Waar lê die Boesmanland? Kan jy vir my sê?

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Amos

Puppy
Joined
Feb 2, 2021
Messages
41
Reaction score
91
Bike
Honda CRF-250 Rally
Maart 2023

Ek sê vir die Wilgenhoffer Verneukpan is waarskynlik ‘n oorskatte bestemming, maar hy bly neuk pan toe. Dit gaan oor die reis en nie die bestemming nie. Daar is genoeg interessante roetes te verbeel tussen die Weskus en Verneukpan.

Ons rendezvous is Bokkomlaan in Velddrif vir ‘n koffie. Daar sif ‘n motreëntjie oor die Bergrivier terwyl ons teug aan ons koffie. Albei van ons verklaar ons is eintlik klaar moeg soos ons hier sit – al die dingetjies wat gereël moet word vir weggaan en pak en emosies van afskeid wat dreig om oor te gaan na verwerpingsvrees vir die wat bly. Maar soos die motreëntjie wat ons nou gaan in ry is dit alles deel van die tog. Ons is op pad!

Soos voorheen berig, hou my Rooi Merrie (Honda CRF250 Rally) nie van teerpad nie en ons plot aanvanklik ‘n stofroete tot by die N7. Op die éérste grondpad, anderkant Dwarskersbos, kry ons ‘n ordentlike bui reën. Een van daai wat jy voel hoe die water teen jou bene afloop, duur klere ten spyt. Selfs die Rooi Merrie sê ons moet maar eerder teerpad ry en ons moet wegkom van die see – dit reën mos nooit in die Knersvlakte nie. Ons stoot aan tot verby Graafwater, waar ons darem bietjie son kry.

Maak vol op Vanrhynsdorp. Bly reënerig, al is ons nou al in die Knersvlakte. Bagdad Café is net wat ons nodig het – tee en koffie, ‘n roosterkoekontbyt, son om die klere bietjie uit te droog. En al die verstellingtjies aan die bagasie en uitrusting; wat kom waar, is die kettingspanning reg, hierdie toestel se battery is dan nou al pap... Alles sal natuurlik raakvat reg en op sy plek wees op die laaste dag van die tog. Van Bagdad af vat ons ‘n plaaspad die Knersvlakte in. Nou raak dit lekker. Bokkeveldberge in die ooste onder ‘n donker wolkkombers. Wit kwartsklippe lê gestrooi oor die vlakte met sy vreemde plantegroei. En geen voertuie. Net ‘n Evkom bakkie toe ons die spoorlynpad optel. Dit sou die laaste voertuig wees tot in Loeriesfontein.

HXV02940.jpg
 
Last edited:
Ek het altyd gewonder hoe kom die Sishen-Saldanha spoorlyn bo-op die Boesmanlandse plato as Vanrhynspas dan so steil is. Om te sien hoe is een van die redes van hierdie tog. In die Suid-Afrika waarin ons vandag leef is dit moeilik om te glo dat ons regering destyds ‘n infrastruktuurprojek van hierdie omvang aangepak het en suksesvol uitgevoer het. Oral waar ‘n rivier moontlik sal kan word (almal is nou droog), is ‘n ordentlike brug met betonkolomme en staalspanne gebou. Van 250m bo seevlak klim ons geleidelik tot 450m, sonder dat jy dit eintlik agterkom, en glip tussen die berge deur.

HXV02947.JPG


By die Kliprand-Loeriesfontein “grootpad” draai ons oos, weg van die spoorlyn, wat met ‘n enorme snyding deur ‘n berg gaan. Ek knoop ‘n lint om my vinger: ek moet nog eendag deur daardie poort.

Die son begin laag hang agter ons en belig die vlakte voor ons. Ek ry voor en ‘n paar springbokkies steek die pad, wat geen grensdrade het nie, oor en pronk dan windmakerig soos net húlle kan. Is ons nou al in die Boesmanland? “As jy vir my kan sê...” Die wuivende grasplate tussen die bossies suggereer wel so.

HXV02953.JPG
 
Ons klim tot op 900m vir Loeriesfontein. My eerste maal in hierdie dorp. Dis Saterdagmiddag vyf-uur. Nie veel om te verwag nie. ‘n Rustigheid spoel oor my as ons die dorp binnery. Lekker platteland. Stofstrate en groot werwe, net die hoofstraat is geteer.

