Met die gesloer met die boutjies soek is ek nou te laat om Fraserburg te haal so ek soek plek vir die aand. Steenbokkie private reservaat word aanbeveel. Ek het hom verbygery met die inry slag en ek kies koers soëntoe.
Daar aangekom is dit soos ’n oasis. Groen wat die oë seermaak. Ek kry ’n gemaklike kamer en gaan pak af. Trek my kortbroek aan, skoppie boetse uit en gaan sit op die groen gras. Slat my met ’n pap snoek, hier kom ’n hondmak Springbokkie aan, kom snuffelsnuffel in die kamer, peusel aan die gras hier reg langs my. Baie oulik maar hy lyk al ouerig, afhorings en growwe haarkleed. Dis ’n behoorlike plaaswerf: boepensvarke, blinkvet Dorpers, iets wat lyk asof hy (bitter min) Boerbokbloed in hom het, miniatuur perdtjies, kalkoene, kolbroek varke, poue, swane, ganse, eende, hoenders, en sierduiwe.
Die Springbokkie soek seker punte in daai boks:
eepwall:
En ’n bliksem wat sy doefdoef musiek kliphard speel. Daar is mos altyd een van daai wat my moermeter weer die rooi in moet druk.
Dit raak dig oortrokke en die wind waai stofwarrels daar op die grondpad. Ek stel en olie gou die fiets se ketting dan kan ek rustig raak.
Ek bedel koerant en braaihout en braai my 4 tjoppies (R165/kg spesiale prys vir die toeriste!) sonder sout en peper.
Droë perskes en ’n suiglekkertjie vir poeding, vrugtesap en aandete is verby.
Woensdagoggend staan ek maar oudergewoonte vroeg op en maak vir my plêstiek koffie. Wat is dit dat gastehuise so snoep is met hulle koffie, Cremora en suiker? En die bekers is net effe groter as 'n bottelprop. Wat het geword van egte Suid-Afrikaanse gasvryheid. Wat sal dit nou ekstra kos om regte egte melk en lekker koffie en teesakkies met genoegsame suiker en boerebekers vir jou gaste aan te bied. Ek kook die ketel 3 keer vir voldoende van my oggend koffie. Saam biltong en droé perskes is ontbyt verby en pak ek die fiets.
Dis koud, bewolk en daar teen die Nuweveldberge is dit skoon mistig. Ek bid stilletjies dat dit reën bring.
Ek wil nog stop by Ellis Fietswinkel waar ek gou ’n goedkoop knipmes wil koop nadat ek myne per ongeluk vergeet het.
Dis ’n fees van ’n winkel uit die ou dae uit. Alles van ’n Singer naaimasjien se handwiel tot ’n dominee se toga kan hier gevind word. Ek verkyk my aan items wat te koop is wat ek sweer nie eens meer vervaardig word nie. Ek gesels lekker met die oom agter die toonbank. Hy sit sy stoeltjie stofdig terwyl hy van Beaufort-Wes se dinge vertel. Ek sien iets wat lyk soos ’n moerse groot bobbejaan vanghok agter innie hoek. En die? vra ek. Nee seg die oom, toe hy ammunisie wou beginne verkoop het, toe wou hulle gehad het hy moet die hele winkel so diefproef maak. Neewat, dis té veel geld besluit hy. Hy kry toe die man wat Beaufort-Wes se tronkselle opgeknap het en koop by hom die ou (dik) tronkdeure. Hieruit bou hy toe die ammunisiesel in die agterhoek van die winkel en siedaar, ammunisie te koop, wettig en al.
Naby sien ek toe die draaimasjie wat Noag gebruik het om die Ark se stuurmeganisme mee te maak. Weggesteek agter en onder fietsparte, ketties, knipmesse en saals lê die masjientjie. Hy lyk nog mooi onder sy stoflaag.
Gelukkig boender die oom my nie uit die winkel uit nie want duidelik het ek niks te doen nie behalwe kyk en gesels.
Eindelik is ek weer op die pad, die vlaktes roep my, ek is nou té lank in die dorp. Ek moet so ’n kort ent op die N1 voordat ek afdraai op die Moltenopaspad Loxton toe. Dis skynbaar een van die oudste passe in die Karoo wat Loxton en Beaufort-Wes verbind het. Dis eienaardig want daar is dele wat geteer is, dan weer grond, dan weer teer, dan weer grond tot ’n hele ent uit die dorp uit. Maar pragtig. Kort voor lank is dit oopgetrek en die son skyn helder. Maar dit bly koel.
