'n Groot Karoo draai: Dorsland in 'n dors land

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.
Goed geskryf en baie geniet.  Ek moet self daai wêreld nog gaan ry.  Dankie vir die moeite.
 
Dankie Katana, jammer vir die sloer en dat ek hom so in paaiemente moet skryf  Photobucket het ons mooi verneuk met hulle nonsies.  More pos ek die volgende vertelling.
 
Dis stories soos die wat maak dat mens nie more oggend met 'n lied in jou hart opstaan vir werk nie...  Nou mis ek die Karoo se grootsheid en kalmte.
 
Dankie Dorsland, ons land bly n mooi land met bekooring vir die wat dit raaksien, soms as mens deur iemand anders se oe kyk sien jy raak wat anders verlore gaan.  :thumleft:
 
Dankie vir die saam vat, jy laat n mens verlang na pleke en mense wat ek nie eers ken nie.
 
Voor my rit het ek vir my 'n stel fêncy No Noise oorpluisies gekoop om my oues mee te vervang.  Ek lees die inligting oor die pluisies: keramiek insetsels, gemaklik, sagte silikoon rubber wat maklik in die oorkanaal indruk, doodstil, filtreer skadelike frekwensies uit, warrawarrawarra.

R290 plus posgeld later en die goed bly nie in my oor nie, hou aan uitdop en is g'n stiller as my vinger in my oor.  Na 'n dag en 'n half van sukkel gooi ek hulle onder in my een sak en hal my ou R20 köoperasieproppies uit en dis doodstil, ek ry soos in 'n Mercedes Benz.

So by so, dat net na ek my laatmiddag siesta geneem het soos per dié foto:


c0f36501d055fb75ec53111d4cab688b.jpg


.... ry ek met my YamaBenz wat nou so lekker stil is, vinniger as wat ek moet en woerts, hier spring 'n steenbokkie voor my uit.  Ek gooi brieke en die agterwiel begin die voorwiel te wil verbygaan.  Ek los die remme en dis genoeg tyd vir die steenbokkie om met 'n dolle gejaag die veld in te hardloop.

Die R20 köoperasie pluisies:

7264649bd0f1f27472b96abef9b4b2c8.jpg



Die R290 (plus posgeld) Nonoise pluisies.  Ek dink hulle moes hulle liewers Nonsens pluisies genoem het.  Kos seker 30c vir die pluisies en R10 vir die aluminium houertjie.  Ek sit nou my köoperasie pluisies in die aluminium houertjie.

e5ca6eda2e11c93a2cadfc3bcf5f1e31.jpg

 
Met die dat dit so droog is, wei heelwat wild op die skouers van die paaie en het ek al 'n paar klein wildsbokkies gesien wat raak gery is.  Gelukkig het die steenbokkie soos hierbo beskryf, nie so opge-eindig nie:

b24f5334685e0577ed350aa2d19724bb.jpg

 
Ek ry laat die middag Victoria-Wes binne, dis warm en bedompig met sulke eienaardige wolke wat die wind oor die dorp waai.  Soos meeste dorpies, is die arme plekkie maar vervalle en vuil.  Ek ry 'n draai deur die dorp opsoek na oornag slaapplek.  Ek ry verby winkels met name soos SalOmien, die drankwinkel Pick-a-Bottle (hy doen seker goeie besigheid hier maandeinde se kant toe) en die skrynwerkers Grib & Vos.  Hier is nie so iets soos 'n mall nie.  Ook nie Woolworths, Mugg & Bean en ander moderne verskynsels nie. Voor die hotel staan 'n stuk of 15 bakkies.  Meestal Cruisers, Isuzus en Hiluxe.  Almal met tralies, dik van die stof en 3 of 4 met skaaphonne agterop wat geduldig vir hul base wag.  Seker boerevereniging vergadering.  Vanaand sal daar keelstof afgespoel word daar binne.

Die platteland ......  Lekker, man, lekker.

