Haenertsburg/Magoebaskloof pillion toer – November 2013

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.
Met ons gemoedere in die wolke spring ons terug op die KLR se rug en pak weer die pad aan. Ek besef ek sal nou moet ry met selfvertroue, want anders gaan die fiets nie hier uit nie. Ons eerste verkenning gaan uit na die ander kant van die vurk toe. Dis afdraende, en dis nie lank nie of ons hoor die gekuier en gelag van die jongmense by Debengenivalle. Hierheen wil ons nie. Ek draai om en ek gee vet teen die bult uit. By die vurk hou ek momentum en die KLR klim verbasend moeiteloos op teen die ongelyke paadjie. Die volgende 100m seksie is die een waaroor ek bekommerd was. Ek hou my regterhand swaar en beplan my wielplasings verder vooruit as wat ek normaalweg sou. Buiten vir die agterwiel wat een of twee keer in die effens-geërodeerde slootjie ingly, ry ons sonder insident daaruit. :thumleft:

Ons is terug op die (relatiewe) wettige pad, behalwe natuurlik vir die feit dat ons op ‘n motorfiets sit! Ons ry in ‘n algemene noordoostelike rigting, maar die paadjie kronkel in alle rigtings. Op ‘n stadium kom daar ‘n baie haastige bosbouer van voor af en hy ry die hele pad vol. De pad is gelukkig hier breed genoeg dat ek goed links kan hou en die vent vlieg verby sonder om ons skade aan te rig. Ek stop sodat ons die omgewing kan vasvang. My arms is al lekker lam van die inspanning en fyn kompensering. Die ruskans word verwelkom.


DSC01954 by Piet.P, on Flickr

Ons ry aan tot by die bosbewaarder se huis (ten minste volgens Tracks4Africa). En besluit dis nou ‘n goeie tyd om te begin terugkeer en tent op te slaan. Die pad terug is heelwat makliker nou dat ek weet wat om te verwag. Ons stop 17h30 by ons kampterrein. Die voorbereiding begin met die skuif van takkies en klippe - weg van waar ons die tent wil sit. Die stappersmatrassies is ook net SO dik! Dit word gevolg deur die strooi van ‘n lagie dennenaalde sodat die klam bosvloer nie moreoggend aan my tent se grondseil vasklou nie, voor ek vir Carrie toestemming gee om die tent op te slaan  :p  ;) (uit die fotos wil mens half die afleiding maak dat dit is wat ek gedoen het!). Ons sorg dat die dekseil goed van die tent af weggetrek is deur klippies toe te vou in die seil se materiaal, dit vas te bind met wol, en dan te anker aan die tentpenne. Vanaand kan dit maar reën, ons sal nie natword nie.


DSC01966 by Piet.P, on Flickr


DSC01967 by Piet.P, on Flickr
 
Dankie Piet :thumleft:

Laat my dink "O Moedertaal, O Soetste taal, Jou het ek bo alles lief."
 
Ons nessie is netjies geskrop vir die aand se kamp, maar die kampeerders is nog vuil…Van vanoggend af was daar slegs een geleentheid waar ek nie koud was nie, en dit was toe ons langs die “Pot & Plow” se kaggeltjie gesit en broei het. Dié is ook weer lank vergete en ek is koud. Dis nie dat ek soseer koud KRY nie, maar my liggaamstemperatuur is laag. Daardie diep koue wat nie sommer weggaan deur net ‘n ekstra baadjie aan te trek nie. Dit gaan beter met Carrie, want ek is nog heeldag lank haar windbreker, maar uit die fotos blyk dit dat sy ook nie noodwendig gestaan en WARMkry het nie…Haar baadjie is hoog toegerits en die Buff is steeds om haar nek.

