1 motorfiets, 2 mense, 3 weke vakansie en 80 ure/6200 km in die saal: Klaar!

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.
NO GOOD said:
Fokkit Eish, jy lyk darem baie na BIG ED. Is julle nie dalk familie?

;D ;D ;D


Praat jy van die nek ondertoe of boontoe ?

;D ;D ;D


Ons het laasjaar gepraat van die groot 5 - Ek, Ed, Trailrider en Surf en Davy...

;D ;D

Intussen het 'n paar bygekom.
 
:thumleft: :thumleft: :thumleft:

Ons het darem net die mooiste land met al die verskillende uiterstes bymekaar - > net jammer ons het nie genoeg tyd om dit te waardeer nie....

Nice report - moet nie dat ons jou keer nie !! nog asb.

Ons raak groen groen groen - ongelooflik!
 
Eisbein said:
NO GOOD said:
Fokkit Eish, jy lyk darem baie na BIG ED. Is julle nie dalk familie?

;D ;D ;D


Praat jy van die nek ondertoe of boontoe ?

;D ;D ;D


Ons het laasjaar gepraat van die groot 5 - Ek, Ed, Trailrider en Surf en Davy...

;D ;D

Intussen het 'n paar bygekom.

yep , I'm also a new member :biggrin:

Brillaint report - your really married a gem :thumleft: (Vicky, not the bike  :p)
 
Deel 8 van 13:

Komatipoort na Nhlangano

En uiteindelik... die res van die saga!

Alhoewel ons ‘n redelike lang stukkie pad het om die dag af te lê rek ons die (groot, lekker en ongesonde) ontbyt self nog langer uit.  Wie weet immers wanneer ons weer die kans het om by dié family (wat ons actually sou gekies het as ons kon!) te kuier?

Gelaai , gegroet en daar gaan ons weer met die N4 waarmee ons 2 dae terug Komatipoort ingekom het.

DSCF2935.jpg



Met die afdraai op die R570 is dit toe amptelik... Ons is oppad Swaziland toe!

DSCF2934.jpg

Undercover piesangs

DSCF2940.jpg

Daar voor draai jy links na Jeppe's Reef


Natuurlik hou ons van ons vakansies vol mooi plekke, nuwe paaie en ‘n paar koppies avontuur bygevoeg vir smaak, anders sou ons dit mos nou nie gedoen het nie, right?  Maar jy weet daardie niggly stemmetjie wat in jou kopbeen rondbons wat so in die ry vra:  “So, hoeveel mense ken julle in Swaziland?”  “Nee, niemand nie” antwoord die avontuurlustige biker chick sonder ‘n oomblik se aarseling. “O” sê stemmetjie.  “Ek wonder hoe lyk die paaie?”  “Wetie...” rol A B C haar oë. “Hmm.  So vir wie gaan julle bel as daar ’n probleem is op die pad?” vra stemmetjie gemaak onskuldig verder.  “Nee,” lig A B C vir stemmetjie in, “ons het nie selfoon opvangs in Swazliland nie.”  “Regtig?” vra stemmetjie en toe sommer in dieselfde asem – “so waar slaap julle vanaand?”  “Ag, SHUT UP!” – wat stemmetjie toe gelukkig doen.

DSCF2950.jpg

Mooooosley

Ons betaal ons R50.00 padfonds by Swaziland se grenspos (hengse goeie idee me thinks), ons paspoorte word gestamp en ons is deur Jeppes Reef se hek.  Te laat om te wonder of dit ‘n goeie idee is, so ons kan dit net sowel geniet!

DSCF2955.jpg

Daar's hy - eerste stempel (met eie voertuig) in die paspoort


Op Pad na Piggs Peak doen die wolke toe wat hulle lankal beloof en dit begin so saggies reën . Ek het op die stadium reeds al my warm klere aan en sit so skuil-skuil agter Eisbein se skouer, maar dis steeds maar bibber koud.  Ligte blou lippe of te nie, Swaziland is ‘n besondere mooi landjie (200 km noord na suid en 130 km wes na oos) met heuwels en berge in enige skakering van groen waaraan jy kan dink.  Die landskap verander gereeld met dele wat mens herinner aan enige iets van die Suid-Kaap, Bosveld en Laeveld.

DSCF2968.jpg

Kon netsowel Suid-Kaap gewees het

DSCF2977.jpg

Die heuwels fantasties

DSCF2980.jpg

Nog 'n area wat aan die tuinroete net buite Sedgefield herinner


DSCF2990.jpg

So elke nou en dan ry jy by 'n klein gehuggie verby waar so 'n paar van die staan


By Magoga dam rek ons bene en is verstom met die fyn klip beeldjies wat die vroue daar maak – met die mees basiese gereedskap.  Hulle verkoop dit omtrent vir next to nothing – wat steeds nie help as jy met ‘n motorfiets daar verby gaan nie...

DSCF2992.jpg


DSCF2993.jpg

Noble steed

DSCF2998.jpg

Dit voel soms of daar geen rigting in Swaziland is waarin jy kan staar wat jy as ordinêr kan beskryf nie...

DSCF2999.jpg

Daar onder by die dam...

DSCF3001.jpg

Selfportret

DSCF3012.jpg

Op die damwal


Ons vra die slim GPS vir die kortste pad Mbabane toe, maar besluit baie vinnig na die kortpad se afdraai dat dalk, net vir vandag, die langer teerpad ‘n beter opsie is!

DSCF3028.jpg

Dalk nie vandag nie...


DSCF3030.jpg

Slip & slide


Die bietjie wat ons van Mbabane sien lyk dit maar soos enige stad. Besig met te veel taxi’s.

DSCF3036.jpg

Doodgewone stad


DSCF3037.jpg

Doodgewone winkels


Die spoedgrens is die meeste van die tyd 80, so ons vorder nie baie vinnig nie en Eisbein moet nogal goed konsentreer met potholes en random ongemerkte spoedheuwels in die pad.