Uiteindelik kry ek toe aan die rant van die dorp 'n gastehuis waar ek oornag.

b516ccc82a41f3101077014944b4701c.jpg


As ek sien hoe simpel laag hulle die wasbak gebou het sou ek darem afslag verwag het.  :peepwall: [emoji38]8:

af9250e55e68e1f1d19e58b494c5ea99.jpg


Nietemin, dis gemaklik en ek neem stelling op die agterstoep in waar ek, ja alweer, biltong geniet om die grommende maag te stil.  Daar is darem vars melk in die yskassie maar o wee, die Ingilse teekoppies maak dat ek die keteltjie weer so 3 keer moet stook om my teelus gedemp te kry.

5661c19ce6c05ba19f7a22b2da312e34.jpg


Daar is effe ongemaklikheid onder die bruin huisbediendes nadat die twee katte 'n koggelmander my kamer ingejaag het.  Die bediendes wil nou glad nie oormore die kamer kom diens nie want daai koggelmandertjie het onder die bed nes geskrop.  mens sou sweer dis 'n blêrrie krokodil wat onder die bed lê.
[emoji38]8: [emoji38]8:

b114fadb4f1ec93ca1adc282af818847.jpg

 
Ek sien die kamer kom ook met 'n voet wasbak.  :peepwall:
 

Attachments

  • voetewas.jpg
    voetewas.jpg
    36 KB
En so arriveer my laaste dag té vinnig na my smaak.  Dis maar dikwels so: dag 1 worstel mens jou nog los van die daaglikse dinge wat so 'n ruk lank saam my ry en eers van dag 2 af begin mens losraak.  En nou is dit al dag 3 van 'n 3-dae rit.  Maar wat, 'n hele volle dag op die Karoopaaie lê nog voor en ek sien baie daarna uit.  YR voorspel dat die wind hier rondom Victoria-Wes 14m/s gaan waai.  Dis woes sterk daai so ek wil darem 'n ent gery kry alvorens die wind beginne blaas.

Die gastehuis se rekenaarjoggie sukkel om die rekenaar op te start en my faktuur gedruk te kry so ek gaan pak maar solank my fiets.  Ek smeer ook weer sy ketting - wat dik onder 'n stoflaag sit - tot groot belangstelling van die huispersoneel wat eers oggend koffie geniet.  Daarna ry ek tot by Bester Auto waar ek volgooi.  Terwyl ek volgooi kom 'n oom met silwergrys hare uit en kom groet my heel vriendelik.  Dis die 77-jarige Oom Christie Bester wie se pa dié Ford handelaar "met niks" in 1946 beginne het.  Nou is dit 'n groterige bedryf wat 2 geboue in die hoofstraat besit.

"Ek is sommer negatief vanoggend en toe ek sien hier staan 'n motorfiets, wil ek eers my gedagtes bietjie kom afskud" seg die oom.  En daar gesels ons toe sommer meer as 'n uur lank terwyl my fiets daar op die vulstasie se ryvlak staan.  Hy het 'n Triumph Bonneville, sy 2 seuns ry ook fiets (1200 Adventure LCs) en sy kleinseun 'n 125 Tornado.  Oom Christie vertel hy is so lief om te gaan ry maar hy moet dikwels alleen gaan ry en hy is bang vir papwiele of omval dat hy op sy ouderdom nie meer die fiets kan orent optel nie. 

Ons gaan kyk fotos in sy kantoor, hy vertel van sy kinders, sy dogter wie se man vir iemand in die Langkloof boer, sy een seun wat nou die handelaar oorgeneem het. "eintlik moes ek al hier gewaai het dat hy kan aangaan maar dis my lewe die Ford agentskap." vertel hy.  Ons gesels oor die land en sy politiek (natuurlik  [emoji48] ), oor hoe hulle maatskappy 'n wa gekoop het en teen 'n onkoste van R12000 per maand, self die dorp skoonmaak, oor die munisipaliteit wat hulle 2 bakkies by die werkswinkel wil kom haal maar hulle het nie die R16000 om vir die werk te betaal nie, oor Ford se nuwe bakkies, oor hoe lank van die werknemers al by hulle werk, oor sy oupa se fiets met die karbied koplig, oor die droogte, boere wat swaarkry en alles en watnog.