En net toe val die voorstel wat ek gevrees het. “Nouja, laat ons swem!” Ek is nog altyd ‘n voorstaander van swem in riviere en rotspoele, veral tydens staproetes, maar voor ek my kon kry steier ek terug. Die verskonings loop glad uit my mond, maar geen hoeveelheid skop en kerm gaan die avontuurlustige meisie oortuig van my huidige sentimente nie. Ek gee oor.

Die water is yskoud, maar verfrissend - dit brand darem nie soos Weskuswater nie…Dis ‘n stadige, pynlike stappie oor die ronde gladde rivierklippe tot waar die water dieper is. Die ligte bewerigheid van koue, uitputting en tekort aan energie (ons het min geëet vandag!) help ook nie. Met ‘n brawe plons forseer ek my bolyf en kop onder die kristalwater in! Vir ‘n oomblik is alles beter, soos die skok my senuwees verdoof. Ons swem tot by die watervalletjie en ek was gou my lyf skoon terwyl ek nou in is. Dis nie lank nie of my lyf begin onbeheersd ruk. Dit was lekker, maar dis nou klaar. Ek mik kant toe en gly-gly weer teen die wal uit. Carrie lag maar net vir my.

Ek droog goed af, sit die boeretroos “aan het stook” en ruk-sukkel-trek om die ritssluiter van die tent oop te maak. Uiteindelik binne sit ek met die klam-voete-vassteek-penarie om in my slaapsak in te kom. Ek lê en wag vir die rukkings om te bedaar. Ek is stilweg dankbaar vir Carrie, want as mens nie hierdie geleenthede aangryp nie gaan hulle verby. Dis die skynbare "onnosele" goed wat die ervarings vasvang. Die ongewone goed wat na die tyd die stories inkleur!

‘n Paar minute later is die lewe terug in my vingers en die sterk reuk van koffie, gemeng met soet-skerp dennebos maak my hart warm. Dit was ‘n ongelooflike dag. Ons eet die koue oorskiet pizza, drink die warm moerkoffie…die lewe is ‘n lied en ons sing hom!

Ons is vroeg in die bed en ek slaap goed. Elke keer wat ek omdraai deur die nag hoor ek die druppels dans. Dit reën lekker daar buite, maar hier binne is dit snoesig droog.
 
Piet said:
Die “Pot ‘n Plow” is bekend vir die “beste pizzas in Limpopo” en is op Carrie se lysie (blykbaar is Una’s Pizza naby Nylstroom in ‘n naelskraap tweedeplek). Ons is honger en daar is nie hordes eetplekke in die omgewing nie, so ons besluit om middagete daar te gaan eet. Ek is hoeka lus om die kronkels van Magoebaskloof ook in die op-rigting te ry!

Die fotogeniese kleurskakerings van die plantasies en die inheemse bos langs die R71

DSC01900 by Piet.P, on Flickr

Die restaurantjie is versier met enigiets en alles: ou munte, buitelandse geldnote, fotos van perde-jagtogte en kuiers, landsvlae, Skotse en Ierse gedigte, leë drankbottels, ou alkohol advertensies en dies meer. Ons begin met ‘n warm koppie filterkoffie en geniet dit so baie dat ons sommer dadelik nog een bestel. Ons deel twee van hulle staatmaker-pizzas terwyl ons lekker langs die houtkaggel sit en opwarm! Die temperatuur buite is nie yskoud nie, maar ‘n hele oggend in die wind is genoeg om groot waardering te kweek vir die gesellige kaggelvuurtjie. Na die rekening vereffen is neem ons die oorblywende paar skyfies pizza saam om later te geniet.


DSC01912 by Piet.P, on Flickr

Oppad na die restaurant toe het ons verby ‘n lekker bospaadjie gery wat lei na die Debengenivalle. Ten spyte van die “geen motorfietse”-bordjie was ons eensgesind dat ons vanaand daar iewers wou slaap, maar eers wou ons die brandpaaie om die Ebenezerdam gaan verken.

