Langebaan Ladismith blitsretoer

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Amos

Puppy
Joined
Feb 2, 2021
Messages
41
Reaction score
91
Bike
Honda CRF-250 Rally
Pa is moeilik. Hy wil weet waar is my toksak. Dis ‘n kritiese bagasiehouer vir ons eerste motorfietstog op sy splinternuwe BMW R80/7. Dis 1980, lank voor dinge soos “adventure bikes”, goeie motorfietsklere en bagasiestelsels. Sonder die toksak is ons beperkte pak opsies nog meer belemmer.

Ek dink terug aan daardie Apriloggend in 1980 terwyl ek my rugsakkie vasmaak op die rooi merrie (met apologie aan [member=15147]Armpie[/member], wie se rooi merrie sekerlik die oorspronklike een is). Ek en Pa het ons laaste motorfietstog saam gedoen in 1992, net voor diensplig. Hierdie is my eerste tog sedert daardie een en my eerste een alleen. O, die opwinding!

Nadat sy my woorde gegee het een Donderdagaand in Oktober, sê my vrou sy het die naweek spasie nodig. Sy gaan alleen Kaap toe. Bly kalm en hou jou kaarte teen jou bors. Karoo-roetes is al vele male bestudeer en die saadjie vir ‘n oorslaap is lankal geplant by my ou vriend op Ladismith, ook ‘n motorfietsryer. Hy gaan op ‘n kerkkamp wees buite die dorp maar dring daarop aan dat ek deurkom. Nou is ek in die onaanvegbare posisie dat ek na ‘n kerkkamp toe gaan.

Wydverspreide swaar reën oor die hele Wes-Kaap laat my sleg slaap Vrydagnag. Maar ek is vasberade om my eerste tog met die rooi merrie aan te pak en so ‘n goeie geleentheid gaan nie gou weer verbykom nie. Vroulief is effens oorbluf Saterdagoggend toe sy besef ek gaan haar spasie gee tot in die wye Karoo. Maar ek het my kaarte mos mooi gespeel en ek val in die pad net agter die laaste bui op ‘n sopnat pad.
 
In die jare verloop het ek ‘n paar trapfietstoere gedoen en uitgepluis wat werk vir my. My swerfrooster is op ‘n paar beginsels gebasseer. Eerstens, maksimum grondpad - voor die hand liggend vir lesers van hierdie kletswerf. Tweedens, as dit moet teerpad, die stilste een. Derdens, ek gaan dorp toe net vir brandstof. Ek het my eie padkos en water en stop eerder by ‘n mooi plek langs ‘n stil grondpad as in ‘n dorp ([member=13184]Noneking[/member] en die Laevelders se reël van geen etes by ‘n franchise restaurant op ‘n motorfietstoer is ‘n uitstekende een wat ek heelhartig onderskryf).

Die eerste twee beginsels is deels op aandrang van die rooi merrie, ‘n Honda CRF250 Rally. Honderd-en-twintig km/h op ‘n nasionale pad is nie haar natuurlike habitat nie. Maar selfs met ‘n ander fiets sou ek dit nie anders wou hê nie. Die ervaring van die landskap sonder ‘n motor se dak bo my kop is die primêre doelwit.

Daarom begin ek sommer met die pad deur die Weskuspark om die R27 te vermy. Ek is by die park se hek toe dit oopmaak en hou by die 50 km/h spoedgrens. Genoeg tyd om rustig te sit en dink, is jy seker jy gaan nou die 400 km ry tot in Ladismith? Doodseker. Alles blink en is vars en skoon na die reën. Dis nie koud nie, net lekker fris.

 

Attachments

  • HXV01819b.jpg
    HXV01819b.jpg
    349.6 KB
Ek neem die smal en stille weg na Malmesbury via Darling. Dan weer op die breë besige weg na die Paarl. Ek probeer kilometers in die bank kry vir meer tyd op die grondpaaie. In reënerige weer tel ek die pad op na Dutoitskloof. Die rooi merrie sal ek nooit deur die Hugenote tonnel probeer vat nie, sy sal viervoet vassteek.