En ek besef net weer dat elkeen 'n storie het om te vertel en elkeen is op sy eie manier interessant en die moeite werd om die tyd opsy te sit om daarna te luister en deel te neem.  Ek is baie lief om met ou mense te gesels.  Ek dink hulle is so dikwels opsy geskuif in die gejaag na die lewe elke dag dat hulle voor hulle tyd al oud is.  Dit was onbeplan en tog het ek dit baie geniet om met die oom te lag en te gesels en sy geskiedenis te hoor en die bitter interessante fotos te bekyk.

5842f64adc3677351b9557f5c5915988.jpg





Julle ouens wat so slordig aantrek as julle gaan fietsry beter julle sokkies optrek en julle onderbaadtjies afstof voor julle volgende rit.

e47f7f33f2877a3c730152135975579b.jpg





f5b57db27238c6c435a5495f0ca106fd.jpg



Wat sê julle van die pryse!?

12a0c684d71dd9b6020d4f190b0aece0.jpg

 
AI Dorsland wat 'n lekker reis verslag, gelukkig op 'n Vrydag raak gelees, want het so pas die hele verslag gelees.
Dankie dit is so mooi geskryf en jou foto's uitstekend. Ek is net so ma oor die klein dorpies en hulle mense.
SJoe dit is erg droog daar, hier by ons het dit ook so gelyk laasjaar, ek voel vir die mense met my hele hart.

Kan nie wag vir die res nie
 
punisher said:
sjoe , dankie meneer vir die deel

ek wil so graag stofpad karoo reis

Hel Punisher,  I thunk you wuz a Scotsman!? Jy praat dan mooi Afrikaans man  :thumleft:
 
Dankie MFN, jy gaan my moeilik glo maar ek het vroeër jare Nam stukkend gery. Dit was vir my die grootste grootse bederf gewees en nou was ek seker 18 of meer jaar laas op toer daar gewees. Dit maak my baie hartseer.  Die plaas hou my vas vas vas.  Nou steel ek 'n paar dae hier en 'n paar dae daar maar almal is té kort om julle pragtige land te besoek. Ek was al in meeste lande suid van die Sahara gewees en daar is geen, maar geen land wat Nam kan troef nie.
 
Dorsland said:
punisher said:
sjoe , dankie meneer vir die deel

ek wil so graag stofpad karoo reis

Hel Punisher,  I thunk you wuz a Scotsman!? Jy praat dan mooi Afrikaans man  :thumleft:

agg  ek probeer so bietjie ..........  maar moet asseblief vir niemand se nie  ne  :laughing4:
 
Ek vertrou nooit 100% 'n GPS nie en bestudeer altyd 'n padkaart vooraf dat ek weet waarheen ek ry.  Met die uitryslag ry ek toe sommer so 'n Kaapse draai deur Victoria-Wes voor ek die kort stukkie teerpad tot by die Hutchinson afdraai ry.  Soos ek Hutchinson nader ('n spoorweg sylyn dorpie amper soos Rosmead hier buite Middelburg) is daar 'n paar grondpaaie wat regs afdraai.  Ek ry stadiger dat ek nie verkeerd ry nie.  Dis toe die laaste van drie paaie wat afdraai, Biesiespoort is my mikpunt. 

Hel en dis 'n lekker stuk pad.  Lyk my hy is net so 'n dag of wat vantevore geskraap.  Maar die ding is hy is nou so stowwerig dat dit lyk asof daar 4 groot lorries agter my ry so skop ek stof op.  Ek draai bietjie die fiets se oor dat die stof daaaaaar trek, 'n moerse stofwolk agter my.  Lekker om weer 14 jaar oud te voel!  >:D

Naderhand moet ek my mik mooi ken want die pad raak redelik sanderig en met die wind wat nou behoorlik beginne waai, dreig hy om my op die sanderige middelmannetjie te waai.  En dit gaan 'n geneuk wees.