DSCF3038.jpg

Jy hoef nie ver uit die stad te ry om weer te onthou jy is in Swaziland nie

By ‘n winkelsentrum net buite Ezulweni gaan soek ons iets warms by ‘n restaurant en -  being The Kingdom of Swaziland - is dit toe die eerste keer die dag wat ons nog wit gesigte sien.  Just add a Woolworths...  ;-)

Dit raak teen die tyd al namiddag en ons klim op die ysterperd om by ons bestemming te kom.  Op ons kaartboek is Nhlangano ‘n groter as gemiddelde kol - wat volgens ons redenasie beteken dit is ’n stad, so dit kan nie te moeilik wees om daar geholpe te raak nie. Reg?  Buitendien het ons by die grenspos so toeristerige pamflet gekry waarin daar 3 listings is vir gastehuise in Nhlangano.

Mens kan ook nie heeltemal agterkom wanneer ‘n stat begin of eindig nie, daar is sulke uitgespreide nedersettings langs die pad – en skoolkinders net waar jy kyk. (weet nie of hulle dalk vroeër uitgekom het nie, dit was stemdag in S.A.) 

DSCF3054.jpg

Baie van die (oorwegend) vriendelike skoolkinders langs die pad.

So 2 van die genoemde skool laaities laat my bloed nog verder ys toe hulle maak asof hulle ons met klippe gooi.  Sal liefs nie herhaal wat my helmet gehoor het nie!

In Manzini kry ons petrol en die petroljoggies en die rond staaners smile dat jy net tande sien.  Die motorfiets met sy 2 nat mense trek aandag en almal wil weet van waar tot waar ons reis is. Die GPS word van ‘n kant af bekyk en Eisbein moet keer op keer verduidelik hoe die masjientjie werk!  As jy met enige een ‘n gesprek aanknoop en sê hoe mooi jy dink die land is, kan jy die trots in hulle gesigte sien en die skouers word sommer breër.  En niemand, nêrens bedel nie.

DSCF3047.jpg

BigEd het op daardie stadium nog 'n DR BIG gehad, so ons wonder toe of ons kan stop en parte afhaal en saamry...

DSCF3049.jpg


DSCF3067.jpg

Oppad na Nhlangano

Heelwat heuwels, kronkelpaadjies en reëndruppels verder ry ons toe sommer direk na die polisiekantoor in Nhlangano (wat toe meer van ‘n 10 blok groot dorp is as ‘n stad) waar die dienaars van die gereg vir ons verduidelik na die verblyf waarvan hulle weet. Daar gekom is dit die Casino Royale Hotel...  I kid you not.

Nou moet ek darem net sê dat Eisbein voor die vakansie actually probeer het om vir ons verblyf te organize vir die Swaziland ekskursie. (Sy een epos navraag is nogal geantwoord hier by Februarie rond.  Februarie 2010 that is.) Ons het ook verskeie nommers probeer bel wat nooit geantwoord is nie. Die hotel se web blad het pryse gegee vir die kamers – maar dit was nie heeltemal in die rek-‘n-rand reisiger se begroting nie. Do'h. Swaziland se geld eenheid is 1:1 met S.A s’n, so Eisbein gaan ruil geld by ontvangs en begin die gastehuise bel waarvan ons boekie ons vertel.

DSCF3069.jpg

Semi bekommerde Eisbein wat vinnig uit slaapplek opsies uithardloop...


Gastehuis no 1 het plek, vir R 500 p.p.  Sluk.  Gastehuis no 2 is vol.  Gastehuis no 3 se telefoon lui net.  Natuurlik begin dit nou al na skemer neig, so ons moet vinnig besluit.  Breek ons die bank of ry ons na die volgende dorp en probeer daar oornag?  Eisbein lyk besluiteloos en ek dink somehow dis effens funny en begin giggel. Hey, wat is die alternatief?  Die sekuriteitswag wat die hele petalje staan en dophou het, dink dit is toe ‘n goeie tyd om hulp aan te bied en vertel vir ons dat die hotel ‘n special het op die oomblik. 
Ons kry beheer oor onsself en gaan hoor by dieselfde girl wat ons met die kleingeld gehelp het wat is die storie. 

Turned out, dit is R170 p.p.p.n. en dan R70p.p vir ‘n buffet ontbyt daarby.  Nou ja toe nou.  Met ‘n paar heartfelt “thank you’s” in die regte rigting later het ons toe ‘n heerlike kamer met ‘n groot bad en baie warm water.


En dít is hoe dit gekom het hoe ons op 22 April 2009 in Swaziland se Casino Royale Hotel gebly het.

DSCF3070.jpg

Ons pozzie vir die nag

DSCF3071.jpg

Die eetkamer en dobbel area

DSCF3074.jpg

As jy omdraai is dit wat jy sien

 
Deel 9 van 13:

Nhlangano na Durban


Waarskynlik is dit ‘n ondervinding wat sal taan met daaglikse gebruik, maar (en hier moet ek seker kop onderstebo staan en skaam lyk) daar is tog ‘n behaaglikheid daarin om die verskeidenheid van ‘n buffet ontbyt te geniet. Voeg daarby 2 kelners wat by jou elmboog verskyn soos benodig...  I can do it.

Praat van goeie diens, dieselfde gawe sekuriteitswag van die vorige aand het sommer die GS gewas terwyl ons eet.  'n Glimmende motorfiets, ‘n sonskyn dag en ek voel omtrent soos ‘n kat wat room gekry het toe ons weer aan die ry kom!

DSCF3081.jpg


DSCF3100.jpg




Met die reënwolke wat oornag verdwyn het sien ons tot daar dóér ver oor die heuwels.  Dit is ‘n 450 km dag (met die 1ste stuk steeds 80km ’n uur) so ek neem weer sommer so in die ry foto’s.  Dit voel vir my asof ons die grootste gedeelte van die pad klim, so die beste uitsig lê agter toe – dink ons moet Swaziland volgende keer van onder af benader.

DSCF3082.jpg

Kry jou groceries...

DSCF3083.jpg

...latest hair fashions...

DSCF3084.jpg

...en sommer al jou tuinmaak benodigdhede in dieselfde sentrale sake kern


DSCF3104.jpg

Dan sommer iets vir die braai later...

DSCF3105.jpg

...die honger magie van die oomblik...

