop asof jy van hondebollies onder jou skoen ontslae wil raak. Ek kyk nie, maar ek weet daar is omtrent veertig meisies wat geamuseerd uit die hoek van hulle oog hierdie petalje dophou. Ek verloor effens balans en wil my linkervoet uitskuif om die bike regop te trek. En dis net daar wat die gode besluit om die sedelessie tuis te bring. My voet kan nie skuif nie want my broekspyp het onder aan die systaander se traparmpie vasgehak. En stadig, genadeloos en onafwendbaar, maar met soveel grasie as moontlik, bliksem ek en die Triumph om. Quad Erad Demonstrandum. Die meeste letsels op my psige het nou al vervaag, maar dit was waarskynlik die belangrikste leerervaring wat ek voorgraads aan die PU vir CHO opgedoen het.
Bikeloos begin ek werk. Naweke ry ek en die vrou tussen die plase rond op soek na ou voertuie of bikes. By een stat verbeel ek my ek sien n bike staan. Ek stoot terug. Onder n boom, toegegroei onder kakiebos, staan n 10/12 Harley Davidson. Hy lyk volledig maar het duidelik in jarre nie geloop nie. Die eienaar kan nie veel inligting gee nie. Hy het wel met die Harley geploeg tot hy nie meer wou nie, en van toe staan hy hier. En ja, hy wil hom verkoop. Ons laai hom op die bakkie. Dis n helse swaar masjien, en hy benodig duidelik n klomp liefdevolle aandag.
Op aanbeveling van iemand vat ek die Harley na Van toe – hy ken Harleys. Van is n tipiese bekjaart mekenniek – op sy gelukkigste in sy deurmekaar agterplaas tussen bokse onderdele en bikegeraamtes en items wat nie in hierdie millennium weer gebruik gaan word nie. Van sien kans vir die Harley.
Van het uiteindelik die Harley aan die loop gekry maar selfs ek kon sien dat die enjin hartomleidings en ander ingrepe ondergaan het wat die here Harley en Davidson nie in hulle mees kreatiewe visioene kon voorsien nie. Maar loop het hy geloop.
Om die Harley te ry was nogal n uitdaging, want niks van hom het jou aan die Triumph herinner nie. Boonop was hy beslaan met twee karbande, en probeer nou om n draai gaan daarmee.
Ek het die Harley verkoop aan iemand wat oor hom geneul het, wat ek seker nie moes doen nie, gegewe wat daardie veterane vandag werd is. Maar ek het hom dadelik vervang met n tweeslag Suzuki 750. n Haastige fiets vir sy tyd, maar een wat gedurig oliespatsels op jou rug gelos het as gevolg van onverbrande olie in die tweeslag mengsel.
Vervolg...
Kan hom ook kokkenodge op https://www.conradstoltz.com/n-lang-rit-na-vryheid-%E2%80%A8deur-gert-stoltz/#more-2267