Sederberg omswerwinge

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Karoo Rider

Race Dog
Joined
Sep 1, 2012
Messages
1,939
Reaction score
1,143
Location
Ladismith WC
Bike
Honda CRF-1100L Africa Twin
"Ja OK, dis reg vir die week se verlof, maar onthou die week daarna is dit die groot oudit so dan moet jy asseblief weer terug wees. Geniet dit."  Terwyl sy handtekening se ink droog word op my verlofvorm, sluit ek die Vrydagmiddag my kantoor.  Ek hoop net my verlofaansoek word op soortgelyke goedgunstige wyse oorweeg by die huis, maar ek is verniet bekommerd, die ja-woord word langs die aand se braaivleisvuur gegee, en die magdom moontlike paaie begin maal in my kop.   

Elkeen van ons het seker 'n voorkeur tipe motorfietsreis.  Sommige hou van groot groepe - dis lekker en mens geniet die spangees en variteit van almal teenwoordig.  My gunsteling tipe is seker met een of dalk twee maters, en die ritte en toere wat veral ek en Chris Louw al so aangepak het lê my na aan die hart.  Maar ek dink daar kom ook 'n tyd wat 'n mens alleen moet reis.  Gemaklik wees met jou eie gedagtes.  Jouself wees.  Groot manne het dit tog al gedoen, hetsy of dit nou Chris Louw, Dorsland of die inwonende kreefinspekteur van Montagu is, en ek wou ook daai gevoel van onafhanklikheid ervaar.

Voorbereiding.  Dis Sondag en ek wil môre ry.  Ek moes eintlik lankal wakker geskrik het.  My nuwe stel bande lê reeds hoe lank hier in die garage en nou sal ek dit eers môre oggend kan laat optrek voor ek ry.  Dinge gaan te laat word besef ek.  Wat as ek langs die pad 'n bandsny opdoen en self 'n band moet kan afhaal?  Dalk is dit 'n goeie idee om sommer self die bande by die huis op te trek en sodoende bietjie te oefen reken ek.  So gesê so gedaan.  Op beide my vorige fiets sowel as die Africa Twin is ek bederf met binnebandlose buitebande (OK "tubeless" vir die wat nie weet wat dit is nie!) so nog nooit was daar die nodigheid om 'n band met die hand af te trek nie, maar enige "regte biker" moet dit darem kan self doen dink ek! 

Chris gee instruksies via Whatsapp.  Knyp hom so vas.  Kyk na dit.  Maak seker van dat.  Arme man was seker moedeloos later want toe ek weer hoor noem hy van kamstig 'n draai ry vandag en heel toevallig sou hy elk geval Ladismith om ry - kan jy nou meer!  En my nuwe Enduristan Monsoon 3 kantsakke bring hy ook sommer vir my saam.  Ek sou aanvanklik net 'n drybag vat aangesien ek nie 'n tent en ander groot goed gaan saamneem nie.  Op die einde kon ek egter nie wag om te sien hoe die sakke op ou Bloutoon gaan lyk nie en besluit toe om eerder hulle op te sit en die drybag te los.
 

Attachments

  • 20210815_114237.jpg
    20210815_114237.jpg
    488.6 KB
  • 20210816_090750.jpg
    20210816_090750.jpg
    653.3 KB
  • 20210815_092503.jpg
    20210815_092503.jpg
    435.6 KB
"Meneer, hier is mos nie nou krag nie, hulle werk aan iets."  Effe vies sit ek my helmet maar weer op, trek my handskoene weer aan, sluit die tenk toe, klik die tenksak terug, en ry weg by die pomp.  Kon die kêrel my nie vooraf beduie het nie?  Maar ja dis nou nie die ergste nie, ek kan seker na die ander vulstasie op die dorp ry maar die tenk is nog half so kom ons kyk maar nader aan Laingsburg hoe hy lyk.  Dis 'n pragtige oop dag en die myle vlieg verby.  Ek ry Van Zylsdamme se rigting met die Anysberg pad om.  Ek stop hier en daar om die nuwe bande en nuwe sakke te bekyk - nee wat als nog klopdisselboom. 

Die Witteberge pad wink my linksaf.  Die brandstof lyk nog genoeg om Touwsrivier te haal en ek is mos nie haastig nie.  Bo by die uitkykpunt trek ek af, maar neem net 'n foto - hier sal die wind die melk uit my koffie waai en ek stoot eers aan.  Kort voor lank oorval die koffie en droëwors verlange my egter en ek trek af.  Groot proteabosse staan in volle blom en mens ruik die klam berggrond na die onlangse reën. 
 