DSCF3107.jpg

...en nog groceries as die kettingwinkel groep van netnou nie jou 'flavour' margarien gehad het nie


DSCF3109.jpg

Op die pad na Lavumisa

DSCF3111.jpg




So paar kilometer voor die grenspos sien ons vir die 1ste keer rommel langs die pad lê.  Tipies mens kom ek toe eers agter hoe skoon die res van die land was.  Ook omtrent in die omtes wat ons ‘n padteken sien met die waarskuwing: “Potholes”.  Huh...?  Liewer laat as nooit I suppose.

Nadat die beampte by die Lavumisa grenspos ons paspoorte onder oë gehad het praat hy met ons Afrikaans (en nee, ons is nie familie van Johann Stemmet met-die-bont-onderbaadjies nie).  Nie dat ons dit op die stadium sterk oorweeg nie, maar sou ons ooit land uit... Mens, my taal sal ek mis.  Elk geval... met die uitstap by die kantoor sien ons daar het ‘n groot volgelaaide toerbus net na ons kom stop.

DSCF3112.jpg

Tydsberekening, wie is jou pappa?



Daar is dit toe ons op die N2 en suikerriet plantasies so ver ons ry.  Dis ongemaklik warm (jip, hello Natal) en ek weet later nie meer hoe om te probeer sit om gemaklik te word nie.  Dis nou maar die ding van 2-up ry – soos jy sit sal jy sít!  Al wat my oor hierdie uitgestrekte stuk pad vermaak is die naambordjies. Ulundi, Bloedrivier, Gingindlovu, Tugela, Shakaskraal...  Ek ruik sommer weer die bordkryt waar ons kaalvoet in Mnr. Koegelenberg se Geskiedenis klas sit in standerd 4. Name wat soos krale van jou tong kan afrol.

DSCF3116.jpg


DSCF3121.jpg


DSCF3129.jpg



By ‘n “Y” afdraai neem ons die verkeerde straat en beland in Durban middestad... in spitstyd.  Mooi man.  Ons is nogal goed daarmee om 16h30 by ‘n plek aan te kom!  Durban lyk vir my maar gorrie – goed daar is ‘n kans dat ek bevooroordeeld is – ek het gesê my lyf is seer, ek kry warm en ek hou soos glad nie van stadsverkeer nie?  En dan ruik Durban se see nie eens na see nie.  Nee, dankie.

DSCF3133.jpg


DSCF3136.jpg

Spitstyd. Middestad. Durban. :bluduh:

DSCF3137.jpg

Ten minste het die GPS geweet waarnatoe ons oppad is...
icon_scratch.gif



Og, as ek nie so vreeslik styf was nie het ek dit dalk oorweeg om melodramaties die teer te soen toe ons by LeRien afklim.  Instede het ek op haar bank neer gesyg – waar ek pretty much vir die volgende 3 dae gebly het terwyl Eisbein MMC toe is in Greytown.
 
Deel 10 van 13:

Durban na Koffiebaai via orals


Maandagoggend.  Ons wag net vir die spitsverkeer om te bedaar en weg is ons.  Die idee was om die R102 te ry,  maar dié is plek-plek verspoel en daar is heelwat padwerke wat ons ophou.  Ons wissel dus maar so tussen die R102 en die N2 – ons ry darem al die tolhekke mis!

DSCF3141.jpg

Smartie huisies (en nee, dis nie Muizenberg nie)

DSCF3142.jpg

Eers die industriële area en dan begin die stad al minder raak

DSCF3146.jpg

Wie steur hom nou aan 'n 'Geen Deurgang' bordjie...


Dis so mooi (en groen!) langs die kus dat ek visies sien van ‘n 2 weke luilekker tent vakansie iewers langs 1 van die baaitjies.

Ons stop vir middagete in Port Shepstone by Jax’s Restaurant en wat doen die Stemmets terwyl hulle vir die lekker kos wag?  Staar na die uitsig?  Nee.  Knoop ‘n geselsie aan met ‘n local?  Ook nie. 
Soos vele middagetes in die verlede haal ons die kaart uit en “Haai kyk, as ons nie die N2 neem nie kan ons die R61 ry wat ‘n veel korter pad is!  (Hulle roep hom Jikeleza  Road).
Dan by St Johns draai die pad terug N2 toe en van daar af kan ons ry tot by Koffiebaai.  Sien, die pad lyk soos ‘n klein hoefystertjie binne in ‘n grote.”  Boonop het Cousin vir ‘n ruk sendingwerk gedoen by Lusikisiki en sal dit nie funny wees om vir hom ‘n mms te stuur van iets wat hy sal erken nie?  Die voorstel word baie entoesiasties gesekondeer. Wat is die punt van vakansie hou as jy nie jou roete kan verander nie, reg?

DSCF3157.jpg



Baie ingenome met die lewe ry ons verby nog ‘n handvol vakansie hotspots.  By Port Edward begin die kleinste ‘hoefyster’ en ons ry deur Redoubt (Redoubt? Wie gee ‘n plek ‘n naam soos Redoubt?), Bizana, Magusheni, Flagstaff, Lusikisiki en kom by Port St Johns uit.  Dit is ‘n perfekte herfsdag, die sagte Natal heuwels verander in uitgestrekte Transkei landskap en dis mooi. 

Nie ek of Eisbein het al van te vore hier gery nie en die tevredenheid faktor is hoog.


DSCF3160.jpg


DSCF3164.jpg

Somtyds gee 'n vinnig-in-die-ry-foto nie die opsie om seker te maak alles is reg/regop nie
Of ons kan dit kuns noem
ino.gif


DSCF3165.jpg

Hier begin die landskap en omgewing defnitief 'n Transkei geur kry. Nuwe wêreld vir ons

DSCF3167.jpg


DSCF3168.jpg

'Bows and flows of angel hair and icecream castles in the air'

DSCF3173.jpg


DSCF3175.jpg


DSCF3176.jpg

Prima Transkei landskap - heuwels en berge so ver as wat jy kan sien

DSCF3178.jpg


DSCF3181.jpg

Dit was interessant om te sien hoe die landskap verander

DSCF3182.jpg

Foto vir die cousin geneem - hy was 3 jaar vantevore hier met 'n uitreik

DSCF3183.jpg

Sal nie sommer moeg raak van hierdie tipe uitsig nie


Die bietjie wat ons van Port St Johns sien is pragtig.  Niggly stemmetjie sien sy kans en wonder heel onskuldig of ons nie sommer hier êrens moet oornag nie.  Dis immers al namiddag. 

