As mens jonk is, is die wêreld ’n baie groot plek, vol avontuur, opwinding en nuwighede. Namate ons ouer raak, krimp hy al meer tot hy naderhand soos ’n bekende agterwerf word waar gevee, natgelei en tee gedrink word; als bekend en mak. Sy tande getrek en kloue afgestomp. Hy smaak dalk meer na slap pap as na biltong wat self gedroog is.
’n Man veral, is geskape om, wel, mansgoed te doen. Nie om agter ’n rekenaar te sit of in a winkelsentrum rond te dwaal agter naskeermiddel nie. Rugby op die TV kyk terwyl jou vrou vir jou elke nou en dan ’n bier en ’n handvol chillie bites in die hand druk is ook nie mansgoed nie. Ons is bedraad om daai bier se spoor te sny en dan met een spiesgooi te dood sodat die res van ons stam vir die volgende paar dae kan eet (of drink).
Die veld en die ooptes is ’n uitdaging en ’n avontuur, die sitkamer en kantoor nie so erg nie.
Nouja, so vaar ek die vlaktes in. Opsoek na iets wat ek eintlik nie mooi neergepen kry nie maar wat ek gans en al té min van kry in my alledaagse lewe.
Nuwe ervarings, nuwe paaie, nuwe mense, dalk ’n papwiel of ander teëspoed wat my weer sal rek. Dinge wat ’n man weer diep laat asemhaal en besef dat die lewe oor baie meer gaan as dít wat ons elke dag ervaar (of verduur).
Op dié vlakte kan enigiets gebeur.