Ons lêplek is die Rock Ridge gastehuis. Ons was nie braaf genoeg om die eerste aand al te kamp nie. Baie gerieflik. Ons gasvrou se man is ‘n boer wat ook motorfiets ry, so hulle verstaan hoe dinge werk. Aandete is by Loeriesfontein Central Traders, waar ons vroeër ook petrol ingegooi het, met ‘n lekker uitsig oor die hoofstraat vanaf die stoep. Terwyl ons luister na drie jong onderwyseresse se gesprek van die tafel langsaan, sien ons die dorpslewe voor ons afspeel: jaag op en af met ‘n kar wat raas, ry vol oor die stopstraat met ‘n kind op jou skoot agter die stuur, maar die bizarste van alles: ‘n vrou op ‘n perd wat straataf stap met ‘n skaaphond op haar skoot. Die onderwyseresse lag uit hulle maag uit. Die plattelandse orde soos ons dit geken het is vir altyd verby.

Soos ek die nag in my enkelkamer deurbring, wonder ek by myselwers oor die gastehuisding. Eintlik ‘n onding, elkeen alleen in sy eie kamer. Ons val die volgende oggend in die pad met rigting Calvinia, en begin dadelik sak.

Net buite die dorp draai ons af op ‘n plaaspad. Eerste hek sommer binne 2km. Gou-gou is dit net ons in die wye wêreld. Hekke. Windpompdamme. Skaap. Geen grensdrade langs die pad nie. Dis soos om saam met my Oom Boet van die plaas te gery het op sy motorfiets op ‘n Sondag agtermiddag as hy lande kyk, met die motorfiets wat stadig en rustig voortdreun op lae toere onder ons.

HXV02957.JPG
 
Op en af, geen vlakte in sig nie. Watse wêreld is dit hierdie? Later besef ek ons is nou in Leipoldt se “liewe, lekker Hantam-wyk”. Ek en die Wilgenhoffer kan nie uitgepraat raak oor hoe mooi dit hier is nie. Groot kareebome staan in droë rivierlope wat lyk asof hulle nooit water kry nie. Karoo-koppies met vreemde vorms. Ou plaaswerwe wat nogals meer bewoon is as verwag. Bobbejane.

HXV02960.JPG


En dan weer skielik weer ‘n kop met ronde klippe, en baie kokerbome. Boesmanland of Namakwaland of Hantam?

HXV02961.jpg
 
Op ‘n steil klipperige seksie kry ons ‘n bakkie van voor. Ek is seker ons is op ‘n publieke pad, maar jy weet nooit. Ons was nou só lanklaas op ‘n “grootpad” sonder hekke... Maar Pierre is baie vriendelik. Soveel so dat ons sy gastehuis moet gaan kyk, wat ons van die hand wys, dis nog ver. Maar die hek teen die grootpad is gesluit! Hy gee ons die kode van die kombinasieslot. Wat ‘n geluk – dis drie ure se ry terug na die distrikspad.

HXV02962.JPG

Datsun Stanza vol klippe

HXV02963.JPG
 
By die hek teen die grootpad kry ons ‘n groep van so tien motorfietsryers – ook op pad Verneukpan toe. Ek wonder weereens oor oorskatte toerisme bestemmings. Maar hulle stoei met ‘n pap wiel en ons stoot – Klipwerf toe. By dié plek stop ons vir ‘n minuut stilte vir die ontslape Worsie Visser. Hoewel hy nie deel was van die Klipwerf Boereorkes nie, verbind ek altyd hierdie twee. Dit het seker op universiteit begin toe “Boesmanland” ‘n treffer was. As stadsjapie het ek so half gegrinnik vir die wat so baie gehou het van dié liedjie. Soos die jare aangestap het, het ek al minder stadsmens gevoel en al meer tuis op die afgeleë platteland en sy mense, waarvan ek groot vriende sou tel met die jare.

Ons klim uit die Hantam uit, oor ‘n rand (van 1200m) se kant, en die Boesmanlandse vlaktes maak oop voor ons. Net toe ons dink nou gaan dit maklik wees, kry ons ‘n lang, sê maar sandkuil, van verspoelde gruis. Die Rooi Merrie is ‘n handvol, maar haar tante, ‘n African Twin met vergassers, steek vas en die Wilgenhoffer sit haar saggies neer.