DSCF3184.jpg

Die kompas gaan weer hiernatoe wys - nie baie ver in die toekoms nie


Gelukkig weet ek nou al hoe om vir stemmetjie te hanteer en in my skool juffrou stem antwoord ek afgemete:  “Ons het actually plek bespreek by ‘n backpackers in Koffiebaai.” (Vát so, stemmetjie!)  “En ons het ‘n deposito betaal.  Buitendien, dis nog net 115km.”  Stemmetjie rol sy oë en begin “I see a bad moon rising” neurie van CCR.  En nou almal saam!

Iewers verander die pad na ‘n grondpad, selfoon opvangs verdwyn (nie asof ons enige iemand naby ken om te bel nie...) en die heuwels begin lang skaduwees maak. 

DSCF3186.jpg



Die slim GPS wys waar ons moet afdraai en vertel dis nog net 90 km tot in Koffiebaai. Daar is nog so uur en ‘n half se son, so dis heel doenbaar dink ons. 

DSCF3188.jpg

Op hierdie stadium sê die GPS '90km' en 'ETA 3 hours'. Ons dink hy maak 'n fout.
Hy het nie.  1 1/2 ure se sonlig oor.  Oeps.


DSCF3191.jpg


DSCF3193.jpg

Hier is die smiles nog volop


Tot ons die afdraaipaadjie sien.  Oh.  My.  Word.  Dis definitief ’n pad.  Ek dink.  Een van daai waar selfs ’n 4 by 4 baie stadig en met moeite sal deur.  Die GPS sê do not attempt to cross when wet. Oooops.  Dit het die vorige dag gereën.  Die opsie is, wel... vorentoe -  en met effens hoër stress levels is dit dan presies wat ons doen. 

DSCF3196.jpg

Foto's word net geneem waar afgeklim word of waar dit veilig is om nie met altwee hande hoef te klou nie

DSCF3198.jpg


DSCF3203.jpg

Dis nog steeds 'n bitter mooi omgewing, al maak die vinnig sinkende son dat ons nie lank kan sit en dit inneem nie

DSCF3204.jpg

Op 'n stadium besef ons dat ons in elkgeval in die donker gaan ry, so ons kan netsowel 'n foto of twee neem en rustiger begin ry.


Die pad is rof, ek klou vas vir half prys en sê nie boe of ba nie.  Eisbein se konsentrasie laat my dink aan die Terminator flieks waar die T-101 die omgewing so scan en jy heeltyd die formules so aan die kant van die skerm kan sien en jy weet hy probeer uitfigure wat sy beste opsie is.  Sien, so.  Daar is modderpoele om te deur, erosie slote, klippe, stukke sand en dis heel tyd op en af oor die koppe.  Dis nou behalwe die omgewing se beeste wat om elke draai in die pad staan.  Ons sien op ‘n stadium wat ons dink ‘n brandpad is wat lyk of dit teen so 30 grade loop.  Nee swaerie, brandpad se voet, dis waar ons moet oor.

DSCF3206.jpg

Yip - uithou en aanhou. Tyd of petrol vir omdraai is daar nie

DSCF3207.jpg

Hierdie modderpoele het ons spoed gebreek - net soos jy dink jy het momentum dan is daar weer een.
Van hulle was redelik morsig, so ons het maar nie kanse gevat nie en almal baie versigtig benader


DSCF3209.jpg

Elke keer wat ons so 'n dorpie sien dink ons: 'Beskawing! Die pad gaan beter raak'. En dan raak dit weer erger.


Die vreemde, vreemdste ding. (Dis nou die deel waar ‘n paar mense sal sê “Ag, twak!” ‘n bier gaan haal en oortuig wees daarvan dat ons ‘n paar skroewe elk los het).  Soos wat ons ry is daar dele wat ons voel dat, sou daar nou iets fout gaan (nie dat ons hoop dit doen nie!) sou ons na die naaste hut kon stap, daar bly vir die aand en alles die volgende oggend uitsorteer.  Dan is daar areas wat absoluut evil voel. Ons wil net so vinnig as wat ons kan daar uitkom.  Alhoewel ons al 2 presies dieselfde op dieselfde plekke ervaar , praat ons eers die aand by die backpackers daaroor, so nee, dis nie asof ons mekaar kon bang praat of opwerk nie.  Dit voel hier asof die geestelike wêreld net so buite jou periferiese visie is, net so waar jy dit amper kan sien.  “There is more things in heaven and earth, than are dreamt of in your philosophy Horatio..."

DSCF3212.jpg

Weggespoelde brug - waterskade is nogals volop in die dele

DSCF3220.jpg

Omgewing nog steeds bitter mooi, al is die senuwees bietjie aan die knaag

DSCF3222.jpg

Laaste paar huisies vir 'n foto voor die son sak


Nadat ons 'n rivier vir die 2de laaste keer deur is begin die son sak.  Vir die beste deel van 30 sekondes raak ek byna paniekerig en wil-wil amper begin hiperventileer. Gee to maar vir myself ‘n baie ernstige talking to en besluit dít gaan nou régtig vir niemand help nie. 

Hou vas, haal stadig asem, ons sal daar kom. 

Die pad is so rof dat elke 30 minute wat ek op die GPS kyk sien ek ons het 10 of 15km gevorder.  Lovely.  En toe ís dit donker. Pikgitswartnag donker.  Die sporadiese hutte teen die heuwels het (obviously) nie elektrisiteit nie, ons sien 3 kosmaak vuurtjies in die uur en ‘n half wat ons in die donker ry - en dis donker maan. (Go figure.)  Ons vorder nou nog stadiger en moet tot by die ‘swart kolle’ in die pad ry voor ons kan sien of dit ‘n klip, modderpoel of dier is (het toe nog nie spotlights op nie).  En die beeste slaap (surprise!) in die pad.  Dit is steeds baie steil hellings met kronkeldraaitjies op en af.  Die GS se lig sit ook op die raam en nie op die stuurstang nie, wat beteken dat ons eers draai en dan kom die ligstraal agterna om te skyn waar ons nou net gery het. Omdat die pad so vrot is ry Eisbein die motorfiets soos ‘n BMX en gooi hom dié kant toe en lig hom oor daai gat en wip hier oor ‘n klip.  Voel asof ek in ‘n vuisgeveg was – en sleg 2de gekom het.

