Twee Gautengers toer af na die Suide

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Doringboom

Race Dog
Joined
Sep 14, 2006
Messages
610
Reaction score
0
Location
Pretoria
Bike
Suzuki DL 1000 V-Strom
Goeiedag almal,

Hierdie is my eerste Ride Report in ongeveer 6 jaar. Ek hoop nie ek stel teleur nie :biggrin: Ek wil nie baie praat nie - hier is baie kiekies om te kyk. Die kiekies is niks dramaties nie - geen stunt riding, grondkoop of sulke dinge nie. Geniet net saam met my 'n klompie mooi plekke in ons land wat ons besoek het - baie waarvan jy ook al by was of waaroor jy nog droom om by uit te kom.

Dag 1: Vrydag, 3 April 2015: Pretoria - Kroonstad - Bloemfontein - Petrusburg - Koffiefontein - Luckhoff - Vanderkloof dam - Orania

Ek en vriend Johan ("Jaycee" hier op die Forum - hy praat nie juis hier nie, hy kyk en lees net) is 07h00 gereed om te vertrek. Johan se beste neem 'n kiekie van ons.



Nadat ons 'n bietjie kilometers op die N1 agter die rug gesit het, maak ons ons eerste fotostop op Koffiefontein. Die ketel is koud, die tuit skink nie 'n druppel nie - op hierdie Goeie Vrydag gaan hier nie veel aan nie. So dan-en-wan kry ons 'n motreëntjie op die pad.



Oppad na Orania ry ons by die Vanderkloof (die ou P K le Roux) dam aan. Dis glo die dam met die hoogste wal in SA. Naas 'n paar ander besoekers gaan hier ook nie veel aan nie.



Ek wonder of ESKOM darem 'n hidro-elektriese kraggie van hier af inkry ???



Op Orania gaan heelwat meer aan. Daar is heelwat kampeerders by die Aan die Oewer Vakansieoord. Ons maak ons tente staan. Deur die nag reën dit kort-kort. Die volgende oggend het ons ook net-net 'n onderbreking in die reën gekry wat ons toegelaat het om ons goeters op te pak. Die tente moes maar so nat-nat ingepak word.



Dag 2: Orania - Hopetown - Strydenburg - Britstown - Victoria-Wes - Drie Susters - Beaufort-Wes

Die pad is sopnat tot 'n hele ent suid van Hopetown. Sagte reënbuie sak kort-kort uit. Later klaar dit redelik op, maar orals kon ons sien dat dit lekker gereën het - die pannetjies en gatdamme langs die pad is vol en die leegtetjies loop sommer lekker. Ons stop by die Kambro Padstal so 20 km van Britstown af.





Ons ry verder. Op Victoria-Wes stop ons 'n wyle om van ons reënklere uit te trek. Die piekaniene wat geld bedel "vir 'n broodjie" is lastig >:D Ons ry weer. Die N12 is verlate hier oor die middel van die Paasnaweek. Die andersins besige Ultra City by Drie Susters is ook doodstil. Ons klok in by die Wagon Wheel Country Lodge net voor mens Beaufort-Wes binnegaan. Die kampgeriewe is heel skaflik. So ook die restaurant en kroeg.





Dag 3: Beaufort-Wes - Klaarstroom - De Rust - Uniondale - Langkloof - Kareedouw

Nadat ons tente droog is, ons opgepak het en ontbyt by die restaurant geëet het, ry ons verder suid. Aanvanklik was dit so-te-sê wolkloos, maar ons sien dat die weer nog ander planne het. So 'n ent van Klaarstroom af, met die Swartberge voor ons, hou ons stil om warmer klere aan te trek. Voorkant toe lyk dit na reën en koue.





Ons gaan die mooie Meiringspoort deur die Swartberge binne en hou op die parkeerterrein by die waterval stil.



Oral langs die pad is die skade wat deur die onlangse oorstromings veroorsaak is sigbaar.



