Toe ek die volgende oggend wakker word, klink dit soos by die huis. Daar is hoenders wat kraai, bokke wat blêr en ganse. Ek pak maar op sodat ek vroegerig kan wegkom. Eers gou ontbyt eet, daar word sommer bokmelk botter voorgesit.
Terwyl ek nog eet, bel Hinksding. Die Amageza manne ry skuins verby sy plaas, wil ek nie saam hom bietjie gaan loer nie. Dit kan dalk werk alhoewel ek my plan effe sal moet aanpas om betyds by hom te wees. Ek betaal en val innie pad.
Dis my dag van die Tankwa!
My roete ry deur die mooiste harde landskappe. Groot vlaktes wat tot in die oneindigheid strek, strak harde kranse wat oor dorre leegtes uittroon, ry op ry plat rante en koppies wat vroeg al in die hitte dans.
Maar ook hier is genade as ek sien hoe daar orals 'n watertjie loop, hoe modderig die pad nog eergister was. Hier en daar is daar nog steeds sulke nat kolle en ek kan nie té slap lê nie.
Maar die hekke kêrels, O die hekke. Ry en stop en klim af en sleep die hek oop en klim op en ry deur en klim af en sleep die hek toe en klim op en ry weer verder. Vir so 3 km dan herhaal die hele proses hom. En nie 3 of 4 keer nie, seker so 12 of 15 keer. By een hek staan 'n Drakensberger koei duskant en haar kalfie anderkant. En probeer so 'n ruk om die kalf weer by sy ma te kry maar hy bly wegneuk. Dis al warm, my pad lê oop vir my en ek los die twee toe. Hulle sal wel by mekaar uitkom.
Ek sien hier wat waagmoed, arbeidsvreugde, 'n strewe na beter en 'n passie vir dit wat jou lewenstaak is, kan doen. Hier is mooi netjies opstalle met 'n klein fyntuin, 'n paar koeltebome, wit gekalkte arbeidershuise met songeisers, 'n laslappie of vier lusernlandjies. Dis 'n harde wêreld maar dit brand nie die mens in ons weg nie. Dit maak nie ons strewe na bo minder nie.
Hier kan selfs 'n vetplantjie hom mooi maak deur die oulap se rooi oor sy blare te vee.
Ek kom op Calvinia aan en gooi weer vol: die fiets kry 95 Oktaan, ek kry vrugtesap. O ja, en 'n roomys. Vakansie is mossie vakansie sonder roomys. Sommer baie daarvan.
En dan gooi ek bietjie kole in Hinksding en die Amageza manne se rigting. Gelukkig is hierdie bord net vir die 1200 GSA manne so ek kan maar laat waai.
Hinks se spoorsnyer truuk met die voersakke wérk en ek ry die tweespoor tot by hom en die fotograwe redelik maklik. Ek sien daar is reeds 'n paar van die renjaers hier deur en dit is goeie motivering om nie die 800 in die dik sand neer te wetter nie. Ons kyk hoe die ouens met mening verby jaag. Die hitte - 35 grade - druk ons vas en ek kan my indink hoe dié ouens moet voel wat nou vir die vyfde dag al die krane oopdraai deur die strawwe wêreld.
Maar Hinksding se werk lê op die plaas vir hom en wag so ons kry rigting soontoe.
Later die middag, toe die son laag sit en hy sy wurggreep op die aarde so effe verslap, wanneer die ver rante so blou raak in die verte, dan kan mens jou amper verbeel dié wêreld het ook 'n sagte sy. Maar mens moet maar mooi kyk of jy kan dit maklik miskyk.
Loeriesfontein lê en asem skep in die effens koeler aandluggie toe ek daar aankom. Dis 'n mooi netjiese dorp, en kan sy kop nog omhoog hou in vergelyking met baie van die ander klein plattelandse dorpies.
Dankie Hinks en Elzaan vir julle gasvryheid en vriendelikheid. Ek het lekker gekuier, geslaap en geëet. Ons maak weer so.