Ons ry verby ‘n toordokter wat langs die pad sit en prewel terwyl hy dolosse gooi.

Okay dan... 

Op ‘n stadium verloor ons die Aerotrim deur 'n slaggat, ry bo-oor hom en besluit om dit liefs af te skryf onder vakansie koste en draai nie terug om dit in die donker te gaan soek nie.

DSCF3225.jpg

Nog 'n stukkie vals hoop wat ons laat dink het die pad raak beter hierna. Dit het nie


Uiteindelik, uiteindelik, uit ein de lik 3 ure van die afdraai paadjie af (meer gevoel soos 7!) verander die pad na teer en sien ons die Koffiebaai bordjie.  Thank heavens!  Dink nie ek was al ooit so verlig om ‘n pad bord te sien nie!


DSCF3229.jpg

Nie 'n #@*&!! oomblik te vroeg nie. Was lanklaas so bly om 'n groen rigting bordjie te sien


11 ure nadat ons weggetrek het (9 1/2 daarvan in die saal) suiker ons in by Bomvu se hek.
Baie moeg en meer verlig dat ons veilig arriveer het.

Klaarblyklik moes ons voor 5 uur bespreek het vir aandete en ontbyt by die backpackers – ons het daai memo gemis.  Die ander restaurant wat ons kan vind is toe (Maandag aand) en ons eet hulle laaste Tex bar met twee blikkies Coke vir aandete.

Wat ons na die tyd oor die dag se wedervaringe dink is dat daai stuk pad ‘n heerlikheid sal wees – as dit a) al is wat jy vir die dag hoef te doen (nie deel van 550km roete nie dus), b) jy dit saam met ‘n hand vol pelle doen, c) in die dag is ‘n wenner en d) nie in die reën seisoen nie.


kaart.jpg

Die misverstand waar ons avontuur begin het.
Vanaf Port St Johns na Koffie baai:
Groen is die oorspronklik beplande roete.
Geel is wat ons gekonkokteer het in Port Shepstone.
Die pers roete is toe hoe dit in die GPS opgeïndig het en waar ons gery het.
Eisbein sê daar is dalk meriete in die sêding dat mans nie twee dinge op een slag moet probeer doen nie - eet en GPS programmeer en so...


Daardie aand het ons gedink ons was ERG STOOOOPID om ‘n pad te ry wat nie eens in die kaartboek is nie (en dit raak donker en niemand weet waar ons is nie).  ‘n Week later toe  Eisbein dié storie vertel is die ERG STOOOPID vervang met “baie slegte beplanning”.

’n Maand later was dit...  “ ’n hengse avontuur!.” 


Wat ek gesê het:  Gegewe die pad, die omstandighede, die omgewing...  daar is net mooi niemand anders saam met wie ek daar sou in nie. 

Amen.

 
Deel 11:
Koffiebaai na Boknes

Uit die aard van ‘n backpackers moet mens seker verlief neem dat jou mede blyers redelik in die sorgvrye student kategorie val.  Bomvu het ‘n groot kuier area waar die jolliefikasie tot amper hanekraai aangaan – en kuierarea is net neffe ons venster ::)

Nadat ek in die nag badkamer toe is en byna op ’n gebruikte kondoom trap – en die proses hom vroeg oggend herhaal (die slag met ‘n gebruikte tampon in die gang) – voel hierdie 34 jarige skielik vreeslik oud...

Ons vat ‘n vroëe môre rytjie deur die dorpie, gaan kyk hoe lyk die see – en terwyl ek vir Eisbein buite die parkeer terrein wag, kom daar 2 latte aangesuiker met plastieksakke vol kreef wat kom hoor of ek nie wil koop nie. Dít voor 8 in die oggend.  Aangesien alles nog toe is – en ons mos nou nie vir ontbyt bespreek het nie – gaan kry ons petrol, waai vir ‘n groepie BMW manne en ons is reg vir die pad.  Iets BAIE freaky van Transkei though:  Op enige plek waar ons ooit kom kyk die manne met sulke lang oë na die GS.  Nie in Transkei nie, boeta.  Daar het die mans ‘n saak met die motorfiets en staar vir my...  Ag nee, regtig!  Run Forest, run!

DSCF3230.jpg

Vroeg oggend stillewe: Die see, die huisies en die heuwels. Da dam dish

DSCF3232.jpg

Jy dink jy's flukser as ekke


DSCF3233.jpg

Misty Cliffs ;D


DSCF3234.jpg

Quentin Tarantino kan dalk sy location scouts hiernatoe stuur vir 'n volgende fliek... ;D


DSCF3245.jpg

Die huisie reg langs die petrolpomp. Duidelik al beter dae gesien

DSCF3246.jpg

Hier is die vraag 'watter oktaan het julle' nie so van toepassing soos 'het julle actually petrol' nie. Gelukkig het hulle gehad...

Koffiebaai is REGTIG baie mooi, maar ons het nie ‘n warm and fuzzy feeling oor die stukkie aarde nie.  Ons bespiegel dat ons waarskynlik ‘n heel ander ervaring sou gehad het as ons óf in ‘n gastehuis gebly het óf saam met ‘n groep pêlle was.  Die bietjie wat ons gesien het was die ene pixies en poetoepap – ‘n erg vreemde kombinasie.  Dit wil ook voorkom asof die hoof toerisme ding hier is om ‘n Xhosa ‘experience’ te hê wat losweg vertaal na sit en kyk vir girls met witgeverfde gesiggies en gras rompies wat sing en dans; of leer ‘n Afrika drom speel.  Yeay!  Nie heeltemal bo aan my bucket list nie, maar by all means, gaan kyk veel liewer self!