Ons stap die paadjie na die waterval. Die uitsig van hier af oor die pad deur die poort is baie mooi.







Na 'n stadige rit verder deur die baie draaie en swaaie van Meiringspoort ry ons tot op De Rust vir koek en koffie. Hiervandaan vat ons die mooi, stil pad tot op Uniondale. Oppad deur die Uniondale Poort in die rigting van die Langkloof sien ons dat dreigende grys wolke al digter-en-digter saampak. Van Joubertina af is dit sommer sopnat en ons klere begin ook later 'n ongemaklike klammigheid optel. Gelukkig is daar baie min verkeer op die pad. Op Kareedouw gooi ons anker en besluit ook dat tentslaap uit is vir die nag. Ons betrek 'n kamer in die Altelekker Akkommodasie.



Dag 4: Kareedouw - Knysna - George - Klein Brakrivier (Riverside karavaanpark)

Ons ry oor die berg van Kareedouw af in die rigting van die N2 om ons eerste blik op die see te kry. Die weer het oornag mooi opgeklaar en dit is lekker sonskyn. Ons stop by die Oude Bosch Plaasstal aan die oorkant van die N2 en ons sit aan vir koffie en skons vir ontbyt.



'n Ent nadat ons die Stormsrivier oorgesteek het, draai ons af op die Bloukrans pas pad. Vroeër was dit die alternatief vir die N2 tolpad verby Plettenbergbaai, maar dit is nou kamtig gesluit. Wel, "gesluit" in die Nuwe SA is ook maar 'n relatiewe begrip. As jy versigtig ry dan is die oostelike gedeelte van die pas heeltemal rybaar met 'n fiets of motorfiets wat nie 'n breë pad benodig nie en wat kan side-step vir klippe op die pad, gate, boomtakke, ens.



Dit is stil in die woud. Oral hang oumansbaarde aan die hoë bome.



'n Ent verder kruis ons weer 'n rivier waar die tekens van 'n onlangse vloed nog baie duidelik is: Die brug se relings is hoog gepak met opdrifsels en die nabygeleë piekniekterrein is erg verspoel. Intussen kry ons heelwat ander voertuie wat die pas van die meer rybare, westelike kant af binnegekom het.







Die water van die rivier is donker gekleur. Dit lyk soos tee ;D



Ons draai van die N2 af en ry Knysna binne. Ek ry voor en volg die pad na die Knysna Heads. Eers gaan ons teen die steilte uit tot bo waar 'n uitkykpunt oor die Heads is, met die Knysna strandmeer na regs en die oop see na links. Nadat ons ons kyke gekyk het, ry ons weer die steil afdraende af tot by die restaurant hier regs onder op die eerste foto. Magtag, hulle pizzas is lekker!







Ons ry verder met die N2. By 'n uitkykpunt langs die pad duskant George stop ons waar 'n mens hierdie toneel kan aanskou: Wilderness se strand en die branders van die groot blou dam - pragtig!



Ons draai van die N2 af by Klein Brakrivier en ry ietwat die binneland in tot by die Riverside karavaanpark. Wat 'n mooi en salige plek om by uit te span :thumleft:





Dag 5: Riverside karavaanpark - Tergniet - George - Oudtshoorn - Calitzdorp - Ladismith (Koedoeskloof Country Lodge)

Soos dit maar gaan in die oggende, is ons tente sopnat gedou. Ons kom dus nooit voor 10h00 weg nie, want ons wag maar eers vir die son om alles droog te brand. Maar wie is nou in elk geval gepla met tyd - ons is op vakansie en geniet elke oomblik. Ons het ook geen bespreking of afspraak waaragter ons moet aanjaag nie.





