Dag 6 Deel 2 - Fraserburg na Klaarstroom
By Leeu Gamka swenk ek regs op die N1. Daar is gelukkig nie baie verkeer nie, en ek het nie vêr om te gaan nie. Sowat 11 km verder, draai ek links by Kruidfontein waar die R353 reguit oor die vlaktes skiet in Prins Albert se rigting. Daar is weer min verkeer, en ek ry heerlik. Dit raak nou warmer, maar met die koel briesie is dit nie onuithoubaar nie.
Dan, te vinnig, is ek by Prins Albert.
Ek ry deur die dorp en dit is baie warm en tyd vir middagete, maar ek kan nie besluit waar om te stop nie. Voor al die koffiewinkels en restourante staan BMW motorfietse, wat my laat besluit om eerder verder te ry. Ek het niks teen enige motorfietshandelsnaam nie, maar weet al uit ontmoedigende ondervinding dat as iemand nie my vriendelike wuif of kopknik beantwoord nie, is dit gewoonlik 'n BMW ryer.
Ek sal maklik met 'n ander motorfietsryer 'n geselsie probeer aanknoop, maar die groot meneer motorfiets ryers is stug en terughoudend - my indruk is my spontaneïteit is nie welkom nie, en hulle kyk neer op my en die "Gent". Dit kan wees dat hulle net lugtig is vir 'n vrou wat dalk te vriendelik voorkom en my motiewe wantrou. Of dalk is dit moeilik om my ernstig op te neem - ek staan minder as 1,65m in my sokkies, en die "Gent" is kniehoogte teen enige groot motorfiets.
Ek ry verby 'n koffiewinkel met 'n Super Ten 1200 voor hom en draai in, maar bedink my weer. My bonsai motorfietsie teen daardie "behemoth"... dis soos 'n gemotoriseerde kaskar teen 'n Landrover, amper nie vergelykbaar nie. My moed begewe my. Ek draai skugter in die pad in, gee gas en ry deur Prins Albert om by Klaarstroom uit te kom, waar ek gereël het om te oornag.
Terwyl ek hier staan en foto's neem, kom daar 'n paar groepe gemengde motorfietse verby, uit altwee rigtings, en amper elkeen wuif of kopknik beleefd vir my, tot die BMW ryers! ... Net om my groot meneer indrukke verkeerd te bewys... !
Laaste stukkie grondpad vir die dag - die paadjie wat in Klaarstroom indraai
By die Klaarstroom Gastehuis word ek vriendelik ontvang deur Sharon en Jeremy. Dit is die derde keer in twee jaar wat ek by hulle oorbly, en ek kan getuig van gasvryheid, vriendelikheid en baie goeie kos! Ek voel al soos familie hier. Hulle het 'n pragtige groot ou huis omskep, met krakende houtplankvloere, groot kamers en hoë plafonne. Daar is selfs 'n swembad! Dit is net na 14:00 en ek kan nou ontspan, en ek laat weet die familie dat ek veilig aangekom het.
Daar wag 'n boodskap om 'n verdere spyker in te slaan in die doodskis van my BMW (wan?)indrukke. Vriende van my, [member=23713]Rouxman[/member] en kie, op hulle BMW X-Challenge en BMW F650GS onderskeidelik, was besig om middagete te geniet in die Prins Albert hotel toe ek soos 'n pers brommer verbybommel. Hulle is op pad vanaf Gamkaskloof na Sutherland toe, in die teenoorgestelde rigting as wat ek ry, en het beplan om die aand by vriende in Prins Albert oorslaap. Hulle is teleurgesteld dat ek nie gestop het nie. Dit sal my leer om BMWs op hulle blou bakentjies te takseer.
Jeremy braai vleis vir die groep mense wat daar bly. Ons sit om die kombuistafel en drink wyn en gesels soos ou bekendes. Tienuur se kant gaan val ek die kooi aan, reg vir 'n goeie nag se slaap, veilig in die wete dat al kom daar 'n miljoen muskiete, nie een aan my sal proe nie. Dalk die Castrol Activo wat deur my are vloei. Ek sluit die deur, sit my goed reg, borsel tande en gaan klim in die bed met die tablet om vir oulaas op te vang met die Honde. Die ander gaste saag al balke na die lekker rooiwyn, en die huis is doodstil.
Skielik ratel die kamerdeur se lae deurknop dringend in die doodse stilte, en my hart gaan staan. Visioene van 'n moordenaar met 'n mes omhoog á la "Psycho" vliet deur my gedagtes, en ek skiet 'n dankgebedjie op dat ek die deur gesluit het. Die deurknop ratel weer aggressief, gevolg deur 'n lae klaende kreet van "meeeeeeaaaaauuuuw", en my hart begin weer stadig en met mening teen my ribbes te hamer wanneer ek besef dit is 'n kat wat wil inkom.
Ek sluit die kamerdeur oop en 'n kleinerige swart katjie met wit vlekke marsjeer by my verby. Sy kom vly haar teen my aan wanneer ek in die bed terugklim. Ek streel haar lyf en krap haar maag, en sy spin hard en uitbundig, totdat ek onwetend haar moordknoppie aktiveer. Sy slaan tande en kloue in my linkerpols in en geskok gryp ek haar aan die nek en probeer haar afrem, maar sy klou verbete soos 'n rotsklimmer wat onderstebo aan 'n rotswand hang.
Uiteindelik kry ek haar los en gaan was die sypelende bloed van my pols af, oortuig dat sy vervaard by die kamervenster gaan uitvlieg. Inteendeel maak sy haar heel rustig weer styf teen my tuis wanneer ek terugklim in die bed. Ek kyk haar meewarig aan, en hou my hande onder die donskombers. Sy slaap die hele nag styf teen my opgekrul, en staan eers in die vroeë oggendure op met 'n eis om by die kamerdeur uitgelaat te word, asof die oop kamervenster nie bestaan nie.