Brandvlei na Williston.
Een van die redes vir my trip was om dié stuk grondpad te ry.
Ek was 6 weke terug in Williston by vriende en het die Saterdag oggend n end op die pad uit gedraf en die Brandvlei borde gesien.
Waar ek vandaankom is die dorpe 50-60 km uitmekaar.
So val ek in die pad sonder om te eet. Google maps reken dis 150km ver en neem 3-4 ure.
Net buite Brandvlei sien ek hoekom. Dit lyk soos n rivierloop waarin jy ry.
Gemiddelde spoed is seker 30km per uur.
Dis koud en die wind waai.
Daar is reenwolke wat op die horison saampak.
Ek weet ek moet stop vir fotos maar kom net nie sover nie.
Afklouter, handskoene uit. Kode insit want foon herken my nie met helmet op nie.
Foto neem. Alles bêre. Handskoene aan. Opklouter.
Sit kry…..
Ek sukkel maar aan.
Die alternatief is te vreesaanjaend om aan te dink.
120km teerpad.
Die XR is n champ, hy ploe net aan.
Ons is op dieselfde bladsy, ek en hy, ons gaan nie neerdonner vandag nie.
Kort voor lank vrees ek nie meer die sandjies (te erg nie) kyk net vir klippe en gate.
Gemiddelde spoed darem bietjie op.
Op n stadium hoor ek sulke snaakse geluitjies.
Soos n klein hondjie wat op die bed wil lê maar nie kan opspring nie.
Dis nie iets op die bike nie.
Dis toe my beskermengel wat sukkel om by te bly!
Die pad raak beter.
Die weer raak erger.
Ek weet nie hoe laat dit is nie my horlosie sit onder my baadjie se mou.
Maar dis koud!