En wat ‘n verassing lewer daardie ou hoofpad Kaap toe nie! My gedagtes gaan terug na die dae toe hierdie pas vir my die skeiding tussen Kaap en elders was. Ek en pa het in 1980 die Kaap hier verlaat laat die middag op pad terug na Pretoria. Ons het gestoot vir Touwsrivier, waar ons by familie oorgeslaap het. Die lug het al begin byt en tannie Bunny het vir ons die donskomberse uitgehaal. Ten spyte van Ouma se nuwe gebreide trui het ek vrek koud gekry oor die pas.

Vandag loop die watervalle in die pas soos ek dit nog nooit gesien het nie. Daar is dik mis by die top en later bietjie reën. Pa sou darem hierdie ryklere geniet het, ek ervaar nie die minste ongemak nie.
 

Attachments

  • HXV01822.JPG
    HXV01822.JPG
    789.6 KB
  • HXV01824.JPG
    HXV01824.JPG
    242.7 KB
Anderkant af loop die Molenaarsrivier oor sy walle. Hierdie water moet mos nog Breërivier toe, so ek berei my voor op ‘n oorstroomde laagwaterbrug naby Aan de Doorns. Ek wil ‘n grondpad deur die Ouhangsberge neem Robertson toe.

Net voor die rivier begin die grondpad. Daarshy nou! Ek is verbaas om te sien die brug is nog bo water, maar die vloei is sterk. Dis ‘n ideale stopplek vir ete en ek eet rustig my toebroodjies en gekookte eiers op die brug.
 

Attachments

  • HXV01832.JPG
    HXV01832.JPG
    840.5 KB
Drie kanovaarders kom verby. Hulle het spesiaal kom roei na die swaar reën. Dit lyk lekker, sê ek. Wat jy doen ook, se die eerste een. Blyk te wees hy ry ook motorfiets en ek roei ook. Hy reken die groot water is nog op pad.
 

Attachments

  • HXV01834.JPG
    HXV01834.JPG
    309.6 KB
Die grondpad oor die berg is lieflik. So ‘n afgeleë stukkie Karoo hier by die Breëriviervallei. Nie een voertuig gekry nie. Dit terwyl die Worcester Robertson pad altyd so druk is.
 

Attachments

  • HXV01841.JPG
    HXV01841.JPG
    326.1 KB
  • HXV01842.JPG
    HXV01842.JPG
    296.9 KB
By Robertson gooi ek petrol in en trek van my klere uit. Ek is nog onbekwaam met die klere, hoeveel jy moet aanhê of uittrek en wanneer.

Jaag Ashton toe (op rooi merrie standaarde) met die besige teerpad. Gelukkig is daar padwerke in Kogmanskloof en niemand kan jaag nie. Net na Montagu verlaat ek die teer as ek afdraai na Talana. (Wie was sy?) Dis die pad na Oubergpas.
 

Attachments

  • HXV01844.JPG
    HXV01844.JPG
    317.2 KB
Die pad kronkel deur die Langeberge se voetheuwels en daar is ‘n verassing om elke draai.
 

Attachments

  • HXV01849.JPG
    HXV01849.JPG
    292 KB
  • HXV01851.JPG
    HXV01851.JPG
    314.3 KB
  • HXV01846.JPG
    HXV01846.JPG
    298 KB
  • HXV01845.JPG
    HXV01845.JPG
    288.5 KB
Geleidelik klim ons totdat ons skerp na links draai, oor ‘n driffie gaan en dan die pas vat. Rustig teen lae toere klim ons tot bo. Ons is 1000m bo seespieël en hier bo lyk dinge heel anders; droër, meer uitgestrek, op ‘n plato.
 

Attachments

  • HXV01853.JPG
    HXV01853.JPG
    314.8 KB
‘n Jaggeselskap op ‘n bakkie, so hoort dit op ‘n Saterdagmiddag. Geen ander verkeer en ‘n fris wind in my blaaie. Salig.
 

