Ek mik Oranjerivier se kant toe

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.
Ek ry langsamerhand van die pan af, baie traag om dit agter te laat.  Ek kan nie help om te wonder wat die eerste mense wat die pan teegekom het, moes dink nie.  Dalk het hulle gedink die res van die omgewing is waaragtig net een groot dorre vlakte.

Ek gaan groet eers, vul weer my water aan, en die boer laat my toe om gou my vrou te bel en te laat weet als is OK.

Ek groet sommer die oulike vriendelike blouoogkat
 

Attachments

  • IMG_6565.jpg
    IMG_6565.jpg
    393.9 KB
So met die pad Williston toe raak dit al kouer en kouer.  Naderhand wys my fiets 14ºC.  Toe 12ºC. Ek stop om my binnebaadtjie weer aan te trek.  Trek sommer my veeaartshandskoene onder my somerhandskoene aan.  Die wind waai 'n snotskoot. Daar naby Brospan stop ek om eers ietsie te eet.  Ek trek my buff oor my kop en ore so koud kry ek.  Ek moet als mooi vashou anders waai die wind dit weg.

Hier is dit nóg droeër.  Haas als, selfs die kriedoring, het hier gevrek.  Selfs die ou wildsbokkie is nou net witbene.

Net buite Williston is dit 10ºC.
 

Attachments

  • IMG_6571.jpg
    IMG_6571.jpg
    450.3 KB
  • IMG_6575.jpg
    IMG_6575.jpg
    395.5 KB
  • IMG_6576.jpg
    IMG_6576.jpg
    577.2 KB
Sovêr ek ry sien ek hoe sukkel die boere met die droogte.  Daar staan kortkort hier teen die pad klein kampies met 'n klompie skaap en lammers in waar hulle gevoer word.  In die veld is daar totaal geen weiding nie.  Omtrent als in die veld het gevrek. Die langtermynskade wat die veld en omgewings tot op hede opgedoen het gaan baie jare neem om te herstel.  Intussen moet die boere oorleef en leef. Op die oog af lyk dit nie moontlik nie. 

Dié droogtehulp wat op werwe staan is baie welkom maar selfs dít gaan nie die rampsituasie beredder nie.

Ek sien slegs 2 korhane al die pad van Verneukpan tot op Fraserburg.  Verder geen haas, kwartel, steenbokkie, patrys of gompou nie.

Maklik meer as 60% van die plaasopstalle wat ek verby ry is verlate en besig om tot niet te gaan.
578aabf91e808db4f6cc109a1b0f069f.jpg



Dis 'n ramp van ongekende afmetings.  Hoe swaarder die boere trek, hoe meer gaan die dorpies agteruit.  Hulle is mos totaal afhanklik van die landbou. Dié arme mense se noodlot is totaal uit die oog uit verloor terwyl die res van die wêreld se stinkblink nagejaag word.

Dit tref mens diep en ry ek met 'n werklik swaar gemoed verder.
 

Attachments

  • IMG_6582.jpg
    IMG_6582.jpg
    497.4 KB
  • IMG_6587.jpg
    IMG_6587.jpg
    511.2 KB
  • IMG_6588.jpg
    IMG_6588.jpg
    451.1 KB
  • IMG_6589.jpg
    IMG_6589.jpg
    412.8 KB
In dié droë dorre wêreld is so 'n bloekomboom baie oud.  Naby aan 100 jaar.  Maar dié uitmergelende droogte is een té veel.  Die statige bome kan nie langer uithou nie.  En so asof die duiwel sout in die wonde wil vryf, is die weer na die weste potblou en dreigend.

Ai, hoe wens ek dit kon kom stortreën vir dae aaneen hier in dié geweste.
 

Attachments

  • IMG_6586.jpg
    IMG_6586.jpg
    267.7 KB
  • IMG_6585.jpg
    IMG_6585.jpg
    392.9 KB
Oranje, blanje, blou.

Amper.....

Hier kom 'n lekker weer aan, en hy is koud!
 

Attachments

  • IMG_6583.jpg
    IMG_6583.jpg
    523.9 KB
Eish!.... ek ry lekker saam..... :thumleft:

....een ding wat my bekommer van my jare se onderving, is om in n rivierbed te kampeer.....
Het al amper weggespoel wees n "flash-flood"    :laughing4:
 
Toe ek die plaas met sy groot dadelpalms en beefwood windskerms verbyry, toe sien ek ek gaan natreën.  Sonder 'n reënpak want dit het mos 9 jaar omtrent laas hier gereën.  Totdat ek besluit om hier deur te ry.  :biggrin:

So 20km van Williston af spat daar druppels op my windskerm. 

