RR: Ladismith tot L'Agulhas

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Karoo Rider

Race Dog
Joined
Sep 1, 2012
Messages
1,874
Reaction score
903
Location
Ladismith WC
Bike
Honda CRF-1100L Africa Twin
'n Geruime tydtjie gelede het ek al Slingsby se "Overberg" kaart vir my aangeskaf, want in die area tussen Witsand en Gansbaai, tot noord teen die N2, was ek nog nooit vantevore nie.  Skoonma het 'n paar dae by die familie op Bonnievale gekuier, en met ons wat haar weer moes gaan haal het kom ek gou tot die besef dat dit nou my kans is.

So gisteroggend vroeg is vrou en kinders met die Atos, en ek met die motorfiets, hier deur en op Barrydale draai ek weg oor die Tradouwspas.  Graag sou ek darem dié pas wou gery het in die dae toe dit nog grondpad was.  Natuurlik gebou deur pasmeester Thomas Bain, van 1869 tot 1873.

By Buffeljags blaas ek solank die bande 'n knertsie af, en kort daarna vurk ek links uit op die Malgas pad.  Vaalbruin saailande en 'n paar skaap hou my geselskap voordat die pad skielik afkronkel na die groen rivieroewer.  Malgas Pond.  Eers 'n Volkswagen kombi met Gautengse toeriste wat oorgetrek word, dan is dit my beurt.  

"Where do I pay", vra ek die een man.  "You can pay me, sir, but only once you're on the other side, and safe" kom die antwoord glimlaggend.  Elk met 'n band oor die skouer leun drie manne krom terwyl die skip voetjie vir voetjie langs die staalkabel oorgly.  'n Kennisgewingbord lees seker my gedagtes en waarsku dat die publiek nie mag hand bysit nie.  'n Skamele R15,00 later kom ons met 'n ligte stampie aan wal.  Ek hoop maar hulle deel die paar rand kleingeld regverdig.

By Bredasdorp gekom merk ek dat Arniston/Waenhuiskrans net meer as 20km verder lê en ek gaan loer gou hoe die see daar lyk.  Misgus my amper met 'n sandkol by die parkeerplek.  Die bedompige seelug kleef al onder die ryklere en ek besluit om weer pad te vat.  Die kaart toon 'n kortpad, Droëmelkbos/Prinskraal, en ek onthou ChrisL het onlangs melding gemaak hiervan.  Nie ver gery nie gaan ek verby 'n ouerige kêrel wat effens mank langs 'n trapfiets loop.  Pap agterband merk ek in die verbygaan.

Ek draai om en gaan stop langs hom.  Dis tubeless tyres, verduidelik hy, maar hy wys my dat die sywand van die band gesny is, en hy het 'n snotwurm daar ingedruk maar sy gasbommetjies is gedaan.  Hy het sy vrou probeer kontak maar weet nie of sy die boodskap gekry het nie.  Hy't al 75km vandag gery en nou dit.  Terwyl ek my pompie begin uithaal noem hy so terloops dat hy BMW motorfietse versamel, hy't blykbaar 'n stuk of agt van hulle, sy gunsteling die R80's.  Hy't ook nog 'n kleinerige KTM waarmee hy nou en dan bietjie rondspeel.  Ek kan agterkom hy's van daai effe koppige "never-say-die" tipe toppies.  Ek hou van hulle.  Maar toe hy vir my sê hy't al vier keer aan die Dakar ook deelgeneem begin wonder ek so bietjie.  

Kort daarna kom sy vrou daar aan met die kar.  "You BMW people have a strange way of always finding each other!" sê sy toe sy uitklim en sy bied koue drinkwater aan.  Fiets vasgemaak op 'n fietsrak groet ons en word ek vreeslik bedank vir my hulp (al het ek toe ook maar niks gedoen nie).  Ek vra hom sy naam: Neville Murray.  Die naam klink verlangs bekend, en agterna by die huis Google ek dit en sowaar, die man is 'n Dakar veteraan.

Struisbaai.  Nogals groter as wat ek gedink het sê ek vir myself en draai af rigting Agulhas.  Eers verby die vuurtoring, ek wil daar by daai klipbaken gaan staan, die suidpunt van Afrika.  'n Oom speel gou vir my fotograaf voordat ek moet eenkant toe staan vir 'n groep Duitsers wat ook hulle beurt afwag.  Sonder 'n ware ontbyt begin die honger homself nou lastig maak, en terug in Struisbaai gaan sit ek by die Bistro in die hoofstraat.  'n Malva en 'n palm baklei in dieselfde pot, en die tralies op die stoepie het ook al moed opgegee teen die seelug.  Na Suidwes se trots kom die burger.  Nou nie in dieselfde klas as die Dwarsbar s'n nie, maar hy sit my darem weer op die pad.  

