Die grondpad het n gruismiddelmannetjie bygekry met 4 spore waarvan mens kon kies. Die padoppervlakte was goed en die uitsigte het mens tot stiltetyd gelei. Hoe verder ons gery het, hoe warmer het ek begin kry. En ja, ons altwee was nog steeds aan die snuiwe! Later het ek gestop om my reenbaadtjie uit te trek. Mens wil nou ook nie kuikens uitbroei in jou klere nie!
Waar die pad sleg is of ‘n bultjie het, gee mens maar petrol. Daar was geen haas om by Verneukpan uit te kom nie, wat die rit fantasties gemaak het.
Ons het nie ‘n enkele bokkie langs die pad gewaar nie. Geen goggablertse het ons windskerms versier nie. Hier en daar kon mens ‘n plaashuis van die pad af sien. Hoe op aarde bly mens so in die eensame nerens? Vir reisigers, wat net vir ‘n wyle in die vreemde vlaktes vertoef, is dit ‘n romantiese nostalgiese gesig. Maar om getroud te wees met die grond, dis ‘n ander storie!