Die pad raak nat en dit raak vrek koud. 9ºC toe ek die dorp inry.  Ek bel 'n maat wat in die distrik boer.  Hulle kry 9 jaar lank al bitter swaar.  Hy is op Mosselbaai met sy vrou by die hospitaal.  Dis jammer, ek sou hulle graag wou sien.

Ek gooi vol, die neuk maar met my yskoue hande en die knippies te laat skiet en bankkaart uit te haal.  Oral lê die plasse water in die strate.  Kan dit asseblief tog dae lank so aanhou.  Ek gaan soek skuiling in die Manna Restaurant.  Dis warm, die burger is BAIE lekker, die cuppachino soet en ryk. Ek voel naderhand hoe rooi word my wange soos ek ontdooi. Die restaurant is eintlik onvanpas spoggerig op so 'n klein plekkie soos Williston. Maar baie smaaklik uitgevat.  Ek drentel hier, nie lus om nou weer so koud te kry nie.  Die weer Fraserburg se kant toe lê sommer so vaal onder die reën.
 

Attachments

  • IMG_6590.jpg
    IMG_6590.jpg
    436.2 KB
Maar heeldag kan ek nie hier sit en warrawarra nie.  Ek moet vanaand nog Fraserburg haal.  More is reeds 'n lang trek plaastoe van daar af.  Wat kan ek julle van koudkry vertel.  As jy motorfiets ry dan het jy al jou knaters afgevries.  Wel, ek doen dit nou weer so dalk het ek aanvanklik meer as twee teelballe gehad, wie weet.

Kyk, koudkry is een ding.  Maar koud én nat kry is totaal 'n ander storie.  'n Storie wat 'n ouderdomsbeperking behoort te kry want daar is baie gevloekery en gekermry. Maar ek ry voort.  Ek groet nog 'n ou en sy vrou wat in 'n Hilux bakkie my van voor af verbyry.  Dit is 'n stywerige groet want ek sukkel met my koue arm en die wind wat kwaai waai.

Ek sien Fraserburg se kerktoring doer in die vêrte en ek is dankbaar vir 'n warm stort wat voorlê.  Ook vir die water wat nou oral in die veld lê.  Koud soos ek is, jubel ek saam die boere.  Die vee moet nou net nie staan en vrek nie. 

Hou skapies, hou.

Val reën, val.
 

Attachments

  • IMG_6598.jpg
    IMG_6598.jpg
    278.6 KB
Dorsland said:
Sovêr ek ry sien ek hoe sukkel die boere met die droogte.  Daar staan kortkort hier teen die pad klein kampies met 'n klompie skaap en lammers in waar hulle gevoer word.  In die veld is daar totaal geen weiding nie.  Omtrent als in die veld het gevrek. Die langtermynskade wat die veld en omgewings tot op hede opgedoen het gaan baie jare neem om te herstel.  Intussen moet die boere oorleef en leef. Op die oog af lyk dit nie moontlik nie. 

Dié droogtehulp wat op werwe staan is baie welkom maar selfs dít gaan nie die rampsituasie beredder nie.

Ek sien slegs 2 korhane al die pad van Verneukpan tot op Fraserburg.  Verder geen haas, kwartel, steenbokkie, of gompou nie.

Meer as 60% van die plaasopstalle wat ek verby ry is verlate en besig om tot niet te gaan. Dis 'n ramp van ongekende afmetings.  Hoe swaarder die boere trek, hoe meer gaan die dorpies agteruit.  Hulle is mos totaal afhanklik van die landbou. Dié arme mense se noodlot is totaal uit die oog uit verloor terwyl die res van die wêreld se stinkblink nagejaag word.

Dit tref mens diep en ry ek met 'n werklik swaar gemoed verder.

Ja ou Dorsland, ons was so maand terug deur daai wêreld.  Ek en Nannie het gery met groot knoppe in ons kele.  Dis werklik nie 'n mooi gesig om te aanskou nie.  Jy kry opnuut respek vir die boere wat nog probeer. 