Ek ry lekker so deur die draaie, berg af en berg op. Stop ek op ’n plek om die uitsig te bewonder. Hier stop ’n bakkie met 2 manne in. “Is als reg?” wil hulle weet. Dankie ja en ons gesels ’n stukkie. Ek sien die een dra ’n Land Bank baadjie. “Wie se plaas is julle oppad om op beslag te lê?” skerts ek. Hulle lag, nee hulle is oppad om ’n boer te gaan sien wat nog wil besigheid doen. Ek dink so by myself óf die boer het groot ghoens óf hy is domonnosel om ’n lening in dié droogte te wil aangaan. Maar dalk is dit vir droogtevoer. Hier bo-op die berg lyk dit nogal mooi en plek-plek lê daar selfs water in die lopies.
Wat lê om daai draai? Kom ons gaan kyk.
Sjoe ouens, hierdie lang Karoo paaie is lekker om te ry. Ek voel soms soos ’n voël. Dis net vlaktes en oop en wyd en skoon. Ek ry my in ’n ander gemoedstoestand in.
En hel, ek geniet nou die 660. Hy ry vir my lekker, is lig en baie gemaklik. Ek het Saterdag vir hom 30mm “bar raisers” opgesit en, waar my arms voorheen amper reguit was, het hulle nou ’n effense buiging by die elmboog en sit en nog meer gemakliker. Ek sit ook meer regop. My sitvlak en rug is na gister se heeldag en vanoggend se ry glad nie seer nie. Die windskerm - AWOL boudtjie en al - is baie effektief. En teen sy gemiddelde brandstofverbruik soos ek ry kan ek hier by die 550km op 'n vol tenk kry. Ek is baie in my skik met die fiets. Jammer mens kry hulle nie meer nuut te koop nie.
Naderhand raak dit lekker warm en ek stop by die windpomp om my binnebaadjie en langmouhemp uit te trek. Ja, en om nog biltong te eet. Ek drentel toe sommer bietjie daar in die stilte langs die pad. Luister na die vinke in die populierbome en die skaaplammers wat in die verte na hulle ma’s blêr. Soos ek hier staan en niks doen, is als reg in die wêreld.
Uiteindelik ry ek weer. Loxton lê voor. Die pad raak bietjie uitgetrap en sinkplaat. Ek ry stadiger verby Jakkhalsdans om my te verkyk na die groot Karoo plase wat skoon na klein dorpies lyk. Woerts! vlieg ’n ou in ’n Hilux by my verby, ry my amper poerdesmêrdes soos hy jaag. Maar, ag wat, ek hou vakansie en sy hele moer in ’n drom.
Eerste keer dat ek op Loxton kom en ek ry ’n draai deur die dorp. Mooi skoon, netjies, stil. Mens kry mos so ’n gevoel oor ’n plek en ek voel sommer hier kan ek eendag kom bly as ek oud is. Groot dubbelerf met leiwater, vrugtebome in die agterwerf, so ’n paar bokke op ’n lappie lusern, fiets onder die afdak, braaier op die stoep. Ja, ek dink dit kan nogal werk.
Ek stop voor die Rooi Granaat en sit oppie stoep. Regs, midde in die verkeersirkel, is die groot klipkerk, seker ’n NG Kerk, links van hom Karoo Vleisboere Koöperatief, hier vlak voor my voete ’n kabbelende leivoor.
Vriendelike eienaares kom neem my bestelling vir ’n Karoo Boer ontbyt. Al is dit al amper 12h30. Vra vanwaar is ek. Waar gaan ek, koffie, tee? Eiers hard of sag? Man, ek sit sommer heeldag hier en droom. Klaar geëet, bestel ek koffie. Lekkerder as Wimpy koffie en in ’n GROOT beker. Ek bestel sommer nog roosterbrood met vyekonfyt en kaas.
My maat bel my daar uit Parys, Vrystaat uit waar hy afgetree het. Ek en ou George gesels sommer amper ’n uur lank. Ons lag en grap en gesels. Waar is dié soort lewe heen in ons daaglikse gejaag na wind? Ja, mens kan nie slaplê nie, maar dit voel vir my soms daar is geen tyd meer vir die kuier, die gesels, die interaksie met jou medemens in die moderne wêreld nie.
