Dag 2 Deel 2 - Middelpos na Fraserburg
Ek ry uit Middelpos uit en draai regs om aan te sluit by die Calvina-Sutherland pad, rigting Sutherland. Daar kom 'n wit bakkie van Sutherland rigting in gewarrel, gevolg deur 'n dik bondel stof - die eerste en laaste voertuig wat ek sien vir 'n paar kilometers. Sowat 15km buite die dorp is die padbord net waar my bronne gesê het dit sou wees, en ek swenk versigtig links, rigting Williston.
Dit is nie gou nie, of ek laat my verlei om 'n verkeerde pad te vat. My instink was korrek - ek het regs gemik - maar het my bedink omdat die bord nie gesê het "Fraserburg" nie, en laaste wat my swaer benadruk het, is dat ek moet aanhou rigting Williston. So Williston, hier kom ek!
Een brug te vêr... blykbaar moes ek nie hierdie brug gekruis het nie. Maar hier is ek nou!
Laaste teken van water:
Waar ek moes regs draai na Sutherland toe, het ek verkeerdelik links gehou na Williston. Gelukkig vir my het hierdie pad ook 'n afdraai Fraserburg toe parallel met die pad wat ek gemik het om te vat, anders was dit 'n baie langer draai al die pad tot in Williston. My totale geskatte afstand vir die dag was ver onder my langafstand tenk se rykwydte so ek sou dit met gemak gehaal het, iedere geval, so ek was rustig.
Die dag is lieflik vir ry. 'n Koue front is voorspel, en die hoogste temperatuur aangedui is 24C. Dit is waarskynlik 'n bietjie warmer, maar daar waai deurentyd 'n koel luggie gewaai en ek kry nie baie warm nie. Ek teug ook gereeld aan my watersak, wat Johann so gaaf was om met yskaswater vol te maak die oggend toe hy sien ek koop 2 x 500ml gebottelde water om in te gooi.
Die pad is in 'n redelike toestand, en ek handhaaf 'n goeie spoed. My motorfiets loop soos 'n goed opgepaste diesel trokkie en klink soos 'n enkelprop vliegtuig. Die pad lê lui uitgestrek oor die vlaktes en heuweltjies, gierig dat ek sy kurwes moet kom kielie.
Daar is ook ander gediertes in die pad. Hier styg 'n valk op, wat in die pad gesit het, na die regterkant:
Maar dan gooi hierdie einste uitlokkende pad vir my 'n wakkermakertjie. Met die onlangse reën in die geweste het die los grond die geleentheid gegryp om 'n gemakliker lêplek te gaan soek, en soos 'n moeg gewynde sommer wydsbeen in die pad gaan lê. Toe ek weer sien lê hier twee lekker sandknikke waarop ek teen 80kph afsnel.
Gelukkig staan ek reeds, iets wat soms gebeur. My dunderm en uitgangspunt sluit spasties in voorbereiding op die voorgenome skok van bloedverlies. Ek draai die versneller toe asof ek 'n hoender nek-af draai, maar durf nie aan enige van die remme raak nie. Ek glip so stil soos 'n spook af op die knikke en rol dan oor hulle - EEN ... TWEE - en voel hoe eers die agterkant en dan die voorkant soos 'n baldadige tolletjie bokspring.
O..... TOFFIE
Bokspring
Hoër!
Wanneer die voorwiel weer grond vat, vind dit sagte sand en "Gent" gooi die mees grasieuse "tank slapper" in die geskiedenis van motorfietsry: links... regs... links... regs... terwyl ek bid en probeer om nie krampagtig aan die handvatsels te klem nie.
Swenk:
Swenk nog meer:
"Gentleman" ruk homself eindelik reg en kies 'n reguit lyn, en ons rol vort terwyl ek, bewend van adrenalien, vurige dankgebede opstuur.
Die pad voel besonder lank, langer as beplan, en ek verwag om enige oomblik Williston in die verte te sien. Maar dan sien ek dankbaar hierdie bordjie - nog 'n afdraai wat ek amper mis.
Ek is nie lief vir veldtoilet nie, en sal eerder ysere wilskrag inspan as om in die veld water te laat (ek werk nog aan die vermoë om water intern te hersirkuleer). Die beslommernis van 'n onbuigbare rybroek afstoei tot net onder die heupe - dit weier om verder te sak - en natgeswete klere van 'n taai klewende vel af te rem, vir die moontlikheid van 'n paar spatsels op jou ryskoene - ek gril my in 'n ander bloedgroep in - of, nog erger, iemand wat jou met ongesonbruinde parte ontbloot uitvang, is genoeg om my harder te laat knyp.
Maar na 'n onbeplande weeklange besoek aan die hospitaal weens nierpypontsteking, en omdat die borde geen afstande aandui nie, en omdat ek alleen in die geweste is, besluit ek dit moet maar. Ek het 'n strategie bedink en besluit om dit in werking te stel. Ek maak die "Gent" staan en stap rond op soek na 'n lokasie wat my strategie sal akkommodeer, en vind dit dan ook in 'n water of spruit afloop. Maar dit is nie al wat ek vind nie en ek heroorweeg amper my besluit.
Maar die hospitaalbesoek lê swaar op my gedagtes, en ek besluit om deur te druk. Dit is dan ook natuurlik Murphy se Wet dat, net toe al die klewende klere uiteindelik slap om my knieë hang, 'n bakkie vol plaaswerkers asmaties verby snor. Ek rem nog vervaard, toe trek hulle al op die horison. Genadiglik sien hulle my nie raak nie, en ek handel vinnig maar ongehinderd my besigheid af.
Dan is dit die laaste been na die dag se bestemming - 'n paar kilometer duskant Fraserburg - en ek durf dit met 'n ligte blaas en 'n dankbare hart aan.