Die ballade van Dunnes en Dassie: Eerste groot trip Kaap toe

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dunnes

Race Dog
Joined
Apr 4, 2016
Messages
843
Reaction score
24
Location
Gauteng, Pretoria
Bike
BMW F650GS / Dakar
Dagse aan al die honne en honinne

Soos vele ander het ek uiteindelik my eerste bike trip aangepak hierdie Desember. Ek het maar in die begin van die jaar my eerste motorfiets aangeskaf, dus sal julle verstaan dat my bas al goed begin jeuk het om die lang pad te vat.

Hierdie Lees-Reis (RR) gaan meeste van u verbaas dat dit heel moontlik meer fotos van die aktiwiteite (klim en stap hoofsaaklik) bevat as fotos oor die reis self. Ek kry eintlik skaam daaroor en vra om verskoning. Gedurende die tye wat alleen op die fiets gery het, het ek ongelukkig nie 'n kamera by my gehad nie en my selfoon s'n is effens vertraag. Ek het hopeloos te min fotos geneem, maar hopelik gaan Magdaleen se SLR opmaak vir my laksheid.

Agenda vir die vakansie:
Ek en my verloofde, Magdaleen, het 'n stampvol vakansie beplan waar ons vir 'n paar dae Compassberg (naby Nieu-Bethesda) sou op om sy vertikale doloriet kraaksisteme te klim. Ons het toe later besluit om op Towerkop te gaan klim naby Ladismith.
Daarna trek ons in die Ooskaap Bergklub se Formosa hut in vir 'n paar dae om te rus na die berglewe.
Teen die 20ste sluit ons dan aan by haar broer hulle en ander vriende om die Walvisroete te stap in die De Hoop Natuurreservaat naby Witsand.
Op Kersdag blits ons Drakensberge toe om te gaan kamp langs die Mhlambonja rivier in die Cathedral vallei saam met die volledige skoon-familie. Nuwejaar was op die hange van Cathedral Piek spandeer
Na 'n paar dae se laag lê skiet almal huis toe. Ek het wel die langer pad geneem huis toe.

Roete%20-%20Google%20Maps.jpg


Ons het aanvanklik hierdie vakansie so beplan om al die bogenoemde in 'n Hyundai Getz met 'n dakdoos bo-op in te prop. Insluitend 4 passasiers, naamlik myself, Magdaleen, haar suster en haar niggie. Gelukkig (vir my) besef ons dat ek nou maar net met die motorfiets sal moet ry. Ek help graag!

Ek het toe binne twee dae se tyd vir my 'n rak vir my pannier sakke gebou. Die sweisnate sal getuig van my haastigheid. Maar ek was eintlik heel in my skik met die eindresultaat:

Vertrek%201.jpg


Aangesien ons gaan klim en stap kon ek nie al my goed op die fiets laai nie, so ek moes eers my rugsak met speelgoed by Susan (my skoonsus) gaan aflaai.

So begin die avontuur. Die plan was om so ver moontlik te ry om 'n rustiger tweede dag tot in Ladismith te hê. Ons sou later sien hoe vêr ek sou vorder.

Hier gaat ons

Dirk

Vertrek%202.jpg
 
Ou Dunnes ......... jy kan maar skryf sodat ons kan lees  ......... :sip:
 
Toe ek vanoggend met n koppie koffie gaan sit om n paar woorde neer te lê, toe strooi my linkerhand die rekenaar vol koffie.

Ek droog hom nou uit met n hand vol afdroog sakkies (die soort wat saam met medisyne en skoene kom). Sal sien of dit werk

Sent from my B15 using Tapatalk

 
Die plan was dat ek twee dae gebruik om in Ladismith aan te kom, terwyl die kar in een dag sou deur ry. Dit het beteken dat ek dalk sou kans kry om die Hel in te ry op die tweede dag.

Met die geskarrel om my pannier rakke klaar te kry die dag voor ek vertrek het ek die aand besef dat ek nie 5uur sou wegkom soos wat ek gehoop het nie. Dus was my doel om ten minste Kimberley te haal. So gesê so gedaan.

Dag 1 (9 Des 2016)
Dag%201.jpg


Nadat ek my rugsak afgelaai het by Susan tref ek die hardepad eers om 11uur. Ek stop vir 'n vinnige kiekie op die Vaal om my vryheid te vier.