Buite die restaurant is dit weer klam in die lug en ons trek weer die reënpakke aan – nie net vir die nat nie, maar ook as beskerming teen die modder. Dis toe al die pad terug Haenertsburg toe, waar ons gou proviand koop vir die res van die dag (en moreoggend) se omswerwinge by die kafeetjie: ‘n bottel water, ‘n boks beskuit, en ‘n bol wol (dit was die enigste touerige produk beskikbaar) om die tent se waterdigte seil weg te trek van die tent af. Ons albei het al die bloutjie geloop van ‘n seil wat raak aan die tent. Gisteraand se ligte reëntjie het nie deurgelek nie, maar enigiets harder en ons was nat.

Weer oppad, draai ons af op die R528 Tzaneen toe, en hou dan onmiddelik links teenaan die dam. Die paadjie is in 'n mooi toestand, maar hier en daar is modderpoele. In die middel van die laning groot bloekoms (in die foto heelonder) was daar ‘n groot modderpoel waar ek van die pad af en rondom gery het eerder as deur. Selfs langs die pad het ek lekker rondgegly! Later het daar ‘n deftig-geklede jong paartjie in ‘n Renault Clio van voor af verbygekom en gevra waar die Ebenezer seiljagklub is. Ons kon net verduidelik waar die dam is. Ek weet nie hoe hulle deur die modderpoel gekom het nie – dit was seker maar ‘n huurmotor. ;)


DSC01915 by Piet.P, on Flickr


DSC01918 by Piet.P, on Flickr

Jammer vir die hijack, maar ons het daai paadjie met die bloekoms ook gery so 3 weke gelede.  Dis baie nice daar.
 

Attachments

  • 25 - Copy.jpg
    25 - Copy.jpg
    126.3 KB
Baie mooi RR Piet.
Dit het baie lekker gelees.  :thumleft:
Hoop daar is gou weer ene van jou af.
 
Sondagoggend word ons wakker met voëlsang en ‘n paar versadigde afrol-druppels wat nog vanuit die naaldedak bo ons val. Die reën is verby. Ek stop nog ‘n handjievol moer in die Bialetti in en plaas hom versigtig bo die blou vlammetjie. Vanoggend voel ek beter. Ek is lus vir swem! Ons werk weer ons weg in die poel in. Dis maar weer ‘n kort affêre en ons is vinnig weer op die sagte bosvloer besig om swart koffie met Oumabeskuit te geniet. Daarna pak ons die oppak aan. Spoedig is die slaapsakke ingeprop, die matrasse opgerol en die tent afgeslaan. Ons betroubare vervoermiddel word weer gelaai en ons is reg vir nog ‘n lekker verkenningstog voor ons huiswaarts keer. Ons los die plek soos ons hom gekry het - behalwe vir die droë kolletjie dennenaalde reg in die middel van die Cul-de-sac.

Die Bialetti op die vlam met ons uitsig in die agtergrond

DSC01973 by Piet.P, on Flickr


DSC01984 by Piet.P, on Flickr

Buiten die holkol op my maag is ek lekker vars vanmore – my arms is weer lus vir stuur en die konsentrasie gaan weer makliker. Ook maar goed so, want as hierdie paaie gister erg was, is hulle vandag ‘n nagmerrie. Die aand se reën lê plasse in die pad en om elke draai lek die kleimodder sy lippe af om ons knieë en heupe en skouers te proe! Ons volg die pad terug soos ons ingekom het, verby Debengenivalle, want ons honger magies roep na die beroemde pannekoeke van Sandford Heights se teetuin. By die ingang sien ons ‘n Samango-aap. Volgens Carrie was hulle redelik skaars gewees in 2006 toe sy hier was en sy is baie in haar skik dat ons een gewaar. Ons kry ongelukkig nie veel van ‘n foto-geleentheid nie.


