Kyk, 'n groot dam!

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
12,195
Reaction score
3,759
Location
Nie van hier nie
Bike
Honda CRF 300L
Ek het so hier en dan daar bietjie rondgeflenter op die 300L al, niks wat eintlik 'n man se agterent werklik kan beproef nie. En so was my aanvanklike motivering (of is dit verskoning 🤔) om 'n kleiner fiets te koop, dat ek sulke korterige ritte met hom kan ry. So 'n dagrit Verwoerddam toe (ja, Verwoerddam want Gariep, sover my kennis strek, nog nooit 'n dam beplan óf gebou het nie), of Orania toe, dalk die Kalkfonteindam daar anderkant Fauresmith. Sommer sulke lekker grondpad dagritte.

So beplan ek om die vorige naweek te gaan ry. 'n Ramkoper vervroeg sy Maandag laaiafspraak na die Saterdag toe. Poef! daar gaat my ryplanne. Ai tog. Toemaar, môre – hoor ek – is nog 'n dag. So hou ek maar die weer dop, die wind waai 'n snothou, ons boeregroep reik die een Rooidag brandwaarskuwing na die ander uit, die kaart is bloedrooi oor die binneland. Maar Saterdag bly kalm, redelik warm, so 22ºC. Ek hou moed. Om my besig te hou tot dan, monteer ek maar my GPS4Africa gatsak op die fiets.

Spoggerig!

IMG_1858.jpeg
 
Last edited:
Die weer en wind is my genadig en Saterdag toe ek opstaan is dit koel maar absoluut windstil, té pragtig.

Teen alle gesonde verstand in (die Dorslanders is bekend daarvoor) is ek op 'n missie om dinge te vereenvoudig. Met ATGATT, gereedskap, roetebeplanning, farkles en so aan. So laai ek 'n 1 liter waterbottel, 'n reknet (cargo net) (vir ingeval ek iets langs die pad vind wat die moeite werd is om huistoe te karwy), my nierbelt (vir ingeval my rug my gas gee) in my gatsak. Ek los plek vir my baadtjie se binnevoering en my First Ascent langmouwessie wat later seker uitgetrek sal word.

Dis so 'n lekker dag, ek kies sommer koers hier oor 'n vleiplaas naby my waar daar 4 hekke is. Met die 300L is dit meer groot moeite om af te klim, fiets deur te stoot, hek toe te maak, weer opsaal en ry.

Die 3de van die 4 hekke. Dis werklik 'n pragtige oggend, mens ruik sommer die somer wat oppad is. Of is dit nou somer die sommer? :unsure::censored:

IMG_1860.jpeg
 
Ongelukkig moet ek so 14km teerpad ry van Philippolis af tot waar ek weer afdraai op 'n grondpad wat vir my onbekend is. Lekker!! Gelukkig is die dorp stil so op 'n Saterdagoggend. Ek woerts daardeur. Ek is glad nie 'n sportaanbidder nie, maar ek weet dis rakbie vandag, die manne beset al die Philippolis Hotel, al is dit nog vroeg. Daai regter arms moet soepel gehou word.

Waar ek op die grondpad afdraai is die eerste ent erg sinkplaat. So ken ek maar 'n grondpad. Die manne gooi brieke as hulle by die T-aansluiting aankom, óf hulle gee vet as hulle daar van die teerpad afdraai. Dis maar 'n sinkplaat se begin daai.

Ai man, hoe mooi is die Suid-Vrystaat nie! Daai oop vlaktes met die lae koppies wat so kenmerkend van dié landsdeel is. Goue gras wat so blink in die vroeë oggend son. Doer lê 'n witgekalte huisie teen 'n rantjie. Die lemoenduifies koer, die steenbokkies snuffelsnuffel so langoor in die grasveld.

IMG_1862.jpeg
 
Last edited:
Ek weet nie meer hoe lank die spesies gaan oorleef nie. Hulle word teen so 'n tempo op die paaie doodgery, mens kan maar net hoop hulle aanteeltempo kan daarvoor vergoed. Arme goed, foeitog.

Ek het dié een wat seker die vorige nag omgery is, opgetel en saggies in die gras laat lê.

IMG_1864.jpeg
 
Die pad raak al mooier soos ek vorder. Ek puttputt so rustig aan, stop om water af te slaan, om my mooi 300L in sy Honda rooi te kyk, om sommer die stilte van die veld te geniet. Die Hondatjie is nou nie 'n Africa twin met TC, DCT, 32 verskillende "rider modes", 'n windskerm, genoeg krag om 'n Boesman maandeinde van 'n bierblik af te trek nie. Maar hy is lig, hanteerbaar, ry baie lekker, het nog nie 'n tekort aan krag ervaar nie en hy is werklik vir my 'n mooi fiets.