Ons ry met die ou pad tussen Mosselbaai en George en draai by Tergniet in. Ons gaan drink eers 'n teetjie by Gert en Hettie - ou kennisse van my en ou Pretorianers wat nie meer na Gauteng terug verlang nie :laughing4:



Later in George is dit dieselfde storie: Ons kuier by die Esterhuizens - oud voetslaanklub vriende van beide my en Johan wat ook nie na Gauteng terug verlang nie. Ons kuier rek lank uit en ek hou later die horlosie dop. Ons moet nog voor donker by Veldtie se Koedoeskloof inklok :eek:



Om 16h20 trek ons in George weg. Ons moet nog oor die Outeniqua pas, en dan deur die KKNK-verkeer van Oudtshoorn en dan weswaarts teen die son tot in Ladismith! Ja, die son was sleg in ons oë. Ek moet bieg dat ek nie Roete 62 vanaf Oudtshoorn tot in Ladismith geniet het soos wat dit geniet behoort te word nie. Net na 18h00 bel ek vir Veldblom vanuit Ladismith om te hoor of daar vir ons tente 'n staanplekkie by hulle is en om seker te maak van hoe om tot by Koedoeskloof te ry. Die antwoord is "Ja, julle is welkom, ry net so en so en so, dan is julle hier".

Forumlede Veldbrand en Veldblom se Koedoeskloof is inderdaad die juweel-bestemming van motorfietsryers (veral die stofpadryers) in die Klein-Karoo :thumleft:







(Vervolg hieronder)
 
(Vervolg van hierbo)

Dag 6: Koedoeskloof - Laingsburg

Ons het lekker geslaap. Ons hang ons tente uit om droog te raak.



Hier by hierdie tafeltjies nuttig ons Veldblom se lekker ontbyt terwyl mens in die verte in tuur en na die ander motorfietsryer-gaste se stories luister.



Is dit nou nie die ene rustigheid nie?



Johan sien hierdie interessante gids op die tank bag van een van die motorfietse wat by Koedoeskloof geparkeer staan.



Ons het vandag nie ver om te ry nie - net tot op Laingsburg, waar ons die enigste akkommodasie bespreking en as't ware 'n afspraak ook het. Op Veldbrand se aanbeveling ry ons 'n entjie terug op ons spoor van die vorige dag en ons vat die grondpad deur Seweweekspoort. Die Poort het nie lank gelede nie sleg gebrand en die plantegroei is nie van die groenste wat daar is nie. Maar ons glo dat dit gou weer sal herstel - gee net kans tot die eerste reëns geval het.





Verder oppad na Laingsburg ry ons ook op Veldbrand se aanbeveling die pad oor Rouxpos. Johan met sy Transalp ry voor op die grondpaaie. Ek en die Strompie ry agter, 'n bietjie stadiger en versigtiger en ek stop darem ook so af-en-toe vir 'n kiekie :ricky:





Ons is net na 14h00 op Laingsburg. Die tente bly ingepak en ek en Johan span 'n bietjie in styl in 'n gastehuis uit.



Ons kuier by Francois en sy vrou die namiddag en die aand. Francois was van Sub A tot Matriek saam met my op skool op Upington. Hulle is die eienaars van 'n gastehuis net oorkant die pad van waar ons tuis is.



Dag 7: Laingsburg - Touwsrivier - Montagu - Barrydale - Suurbraak - Swellendam

Steeds op Veldbrand se aanbeveling (en ook die van Oupa Fourie) ry ons weer 'n entjie terug op ons spoor van die vorige dag en ons vat die Witteberge grondpad wat min-of-meer parallel met die N1 loop in Touwsrivier se rigting. Dit is inderdaad 'n heerlike pad om te ry. So hier-en-daar is 'n driffie, dippie of motorhek waarvoor jou naderspoed liefs nie te woes moet wees nie, maar andersins is dit 'n baie ontspanne rit op 'n pad sonder enige verkeer, verby enkele plaasopstalle, boorde, landerye en deur oop veld :ricky:





Johan wag my in waar die pad weer by die N1 aansluit, kortby Konstabel stasie.