Attachments

  • HXV01855.JPG
    HXV01855.JPG
    309.7 KB
Ek nader ‘n losstaande berg en besef dit moet Anysberg wees.
 

Attachments

  • HXV01856.JPG
    HXV01856.JPG
    318.2 KB
Vanaf die plato val die pad weg in ‘n diep vallei, uitgespoel deur afloopwater vanaf Anysberg. Onder in die vallei lê die pragtige plaas Sewefontein. Hier vat ek weer ‘n lang breek vir verversings.
 

Attachments

  • HXV01857.jpg
    HXV01857.jpg
    274.7 KB
Van hier af bly die pad tussen landerytjies en berge tot by die T-aansluiting na Ladismith of Laingsburg. Ek stop 4 uur by die kampterrein. Hierdie dag in die saal sal moeilik geklop word.

 
Sondagmôre 8 uur val ek in die pad nadat ek soos ‘n dooie geslaap het. Ek het beplan om vol te maak op Ladismith maar is nie lus om dorp toe te ry nie en besluit om ‘n kans te vat. Natuurlik mag ek nie dieselfde roete terug ry nie en ek mik vir Laingsburg.

‘n Paar heuwels op en af en dan kry ons hoogte met ‘n mooi klein passie genaamd Outolpas.
 

Attachments

  • HXV01871.JPG
    HXV01871.JPG
    297.7 KB
Klein Swartbergpas volg. Ek het nooit geweet die ikoon het ‘n kleiner boetie nie. Nie naastenby so imposant soos ouboet nie, maar tog. My eerste keer oor groot Swartbergpas was saam met pa op die R80/7 in 1992.
 

Attachments

  • HXV01873.JPG
    HXV01873.JPG
    300.3 KB
Op ‘n pragtige afgeleë hoë plato vat ek ‘n breek.
 

Attachments

  • HXV01876.JPG
    HXV01876.JPG
    289.7 KB
Voor die Vleiland Laingsburg T-aansluiting gaan ek deur ‘n mooi klofie wat tekens van goeie reën wys. ‘n Voorsmakie van dinge wat sou kom.
 

Attachments

  • HXV01877.JPG
    HXV01877.JPG
    298.1 KB
Op Laingsburg gooi ek petrol in en trek uit. Ek was verniet besorg oor die brandstof, die rooi merrie het ‘n verstommende 37 km/l behaal sedert Robertson. Die gunstige wind en stadige spoed moes baie gehelp het.

Nog ‘n beginsel van my manier op die wapad is ek ry op ‘n papierkaart. Ja, die GPS is daar en is aan, maar ek gebruik dit maar net om data in te samel of indien ek wil seker maak waar ek is op die papierkaart. Die beste kaarte in Suid-Afrika is Slingby s’n. Sy kaart wys ‘n pad parallel aan en noord van die N1. Na 600 m op die N1 in Laingsburg draai ek af daarheen. Dit is al wat ek op die N1 gery het. Dit moet een of ander rekord wees, waarop ek baie trots is, Laingsburg na Langebaan met net 0.6 km op die N1. Anders as ek en pa wat in daardie tog van ‘80, van Pretoria af vir ‘n Kaapse draai, lang ure op die N1 gery het. Daar het ek dinge geleer van toer met motorfiets wat ek nou nog onthou - die lang sit, met jou eie gedagtes, niemand wat jou kan hoor nie. Ek gesels met myself en sing vandag net so lekker soos wat ek daardie tyd op die N1 geleer het.

Die Slingsby pad is ‘n juweel. Dis ‘n plaaspad wat net deur plaaslike mense gebruik word en hulle is yl gesaai. Ek sien net twee plaaswerkers, by hul huis. Geen lyndrade nie en kort-kort ‘n hek wat moet oop- en toegemaak word. Gelukkig is nie een gesluit nie.
 

Attachments

  • HXV01882.JPG
    HXV01882.JPG
    283 KB
Top