Ek kom by Biesiespoort en sy onooglike windplaas tussen niks en nêrens aan.  Ek sien daar staan een van die turbiene se vlerke nog in sy vervoerraam.  Dis darem 'n tamaai vlerk, mens besef dit eers as jy langs hom gaan staan.

83ec98492b0b268b3d8d6081f119fec1.jpg



728aa6e4a61c2d9b584a0406c98b10ad.jpg


Die wind waai nou 'n barshou maar gelukkig is dit amper reg van agter af en dis vir my die lekkerste fietsry.  My YamaBenz sweef sommer oor daai Karoospore, ek voel waaragtig ek kan vlieg.  Dis amper doodstil hier in my kletterpet, ek kry skaars wind voor by my baadtjie in waar ek hom oopgerits het, so sterk waai die wind van agter.  As mens 'n beesganna in die wind sien briekdans dan weet jy hy waai behoorlik.  Maar ai, dis lekker.  Ek kan sommer heeldag so ry.

Die weer is eienaardig, baie deinserig met sulke dun vlieswolkies wat nou en dan die son totaal versteek.  Dit wilwil lyk asof iets vir reën wil opbou maar ek weet die wind is gans en al té sterk daarvoor.

1645874d2a46b4d56b896d25d1f4460b.jpg


Ek merk 'n paar gasteplase wat ek verbygaan op die GPS.  Hulle is nou binne bereik van my af dat ek een dag na hulle toe kan uitry, oorslaap en die volgende dag weer huistoe ry.  Kan 'n baie lekker naweek bederf wees.  Ek dink een of twee van hulle het seker lekker geskep met die bou van die windplaas.  Ek is bly die boere het ook geleentheid gekry om pap te skep.  :thumleft: :thumleft:

Ek nader die N1 waar ek moet oor.  Net voor ek by die grootpad kom, staan dié mooi stuk water agter 'n damwal.  Dis weereens soos 'n oase in die woestyn.  Langs die pad agter die wal is dit klam, met 'n leivoor wat bietjie water na die plaas se lammerkampies toe lei.  Ai, dis groen en die grassies groei welig, die bome is sommer 'n tevrede groen skakering en daar is lewe na die dorheid van die afgelope paar dae.

b4392524d06d8abc8d8eec04421aeff7.jpg


0d767b68d580a6a4e97e79404485e790.jpg


En dan is ek by die N1.  Trokke, vullis langs die pad, geraas, gejaag.  Ek neem gou 'n kiekie of twee en maak dat ek oor hom ry, die vlaktes weer in.

5c7b87e018408889aa9fcf8aa6a72f92.jpg


5da1ca05cdba6f62aa8d243e9727ed36.jpg


Dit raak nou waaragtig warm.  Ek het gesien hulle voorspelling was vir 35ºC vandag en dit voel nou baie naby daaraan.  Gelukkig is die wind nog van agter en ek ry lekker.  Ek laat weet my vrou Murraysburg lê nou voor my, ek sal oor so 2 ure by die huis wees.  Ek sien uit om weer op die plaas te wees.  Maar tog is daar 'n heimwee dat 3 dae só vinnig kan verbygaan.

My laaste stop voor ek op Graaff-Reinet weer volgooi is die Afrikashoogtepas, die plaas Towerfontein lê so vlak onder die hoë kranse. 

57c55aa5254457377f3de4e4cd718e7a.jpg



Van Graaff-Reinet af plaas toe is die wind van amper 90º links teen my, hy waai my amper van my fiets af.  Daai laaste 60km is die mees vermoeiend van die hele rit so waai daai wind.  Nou ja, oppie plaas gekom, vanoggend alles deurgegaan, net 1 bokooi weg.  Rooikat.  Bliksem!

My brandstof verbruik oor die drie dae en vir 3 keer volgooi was 23.53km/l; 28.99km/l en 22.88km/l.  Ek kan baie ver op 'n tenk brandstof kom.

Tot volgende keer (wat gans en al té lank is)
 

Latest posts

Top