O aarde, as ek die vorige 3 paragrawe lees klink ek vir myself hopeloos te veel soos Tant Ella!  (Worsie se ma in Vetkoek paleis, halloo?)  So vir die rekord móét ek sê:  Hierdie landskap is dramaties en ongetem – sien daar is meer as een rede hoekom dit die Wilde Kus genoem word!  Kranse wat doodloop in die see, lang strande, natuurlike woude, graslande, en ravines (wat dit ook al is in Afrikaans).  Dis asof al die uiterstes in die natuur hier bymekaar gegooi is – en die somtotaal van hierdie oormaat natuurskoon is dat mens soos ‘n klein spikkeltjie voel teen al die grootsheid om jou.

DSCF3236.jpg

Die riviermond is reg agter die backpackers

DSCF3239.jpg

Hierdie mense was duidelik nie op so 'n 'tight' skedule soos ons nie

DSCF3242.jpg

Baie behaaglike Bomvu Backpacker Brakke

DSCF3244.jpg

Bomvu het 'n klein kampterreintjie ook aan die agterkant


Ons kry die pad wat ons die vinnigste op die N2 gaan kry – en weereens is “vinnig” ’n baie los term.  Dit is pothole central met kinders en beeste (en hoenders!)  wat oortuig is dat hulle rondstaan regte het.  Wat baie scary is, die taxi’s ken die pad al so goed, hulle ry vir kilometers aan die verkéérde kant van die pad – want daar is minder gate.  ‘Tuurlik hoet hulle dan vir jou as jy om ‘n draai kom aan ‘hulle’ kant van die pad.  Did I miss something?  Dit neem ons ‘n uur en ‘n half om daardie 75 km af te lê.

DSCF3248.jpg

Die pad lyk heel goed op die foto...

DSCF3250.jpg

Hierdie is die tipe scenery wat ons oorspronklik laat besluit het om Transkei by die toer in te sluit

DSCF3251.jpg

...en hierdie is nie...:p


DSCF3254.jpg

Vir ons wat uit die Weskaap kom en nie hierdie manier van erwe toeken ken nie was dit baie interessant om te sien hoe die huisies geen patroon volg soos die straatblokke waar ons vandaan kom dikteer nie. So asof iemand die huisies in groepies gevat het en so oor die hele landskap gestrooi het. Nogtans baie mooi




Hopeloos te laat (as jy ná die vakansie begin oplees! ) maar vir die wat Transkei toe gaan, reis riglyne komplimente van google.
1. The N2 highway, the Jikeleza Route and the roads to Port St Johns and Coffee Bay are tarred, but the Coffee Bay road can be quite potholed in places.
2. All the other roads that go from the N2 to the coast (in the former Transkei area) are gravel. To find out the current condition of the roads you plan on driving, phone ahead and get an update from your accommodation provider.
3. Potholes and animals, such as cows, goats, donkeys, sheep and geese, are a hazard on all of the rural roads, so slow down and take in the scenery.
4. Dirt roads are rarely marked, so take along a good map (see below) or GPS device.
5. Be on the lookout for reckless drivers, especially along the N2 highway.
6. Fill your tank at every reasonable opportunity as fuel supplies are scarce in some areas. Some hotels and resorts do have limited supplies so phone ahead.
7. When it rains, it often rains hard and for weeks on end, so keep off the 4x4 tracks, as many become impassible, even to 4x4s.
8. Carry water, tools and try and imagine what it would be like to break down, without assistance, for miles around.




Na die vorige dag se vasklou op ons ‘enduro trial’ vermoed  ek dat die meeste van my lyf in desperate need is vir of Arnica roompies of copious hoeveelhede Deep Heat.  Dis amptelik die langste dag in die geskiedenis van die mensdom en die pad raak eenvoudig net nie korter nie.  Hoe eet ‘n mens ‘n olifant?  Op dieselfde manier wat jy die N2 ry.  Stukkie vir stukkie.  Hier teen 11 uur het ek REGTIG my kwota binneneus-groen rondawels gesien en wil vir die 1ste keer ever sommer begin huil van moeg en vrek seer.  Ek oorweeg ‘n mini tantrumpie waar ek my voet stamp en skree: “Ek wil nie meer nie!  Ek is nou KLAAR!!  DIT IS GLAD NIE MEER LEKKER NIE!!”  Behalwe die feit dat dit net na heeltemal te veel moeite lyk, kan ek ook sien dat 5 minute na die op en af spring ek anyway maar weer op die motorfiets sal moet klim om te verder.  Wat is die opsie?  Wag vir ‘n taxi?  Gmphf. Yeah right.  Eisbein lyk op hierdie stadium ook al of hy ’n vakansie nodig het, so ek sluk maar die trane en ry hang skouertjies verder.

DSCF3257.jpg

Terug op die N2

DSCF3259.jpg

Ek willie. Sallie. Gannie.

DSCF3262.jpg

Ten spyte van ons moegmoedeloos wees is die wêreld maar darem nog steeds mooi hier rond

DSCF3263.jpg

So 'n vinnige herinnerintjie dat ons oppad tuinoete toe is ;D


Eintlik is dit  weereens ‘n heerlike motorfiets dag :D en die landskap verander geleidelik na Oos-Kaap.  By Oos-Londen neem ons die R349 om op die R72 te kom.  Wat ‘n stuk wêreld!  Hmm-hmm-HMM!  Ons ry oor verskeie rivierlope oor die mooiste brûe.  Weet nie of al die riviermonde uit die Kowie rivier spruit nie, maar dis riviere aan ons regter kant en die uitgerekte see links. 

Schweet, ek sê jou. 