HXV02966c.jpg

Tante in die sandkuil
 
Dit raak harde werk tot by die Loeriesfontein-Brandvlei pad en ons moet eers rus met ‘n koppie Gifbergse stokkiestee op die stofie.

By Brandvlei se vulstasie vervies ek my stilletjies vir ‘n man wat dadelik nader skuif toe ons stop en op die vloer naby ons gaan sit met sy rug teen die muur. Ek verwag enige storie om tog net iets by my te bedel. Ek ignoreer hom en bespreek pad op die oopgevoude kaart met die Wilgenhoffer. “By Brospan moet ons links draai.” “Ja”, sê die man op die vloer, “net ná Brospan swaai jy weg Verneukpan toe”, en beskryf die plek in detail. Hy het seker op dié plase gewerk. My hart versag en ek gee vir hom kos.

Die pad na Brospan is mooi. Dit raak laat. Bo-Karoo of Boesmanland? Net voor Swartkop weer ‘n formidabele sandkuil. Maar die tante se bande is nou afgeblaas en ons raak mos al beter hoe verder ons ry.

HXV02970.JPG
 
Die Blomerusse van Kareeboomdam bied kampering aan op Verneukpan. Ons arriveer op die werf saam met die groep motorfietsryers wat ons vroeër gekry. Ek vra vir Willie Blomerus, toe ons waenhuis toe loop vir ‘n sak hout, wat gaan die weer maak. Daar is donderwolke in die ooste. Hy sê hy laat hom nie uit oor die weer nie. Jare se boer hier het hom seker geleer jy kan maar praat en voorspel, op die ou end vat jy wat jy kry. Tans kry hulle dit droog, dit het nog nie eintlik gereën hierdie somer nie, en Maart is al amper om.

Met die hout, genoeg water en ‘n pak tjops ry ons af pan toe. Die groot groep ry darem verder in totdat hulle net spikkels op die horison is en ons net doodse stilte het.

HXV02985.JPG


Toe ons afgesaal het en die kameeldoringhout vuur brand weet ek dat die pan nooit ‘n oorskatte reisbestemming kan wees nie. Die Wilgenhoffer het ons elk bederf met ‘n dosie rooiwyn. Die donderwolke in die lug raak ‘n skildery soos die son sak. Later, in die donker, blits dit in die noordooste, maar ons hoor niks. Die plat, plat aarde waarop ons is bied ‘n vreemde persepsie. Die lig van ‘n koplig skyn so ‘n halwe sirkel voor jou en raak dan net weg.

HXV02986.JPG
 
Dis my en die Wilgenhoffer se eerste reis saam. So ‘n aand van buite slaap op die pan bou mos nou bande man, nie ‘n gastehuis nie. Ons is nou gesinkroniseer. Ons het beplan om die volgende dag grondpad Calvinia toe te ry, maar besluit sonder aarseling om maar myle in te kry op teer. Vul tenks op Brandvlei en op Calvinia. Teer is nie die Rooi Merrie se area van prestasie nie, maar dis agter die rug.

Toe ons afdraai op die grondpad Middelpos toe raak dit weer lekker. Ons los later die distrikspad en vat ‘n plaaspad. Lafenis na vanoggend se teerpad. Oom Boet kyk weer lande. Ons het tyd in die bank (so dink ons) en stop om tee te maak.

HXV02987.JPG


Met die Hantam agter ons is dit nou Roggeveld. Nie meer gruis en sand, net klippe. Die soort wat bande sny. Ons is nou in die berge en gaan voor Middelpos oor die dak van ons toer op 1360m.

HXV02989.JPG
 
Ek drink nie Coke skoon nie, maar by die winkel op Middelpos sê ek vir die Wilgenhoffer in so ‘n winkel móét ons ‘n Coke drink. “Kafeetjie op die hoekie het ‘n rooi [groen] sinkdak / Die mure is vol advertensies geplak / Drink ‘n Coca-Cola, rook Springbok tabak...” Teen die muur binne die winkel is name opgeplak van “persone wat reg tot toegang geweier is”. Die Wilgenhoffer se naam verskyn daar, maar darem nie sy van nie.

