Ek vertrou nooit 100% 'n GPS nie en bestudeer altyd 'n padkaart vooraf dat ek weet waarheen ek ry. Met die uitryslag ry ek toe sommer so 'n Kaapse draai deur Victoria-Wes voor ek die kort stukkie teerpad tot by die Hutchinson afdraai ry. Soos ek Hutchinson nader ('n spoorweg sylyn dorpie amper soos Rosmead hier buite Middelburg) is daar 'n paar grondpaaie wat regs afdraai. Ek ry stadiger dat ek nie verkeerd ry nie. Dis toe die laaste van drie paaie wat afdraai, Biesiespoort is my mikpunt.
Hel en dis 'n lekker stuk pad. Lyk my hy is net so 'n dag of wat vantevore geskraap. Maar die ding is hy is nou so stowwerig dat dit lyk asof daar 4 groot lorries agter my ry so skop ek stof op. Ek draai bietjie die fiets se oor dat die stof daaaaaar trek, 'n moerse stofwolk agter my. Lekker om weer 14 jaar oud te voel! >
Naderhand moet ek my mik mooi ken want die pad raak redelik sanderig en met die wind wat nou behoorlik beginne waai, dreig hy om my op die sanderige middelmannetjie te waai. En dit gaan 'n geneuk wees.
Ek kom by Biesiespoort en sy onooglike windplaas tussen niks en nêrens aan. Ek sien daar staan een van die turbiene se vlerke nog in sy vervoerraam. Dis darem 'n tamaai vlerk, mens besef dit eers as jy langs hom gaan staan.
Die wind waai nou 'n barshou maar gelukkig is dit amper reg van agter af en dis vir my die lekkerste fietsry. My YamaBenz sweef sommer oor daai Karoospore, ek voel waaragtig ek kan vlieg. Dis amper doodstil hier in my kletterpet, ek kry skaars wind voor by my baadtjie in waar ek hom oopgerits het, so sterk waai die wind van agter. As mens 'n beesganna in die wind sien briekdans dan weet jy hy waai behoorlik. Maar ai, dis lekker. Ek kan sommer heeldag so ry.
Die weer is eienaardig, baie deinserig met sulke dun vlieswolkies wat nou en dan die son totaal versteek. Dit wilwil lyk asof iets vir reën wil opbou maar ek weet die wind is gans en al té sterk daarvoor.
Ek merk 'n paar gasteplase wat ek verbygaan op die GPS. Hulle is nou binne bereik van my af dat ek een dag na hulle toe kan uitry, oorslaap en die volgende dag weer huistoe ry. Kan 'n baie lekker naweek bederf wees. Ek dink een of twee van hulle het seker lekker geskep met die bou van die windplaas. Ek is bly die boere het ook geleentheid gekry om pap te skep. :thumleft: :thumleft:
Ek nader die N1 waar ek moet oor. Net voor ek by die grootpad kom, staan dié mooi stuk water agter 'n damwal. Dis weereens soos 'n oase in die woestyn. Langs die pad agter die wal is dit klam, met 'n leivoor wat bietjie water na die plaas se lammerkampies toe lei. Ai, dis groen en die grassies groei welig, die bome is sommer 'n tevrede groen skakering en daar is lewe na die dorheid van die afgelope paar dae.
En dan is ek by die N1. Trokke, vullis langs die pad, geraas, gejaag. Ek neem gou 'n kiekie of twee en maak dat ek oor hom ry, die vlaktes weer in.
Dit raak nou waaragtig warm. Ek het gesien hulle voorspelling was vir 35ºC vandag en dit voel nou baie naby daaraan. Gelukkig is die wind nog van agter en ek ry lekker. Ek laat weet my vrou Murraysburg lê nou voor my, ek sal oor so 2 ure by die huis wees. Ek sien uit om weer op die plaas te wees. Maar tog is daar 'n heimwee dat 3 dae só vinnig kan verbygaan.
My laaste stop voor ek op Graaff-Reinet weer volgooi is die Afrikashoogtepas, die plaas Towerfontein lê so vlak onder die hoë kranse.
Van Graaff-Reinet af plaas toe is die wind van amper 90º links teen my, hy waai my amper van my fiets af. Daai laaste 60km is die mees vermoeiend van die hele rit so waai daai wind. Nou ja, oppie plaas gekom, vanoggend alles deurgegaan, net 1 bokooi weg. Rooikat. Bliksem!
My brandstof verbruik oor die drie dae en vir 3 keer volgooi was 23.53km/l; 28.99km/l en 22.88km/l. Ek kan baie ver op 'n tenk brandstof kom.
Tot volgende keer (wat gans en al té lank is)