Attachments

  • 20210816_104544-Edit.jpg
    20210816_104544-Edit.jpg
    577 KB
  • 20210816_110222.jpg
    20210816_110222.jpg
    593.7 KB
  • 20210816_113334.jpg
    20210816_113334.jpg
    515.4 KB
Aaaitog......asof ek noual reg is vir die volgende fotoverslag..ek werk nog deur Ri en Noneking sin :lol8:

Ek op :thumleft:
 
By Touwsrivier gooi ek vol en besef skielik dat ek omtrent 3 ure lank gery het net tot hier en sal moet opskud.  Later draai ek regs af en gaan Karoopoort deur en die R355 se vlaktes maak oop.  Met sy "Calvinia 200km" herinner 'n padbord my aan waar ek is, maar 'n entjie verder draai ek af Skitterykloofpas se rigting.  Sou graag wou gaan groet het by die Padstal maar ja, dalk volgende keer.  Die Narradouw vlakte se krulle en draaie neem my oor na Katbakkiespas.  'n Huisie met 'n ou karavaan.  Gebukkend staan sy oor 'n waskom.  En dan hande wat aan 'n voorskoot afgevee word om te waai.  Ek groet terug en 'n blou kopdoek knik met 'n glimlag.  Wonder wat maak die mense hier?  Hulle is seker maar veewagters of seisoenale werkers.  Ek dink nie hulle weet van Allpay nie.  Met die afsak teen die pas sien ek die blinkvol Swanepoelspoortdam daar onder.  Tot oorlopens toe vol.

Blinkbergpas uit.  Later oor die Grootrivier se sementdrif by Mount Ceder, min wetende dat een van sy bolope juis by môre aand se slaapplek is: die Leeurivier by Balie's Gat.  Grootrivierpas oor en ek sien my bestemming teen die oorkantste hang - Cederberg Oasis.  Ek kry my tent, 'n koue bier en die Kaap is Hollands.
 

Attachments

  • 20210816_135748_001.jpg
    20210816_135748_001.jpg
    435.6 KB
  • 20210816_142901_001.jpg
    20210816_142901_001.jpg
    514.9 KB
  • 20210816_152341.jpg
    20210816_152341.jpg
    595.2 KB
  • 20210816_154940.jpg
    20210816_154940.jpg
    371.6 KB
  • 20210816_155855.jpg
    20210816_155855.jpg
    420.3 KB
Ek rol van vroeg af rond.  As iets moet verkeerd loop vandag kan dinge interessant raak.  Die plan is om die Eselbank pad na Wuppertal te ry, en behalwe dat ek alleen is, begin drup-drup die eerste reën wat voorspel is.  Maar ek het 'n gedempte vasberadenheid onder lede.  Gisteraand vertel Gerrit my van sy stryd met COVID.  Daar was tye wat dit glo nie maklik gegaan het nie, maar hy's dankbaar om vanaand hier te kan sit, smullend aan 'n bord kerrie-beespote na hy vir hoe lank niks kon proe nie.  Gister was dit presies 3 maande terug wat ek geval het en my BMW 1200 afgeskryf het teen 'n duiker naby Steytlerville.  Soms kry mens nog 'n kans.

Eerste rat, tweede, dalk derde.  As jy gelukkig is.  Albasterklip, stroompies, poele, klipbank, sand.  Dig toegemis soek ek na die bekende Tafelberg & Spout landmerk hier bo teen die rante, maar te vergeefs.  Nes ek dink "hier gaan ek nou gly" of "ek is hopeloos te vinnig vir dié dip" dan kan ek sweer ou Bloutoon wil omkyk en vir my sê: "Hou op stres ou bul, enjoy the ride!".  Voorwaar 'n besondere fiets.  Skielik kom Eselbank te voorskyn.  Groot poele modderwater maak my huiwerig om deur te ry.  Om in dié koue reënweer nou daar in te val gaan minder plesierig wees vermoed ek ten sterkste, en 'n lang dag se ry lê nog voor.  Die eerste een bekyk ek en neem sommer 'n foto.  Mens weet nie of daar 'n Before & After mag wees nie maar ek kom hom maklik verby deur tussen die bossies te hou. 

Volgende poel.  Ek vat weer kortpad, die een het biesies en swart modder, en halfpad weet ek nie of dit so goeie plan was nie.  Ek raak verstrengel in 'n stuk doringdraad om my voet.  Die Twin brul hier onder soos hy stoei en baklei en net toe hy begin momentum kry val die voorwiel skielik net weg hier voor my, ek amper bo-oor.  Per ongeluk (of per geluk?) ruk ek die versneller oop en die fiets se voorwiel spring uit die gat en ruk dood onder my, met die agterwiel nou weer in die gat.  Ingesak tot teen die nommerplaat, ketting en als onder die swart slik.  "Bad choices lead to good stories" seg hulle.  Skakel weer aan, gee vet, en wonder-bo-wonder spring ou Bloutoon uit die gat uit.  Ek hou hom net oop en beland effe oorbluf, maar genadiglik valvry, terug in die pad - ten aanskoue van 'n paar teleurgestelde Eselbankers!
 