Ons stoot vir Gannagapas. Die dag begin dreig om weer te kort te raak. My eerste keer oor hierdie klassieke pas. Die uitsig oor die Ceres Karoo, die dramatiese hoogteverlies. Die tyd is te min op hierdie laatmiddag om alles in te neem, net soos wat ‘n leeftyd te kort is om die Karoo kruis en dwars te deurreis. Onder op die vlak draf ‘n rooijakkals ‘n entjie skuins voor my en glip dan oor die pad.

HXV02997.JPG


Die pad na Tankwa tentkamp is nie so voor die hand liggend soos ons gereken het nie. Slingsby se puik kaart dui ‘n kortpad aan, maar ons kan nie oor ‘n droë rivierbedding kom nie. Ons neem die publieke pad verby die gastehuis.

HXV03004.JPG

Uintjiesbos skool
 
Last edited:
Die son sak en ons ry reg in hom in. Ná die gastehuis moet ons in elk geval oor dieselfde droë rivier wat die publieke pad sleg verspoel het. Dieselfde sandkuile vol gruis van gister en eergister. Die son sak en ons vorder nou baie stadig. Gaan ons ooit met hierdie pad by die tentkamp kan kom? Dis later donker. Dis die eerste maal dat ek die Rooi Merrie in die aand ry, kan jy glo, en ek kom agter die ligte skyn na die maan! Nou is dit voel-voel vir sandkolle. ‘n Klein bordjie, “Stonehenge”, gee die goeie tyding dat ons hier is.

Die tentkamp is die perfekte oplossing na ons dag – koue bier, ‘n warm maaltyd en wit beddegoed in ‘n klaar opgeslane tent. Ons ontspan só lekker.

HXV03008.JPG
 
Opgevolg deur ‘n “full English breakfast” die anderdag die môre. Ons is lui en traag om in die pad te val huis toe. Die aksie is verby en ons weet vandag se pad kan onmoontlik so opwindend wees soos die vorige drie dae. Nietemin vermy ons teer sover moontlik en ry Skitterypas, Katbakkiespas, Gydopas en grondpad tussen Gouda en Moorreesburg terug Weskus toe.

Die ding van hierdie dag wat my sal bybly is ons ontmoeting met Gert Opperman. By Halfway House in die Tankwa trek die pomp in sy trapfiets se mandjie my aandag. Synde ek ook al hier getrap het, herken ek dit dadelik as onontbeerlik. Dis ‘n tipiese Karoo-fiets: goed gebruik, vol stof, duidelik baie myle op.

HXV03015.JPG


Ek vra vir Gert uit oor die pomp en pap wiele. Met fietsry op die lang, reguit Karoo-paaie as gemene deler knoop ons ‘n lekker gesprek aan. Hy bly “net hier onder”. Hy het kom twak koop – Springbok tabak. Hy sê hy rook hom in die Landbouweekblad. Die Wilgenhoffer sê hy hoop hy lees dit darem voordat hy hom rook. Hy en sy nuwe vrou bly alleen daar. Sy eerste vrou is dood. Hulle het op baie plase hier in die Karoo gewerk; Sutherland, Middelpos, Calvinia. Ná haar dood het hy ‘n nuwe een gevat, maar hy sê sy was te lief vir die...en hy maak ‘n gebaar van iemand wat ‘n bottel in die keel afgooi. Toe sê hy vir haar laat jy stoot. Die vrou wat hy nou het kyk baie mooi na hom.

Gert is werklik sout van die aarde. Gevorm deur hierdie pragtige land van dors, waarvoor ek deur die jare so lief geraak het. Is dit nou Namakwaland, Boesmanland, Hantam of Karoo? Maak nie saak nie, almal van hulle.
 
Last edited:
Nou't ek ver en lekker saamgery, dankie Amos. Net een fout as ek mag kritiek lewer, jou rit was te kort. Ek wil nog lees.
 
  • Like
Reactions: ETS
Bliksem dit is nou ‘n lekker ride report!

Maak mens lus om die kaart te gryp en roetes te kyk.
 
Datsun Stanza vol klippe

Beste gebruik vir daai stront!! :p😬
Jou RR laat mens somme maak oor hoeveel geld is daar vir petrol koop!!!😜
 
Top