DSC01996 by Piet.P, on Flickr


DSC01997 by Piet.P, on Flickr

Die Samango-aap in die mik van 'n boom

DSC01998 by Piet.P, on Flickr

‘n Paar minute se gesukkel en gestoei later is ons terug by ons (platgeryde) R71. Ons neem ‘n foto om ons kattekwaad vas te vang: twee agtereenvolgende borde wat bevestig dat motorfietse (en kampering) nie toegelaat word nie. Stout…Stout. Ten minste het ons nie vuurgemaak nie!  ;)


DSC01999 by Piet.P, on Flickr
 
By Sandford Heights aangekom is my maag ordentlik aan die grom. Die hemelse reuke van verskeie meesterse soet- en soutdisse laat my maag sommer so twee keer draai en ek besef dat dit ‘n swaar gewag gaan wees vir die voorbereiding van die vars plaaskos. Ons het skaars gesit of my koffie en ontbyt is sommer so saam-saam met een klap bestel. By my wen die spek en eier die toutrek, want my soettand was nog nooit vreeslik groot nie - ek bestel ‘n groot tradisionele ontbyt. Die reuk-herroepte herinneringe van suikersoet konfytkeuses paai vir Carrie om die Franse-braaibrood te bestel – ook met ‘n koppie moerkoffie.

Terwyl ons wag vir ons feesmaal, kuier ons soos ou boesemvriende met die restaurant eienaar, sy vrou en twee van die gereelde besoekers wat ons nounet ontmoet het. Dis ook nie lank se wag nie of die kos is voor ons. Dit smaak vorentoe – net so lekker soos wat dit lyk en ruik! Gelukkig is daar heelwat roosterbrood wat saam met die ontbyt kom, so ek proe ook aan elkeen van die konfyte: bessie, kiewie en appelkoos! Die eienaar bring die spyskaarte terug met die smullekker pannekoekkeuses, maar ons wys sy aanbod van die hand met die belofte om eendag terug te keer om die beroemde pannekoeke te kom proe!” Ons het immers nog ver om te ry vandag! Na die rekening betaal is klim ons met goed-versadigde, lui lywe terug op die fiets.

Ons volgende beoogde stop is by Cheerio Kapel met sy pragtuine en hoë bome. On kies koers na regs, in Joubertskroon se rigting voor ons weer links draai tussen die denneplantasies in. Ons is nou op gister se bergfietsroete. Die paaie is uitgetrap en baie modderig. Die bande het tot dusvêr nie veel modder opgetel nie, te danke aan die hoë kompaksie van die vorige paaie, maar nou is dit ‘n ander storie. Binne ‘n japtrap is die motorfiets goed modderig. Die tweespoor paadjie waarop ons nou ry is nog gladder as vanoggend s’n! Carrie het ‘n kort video geneem (sommer met die selfoon) en in die ongeveer 30 sekondes wat sy afneem het die agterwiel twee keer so byna-byna onder ons uitgegly!


DSC02004 by Piet.P, on Flickr

Dit is toe ook hier waar my kamera se battery besluit hy het genoeg fotos vir een toer geneem, so ons skuif toe maar oor na my Blackberry toe. Verskoon dus maar die laaste paar fotos se swak kwaliteit…  

IMG-20131103-00347 by Piet.P, on Flickr  

[flash=400,300]https://www.flickr.com/apps/video/stewart.swf?v=140315] flashvars="intl_lang=en-us&photo_secret=e330860f1a&photo_id=12432449235" bgcolor="#000000" allowFullScreen="true"[/flash]

Verlig steek die KLR sy neus by die plantasie se einde uit. Hy het op sy voete gebly. My en Carrie se neuse volg spoedig daarna. Soos ons uitry maak die son ook vir die eerste keer die naweek sy verskyning! Ek sien uit die hoek van my oog ‘n waterpunt wat uitgemerk is vir die fietsryers die vorige dag: ‘n klein stroompie wat kronkel deur die bome. Ons stop om tande te borsel, waterbottels vol te maak en ons dorse te les.