IMG_20161209_111101.jpg


Dis 'n wonderlike gevoel om te weet jy ry nou weg en jy sal eers volgende jaar terug wees

Ek het besluit Parys deur te ry Bothaville toe en dan eers by Kimberley by die hasepad aan te sluit. Die myle gly verby en die donderstorms begin toe opsteek. Ek het twee keer gestop om my poncho aan te trek en elke keer het ek my besluit berou. Soos my ma altyd sê: "Algaande leer mens." Die tweede reënbui het my tot by Bothaville gebring waar ek 'n ordentlike reënjas by die Mika aangeskaf het. Die poncho sou vir die res van die reis Dassie se reënjas wees.

Tussen Bothaville en Hoopstad naby Bloemhofdam trek ek af om 'n vaal, oninteressante, maar belangrike kiekie te neem. Dassie steek 100 000km oor. Ek is trots op hom.

Mylpaal%203.jpg


'n Aangename verrassing wag toe vir my net buite Hertzogville toe my roete van oppervlak verander. Dankie tog vir 'n lekker stukkie grondpad tot in Boshoff. Net die regte medisyne vir 'n harde gat. Dit was baie mooi om die reënwater oor die pad te sien spoel in hierdie plat wêreld.

IMG_20161209_165328.jpg


Met my aankoms in Kimberley drink Dassie by die Caltex en ek is in my skik met my panniers, veral na die diep weggesteekte sloot wat water tot op my helmet gespat het. Ek het gedink om dalk by die kampplek langs die groot gat te oornag, maar dit sou nie deug vir 'n eerste dag se slaapplek nie. Ek het gewonder of Mokala my sal toelaat met die motorfiets, maar ongelukkig het die son my aangepor Oranjerivier toe. By Oranjerus vulstasie by Hopetown oorval die donker my en my kolligte sprei wyd, maar nie baie vêr nie. Ek wou by die kampplekkie by Orania langs die rivier slaap, maar die grasperk voor die vulstasie sal vanaand moet doen. Ten minste kan ek die volgende more vroeg in die pad val.

Na 'n lekker hoender burger by die restaurantjie is ek bed toe onder die wakende oog van Tempo, die bruin labrador petrolstasie sekuriteitswagter. Selfs nie die uitlaat remme sou my wakker hou vanaand nie.
 
  Dunnes ek sien uit na res van jou lees-reis.Goed om te sien daar is nog jongmense wat probeer om Afrikaans suiwer en sonder n swetterjoel spelfoute te skryf.Ek moet erken ,doosrak en lees-reis, was eerstes vir my. :thumleft:
 
  Ek sien nou eers dis dakdoos.
 
Bokveld said:
  Dunnes ek sien uit na res van jou lees-reis.Goed om te sien daar is nog jongmense wat probeer om Afrikaans suiwer en sonder n swetterjoel spelfoute te skryf.Ek moet erken ,doosrak en lees-reis, was eerstes vir my. :thumleft:

Dit is die invloed van sy skoonfamilie............ ::) haha
 
GEE-SH said:
Bokveld said:
  Dunnes ek sien uit na res van jou lees-reis.Goed om te sien daar is nog jongmense wat probeer om Afrikaans suiwer en sonder n swetterjoel spelfoute te skryf.Ek moet erken ,doosrak en lees-reis, was eerstes vir my. :thumleft:

Dit is die invloed van sy skoonfamilie............ ::) haha

Sjoe, daai invloed kan verseker nie van jou af kom nie. Ek is van mening dat ek en jy die skoonfamilie net vuil genoeg hou
 
Dag%202.jpg


Vroeg uit die vere, pak ek op, gebruik my laaste R2 stuk om 'n draai te loop. Die perd is gepak net betyds vir die sonsopkoms.

IMG_20161210_052439_1.jpg


Ek stop vir koffie en 'n skaap kerrie pastei in Strydenburg van waar die pad Suid draai. Daar het 'n koelerige wind begin opsteek vanuit die Kammanassie berge uit wat my meermalens laat aftrek het om 'n buff by te las. Maar dinge het redelik glad verloop.

Iewers tussen Britstown en Victoria-wes bel ek die karryers om te hoor hoe hulle vorder. Hulle was so uur of twee agter skedule en het besluit om Willowmore om te ry met die hoop om van die trokverkeer ontslae te raak. Dit verdedig toe my lus om oor die Swartbergpas te ry en nie deur Meiringspoort nie.

