Salig was die nagrus toe. Die volgende oggend word ons in Nel se Hotel wakker en skuif uit tot op die stoep vir 'n koffietjie.
Vandag beplan ons om 'n roete op die oosterlike helfte van Towerkop self te doen. Nadat ek die roete beskrywings bestudeer het, besluit ons op Long John, aangesien dit Kathy se eerste klim sou wees. Dit beloof om in die skaduwee te wees en dit lyk na 'n redelik maklike roete op skoon en sekure rots. 'n Bonus is dat die lang Cheesemond broers dit in 1973 geopen het, wat my bou sou bevoordeel. Ek let ook op dat Magnus en Veira (vriende uit PE) 'n roete oopgemaak het wat vurk van Long John af genaamd "Search for the Qivihog". Dalk kan ek hom/haar/dit ook opspoor.
---> Stolen from the route guide by Derek Marshall
Om by die begin van die roete uit te kom, stap mens om Nel se buttress en beweeg so 50m hoër teen 'n slegte steenslag op. Duisende jare se meganiese verwering lewer klippe tussen golfbal en krieketkolf grootte wat teen 'n baie styl helling lê. Die dames het dit nie baie geniet nie. Amper daar.
Ons bereik die voet van die klim en stop in die skeur wat Towerkop se twee pieke skei vir 'n paar lekkers en pitte.
Terloops, volgens legende het die piek sy naam gekry toe 'n heks een maal op pad huistoe vlieg en soos sy nader kom, toe styg die piek al hoër en hoër. Uit frustrasie uit, klap sy die piek met haar besem en siedaar, die spleet. Enigeen wat al Towerkop op gestap het, sou met die heks saamstem dat die bult net nie einde kry nie.
Die dames wag vir die skaduwee om oor krans te beweeg terwyl ek die roete beskrywing probeer ontsyfer.
Kathy saal op in die skeur.
Aangesien Magdaleen haar gewrig 'n paar weke beseer het, het sy weer afbeweeg om 'n paar fotos te neem en in die grot te gaan lê en lees.
Die eerste toulengte bring ons tot bo op 'n gemaklike lysie waar ek die dames kan op belay. Die rots was vrotter aan die onderkant van die klim as wat ek gehoop het, maar ons vorder.
Kathy glimlag senuweeagtig, maar van hoek tot hoek.
Tot op hierdie punt was die klim baie maklik en ek het my lippe begin aflek vir die bossie-lose rots wat bo ons uitstaan. Die res van die klim lyk besonders. Ek het die volgende pitch lengte so tussen 30m en 40m geskat. Dit behoort my op nog 'n gemaklike lysie te bring. Wel, so het dit gelyk. Ek het weg getrek in die rigting van die regterkantste van twee kraaksisteme wat ons sou lei tot by 'n reeks van oorhange waar ek links onder hulle deur en op beweeg het.
Die klim was briljant en ek vorder goed, totdat ek uit toerusting begin uithardloop het. Ek gil af na Susan en vra vir 'n skatting van die hoeveelheid tou wat ek nog tot my beskikking het. Sy antwoord: "So bietjie meer as 20m!" Gits, maar hierdie pitch is verskriklik lank. Die groot lysie lyk nog baie vêr en ek hardloop nou vinnig uit beveiligings uit. So 5m bo my gewaar ek 'n lekker plat lysie wat goed sal werk vir ons tweede belay. Kom ons gaan kyk.
Die lysie is toe glad nie so ideaal nie, maar ek het nou nie meer 'n keuse nie. Ek skree vir Susan dat ek nou 'n stance gaan bou en dat hulle solank kan klimskoene aantrek. Die stance was nie na wense nie, maar net-net veilig. Nou is dit die dames se beurt.
Teen die tyd bibber die dames al behoorlik, selfs met baadjies aan. Hulle vorder toe so 10m waar Kathy toe vra dat ek haar laat afsak aangesien hierdie pitch haar broek bietjie laat bewe. Gelukkig kon ek haar haar tot onder laat sak aangesien die eerste pitch maar kort was. Met Kathy op veilig op die grond, beur Susan toe voort tot by die klein lysie.
Dit is op hierdie punt waar my vriend Magnus in 2009 die linkerkantste kraak sisteem suksesvol aangepak het. Met die voel ek dat Magnus 'n goeie idee gehad het en ek klim toe agter sy spook aan. Dadelik skuif die moeilikheids graad 'n paar skuiwe op en die beveiligings droog skielik heeltemal op. Skaars 4m bo Susan, lig ek haar huiwerig in dat sy liewer haarself moet losmaak van die anker aangesien ek nie haar saam wil aftrek indien ek nou sou val nie. 'n Paar stywe oomblike later bereik ek 'n groot kraak waar ek uiteindelik 'n goeie beveiliging kan inkry. 'n Gil en 'n bulkende lag later beweeg ek aan.
Dit is sulke oomblike waarvoor ek leef. Daardie nou-of-nooit oomblike. Waar jou brein heeltyd spring tussen kalm en paniek, tussen veg en vlug. Om dan deur te druk tot die ander kant met jou eie vermoëns. Dit is 'n aardse, rare en eintlik reine gevoel wat mens diep raak. Mo Antoine, 'n britse bergklimmer in die sewentigs en tagtigs, het sy strewe na hierdie tipe oomblike vergelyk met die die gevoel dat daar 'n rot in hom woon wat gereeld adrenalien gevoer moet word, anders begin hy hom van binne af opeet. Magdaleen spot elke nou en dan dat ons weer my rot moet gaan voer wanneer ek moeilik raak. Uiteindelik klim ek die laaste oorhang uit tot bo!
Na so uur en 'n bietjie sluit Susan by my aan, maar nie nadat sy op tye moes hang en ruk en pluk om 'n beveiliging uit te kry nie. Boonop het haar belay toestel ongelukkig uit haar bewerende hand geglip en in die wit wolk onder haar verdwyn. Teen die tyd wat sy die laaste pitch se 45m agter die rug gekry het, was ons albei baie in ons skik met onsselwers. Susan het haarself uiters goed van haar taak gekwyt! Haastig vou ons die toue op en neem 'n paar fotos as bewyse. Met die koue wolke en mis wat van onder af deur die pieke ons omsingel, sit ons al bewende agter 'n rots en verorber 'n pakkie lekkers.
Wat 'n ongelooflike uitsig oor die Karoo!
Dit begin vinnig donder word so ons begin aan die ooste kant van die piek af klouter tot by die abseil punt. Hier ryg ons 'n stukkie dunner tou rondom 'n klip wat in 'n skeur vasgepen is en abseil hiervan in die skeur af. Die wolkkombers het ons nou totaal toegegooi sodat ons nie die onderpunt van die tou kan sien nie. Kom ons hoop ons maak dit tot onder. Ek gaan eerste met Susan wat eers in die sagte reën moet wag. Sy volg en na my, waarna ek die toue aftrek en weer oprol. Met kopliggies wat 'n wit muur voor ons verlig, ruik ons die koffie in die grot!
Magdaleen het intussen 'n paar merkwaardige fotos geneem van die sonsondergang, waarna sy vir ons kom soek het.
Teen die tyd wat ek en Susan terug by die grot aangekom het, het Kathy 'n lekker vuurtjie aan die gang sodat ons lekker kan braai. Wat 'n ongelooflike dag. Dis nou een vir die boeke!