Right. Soos ek gesê het, ek's veilig deur die Moordenaars Karoo en nou net voor Sutherland draai ek af Tankwa se kant toe. Dis nog sowat 120km tot in Middelpos. Kom ons gaan kyk eers hoe lyk Oubergpas. Hierdie pas is deur die pioniersboere gebruik as een van die eerste twee toegangsweë na die Roggeveld en later die dorp Sutherland. Ossewaens was die enigste vervoermiddel. Die pas is vir meer as 80 jaar slegs as trekroete vir skape gebruik.
As skape en ossewaens hier kan loop, dan kan my "braaistand" ook! Onlangs gehoor dis die bynaam van hierdie pragtige masjien waarmee ek en soveel ander ondekkingsreisigers ry.
Hier is ons nou.
Dis verskriklik hoog. Ek reken as jy hier afdonner val jy tot oormôre toe.
Dis lekker steil! Ek sit die bike in 1ste en skakel hom af. Tyd vir n' foto. Dis te steil en 1ste rat hou die bike nie bo nie. No problem! Regtervoet op die agterbriek en kliek-kliek. Nice foto.
O shit! Daar val my handskoen.
Dit kos my hoeveel meters verder ry om 'n minder steil plek te kry om die bike op sy stand te kan sit sodat ek die handskoen kan gaan optel. Kyk mooi. Doer onder staan die bike. Lyk amper niks groter as 'n klip nie. Uitasem! Ek moet ophou rook of ophou loop!
Ek ry verder. Wat 'n uitsig. Nou onthou ek ook weer wat ek hier soek.
Nog 'n gepompery. Kyk die mooi agtergrond.
Hierdie een was 'n modderige spul. Jy kruis hom soos ons geleer was. Staan op, bid en kyk of jy droog is!
Hier Kom die Tankwa!
Wie sê daar is nie blomme in die winter nie. Ek is seker ek het al vroeër genoem hoe koud dit is.
Na sowat 50km kom ek by die ontvangskantoor aan. Daar is oral borde langs die pad wat sê jy MOET daar aanmeld. OK. Nou verstaan ek. Dis om R20 te betaal. Toe hulle my sien bied hulle dadelik vir my badkamergeriewe aan (nie toiletgeriewe nie). Ek het die een lanie hoor fluister: "...kan een mens so terug lyk". Weet nie wat sy probleem is nie. Ek het dan vanoggend gestort.
Nou weer verder Middelpos toe. Ek moet oor daai berge doer voor.
Hiers hy nou. Gannagapas!. Ek kan nie wag nie. Gannagapas is 6km lank met die mooiste uitsig oor die Tankwa Karoo.
Hier het ek letterlik afgepie amper onder op die pad waarmee ek opgekom het. Die pad het 'n kleierige basis. Ek dink dit kan sports wees as hy nat is!
En ek is bo!
Hierdie is afgetrede pompers.
Uiteindelik in Middelpos! Dis baie laat die middag. Middelpos is vandag een van slegs 'n paar dorpe in Suid-Afrika in privaat besit. Die graf van Daniël Thomlinson, die 1ste eienaar in 1853 is sigbaar by die ingang van die dorp. (Vir my het die dorp meer na 'n plaas gelyk maar nou ja).
Daar is 'n klein hotelletjie, 'n klein poskantoor en 'n winkeltjie ....... maar geen mense nie. Uiteindelik kom 'n jong meisie aangestap. Halo, sê ek. Kan ek hier kamp. Ja, sê sy. My ma is net in die winkel. Het julle vleis?, vra ek. Nee, sê sy. Is hierdie 'n geniune hotel?, vra ek. Jip. Kan ek dan in die hotel slaap vanaand? Jip, sê sy. My ma kom nou.
Sout van die aarde. Antwoord jou kort en kragtig op wat jy vra. Praat nie soveel strond soos ons hier in Gauteng nie.
Hiers die poskantoor.
Hiers my kampplek. Bike-ry is nie vir sussies nie.
Ek was die enigste vreemdeling in die hotel / dorp / plaas. Ek vra die jonge dame toe waar die kroeg is. Sy reken toe sy sal haar broer roep. Die broer vra my toe hy reken ek soek iets om te drink. Ek knik my kop. Hy vra toe wat ek soek want hy gaan nie die heeltyd daar sit nie? WTF. Uitgesort.
GOOD NIGHT! Dag 2 agter die rug. Afstand 297km.