Anderkant Touwsrivier draai ons van die N1 af en ry deur die Koo vallei tot in Montagu en vandaar weer met Roete 62 tot in Barrydale. Dis warm en die son brand behoorlik. Ons stop by die Country Pumpkin. Hier word alle motorfietsryers wat aansit vir iets te ete begroet met 'n gratis glasie sjerrie. As jy koffie bestel dan is dit ook op die huis :thumleft:



Vanaf Barrydale ry ons in die laatmiddagson oor die Tradouwpas en deur Suurbraak tot in Swellendam. Ons slaan ons tente op in die Munisipale Karavaanpark in die dorp. Die geriewe is heel op standaard. Die aand stap ons die dorp in om oorkant die NG Kerk in die hoofstraat lekker by 'n restaurant te gaan aansit.



Dag 8: Swellendam - Caledon - Stanford - Hermanus - Kleinmond - Rooiels - Kogelbaai

Ons vertrek met die N2 vanuit Swellendam. Ons eet ontbyt by 'n plekkie in Riviersonderend. Ons ry verder tot op Caledon. Hier kuier ons lekker by John, ook 'n oud voetslaner vriend van ons wat Gauteng vir Caledon verruil het.



Vanaf Caledon ry ons weer in die see se rigting, juis om met die kuspad deur Hermanus en Kleinmond en verby al die ander mooi plekke kuslangs te ry. In Hermanus kry ek glad 'n stadsgevoel met die verkeer wat ons daar beleef :( Oppad uit Hermanus is dit die ene winkels, mallss en bedrywigheid wat my aan Zambezi Rylaan in Pretoria laat dink ;D Ons ry by die Strauss'e (oud-Upingtonners) in Onrusrivier aan. Na 'n uur of wat se lekker gesels en koffie en beskuit ry ons weer verder. In die laatmiddagson slaan ons ons tente op in die Kogelbaai Natuurreservaat se karavaanpark, net af van die kuspad tussen Rooiels en Gordonsbaai en vlak langs die see. Die storte het net koue water :xxbah:





Dag 9: Kogelbaai - Gordonsbaai - Strand - Somerset-Wes - Stellenbosch - Paarl - Wellington - Tulbach - Ceres

Die nag het ek nie juis veel geslaap nie. Ek is seker nie die konstante geluid van brekende branders gewoond nie. Toe ons vroeg die oggend by ons tente uitloer toe is die wêreld toe onder die mis.



Dit was ook nie lank nie of die spannetjie wat die asdromme kom leegmaak is op die toneel :biggrin: Ons moes vir 'n hele tyd lank wagstaan by ons tente, want die bliksems kan sommer jou tent ook vir jou leegmaak as jy hulle 'n halwe kans gee!



Geleidelik kry die son die oorhand oor die mistigheid - en ons tente kon ook weer droog raak.







Ons het skaars vertrek of ek stop weer langs die pad. 'n Toneel soos hierdie moet mens darem 'n kiekie van neem :thumleft:





Ons eet ontbyt by die Spur op die Kuspad sirkel in die Strand. Van hier af volg ons die natuurlike verloop van die Strand - Somerset-Wes pad, al verder weg van die see af die binneland in. Dit is warm en die son brand. In Wellington stop ons by die Pick 'n Pay om koeldrank te koop. Ons ry verder oor die Baineskloof pas in Ceres se rigting. Ons stop by die hoogste uitkykpunt vir 'n laaste blik in die rigting van Wellington en die Paarl.





Ons eet en drink iets in Tulbach. Ten spyte van ons eie internet navorsing, die kennis en hulp van die kelnerin, verdere navraag by 'n Bush Pub en 'n vrugtelose rondry en gesoek tussen die Winterhoek berge se boorde blyk dit dat Tulbach 'n baie koue skouer vir die kampeerder-besoeker het :xxbah: Ons besluit in die laatmiddag om ons rug op Tulbach te keer en Ceres toe te ry.

