Oukloof voor Krismis

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Karoo Rider

Race Dog
Joined
Sep 1, 2012
Messages
1,933
Reaction score
1,128
Location
Ladismith WC
Bike
Honda CRF-1100L Africa Twin
Die jaar twintig-twee-en-twintig. Wat 'n knewel. Veral werksgewys was dit 'n uitdagende, maar tog vervullende jaar vir my. 'n Nuwe pos en werk op verskillende aanlegte, 'n stewige leerkurwe inderdaad. Volgende jaar se take en hul sperdatums is reeds pragtig en puntsgewys uitgesit vir wanneer ek vars terugkom van verlof... So wat is dan nou beter saligheidskos vir 'n tamme siel, as om so bietjie in jou eie helmet te gaan sing iewers in die Karoo?

Een van die eerste ritte wat ek en Chris Louw destyds gedoen het, het onder andere deur Oukloof naby Fraserburg geloop. Om een of ander rede het daai relatiewe kort knikke en draaie in my gedagtes gaan vassteek en toe ek vir Chris noem dat ons moet gaan ry, was dit eerste op die wenslysie van die paar dae se wegbreek. Tydsgewys was ons wel ietwat beperk aangesien geen laatkommery by die onderskeie Krismis-etes sou geduld word nie, en Woensdagoggend 21.12.2022 word die perde in die pad gedruk vir 'n gawe paar dae se rondry.

Ou Blou-toon, opgesaal vir die tog wat voorlê.

20221221_081303 small.jpg
 
Ons ry Ladismith uit, weswaarts rigting Anysberg. Sommer vinnig kan ons sien hoe die onlangse donderweer hier kom slote krap het. Driffies en sementbruggies staan kaal en wag vir herstelwerk. Iewers moes 'n padskraper darem plek-plek die nodige kom doen het om toegang te bewerkstellig.

By Laingsburg maak ons vol en vat 'n geweldige besig N1 aan tot by die Koup afdraai. Kort voor lank word afgetrek vir 'n bittertjie. Die paaie lyk goed hierlangs, en die veld ook sommer mooi groen, wagtende vir sy opvolgreëns.
20221221_101103.jpg
20221221_112452.jpg
20221221_123626.jpg
 
In Merweville gekom trek ons af vir 'n paar minute in die koelte. Sommer vinnig moes ons koffie en koeldrank van die hand wys toe die huiseienaar en haar vriendin uitkom. Plattelandse gasvryheid op sy beste. Ons gesels wel 'n paar woorde. Tot op hede was ek altyd onder die indruk dat droogtes en ongediertes die grootste uitdagings vir boere hier rond is. Intussen kruip 'n derde een nader - tekort aan betroubare, bekwame arbeid vir plaaswerk, skaapskeer en draadspan. Hieroor kan mens sekerlik 'n gesprek op sy eie begin...

Ons groet en vat die pad verder. Dis warm maar ek bespeur die eerste tekens van waarvoor ek gekom het - 'n diepe saligheid en kort-kort skrik ek "wakker" en dan het Chris se stoffies hulself alweer kom inwikkel tussen die bossies en ek moet wikkel. Ek draai ou Bloutoon se oor maar sy growwe brulstem maak net my wange seer van al die smile.

Theekloofpas se draaie word ingelê maar kort voor lank sien ons hoe die gruis in die pad gespoel het. Ook die waterval loop steeds en moes 'n gesig gewees het om te beleef toe hy in alle mag daar afgekom het.

20221221_152222.jpg
IMG_3745.JPG
IMG_3747.JPG
 
In Fraserburg ontmoet ons vir vriend Elmar (@Merino) en sy gesin, en ons vertrek uit na 'n plaashuis toe wat tans onbewoon is. Die onlangse hael het geweldige skade aan die vensters en geute veroorsaak. Ons skuif sommer vinnig reg, tente word opgeslaan en die dag begin leer optrek. Nou is dit vuurmaak en lekker gesels onder die ongelooflikste sterreruim wat net 'n windstil aand in die Karoo kan teweegbring.

Elmar vertel ook 'n interessante verhaal van die vorige Oom wat destyds hier gebly het. Onder ander het hy 'n bondel denneboompies op die werf neergesit en so oor tyd het die bondel half vergete geraak en self begin wortel skiet. Die veelvoudige stamme is dus nie 'n nuwe subspesie nie maar wel 'n klomp bome wat inmekaar gegroei het. Jare later kom gee die Oom een aand skaap kos en haak sy skoppie aan die tak. 'n Paar tree verder het hy sy laaste asem uitgeblaas - en vandag kan die skoppie nog gesien word soos hy sederdien vasgegroei het in die stam. Ongelooflik watter vaardige storieskrywer ou Vader Tyd is.