DSCF3268.jpg

Teen die tyd het ons 'n sisteem gehad van 'x kilometer' of 'x aantal minute' tussen elke stop. Dit het nogals gewerk om die 'spirits' bietjie te lig

DSCF3274.jpg

'n Bietjie langer stoppie vir koeldrank, tjoklits, bietjie gesels en laf wees en ja - selfs bietjie vitamien D


Heng, ons sal graag weer daar ‘n draai wil maak.  ‘n Definitiewe gunsteling  kus dorpie is Port Alfred.  Die dorp lyk al te veel na ‘n skildery en nooi jou sommer om jou plakkies uit te skop en sorgeloos te kom vakansie hou.  Vreemd darem hoe party plekkies mens net eenvoudig laat tuis voel, nê?  Enige een wat ons wil nooi om te kom kuier in Port Alfred?
ino.gif


DSCF3276.jpg

Enigiemand ?

DSCF3278.jpg

Laaste foto van die dag naby Boknes.

In Boknes aangekom gaan ons nie by begin verby nie, ons samel nie R200 in nie en gaan direk na die nig se huis.  En is BAIE dankbaar vir gasvrye familie.
 
Deel 12:
Boknes na Sedgefield

Boknes is seker 1 van die Oos-Kaap se bes bewaarde geheime.  Om dit só te hou moet ek seker sê dis ‘n AAKLIGE plek met VREESLIKE verwaande mense.
ino.gif



Die waarheid is, dit is die perfekte plek om tot verhaal te kom.  Dit is ‘n vakansie en aftree dorpie, so die meeste huise staan leeg in die kwartaal.  Daar is 2 kafeetjies, ‘n restaurant en ‘n 2de handse boek winkeltjie.  Dan is daar duine, wit strande en die amper lou water van die Indiese Oseaan.  Die aantrekkingskrag van die dorpie is juis die ongereptheid, die stilte en die see wat stapafstand van al die huise is.  En die sonsondergang oor die see... Ons het 1 aand die pienkste skouspel sit en bewonder.  1 van daai wat as dit  op TV was, was jy ietwat vererg oor die director se gebruik van filters!  Kamera lê toe by die huis, wat nie ‘n slegte ding is nie, want dan kan jy net sit en verwonderd wees.  Beter as kerk toe gaan dink ek.

DSCF3282.jpg

Boknesstrand. Mooi stukkie wêreld. Ons sal weer eendag ons tone hier in die sand wil kom druk


Na 2 nagte se oorbly is ons terug op die R72 en verrek omtrent ons nekke soos ons alles in die ry bekyk. 

DSCF3289.jpg


DSCF3290.jpg

Ons kon agterkom aan die 'change of scenery' dat ons besig is om nader aan P.E. te kom

DSCF3295.jpg

En skielik bevind ons onsself in P.E. die winderige vriendelike stad

DSCF3297.jpg

Daar is defnitief voordele daaraan om nie altyd die hoofpaaie of snelweë te ry nie

Van daar is dit weer N2 tot voor Jeffreysbaai waar ons die R102 neem om te gaan loer hoe dit by Cape St Francis lyk.  Hierdie kusdorpie vra ook vir verken op ‘n later stadium.

DSCF3302.jpg

Op die pad Humansdorp toe

DSCF3306.jpg


DSCF3309.jpg

Teen die tyd het ons en die stukkie yster mekaar al baie goed geken

DSCF3317.jpg

Oppad Kaap St Francis toe. As wolke so lyk gaan dit baie keer gepaard met sterk wind. Hierdie dag was geen uitsondering nie

DSCF3322.jpg

Die vuurtoring by Kaap St Francis

DSCF3333.jpg

See, scenery en spieël: Selfportret!


Ons waai by die Olive Tree Junction in en kry ‘n klomp heerlike kos vir baie minder as wat jy by ‘n franchise sou betaal – hoe verklaar mens nou dit? 


DSCF3337.jpg

Dis nou 'n 'breakfast of champions'

DSCF3346.jpg

;D

DSCF3347.jpg

::)


So tussendeur die eet hoor ons ‘n stormwind waarskuwing op die radio en die familie bel ook om te vertel van die 70+ km/h stormwind wat ons te wagte kan wees.

Die radio lieg toe nie en daai wind ruk ons ‘n paar keer heel in die verkeerde baan. Gelukkig is die R102 stil want ons hang skoon skeef soos ons beur teen die wind. 

DSCF3352.jpg



DSCF3354.jpg



DSCF3355.jpg



Naby Kareedouw klim ons weer op die N2 waar die wind bedaar... en dit begin reën. 
DSCF3357.jpg


DSCF3358.jpg



Nie ‘n ou ligte buitjie nie, van daardie vlae reën wat net aanhou en aanhou val.  Persoonlik verkies ek veel eerder om in die reën as die wind te ry – en het toe oorgenoeg tyd om hierdie teorie te bedink!  Eers word jou bene agter nat soos die agterwiel water spat.  Dan begin die water van jou helmet in ‘n straaltjie eers teen jou nek en dan teen jou rug af rol.  Volgende stap is dat jou jeans so nat is dat die water in jou stewels begin drup – waar dit dan bly. En dan maak die water ‘n poeletjie tussen jou bene en agter jou sitvlak.  Teen daai tyd weet jy hoe bedremmeld jy lyk, maar kan jy nie help om soos ‘n fool te sit en glimlag nie.  Hoe dan anders?  Jy is met vakansie, jy ry in die tuinroete saam met die man wat jy liefhet en jy weet dat hierdie nat dag ‘n memory is wat vir altyd by jou sal bly. 


DSCF3360.jpg

Klam Kneukel - nat maar hêppie

DSCF3361.jpg

Na die shot pak ons toe maar die kamera weg
 
Deel 13:
Sedgefield terug huis toe


Soos vakansies daardie nare manier het om te doen, kom hierdie een toe ook op ‘n einde.  Pak toe maar vir die laaste keer op die trip ons goedjies, trek ons nat skoene en klam broeke aan en vat die N2.  Huis toe.  A.g.v. fabulous familie en vriende in George omgewing is ons glad nie vreemd vir hierdie stukkie pad nie.  Voeg dan nog ‘n netwerk agterpaadjies by die joys van die tuinroete (Eisbein se oom sê hoeka George is die voorstad van die hemel) en die redes om te gaan kuier raak net al hoe meer!