IMG-20131103-00352 by Piet.P, on Flickr

Die pad loop uit in ‘n grondpadhoofweg en na ‘n paar kilometer draai ons skerp regs om Cheerio toe te gaan. Ons strek toe vinnig bene en loer wat te siene is. Met die hele pap-kamera-penarie het ongelukkig nie kiekies geneem nie, maar Cheerio se tuine is baie mooi. Dit is blykbaar ook ‘n gewilde trouplek. Ons lê so ‘n rukkie op ons rûe op die gras in die son en bak om die naweek lekker rustig af te sluit.
 
Die son trek water en ons het nog wyd om te ry! Dis nou al 14h00 en ons albei wil hê die naweek moet net nog so ‘n bietjie langer uithou en aanhou. Hy kan nie nou al ontsnap nie. Die realiteit van more se pligte vang op met Carrie en sy raak sommer bedroef. Ons beweeg terug Haenertsburg toe en staal ons vir die langpad terug.

Met aankoms op die dorpie vra Carrie of ons gou weer die begraafplaas kan gaan soek. Sy wil baie graag weer sien hoe dit van bo af lyk. Ek is huiwerig, want ek besef dat ons dinge alweer gaan fynsny met die lig. Ek merk op dat sy dit nodig het om nog so ‘n bietjie tyd in die wolke te spandeer, om die naweek nog so ‘n bietjie te verleng - en ek stem in. Ons rig ons weer tot die soektog - terug na die eerste paadjie wat ons Vrydagaand probeer het. Die teer loop skybaar dood en dan, na wat lyk soos die laaste huis se inrit, swaai daar ‘n baie smaller geteerde paadjie na regs af – ons het dit eergisteraand gemis! Ons volg die paadjie teen die steil heuwel uit en kort-voor-lank staan ons voor die begraafplaas se mure.


IMG-20131103-00355 by Piet.P, on Flickr 

Die uitsig van die begraafplaas is asemrowend. Ons drentel ‘n rukkie tussen grafte rond en Carrie vertel my van die verskillende familievanne waarmee sy te doen gekry het toe sy hier was. Na nog ‘n paar oomblikke in die skaduwee pak ons uiteindelik die terugtog aan.

Vrydagaand wou ek ingekom het met ‘n grondpaadjie wat bietjie suid van die R71 inkom so vanaf die suid-weste. Ek besluit om hom nou te probeer. Ons volg die paadjie tusen nog ‘n paar denneplantasies deur en neem afskeid van die mooi en die nat. Dan ry ons stadig deur ‘n nek en die word tot stilstand gedwing deur die uitsig. Majestieus. Die spyt slaan my oor my swak beplanning in terme van die kamera, maar ons maak die beste van ‘n slegte situasie en neem soveel as moontlik selfoonfotos.



IMG-20131103-357 by Piet.P, on Flickr
 
Jis Piet, dit voel of ek saam gery het want ek ken daai valleys so goed.  Die mense besef nie alaml regtig hoe mooi dit hier is nie.  As julle vlg keer weer kom en ander paaie wil ry skree maar gerus
 
Die pad terug was ‘n wilde een, met die son wat dreigend sak en moeë lywe. Daar is nie baie plek vir rondskuif op die saal as mens twee is en so volgepak is nie, so ons moes maar kort-kort stop om ‘n ruskans te vat.

Na ons deur die nekkie is wat ek hierbo na verwys, is dit asof mens deur ‘n dimensie-deur beweeg. Die landskappe verander drasties. Skielik is alles dor en droog. Die stof staan weer agter die motorfiets soos wat ek die Limpopo Provinsie gewoond is. Die grondpaadjie dra ons tot so 30km buite Haenertsburg voordat hy doodloop in ‘n T-aansluiting by die teerpad. Ons draai weer links waar ons Vrydag die hooflig ingestel het. Iets is anders – iemand het intussen die waarskuwingsbord uit sy fondasies uitgery.