Attachments

  • 20210817_092215.jpg
    20210817_092215.jpg
    499.7 KB
  • 20210817_091127.jpg
    20210817_091127.jpg
    460.5 KB
  • 20210817_083514.jpg
    20210817_083514.jpg
    525.9 KB
  • 20210817_083538.jpg
    20210817_083538.jpg
    333.9 KB
  • 20210817_085127.jpg
    20210817_085127.jpg
    423.2 KB
Kyk, 'n man wat, Nr 1 'n teefles saamry, Nr 2 Windhoek Draught drink, Nr 3 'n Africa Twin ry en Nr 4 droë wors as noodproviant inpak, daai man is enige tyd aan huis by my welkom.

Jy neuk nou lekker met my Jan. Ek kyk daai paaie, daai AT, daai passe en die lus oorval my.  'n Sterk man kan daarvoor swig en saalsakke beginne volpak.
 
Eselbank se sandstuk.  Sommige ouens se hoogtepunt - ander se uitdaging.  Maar as daar nou een goeie ding van die reënweer is, is dat dit die sand gekompakteer het soos 'n strand wat laagwater trek en ek is byna teleurgesteld, straks windgat, sommer so sit-sit daar deur.  'n Paar knikke verder stop ek vir 'n breek.  Die snoepie word oopgemaak en 'n kiekie of twee ook sommer geneem.  Eendag as ek met my kateterpypie in Huis Herfsblaar se sonkamer sit en speel wil ek darem die goeie tye kan onthou!

Ek sak die sementspore van Eselbankpas af, die twin-motor grommend soos hy in eerste-rat afkruip na Wuppertal benede.  Ek ry 'n draai deur die dorpie maar alles lyk stil.  Een of twee motors met GP nommerplate wat seker kom blomme soek.  Ek maak kontak huis toe en saal weer op, Koubergpas uit en oor na die Biedouw vallei in die hoop om ook 'n paar van die ou geles en oranjes te sien, maar in hul massas skuil hulle vandag teen die koue.
 

Attachments

  • 20210817_092809.jpg
    20210817_092809.jpg
    524.7 KB
  • 20210817_093450.jpg
    20210817_093450.jpg
    549.5 KB
  • 20210817_095039.jpg
    20210817_095039.jpg
    430.4 KB
  • 20210817_100003.jpg
    20210817_100003.jpg
    571.5 KB
  • 20210817_103451.jpg
    20210817_103451.jpg
    408.5 KB
Gister was dit presies 3 maande terug wat ek geval het en my BMW 1200 afgeskryf het teen 'n duiker naby Steytlerville.  Soms kry mens nog 'n kans.

Ek wonder hoeveel Bikes al uitgehaal is deur Duikers in Steytlerville se Omgewing? Ek was ook 'n Slagoffer van die klein bliksems.
Lekker RR. :ricky:
 
Die tipe solo trips is kos vir 'n man se siel  ;)

Baie dankie vir die deel sover en ons kan nie wag om die res te sien nie  :thumleft:
 
Hoek-se-berg-pas.  Dink ons ooit terug aan ons voorvaders, die pioniers, wat die eerste keer bo of onder enige berghang gestaan het, dalk 'n teug aan 'n kromsteelpyp gegee het, en opslag verklaar het: "Hier gaan ons 'n pas bou."  En hoekom?  Nie vir aansien of om wêreldlande te gaan verower of om stede daar te gaan bou nie.  Nee, net om 'n paar skaap te kan weiding gee of om dalk 'n paar velle aan 'n Jood aan die anderkant te gaan verkoop.  Dis maar al.  Maar die wil was daar.  Hoe het ons so lamsakkig geword in vandag se samelewing?

Ek sluit by die Clanwilliam / Calvinia pad aan.  "Englishman's Grave 1901" laat wonder my juis oor die verlede en wat hier 120 jaar terug gebeur het.  Luitenant Clowes het onder vuur van die Boeremagte beland en is gedood.  Sy ma het al die pad van Engeland af gekom en die gedenksteen laat oprig.  Ek stop 'n paar kilometer verder vir koffie by die Traveler's Rest koffiewinkel.  Die dame wat my bedien, vermoedelik van Ooskaapse herkoms, kan my nie in Afrikaans bedien nie.  Ons twee moet Engels praat.
 
Enjoyable RR with a journalistic flair, including the amusing "binnebandlose buitebande"  :lol8: 

What a spectacular part of the country!