Soos die ervare roete beplanners wat ons is ;) doen ons die verpligte droëwors stoppie in Albertinia – waar die tank bag se ritssluiter besluit hy groet nou, die vakansie was nou vir hom lank genoeg, thanks.  Gelukkig is daar ‘n kuns winkeltjie in dieselfde sentrum - en die boertjies maak ‘n vinnige plan (of mode statement as jou naam Lizz Hurley is.)

DSCF3396.jpg




By Riversdal draai ons links op die R323 waarmee mens oor die pragtige Garcia passie ry.  In hierdie passie is daar  2 piekniek plekkies as jy dalk ‘n ekstra nartjie of chomp in jou binnebaadjie sak het om aan te kou.  As jy all out of nartjies is, stop elk geval.  Daardie stilte kom maak nes tussen jou ore en is lag-lag 4 joga klasse werd.  Net na jy deur die passie is, is dit of iemand ‘n lyn in die grond getrek het met ‘n onsigbare bordjie wat sê:  “Hier begin die Klein-Karoo.”  Wow.

DSCF3397.jpg

Net buite Riversdal

DSCF3401.jpg



DSCF3403.jpg




Ons gaan hang vir so rukkie by ‘n cousin rond by die 'Aardvark Nature College'. Sy kursus is 3 dae van klaar af en dan is hy op pad na ‘n wildplaas in die Limpopo streek, so ons koffie en kuier so lank ons kan.

DSCF3408.jpg

Why the long ... ah nevermind. ::)


Daarna is dit die R62 wat ook 1 van daardie paaie is waar jou lyf op autopilot gaan en jou gedagtes ver en wyer draaie as die pad self maak.  As jy hier rond droog om die kiewe raak, maak ‘n stoppie by die baie bekende Ronnie’s *** Shop en neem ‘n paar foto’s (wat gaan uitkom op jou bachelor’s) by die pompstasie...

Tussen Barrydale en Montagu omgedraai vir die gebruiklike foto.

DSCF3412.jpg

Eisbein het fotos van al sy langpadmotorfietse op hierdie einste plek.


By Robertson vat ons die pad verby Skerpenheuwel...
DSCF3416.jpg


...en oor Du Toits kloof pas huistoe

DSCF3420.jpg

Trusty steed




Mens, watter heerlikheid was hierdie 3 weke nie!  Ek kan al sien hoe ek op 95 my valstande met smaak aflek en begin met: “Het ek jou al vertel van ons epiese motorfiets vakansie in 2009?  Toe motorfietse nog petrol gebruik het.  Ja, regtig!”  En dan die kaart uitpluk en met ‘n veraf kyk en glimlag dit herleef.

Ons bly in die mooiste land waar die beste kamera en die beskryflikste woorde heeltemal te kort skiet met die oorvertel proses.  Wat ek wel weet, ons gaan nie binnekort weer álles daarvan in 3 weke probeer sien nie!  Natuurlik is ‘n reisvakansie presies wat dit sê, maar dis soos ‘n Contiki toerbus vakansie, jy kry ‘n goeie oorsig van hoe plekke in mekaar steek – wat die beplanning vir die volgende wegbreek baie vergemaklik, want jy weet presies waar jy wil gaan tyd spandeer.  En ons is goed met snuffel en loer en hang by obskure plekkies – wat natuurlik glad nie gebeur as die objek is om van punt A  na punt B te gaan nie.

Omdat Eisbein MMC toe was, het dit sin gemaak dat ons vakansie op ‘n skedule moes gebeur met ‘n lysie van waar ons elke aand slaap.  Vir ons werk dit baie beter om te weet waarheen ons op pad is – maar met die opsie om vas te haak op plekke waar ons lekker kuier en 4 dae te bly in stede van die oorspronklike 1 dag.  Mens kan altyd die roete verander hier na die einde om weer by die normale lewe aan te sluit. (Of die werk bel en hoop jou baas is in ‘n besondere goeie bui!)

Wat ook nie veronderstel is om nuus te wees nie, maar wat ons beslis agtergekom het op die toertjie, alhoewel ons hierdie ongelooflike mense in ons lewens het en ons sooo graag by hulle kuier, op ‘n vakansie het ons tog nodig om dae in te bou waar dit net die 2 van ons is.  Baie socials begin later na leepoog oggende lei – waar mens later weg kom as wat jy wou en dan op die ou end jaag jy sonlig – en ons almal weet hoe goed dít kan eindig.  En besides, die punt van vakansie is mos darem ook om by mekaar uit te kom.

Dan kan mens ook nie anders as om dankbaar te wees na so 'n ekskursie nie.  Vir gesondheid en alles aan jou lyf wat werk, net die feit dat mens kán vakansie hou, dat ons en die geel monster sonder enige voorval veilig terug is by die huis, die mense in ons lewe wat blessings is, my man wat nie net vakansies nie maar ook ons lewensreis só die moeite werd maak.  Dude, op jou motorfies ry ek saam tot in lengte van dae!

Sjoe, dit was nou ook ‘n groot lekkerte om hierdie vakansie te herleef in die oorvertel daarvan en sodoende ook iets daarvan te bewaar vir onsself.  As jy tot hier gelees het, baie dankie!  Ek hoop dit maak jou ook lus om die pad te vat, al is dit om op ‘n Sondag oggend ontbyt te gaan eet op die buurdorp.

Tot volgende keer:
ino.gif
ino.gif
my storie is uit...
 
"n Wonderlike verslag. Rogue ek het iewers gesien dat jy weer begin skryf het. Pragtige styl . Jy kan gerus vir WEG of ander "Travel" tydskrifte skryf .  ;D
 
Jou skryfstyl is rerig iets besonders - het jou vakansie net so baie soos jy geniet :thumleft:
 
Very very nice!  :thumleft: :thumleft: :thumleft:
 
Jou fotos se komposisie en jou skryfstyl bied saam 'n eenheid wat jy aanbied met 'n besondere sensitiwiteit vir die omgewing waarin jy jou bevind.

Deur alles kom daar 'n gevoel van positiwiteit. Geluk met die verslag - jy het my dit saam laat beleef.

:thumleft:
 
Dit was nou lekker om te lees!  :thumleft:
Hoe moet ek nou 'n normale dag verder he....  :xxbah:
Uitstekend!
 
Top