Die langpad verveel weer spoedig. Iewers tussen Sejweng en Chuniespoort sê die GPS vir my dat ek kan afdraai na regs en die grondpaadjie volg. Hy sluit blykbaar daar voor weer aan by die teerpad. Ek kies koers die noorde in. Die pad loop eers deur ‘n woonbuurt en kronkel toe tussen duisende bierbotteltjies deur soos hy kleiner raak. Toe ek weer sien is ons net in ‘n droë rivierlopie, sonder enige spoor om te volg. Ons draai om - dit was ‘n lekker afwisseling, maar dit bly ‘n frustrasie om om te draai as jy weet die lang teerpad wag.

Paadjie wat later net ‘n droë lopie geword het

IMG-20131103-00364 by Piet.P, on Flickr

Ons stop vir skyfies en koeldrank op Lebowakgomo, en Carrie vra of daar nie ‘n interessanter pad is huistoe nie. Ek besef dat ek met die Olifantsrivier langs kan afry tot by Marble Hall en dan van daar af met die R33 deurskiet. Die pad blaas nie ons hare weg na die naweek se prag nie. Ons is bederf…Dis ‘n lang harde stoot tot in Marble Hall en daar aangekom hang die son toe ook aan sy laaste draadjie.

Carrie speel rond met die kamera (of selfoon  :p) uit verveeldheid langs die Olifantsrivier

IMG-20131103-00368 by Piet.P, on Flickr


IMG-20131103-00372 by Piet.P, on Flickr

Nylstroom was ons ook ewig ontwykend. Die 110km in die donker het verbygekruip met seer boude, ongemaklike bene en hordes insekte. Op 'n kol het daar 'n massiewe tor in my knie vasgevlieg. Die skietpyn het my weer goed wakker geruk!  ;D In my agterkop knaag die gedagte dat ek vanaand nog sal moet deurry Ellisras toe ook. Toe ons in Nylstroom inrol is ek stukkend. Ek gee die stryd gewonne en sê vir Carrie dat ek nie vanaand al Ellisras toe sal kan ry nie. Sy bieg dat sy oor dieselfde ding sit en dink het. Ons besluit om maar oor te slaap en moreoggend vroeg na die bestemmings toe te vertrek.

By die gastehuis reël ons met Blackie, die eienaar van Lekkerbly Gastehuis dat ons oorslaap. Hy verwelkom die idee, en hy weier om vergoeding te aanvaar! Ek het so half skuldig gevoel dat die man se hart so goed is, maar ek kan darem so ‘n bietjie vir hom adverteer…Gaan loer gerus - as jy ooit op Nylstroom (Modimolle) is en lêplek soek - die plek het alles wat mens in ‘n gastehuis nodig het en meer! Hulle pryse is ook baie billik…
https://www.kwathabeng.co.za/go/LekkerblyChaletGuestHouse.html

Vir aandete het ons onsself in die Spur gaan tuismaak, lekker geëet, en vir oulaas ‘n glasie geklink op ‘n baie suksesvolle toer! Ons het iets in die orde van 750km saam gedoen in twee en ‘n half dae (ek natuurlik 1050km in 3 dae). Dit was een van my lekkerste en mooiste toere tot op hede. Dankie Magoebaskloof!

:thumleft: :ricky:
 
Mooi geskryf Piet, het jou Ritverslag terdeë geniet en baie mooi foto's, selfs met die selfoon.  :thumleft:
 
Dit was nou n baie mooi Reis verslag in n baie mooi gedeelte van die land.
Dankie vir die deel en die baie mooi mooi foto's en skryf styl :thumleft:
 
Puik RR !

Dankie vir die deel Piet.

Groetnis,

Peter V
 
Baie mooi geskryf en jou fotos is ook baie mooi.

Dankie vir die deel  :thumleft:
 
Baie Baie mooi Piet , Mense dit was nou n Pragtige RR , wel gedaan julle , julle is regtig n insperasie vir ons jonger klomp :deal: :thumleft:
 
Top