Ek ry nog lekker saam, mooi prentjies.  :thumleft: :thumleft:
 
Op Fraserburg aangekom, bespreek ek my by die Tuishuis.  Dis 'n boeredame wie se man oorlede is wat 'n baie gemaklike gastehuis bedryf.

Dis 17h30, ek voel 'n veer.  Ek skakel die warmkombers aan, maak vir my 'n koppie tee, en klim onder die komberse in.  Té lekker!  :biggrin:  Buite sous dit.  ChrisL laat weet my Sutherland het al 25mm.

Vanaand eet ons lekker skaapboud, groentekoekies, pampoen met vla, gebakte aartappels.

En, en en .....

..... malvapoeding en roomys.

Ha!  Die Kaap is weer Hollands, waaragtig.
 

Attachments

  • IMG_6601.jpg
    IMG_6601.jpg
    302.5 KB
  • IMG_6602.jpg
    IMG_6602.jpg
    250.1 KB
Vis Arend said:
Dorsland said:
Sovêr ek ry sien ek hoe sukkel die boere met die droogte.  Daar staan kortkort hier teen die pad klein kampies met 'n klompie skaap en lammers in waar hulle gevoer word.  In die veld is daar totaal geen weiding nie.  Omtrent als in die veld het gevrek. Die langtermynskade wat die veld en omgewings tot op hede opgedoen het gaan baie jare neem om te herstel.  Intussen moet die boere oorleef en leef. Op die oog af lyk dit nie moontlik nie. 

Dié droogtehulp wat op werwe staan is baie welkom maar selfs dít gaan nie die rampsituasie beredder nie.

Ek sien slegs 2 korhane al die pad van Verneukpan tot op Fraserburg.  Verder geen haas, kwartel, steenbokkie, of gompou nie.

Meer as 60% van die plaasopstalle wat ek verby ry is verlate en besig om tot niet te gaan. Dis 'n ramp van ongekende afmetings.  Hoe swaarder die boere trek, hoe meer gaan die dorpies agteruit.  Hulle is mos totaal afhanklik van die landbou. Dié arme mense se noodlot is totaal uit die oog uit verloor terwyl die res van die wêreld se stinkblink nagejaag word.

Dit tref mens diep en ry ek met 'n werklik swaar gemoed verder.

Ja ou Dorsland, ons was so maand terug deur daai wêreld.  Ek en Nannie het gery met groot knoppe in ons kele.  Dis werklik nie 'n mooi gesig om te aanskou nie.  Jy kry opnuut respek vir die boere wat nog probeer. 

Ek ry nog lekker saam, mooi prentjies.  :thumleft: :thumleft:

Dankie Oom Vis.

In my boek wat ek daar by die Verneukpan klaargelees het, lees ek dié stukkie raak:

"He felt that in the beauty of the world were hid a secret.  He thought the world’s heart beat at some terrible cost and that the world’s pain and its beauty moved in a relationship of diverging equity and that in this headlong deficit the blood of multitudes might ultimately be exacted for the vision of a single flower."  John Grady Cole, All the Pretty Horses.

Dit tref my so tussen die oë.  Hier tussen al die mooi landskappe, is daar 'n geweldige hartseer van amper onmeetbare afmetings besig om hom af te speel.  Ek kan jou sê dat ek soms skuldig gevoel het om "op vakansie" daar deur te ry terwyl die boere so om oorlewing wurg.
 
Deurnag voel ek dis koud.  Toe ek hier in die nag opstaan om 'n draai te loop, kyk ek by die venster uit, die sterre skyn en die vensterruit is toegewasem.  Dit vertel my dis ysig koud buite.

Die oggend toe ek opstaan, trek ek summier my lang onderbroek aan. Seker maar thermal broek, maar wat, lyk vir my na 'n lang onderbroek. En basta.  :biggrin:  Ook sommer 2 "thermal langmou hemde, T-hemp onder dít, winter handskoene.  De lot.

Toe ek die fiets aanskakel wys hy sommer 2ºC.  Maar die pragtigste kraakvars wintersoggend. Nat, mistig, poele water oral.  Ek gooi brandstof en vat die pad.  Ek wil Oukloof grondpad Beaufort-Wes toe maar na so 400m van hom voel ek hier gaan 'n oepsie kom.  Die pad is baie nat.

Ek draai om en vat maar teerpad Teekloofpas deur tot op die vlakte by die Merweville/Beaufort-Wes kruising waar ek links draai.