Kort buite Struisbaai draai ek links af op die Elim pad.  Later swenk hy weer terug, ooswaarts verby Heuningrug tot net voor Bredasdorp.  Daar deur vat ek die R319 rigting Swellendam, maar net oor die Soesrivier draai ek weer links af na Protem.  Later, in die area van Leeuwkop, moes ek my beplande uitdraai noord gemis het, maar iedergeval hou ek voort en sluit weer by die R319 aan.  Sowat 12km later draai ek links op die N2, en weer regs af by Stormsvlei waar ek eers aandoen vir 'n koeldrank.  'n Paar plaaslike manne is reeds gevestig om die kroegtoonbank.

Laaste paar kilometer tot op Bonnievale.  Aangekom by swaer-hulle word ek gegroet met 'n koue bier.  Die kinders baljaar in die swembad en die wasmasjien-balie brand al hoog.  'n Lekker 440km vir die dag en baie van die Overberg se paaie en plekke gesien.  Beslis nie my laaste keer nie!



 

Attachments

  • 02 - TRADOUWSPAS.JPG
    02 - TRADOUWSPAS.JPG
    145.2 KB
  • 03 - TRADOUWSPAS.JPG
    03 - TRADOUWSPAS.JPG
    183.6 KB
  • 04 - TRADOUWSPAS RIVIER.JPG
    04 - TRADOUWSPAS RIVIER.JPG
    184.5 KB
  • 05 - BUFFELJAGS NA MALGAS.JPG
    05 - BUFFELJAGS NA MALGAS.JPG
    103.9 KB
  • 06 - BY MALGAS.JPG
    06 - BY MALGAS.JPG
    140.6 KB
  • 07 - MALGAS POND.JPG
    07 - MALGAS POND.JPG
    161.6 KB
  • 08 - MALGAS POND.JPG
    08 - MALGAS POND.JPG
    120.9 KB
  • 09 - MALGAS POND.JPG
    09 - MALGAS POND.JPG
    131.5 KB
  • 10 - MALGAS POND.JPG
    10 - MALGAS POND.JPG
    143.3 KB
  • 01 - Lds tot Agulhas.jpg
    01 - Lds tot Agulhas.jpg
    214.4 KB
Nog 'n paar foto's:
 

Attachments

  • 20 - RIVIERSONDEREND.JPG
    20 - RIVIERSONDEREND.JPG
    156.6 KB
  • 19 - RIVIERSONDEREND.JPG
    19 - RIVIERSONDEREND.JPG
    168 KB
  • 18 - STORMSVLEI.JPG
    18 - STORMSVLEI.JPG
    155.9 KB
  • 17 - POMPSTASIE.JPG
    17 - POMPSTASIE.JPG
    137.7 KB
  • 16 - PROTEM SILO'S.JPG
    16 - PROTEM SILO'S.JPG
    139.5 KB
  • 15 - HEUNINGRUG.JPG
    15 - HEUNINGRUG.JPG
    123.6 KB
  • 14 - LAFENIS.JPG
    14 - LAFENIS.JPG
    125.1 KB
  • 13 - AGULHAS VUURTORING.JPG
    13 - AGULHAS VUURTORING.JPG
    140.8 KB
  • 12 - SUIDPUNT VAN AFRIKA.JPG
    12 - SUIDPUNT VAN AFRIKA.JPG
    126.2 KB
  • 11 - WAENHUISKRANS (ARNISTON).JPG
    11 - WAENHUISKRANS (ARNISTON).JPG
    162 KB
That river crossing is great! Nice RR and trip looked like a good one!  :thumleft:
 
Nice, julle ou's daar in die Kaap is darem bevoorreg!!
:thumleft:
 
Jan dankie vir die deel en volgende keer kom jy George om as jy weer Kaap se kant toe gaan.  :thumleft: :thumleft:
 
My vrou is nounog kwaad vir my oor die stukkie sand by Aniston se parkeerarea :eek7:
Ek moes glo geweet het van dit al was ek nog nooit daar nie :deal: :biggrin:
Gawe trip KR.
 
Mooi fotos en report, nou kan ek weer aangaan vir die week..
 
grim101 said:
Is jy nie dalk verby ñ swart DL nie. Het so te sê dieselfde roete gedoen. :)

Ek het in Bredasdorp verby 'n plek gery met 'n paar fietse buite, dink iets soos Jack 'o Spades of so iets, dis naby die silo's.  Is verby een of twee ander fietse, maar nie 'n DL sover ek kan onthou nie?

chrisL said:
My vrou is nounog kwaad vir my oor die stukkie sand by Aniston se parkeer :eek7:
Ek moes glo geweet het van hom al was ek nog nooit daar nie :deal: :biggrin:
Gawe trip KR.
;D Stuk pes daai sand.


 
Nice roete en fodies, ek is mal oor Struisbaai en het daai paaie ook al vrot gery. :thumleft:

Hang net af hoe die wind gewaai het maar daai sand kol by Waenhuiskrans se parkering het al baie ouens gevang. :deal:
 
Top