20221221_193819.jpg
20221221_194043.jpg
20221221_194103.jpg
20221221_194222.jpg
 
Vroegdag word gewoel. Dit gaan warm word vandag en ons sal moet aanstoot. Maar eers koffie en nog 'n storie of drie. Ons moet groet. [Elmar, nogmaals duisende dankies vir die voorreg om daar saam met julle te kon kamp]. Amper dadelik is Oukloof op ons en ek draai my nek seer van al die rondkyk. Veld en klip. Sag seil die gruiswater oor die driffies. Soetdoring se windgesuis kom hang in jou neus.

Ons draai later regsaf, Leeu-Gamka toe. Kort voor lank begin die eerste driffies. Die ergstes neem mens mos nooit af nie want dis grootoog-knop-in-die-keel en ons wil hier net valvry deurkom. Met dreun en steun is daar 'n paar benoude oomblikke maar kort voor lank raak die pad beter. Plaashuise met tralie-lose GP-rygoed kom in sig en 'n wyle verder is ons op die ooppad weer.

20221222_063626.jpg
20221222_083519.jpg
20221222_084810.jpg
20221222_084852.jpg
20221222_092044.jpg
20221222_094624.jpg
20221222_103848.jpg
 
By Leeu-Gamka word brandstof en ligte verversings aangeskaf, en ons druk verder. Die son is op sy stukke. Eerste grondpad links af, en ook hier is tekens van groot waters wat moes afgekom het. Sommige plekke het die driwwe hoë grondwalle weerskante met 'n baan oopgestoot. 'n Paar dae terug sou ons hier moeilikheid opgetel het.

Pragtige Prince Albert. Swartbergpas. Chris se fiets wil gestoei word met die sidecar langsaan maar anderkant af gaan dit weer makliker. "Groen gras, 'n koelteboom en kabbelende water asb." hoor ek is op die spyskaart vanaand. Die Kruisrivier kampterrein is deur beide van ons al vele kere verbygery maar nog nooit aangedoen nie. So gesê so gedaan - en was dit nou nie 'n welkome oase na 'n warm dag nie.

20221222_132411.jpg
20221222_134226.jpg
20221222_134258.jpg
20221222_181143.jpg
20221222_181859.jpg
 
Ek kry ys en hout by die kantoor. 'n Biertjie en paar koeldranke word ingelê terwyl ons tente opslaan. Die koel aanlug kom ingerol en 'n kampvuur-rokie word geruik. Later fluister 'n paar skaaptjoppies op die rooster. Ek is tevrede. Bevoorreg.

Die volgende dag is dit nie ver huis toe nie, alhoewel Chris nog moet Stilbaai toe ry. Ek loop 'n draai deur die kamp. Sal beslis weer hier verbykom en kan dit regtig aanbeveel. 'n Rukkie later dreun die enjins deur Red Stone Hills voor ons by die samelewing aansluit op die Route 62 teerpad.

Dankie Oukloof. Dankie Chris. Ons maak weer so.

IMG_3752.JPG
IMG_3753.JPG
IMG_3762.JPG
IMG_3766.JPG

20221223_084705-01.jpeg
 
Dankie vir jou foto's Jan ek sal my paar skameles later opsit.

Iets wat vir my merkwaardig was van die trip was hoeveel sterre daar naby Frazerburg was teenoor by Kruisrivier. Beide aande was oop lug en dit het wragtag gelyk asof daar loadshedding in die hemelruim ook was so baie minder sterre was daar suid van die Swartberg.
 
Dankie vir die deel!! Die fotos is great, maar vrek Karoo Rider jy moes 'n digter geword het met dié skryfkuns!!!:oops:
Nou moet jy weet hoe klink dit waarna ek moes luister vir 3 dae!!! 😜
:p
Eendag voor Huis Herfsblaar se stoep of op sy eie stoep iewers in die Karoo moet hy n boek skryf. Die talent en gedagtes is daar hy moet net begin.(y)
👏
 
Ek is nie baie lief vir lees nie. Hou baie van foto's kyk wat die manne plaas, maar ek moet bieg; ek het my verdiep in Karro Rider se digterlike skryfstyl.
Dit was nou aangenaam om in my verbeelding saam met julle die rit te kon beleef.
 
Dankie Jan .Dit was nou lekker om weer n draai deur die Karoo te maak. Ek kan my indink hoe die plekke lyk waar jy liewer nie fotos neem nie .
 
Dit was nou lekker, baie dankie!

Ek stem saam met al die komplimente hierbo. Julle moet meer gereeld ry.
Ek kan doen met meer van hierdie medisyne…
 
Jis julle 2 laat dit sooooo lekker klink. Chrisman, lyk my jy het die jongman mooi opgepas hehehehe
Jis ETS sonder die man sou ek nie sulke trips kon doen. Kruisrivier se amblusieblok is definitief nie vir kruk lopers of kruipers ontwerp nie!!! 😬
Sy geduld het geen perke. Dankie Jan.(y)
👏
 
Top