Oral staan die veld vol water, selfs die Teekloofpas se lopie het 'n effense watertjie in.
 

Attachments

  • IMG_6604.jpg
    IMG_6604.jpg
    238.5 KB
  • IMG_6605.jpg
    IMG_6605.jpg
    277.2 KB
  • IMG_6607.jpg
    IMG_6607.jpg
    329.8 KB
Teekloofpas en omsigte
 

Attachments

  • IMG_6609.jpg
    IMG_6609.jpg
    265.4 KB
  • IMG_6610.jpg
    IMG_6610.jpg
    693.9 KB
  • IMG_6608.jpg
    IMG_6608.jpg
    336.4 KB
Baie mooi fotos. Ja wat....op my ouderdom verkies ek ook n  gastehuis bo nat en koud in n tentjie :thumleft:
 
Dorsland said:
Ek wil Oukloof grondpad Beaufort-Wes toe maar na so 400m van hom voel ek hier gaan 'n oepsie kom.  Die pad is baie nat.

Dis waar ek nou net minder breins het en vir myself se: Wat kan dan verkeerd gaan?
 
Toe ek daar afdraai, begin 'n rit wat ek nie wou hê moet ophou nie.  Dis die pragtigse windstil dag wat vinnig warmer word, die pad is gelyk, die veld nat, die uitsigte nimmereindigend.  Geen verkeer nie.  Ek ry so 85km/u. 

Die plase so verby.  Wolwehoek, Schietfontein, Grasvlak, Kleinfontein, Middelwater.  Ek kan net aanhou en aanhou en aanhou.  Ek stop vir 'n peuselding en om my binnebaadtjie uit te trek.  Ek draai en drentel en vroetel, traag om weer aan die gang te kom.  Ek wil vandag, my laaste dag, uitrek dat hy doer verby more en oormore en volgende week uitstrek.

Uiteindelik klim ek maar weer op en ry verder.
 

Attachments

  • IMG_6611.jpg
    IMG_6611.jpg
    533.7 KB
  • IMG_6613.jpg
    IMG_6613.jpg
    426.7 KB
  • IMG_6614.jpg
    IMG_6614.jpg
    355.1 KB
  • IMG_6615.jpg
    IMG_6615.jpg
    484.1 KB
BullSmit said:
Dorsland said:
Ek wil Oukloof grondpad Beaufort-Wes toe maar na so 400m van hom voel ek hier gaan 'n oepsie kom.  Die pad is baie nat.

Dis waar ek nou net minder breins het en vir myself se: Wat kan dan verkeerd gaan?

'n Ou kom op 'n ouderdom waar mens nie meer so lekker hop nie.  En dis seer. :biggrin:
 
Nou ja.  My fotos is op. My gedagtes nie.

By die N1 se T-aansluiting stop ek om my ABS weer aan te skakel.  Ek bekyk dié dolle gejaag van trokke en minibussies en motors.  En ek wilwil omdraai en verlore raak daar waar ek vandaan kom.

Maar ek draai links Beaufort-Wes toe, gaan van 85km/u na 140km/u dat die vreksels my net nie omry nie. Met die in ry van die dorp staan die verkeerspolisie daar, trek my af.  Soek "dryviz lisense".  Mag ek maar vloek hier?  Seker maar. Maar wat sal dit help.  My vlaktes en ooptes en vrede lê nou daar agter, af van die teerpad.  Daar by nederige, hartlike mense. Regte egte mense.  My mense.

Ek hou stil by die Total vulstasie in die dorp.  Dis mos 16 Junie.  Vakansiedag.  Elke makmoer en sy tjommie is mos oppad êrens heen in sy blink spoggerige vuurwa. Een ou in 'n 200 series Cruiser ry amper oor my voet waar ek staan en brandstof ingooi.  Hulle klim uit, daar waar hulle die motor so stofdig sit.  Dis wegneemetes, groot sonbrille, handelsnaamklere, oorfone, selfone, klapbekke.

Sien niks, hoor niks, weet niks.

Ek wonder, weet hulle ooit hoe wurg die mense wat daai vleis en daai koring, tamatie, blaarslaai produseer.
 
Wag.  'n Laaste kiekie van my getroue Africa Twin as ek mag.  Voorwaar 'n fiets waarmee ek nog baie vlaktes gaan deurkruis
 

Attachments

  • IMG_6384.jpg
    IMG_6384.jpg
    495.3 KB
Top