Dis seker nie nodig om te sê dat Ceres 'n baie boomryke Munisipale karavaanpark het nie. Ons maak ons tente staan net voor donkerte op ons toesak. Omdat ons na-ure opgedaag het kon ons nie sleutels kry vir die ablusieblok nie. Ons enigste opsie vir 'n stort was die koue storte by die swembad :mad:







Dag 10: Ceres - Gouda - Porterville - Citrusdal - Clanwilliam - Vanrhynsdorp - Nieuwoudtville - Calvinia

Tydens sy vroeg-oggend verkenning van die karavaanpark bemerk Johan hierdie mooi weerkaatsingstoneel 8)



Na ontbyt by die Wimpy vat ons weer die pad terug oor die Michell's pas van die vorige dag. Ons hou reguit weswaarts tot by die N7, verby Gouda se swetterjoel windturbines waarvan nie 'n enkele een se lemme draai nie.

Vandag, 12 April 2015, is dit Johan se 67ste verjaardag :eek:ccasion13: Ons hou op Piekenierskloof pas stil by die Kardoesie padstal. Ons moet darem êrens die ryery onderbreek om die geleentheid te vier.



Van waar ons sit is daar vir oulaas 'n stukkie van die Swartland in die verte te sien.



Ons rit tot op Calvinia verloop sonder enige noemenswaardige opwinding. Dit is snikheet in die Olifantsrivier vallei. Toe ons vanaf die petrolpomp by die Clanwilliam dam vertrek toe wys die Strompie se temperatuurmeter 38 grade :eek: Op Calvinia slaan ons vir die laaste keer saam ons tente op in die karavaanpark in die middedorp. Môre dan skei ons paaie. Johan gaan ooswaarts ry oor Williston en so weer op sy eie sy weg vind tot terug in Pretoria. Ek gaan noord draai oor Brandvlei en Kenhardt tot in Upington, waar ek vir 'n paar dae by my familie wil kuier. Ek beplan om weer op Sondag die 19de April terug te wees in Pretoria. Die aand vier ons weer Johan se verjaardag verder met 'n lekker ete en 'n koue bier of twee by die Calvinia Hotel :eek:ccasion14:

Dag 11: Calvinia - ons elk in ons eie rigting van hier af

Die grond was maar hard (vir 'n tentpen om in te gaan) en die storte was warm. Die eienaar van die karavaanpark (Leon) is 'n gawe man en hy het ons baie welkom laat voel :thumleft:





So 'n laaste bonus fototjie van my solo rit tot op Upington: Oma Miemie's se lekker padstal in Kenhardt.



Baie dankie aan elkeen vir die lees en kiekies kyk tot by hierdie punt :sip: Ek hoop nie ek was vervelend nie.

Groete

Doringboom
 
Lekker lang en mooi roete daai Doringboom :thumleft:

Daai V-Strom en Transalp is darem maar lekker fietse vir so n rit.

Bly julle het dit geniet en dankie vir die deel en die mooi fotos.
 
Dankie vir die RR, dit is darem maar lekker om die lang pad te vat. Ons bly voorwaar in 'n mooi land, al is daar so baie issues.
 
Dankie vir die deel!

ek dink ek moet eendag vir my n bike daar in die noorde gaan koop sodat ek met julle nice roete kan terugry  :thumleft:
 
Ai lekker om so te kan ry!  Dankie vir die deel
 
Thank you for sharing. Good balance of pics versus writing.  Looks like you had a great ride. Well done on a good ride report :thumleft:
 
Baie lekker saam getoer - baie dankie!  :thumleft:

Wat 'n lekker manier om te verjaar!  :thumleft:
 
Baie dankie aan almal vir julle mooi woorde :thumleft: Ek is bly julle het dit geniet.
 
Top