:thumleft: :thumleft:
 
Lekker RR en pragtige foto's. Baie dankie, ek ry saam!  :thumleft:
 
Ek wik en weeg of ek 'n paar ompad draaie nog gaan ry, maar dis asvaal van die reën in die rigting van Nardouwsberg.  Die dag het my alweer ingehaal.  Ek besluit om bietjie tyd op te maak en gaan die pragtige Oupoort met sy klipformasies deur en begin klim uit teen die Pakhuispas.  Later oor en ek sak Clanwilliam in.  Die skielike wemel van mense vang my byna onkant na die twee dae se stilte.  Ek kruie deur die verkeer.  Ek soek na die Ramskop Slaghuis om vir my proviant vir die aand te kry.  Gisteraand se burger by Oasis lê ver en mens kan darem nie vir so 'n lang uitgerekte periode geen braaivleis eet nie! 

Ek stop.  Die motorfiets trek natuurlik aandag soos motte na 'n kers en ek vertoef nie onnodig in die slaghuis nie, maar die plek is besig.  Ek vat 'n koeldrank en tydskrif terwyl ek wag vir my beurt.  Netjies vakuumverpak oorhandig die skraal Oom agter die toonbank my bestelling van 'n paar snitte lamsvleis en wors.  Sy potblou oë ontmoet myne vir 'n oomblik.  Hy lyk moeg.  Wit oorjas, gumboots.  En daai kenmerkende pienk hande van 'n blokman. 

Citrusdal kom te voorskyn.  Orals is dit bedrywig met boerdery aktiwiteite.  Padstalletjies smous vir oulaas met hul "Naartjies, nawels en lamoene."  Ek klim die Middelbergpas uit, en dit reën.  Later kruipspoed in die geweldige digte mis en die spore raak glad.  'n Paar benoude knikke en draaie later begin die pad oopmaak.  Dit reën nog maar ek kry weer 'n teerpad en stoot bietjie aan.  Op 'n manier kry ek dit reg om die Tandfontein afdraai te mis.  Dalk was ek soekend na 'n amptelike padbord, maar dis 'n plaasnaam.  Draai om, terug, kry hom.  Laaste sein en ek maak kontak met die basis op Ladismith.

'n Sandspoorpad bring my skielik aan die bokant van die Piet Esterhuysen pas.  Met pik en graaf is hy blykbaar in die 40's of 50's gebou.  "Daar onder kan mens seker gaan boer of hoe?" moes hulle seker gedink het.  Ek ontmoet vir Yvonne Bothma, die gasvrou, en sy beduie my na die huisie wat ek vir die aand bespreek het, inderdaag 'n welkome heenkome na 'n lang dag in die saal.   
 

Attachments

  • 20210817_115444.jpg
    20210817_115444.jpg
    391.4 KB
  • 20210817_172924.jpg
    20210817_172924.jpg
    518.2 KB
  • 20210817_174229.jpg
    20210817_174229.jpg
    495.2 KB
  • 20210817_150531.jpg
    20210817_150531.jpg
    570.2 KB
'n Bakkie kom aangery.  Yvonne het gesê haar man bring later my braaihout.  "Marius Bothma, aangename kennis en welkom."  Hoed en baard.  Stewige handdruk.  'n Uur later roep sy vrou al op die radio en ons laai maar die hout af.  Ek sal graag wil teruggaan vir die res van die gesels.

Ek steek vuur aan.  My vuur.  Maak 'n bier oop.  Later sommer nog een.  Biltong, neute en chips wat my vrou nog ingepak het.  Op my selfoon sit ek gedemp 'n bietjie Boeremusiek aan.  'n Man kan seker nie van vleis alleen lewe nie, en ek beraam 'n plan vir 'n "bykos".  Yvonne het gesê ek moet kry van die droë perskes wat in die huisie is, en ek kry die idee van 'n bietjie gestoofde vrugte.  'n Wyle later het hulle mooi uitgeswel van die kokende water en ek karameliseer dit met 'n bietjie suiker bo-oor totdat dit die heerlikste soet stroop maak.  'n Paar draaie later kom die vleis af en ek sit aan by 'n eenvoudige feesmaal.

Dit begin weer saggies reën op die huisie se sinkdak en ek sit 'n ketel op vir koffie voor ek gaan inkruip.  Ek gaan staan buite by die gloed van die laaste kole en kyk op.  Die druppels prik my gesig maar ek wil hierdie oomblik nie laat verbygaan nie.  Ek wil dit absorbeer soos my jas nou hierdie reëndruppels absorbeer.  Ek wil eendag sukkel om dit te vergeet.  Soos jy sukkel om 'n jas droog te kry.
 

Attachments

  • 20210817_172617.jpg
    20210817_172617.jpg
    434.2 KB
  • 20210817_173432.jpg
    20210817_173432.jpg
    410.8 KB
  • 20210817_183513.jpg
    20210817_183513.jpg
    364.7 KB
  • 20210817_200332.jpg
    20210817_200332.jpg
    302.8 KB
  • 20210817_201644.jpg
    20210817_201644.jpg
    167.5 KB
Top