Die mense wat kom aflewerings doen groet, gesels bietjie met my. Time Freight se geel trokkie kom stop vlak voor my. Twee bruin manne klim uit. Bekyk die fiets, hulle staan nader. “Wat loop die fiets op die grondpad meneer?” vra die een. “Neewat, ek vat dit maar rustig, so 90km/u” seg ek. Ek vra hoe loop hulle roete vandag. Beaufort-Wes, Loxton, Victoria-Wes, Fraserburg, Merweville om sê hy, so 700km vir die dag. Ek sê hulle sitvlakke is seker tjailatyd blink gesit, ja lag hulle, klim innie trokkie en ry verder. ’n Rustigheid daal oor my neer. Ek wil amper my vrou bel en sê pak die tasse ons kom hier bly waar die wêreld mooi en die gemeenskap vriendelik is. Waar tyd bietjie gaan staan het. Eienaares kom vra of ek nog iets wil bestel. Nee dankie, die rit moet vorder.
Kom sit Jaco van Hoedspruit daar oppie stoep nadat hy sy Varadero met 90 liter Bags Connection sak en Air Hawk “800 km gister gery” parkeer het. Hy is ’n toergids in die Laeveld. Om op een dag 800 km te ry kan mens seker uithonger na geselsskap. Hy vertel klomp dinge. Bosbokrand is “buite beheer”, hulle neem glad nie meer toeriste Pelgrims Rus toe nie, dis “tot niet”, eintlik is dit net nog die Kruger Wildtuin wat oorbly seg hy. Ai dink ek, ek wil net hier sit en op die Rooi Granaat van Loxton se stoep droom.
Maar my tyd is net 3 dae, ek betaal en vat die pad. Buite Loxton oppad Victoria-Wes toe strek die wye Groot Karoo vlaktes so ver as die oog kan sien.
Hier, in die klip besaaide veld kan mens maklik glo die Here praat nie meer met jou nie. Dis harde, ongenaakbare wêreld en ek sien boere wat hulle hier deur harde werk en deursettingsvermoë, hulle skatryk geboer het. Onwillekeurig dink ek aan daar Mount Fletcher, Tsolo en ander dele van die Transkei waar ek bokke al verkoop het en wat oor die 1000mm reën per jaar ontvang, daar waar mense krepeer van die ellende en heeldag bakhand staan.
Wat ’n trotse naambord is dié nie. Ek is bly ek is ’n Boer. Die Here praat tog hier. Nie altyd wat ons wil hoor nie. Maar Hy verlaat ons nooit nie.
En hier is net nog bewys daarvan:
Hier, tussen niks en nêrens raak dié afgeleë en verwaarloosde grafte my diep aan. Watter ontberings moes die mense nie deurmaak om in dié harde wêreld ’n bestaan te maak. Dis ver, bitter ver, van alles. En tog was Ella Keyser “’n weldoener aan vele.” Ek wonder of kon iemand haar graaf nie bietjie netjies maak en ’n blommetjie of twee daar kom plaas nie, dalk die verwaarloosde draadheining weer staanmaak. Die erdvarkgate toegooi. Maar so is die wêreld, dinge wat verby is, is verby en vergete. Of is dit?
Selfs die erdvarke laat nie vir Hendrik Jooste in vrede nie. Rus sag my vriend. Jou stryd is lankal gestry.
Die pad kronkel oor harde vlaktes en deur rante en oor droë lopies. Selfs hier, waar die Satan kortbroek dra, is daar lafenis. Wilgerbome, nie langs waters waar rus is nie, maar teen kliprante in ’n bloedige son, bied skadu en lafenis.
En die sagte pienk van ’n Tamerisk wat langs ’n sementdam groei.
En toe is dit eers tyd vir uitspan in die skadu van ’n paar ewig geduldige bloekombome.
’n Verlore wolk wilwil ’n paar druppels reën laat val maar hy is verdwaald en op sy eie, die wind té sterk. En vir dié bloekombome is dit in elk geval té laat. Maar hy gooi ook welkome skadu.
En wat ’n gesig is dit nie om die lowergroen lusernlande onder die spilpunt in die dorre omgewing te sien nie.
Ek nader Victoria-Wes. Hopenlik is daar water vir stort, die dorpsdam lyk beroerd.