In Beaufort-wes moes ek inkopies doen by die apteek (ten duurste) en ook my waterblaas met 'n sak ys opgetop. Net na Leeu-Gamka klim ek van die teerpad af op die R353 wat al langs die Gamkarivier loop. Dis nou 'n wonderlike grondpad daardie. In die noorde kom hulle nie so nie. In Prince Albert se petrolgat groet ek 'n paar ouens wat sopas uit die Hel uit kom. Hulle reis sou hulle van daar af Tankwa toe neem.

Ongelukkig het ek nie genoeg tyd om die Hel in te ry nie, maar gelukkig kan ek oor die Swartbergpas ry. Dit was 'n eerste vir my.

So ent in die pas se vallei in by die eerste driffie kom ek op 'n familie af wat lekker afkoel in die rivier en natuurlik volg ek hulle voorbeeld. So ent verder kom ek op die"Geen swem" bordjie af. Nou toe nou.

Die pas is waarlik mooi. Ek bewonder die vakmanskap van die familie-pasbouers van ouds wat hierdie kunswerke gebou het. Dassie gedra hom baie mooi aangesien ons vrag sy agterwiel lekker traksie gee. Dinge loop soos groot-doop. Ek stop natuurlik vir 'n paar kiekies. Verlang ek nou na ons kanon kamera met die wyer hoek lens. Hier is 'n paar wat my selfoon geneem het.

Die Prins-Albert kant:
PANO_20161210_144424104_1.jpg


Swartbergpas.jpg


Die bo-punt:
PANO_20161210_150714820_1.jpg


Swartbergpas%202.jpg


By die bopunt van die pas maak ek kontak met die tjor. Hulle vorder nie sleg nie, ek ek voorspel dat hulle voor my in Calitzdorp sal wees. Die grondpad verby Kruisrivier was prentjie mooi deur die berge en dale. By Kruisrivier se T-aansluiting draai ek die neus kortste pad swartpad toe. Ek wou eintlik graag die langer stuk langs die Nelsrivier ry, maar die dag het my begin inhaal. Ek sal maar net weer moet kom.

By Calitzdorp is ek verras dat ek voor die tjor hier is. Hier verwelkom ek hulle die dorp in.

Calitzdorp.jpg


Dit was wonderlik om Towerkop te kan sien, selfs al was dit net vir 'n oomblik of twee as die wolke lig. Hier sien mens Seweweekspoort piek aan die regterkant met Towerkop in die wolke.

IMG_7971_1.jpg


Net buite Ladismith oppad na die plaas waar ons begin stap, mis die dames toe die grond afdraaipad. Hierdie sal nie die laaste keer wees nie. Ons bestemming in die wolke:

IMG_7974.jpg


Mnr Volschenck groet ons soos ons onder die bloekombome parkeer aan die einde van die vallei waar ons wiele vir voete ruil.

IMG_7980.jpg


Ons het die eerste deel van die stap tot bo by die piek in die nag onder die (redelik) volmaan gedoen om die ergste Desember hitte vry te spring. Teen 9 uur val ons in die voetpad en so net voor middernag toe slaan ons tent op naby die eerste skouer wat ons moet oor. Ons wou bietjie verder vorder, maar 'n volle dag se ry put 'n mens maar uit.

Tot so vêr.
 
jy skryf mooi!  :thumleft:

wag vir verdere posts  :sip:
 
  Dis mos nou die lewe!!!Sien uit na die res.Ek hou van daai skeppertjie bo-op jou windskerm.Maak dit n verskil?
 
Bokveld, jy is reg. Dis glad nie 'n slegte manier om jou tyd te spandeer nie. Net jammer dit betaal nie so goed nie.

Die windskepper werk baie goed aangesien ek hom maklik kan afhaal vir grondpad. Dit maak ook 'n groot verskil vir die passasier.
Kyk gerus op die Pooratech draad (https://wilddog.net.za/forum/index.php?topic=12116.2760) by Reply #2761 vir meer.

 
Nee kyk, jy kan maar ry en skryf.
Lekker om te doen jou dakkie het ook "nuut" geword.
Myne het oor geslaan op die Kau myn pad in Lesotho.
Jy maak my jaloers met die lekker ry.
 
Hierdie naweek klim ons in die Magaliesberge.

'n Towerkop voorsmakie
 

Attachments

  • Proetjie.jpg
    Proetjie.jpg
    119 KB
  • IMG_8432.JPG
    IMG_8432.JPG
    152.3 KB
  • IMG_8977.JPG
    IMG_8977.JPG
    464.8 KB
  • IMG_8278.JPG
    IMG_8278.JPG
    196 KB
Baie mooi! Dankie dat jy dit vir ons wys.

Sent from my SM-G900F using Tapatalk

 
Top