Die omgewing het baie van dié tipiese tepelkoppe.

IMG_1866.jpeg
 
Last edited:
Ek is verbitterlik lief vir die droë dele van ons land en Suidwes. Dis asof hy nie tyd het vir nonsies en aansitterigheid nie. Hier is jy óf vaal en ag jouself niks hoër nie as 'n kapokbossie, óf jy maak dit eenvoudig nie. Dié wêreld gaan baie vinnig al die blink en stink van mens afbrand. Die wonderlikste ervaring is om so oor die dor uitgerekte vlaktes te ry. Dis stowwerig, dit skud, dis warm, als wag met groot geduld op die Genadewater van bo. Als het vrede want hulle weet, óf die reën kom, óf hy kom nie. Dan is dit verby tot – dalk – volgende seisoen. Wat oorleef, oorleef, en wat nie oorleef nie, wel, dis koebaai.

En dan kom mens eweskielik om 'n draai, af in 'n leegte in, en daar kabbel 'n fonteinwatertjie oor of onder die pad! Als is hier rustig, die voëls baljaar en knetter in die groen bome en bosse, daar is vinkies wat rasserig nes bou. Groot reiers wat statig in die kort riete rondstap opsoek na 'n padda of 'n slangetjie. Hier moet ek altyd 'n ruk vertoef en die wonder beleef. Ek gryp na my waterbottel want die stroompie maak my skielik dors.

IMG_1868.jpeg


IMG_1869.jpeg
 
En toe! En toe moes ek weer 'n stuk teerpad oor die N1 met sy malle geraas en gejaag en trokke, karre, woerrelwarrel oppad Gariepdorpie toe. Ek knyp sommer my oë toe en tel my voete op toe ek daar oor ry. Ingeval hulle besmet raak.

IMG_1870.jpeg
 
Vir 'n klein fooitjie kan julle Turkana Challenge manne dié kiekie van my fietsie by 'n volstruis (eintlik 3 volwasse volstruisies (fullstretchies in Ingils) met omtrent 15 kleintjies), by my leen. As mens mooi inzoem op die linker volstruis sal mens hulle kan sien.

Blikemmer, daai Hondatjie is darem mooi! Aitsa! jou lekker ding. :love:😘

IMG_1874.jpeg
 
Dis kouer as wat ek gedink het. Ek het my "airflow" baadjie gedra maar kon maklik my digter een aangetrek het. Toe ek klaar brandstof volgemaak het, is ek yskoud. En honger. Ek gaan eet by 'n braairestaurantjie 'n lekker kaasburger en skyfies. Daai pattie is omtrent 2 vingers dik, net wat 'n groeiende jong seun nodig het op 'n koue oggend.

Geen kiekies nie, want ek is nie op Faceboek nie. En julle weet buitendien hoe lyk 'n kaasburger en skyfies.
 
Last edited:
Kyk, dis 'n ma se groot dam!

Die vêrsiendheid wat ons voorouers gehad het om in dié dorre wêreld so 'n hêngse groot dam te bou en die droë noord westelike en suid oostelike dele van ons land groen onder die besproeiïng te laat staan, is niks anders as 'n wonderwerk nie. Daai gesindheid bestaan bloot nie meer in ons land nie. Dis hoekom ek weier om dit die !Gariepdam te noem. Dr Hendrik Verwoerd moet seker die hulde kry vir dié tamaai projek wat so 'n verandering en groei teweeg gebring het.

IMG_1875.jpeg
 
Dié foto, 3 Oktober 1969, wys die damwal in aanbou. Agter die damwal is nou als onder water. Sal jy glo die dam se kuslyn is omtrent 430km en hy beslaan 'n oppervlakte van nagenoeg 40000ha wanneer hy vol is. Destyds het die projek omtrent R490 miljoen gekos. In vandag se terme is dit omtrent R55.6 miljard. Daar is 1.92 miljoen kubieke meter beton gegiet.

Die damwal is 88m hoog en is 914m lank waar die pad oor die wal strek.

Screenshot 2024-09-10 at 18.33.27.jpeg
 
I don’t think there is better Afrikaans reading than something that you’ve typed.

Thoroughly enjoying the short story, thank you.
 
Last edited:
Top